Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Op een van die streeksinodes van die NG Kerk wat onlangs vergader het vra een van die afgevaardigdes hoe die NG Kerk nou met geloofwaardigheid oor onreg kan praat terwyl die kerk stil was tydens apartheid? Een van die belangrike redes waarom die NG Kerk nou oor onreg kan praat is die gebeure wat in November 1997 – 25 jaar gelede – in Oos-Londen plaasgevind het. Op 19 November 1997 het ds Freek Swanepoel die NG Kerk verteenwoordig tydens ’n openbare getuienisgeleentheid voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie.
Ds Swanepoel se teenwoordigheid het spreekwoordelik bloed, sweet en trane gekos as gevolg van groot weerstand uit die Algemene Sinodale Kommissie (ASK). Nadat die ASK aanvanklik by twee vergaderings besluit het om nie ’n voorlegging te maak nie, het prof Piet Meiring, een van die kommissarisse van die WVK, in ’n brief aan die ASK ’n ernstige versoek gerig dat die kerk die geleentheid nie moet laat verbygaan nie. Ds Swanepoel was self ook sterk van mening dat die kerk teenwoordig moes wees. Na indringende gesprekke tydens die ASK-vergadering van 28-30 Oktober 1997 is besluit dat ds Swanepoel die NG Kerk wel kon verteenwoordig. In sy toespraak voor die WVK het ds Swanepoel op die volgende sake klem gelê:
- Die NG Kerk is verbind tot versoening.
- Die NG Kerk wil dit saam met ander aanpak.
- Die praktiese implikasies van versoening.
- Versoening vereis persoonlike kontak.
- Die verlede en die toekoms.
Oor die verlede het ds Swanepoel spesifiek gesê dat die NG Kerk om verskoning vra en erken dat sy stem van protes en deernis tydens die apartheidsjare te sag was. Hy het ook spesifiek verwys na die belydenis van die kerk in 1990 tydens die Rustenburgberaad. Na verdere gesprek het biskop Desmond Tutu, wat voorsitter van die vergadering was, vir ds Swanepoel gesê: “Ek het groot waardering vir wat u sê. Dit is moeilik om te bely en om vergifnis te vra. Maar dit is omdat God sy genade oor ons uitstort dat ons dit kan doen.” Biskop Tutu het daarna na die proses wat in die NG Kerk afgespeel het verwys, hoe skuld bely is en hoe profete wat uitgeworpenes was, terug verwelkom is. Hy het afgesluit deur te sê: “Ek het lus om vir die duiwel te sê: ‘Pas op, hier kom die NG Kerk!’ Dit is geweldig om julle hier by ons te hê. ’n Groot stuk genesing het reeds begin plaasvind. Ek is bly julle is deel van die proses van versoening.”
Kan die NG Kerk met geloofwaardigheid in 2022 oor onreg praat? Die antwoord is ondubbelsinnig ja!
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.
Dit waartoe die NG Kerk, soos verteenwoordig deur Ds Freek Swanepoel, haar by die WSK ongeveer 25 jaar gelede verbind het, is uiters betekenisvol. Kan Prof Van der Merwe, nie dalk ñ verdere bydrae lewer en aandui hoe dit waartoe die NG Kerk haar verbind het, op gemeentevlak of soos daar soms na verwys word, op voetsoolvlak, sigbaar geword het en ñ noemenswaardige impak gehad het en steeds het nie?
Watter besluite is na 28-30 Oktober 1997 geneem en geïmplimenteer om gemeentes hierin te begelei? Hoe is vordering daarmee gemoniteer en daaroor deur gemeentes verslag gedoen? Watter vordering is veral op gemeentevlak gemaak om op ekumeniese gebied met ander Christelike denominasies saam te werk om, in lyn met die besluite wat geneem is, versoeningsaksies ook dmv persoonlike kontak, saam aan te pak? Watter persentasie van gemeentes is tans volhoubaar hiermee besig en wat behels die betrokke aksies? Sal die omvang en erns van sulke aksies nie bepaal met watter geloofwaardigheid die NG Kerk oor onreg kan praat nie?
Indien dit korrek is dat ongeveer 70 % van ons land se inwoners aan een of ander Christelike Kerk verbonde is, kan die NG Kerk saam met ander denominasies binne ekumeniese verband, wat natuurlik elke Christen insluit, ñ beduidende verskil op voetsoolvlak maak om versoening tussen mense in ons mooi land teweeg te bring