“Dankie aan my kerk, die NG Kerk. Dankie aan NG Universiteitsoord. Dat ek hier is, is net genade.”
So het ds Charlotte Sibanyoni op Sondagaand 22 November, pas nadat sy georden is as predikant van die NG Kerk, van die kansel van die NG gemeente Universiteitsoord af aan die diverse gehoor voor haar gesê.
Charlotte het twee jaar gelede in dieselfde kerk die eerste swart vrou in die geskiedenis van die NG Kerk geword wat as proponent gelegitimeer is. Nou is sy ds Sibanyoni van Universiteitsoord, beroep met steun van die ring van Suidoos-Pretoria om ’n Engelstalige bediening op Tukkies se Groenkloof-kampus te behartig.
Studente van haar Green Leaf-bediening was in die gehoor, saam met studente van Universiteitsoord se ander bedieninge. Haar ma en ouma het voor in die kerk gesit. Vroue uit die bediening aan huishulpe wat sy as student in die gemeente Lux Mundi behartig het, het in haar vreugde kom deel. Mense wat haar op haar pad as teologiestudent in die NG Kerk ondersteun het was daar.
Ter wille van hulle almal is daar Afrikaans, Engels en isiNdebele in die diens gebruik.
VAKATURES: Kliek hier vir die jongste loopbane
Met Charlotte se bevestiging het haar nuwe kollegas, die predikante van Universiteitsoord, haar simbolies in haar nuwe rol verwelkom. Dr Arno Meiring het die Kanselbybel in haar hande geplaas as teken daarvan dat dit haar taak sal wees om God se Woord te bring. Ds Fritz Snyman het langs die doopvont haar herinner aan haar taak om die sakramente te bredien. Ds Jana de Lange het die brood gebreek as teken van haar taak om die nagmaal te bedien en dr Ronel Meylahn het haar ’n kers by die Christuskers laat aansteek as teken van haar rol om te bid.
Haar ma, mev Maria Mahlangu, het haar gehelp om haar toga aan te trek as teken daarvan dat sy nou dominee is en haar ouma, mev Sophie Mahlangu, het die liturgiese band om haar skouers gehang.
Charlotte het gepreek uit die verhaal van Rut, ’n arm weduwee, boonop ’n vreemdeling in Israel, wat nietemin deur God gebruik is, wat die oumagrootjie van koning Dawid was en in die geslagsregister van Jesus opgeneem is.
Die weerklanke van Charlotte se eie verhaal was duidelik, al het sy dit nie uitgestippel nie: die Ndebelesprekende skooldogter oor wie ’n NG dominee hom ontferm het, deur wie sy geïnspireer is om ook te wil doen wat hy doen, wat in dié Afrikaanse kerk belydenis van geloof afgelê het en later gaan teologie studeer het omdat sy ’n NG dominee wou word.
“As God ’n vreemdelingvrou kan gebruik, kan God my en jou in die bediening gebruik, was haar boodskap.”
“Mag ons as NG Kerk God se kerk wees. Mag ons instrumente in God se hand wees in ’n diverse gemeenskap,” het sy gesê. “Ons kan daarna strewe om mense soos Rut te wees in ons gemeenskap, in ons kerk en in ons land.”