Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Sandra. Sy het die ander outies na die fotosessies toe genooi het. Foto: Laetitia Kenny

‘Elke nag op straat is lank’


Neels Jackson berig oor ’n fotoprojek in Brakpan wat soveel meer geword het.


Dit het begin as projek om mooi foto’s te kry.

Ds Nico Grobbelaar van die NG gemeente Brakpan is ’n ywerige fotograaf en lid van Brakpan se kamera­klub. Op ’n dag het Ronnie se mooi baard en interessante gelaatstrekke hom opgeval. Dit sou ’n mooi foto maak, het hy gedink.

Ronnie. Een van Brakpan se outies, soos die haweloses hulleself noem. Outcasts. Ronnie, die boemelaar wat Nico se eredienste bygewoon het.

Laetitia Kenny en Nico Grobbelaar by Laetitia se rekenaar. Foto: Neels Jackson

Nico het vir Laetitia Kenny genader. Sy is ook lid van Brakpan se kameraklub en boonop is sy een van Suid-Afrika se topfotograwe. Haar werk geniet wêreldwyd erkenning. Portretfotografie is haar spesialiteit en Nico sou baie by haar kon leer.

Laetitia het belang gestel, maar sy sou eers ’n maand of wat later tyd kon maak daarvoor. En voordat hulle vir Ronnie kon afneem, word hy doodgery.

Daarna het Nico en Laetitia besluit om dit ’n fotoprojek te maak om die outies af te neem. Hulle sou fotosessies by die kerk reël. Hulle sou vir hulle koffie en beskuit beskikbaar hê. Hulle sou die straatmense betaal vir hulle modelwerk en vir hulle kos gee. Bowen­al sou hulle die outies met respek hanteer, meer nog as ander modelle.

Nico vra toe vir Sandra, nog een van die outies, of sy vir hulle een oggend drie of vier mense kon bring vir ’n fotosessie by die kerk. Dit het goed gegaan en na die sessie het Nico en Laetitia lank saam met die ou­ties sit en kuier. Hulle doen moeite om die straatmense mens­waardig te laat voel.

Laetitia vertel dat dit gou meer as ’n fotoprojek geword het. Hulle het die outies leer ken. Sandra en Marius. Zelna met die mooi blou oë. Nicolai, Bennie, Jaco. Jacques en Gary, Louis en Willie. Anneke en Jackie. Outies gebruik nie hulle vanne nie, net voorname.

Hulle het hulle stories en iets van hulle leefwêreld leer ken. Daar het ’n emosionele band tussen hulle gevorm.

Laetitia vertel dat party oopmaak en alles van hulleself vertel. Hoe waar die stories is wat hulle hoor, kan hulle na­tuurlik nie peil nie. Daar is ander wat oor die straatlewe sal gesels, maar nie oor hulleself nie. En ander maak glad nie oop nie.

Nico vertel dat daar baie outies in Brakpan is. Party van hulle sal oor die hele Witwatersrand rond swerf en te­rug­kom Brakpan toe, In Brakpan, vertel die outies, kan hulle elke dag êrens ’n bord kos kry. Dis aan die een kant goed dat Brakpan se mense so omgee, sê Nico, maar dit lei tot probleme met dwelms en klein diefstalle.

Zelna met die mooi oë … sy is al 17 jaar lank op straat. Foto: Laetitia Kenny

Tussen die boemelaars en bedelaars, so het Nico en Laetitia geleer, is daar ’n duidelike hiërargie. Heel onder is dié wat by verkeersligte staan en bedel. Die ander sien neer op hulle.

Dan is daar dié met hulle trollies wat in asblikke soek na herwinbare mate­riaal. Net bokant hulle is die motorwagte en die boonste sport op die outie-leer is vir diegene wat motors by win­kelsentrums was.

Gary en sy hondjie. Die hond is in ’n goeie kondisie. Mense gee makliker vir sy hond kos, as vir hom, sê Gary. Foto: Nico Grobbelaar

Hulle het geleer dat ’n insinking in die ekonomie die straatmense ook tref. As middelklasmense begin sente omdraai, is daar eenvoudig niks om vir ’n bedelaar te gee nie.

Laetitia vertel dat die outies haar oor haar eie lewe laat dink het. Het sy werklik soveel komberse nodig as wat sy besit? Het sy soveel baadjies nodig? Sy het begin om uit haar oorvloed te deel.

Sy het begin om die mense se foto’s op Facebook te plaas en hulle stories daar te vertel. Daarby het sy ’n lesing saamgestel waarin sy aan die hand van haar foto’s by fotoklubs oor Brakpan se outies praat.

Hierdie getuienisse het ander mense se oë oopgemaak vir dié deel van die gemeenskap wat tussen hulle bly. Mettertyd het Laetitia stories gehoor oor men­se wat haar Facebookstories gesien het en ook begin uitreik het na die mense op straat.

Daar is woorde van die straatmense wat hulle bybly. Anneke het opgemerk dat haweloses nie dwelms gebruik vir die plesier daarvan nie. Hulle gebruik dit om te oorleef.

Nadat hulle stories gehoor het van mense soos Zelna wat al sewentien jaar lank op straat bly, het een vrou eendag vir Laetitia gesê sy was vier maande lank op straat. “So kort?” het Laetitia onnadenkend gevra. Die vrou se antwoord was eenvoudig: “Elke nag op straat is lank.”

Bennie vertel dat hy ’n boilermaker is, maar dat hy nie papiere het nie en daarom kry hy nie werk nie. Foto: Nico Grobbelaar

Nico vertel dat sy lidmate weet van die projek. Hy gesels met hulle daaroor. In Brakpan se gemeente is daar plek vir boemelaars en karwagte, sê hy. Witboordjiemense en blouboordjiewerkers sit saam in die kerk. Hulle eet saam en hulle kuier saam.

Hulle beplan ’n potjiekosdag saam met ander gemeentes en hulle sal die hawelose ouens ook nooi.
Nico sê dis vir hulle ’n passie om by hierdie mense se lewe betrokke te raak. “Hulle is normale mense soos ek en jy.”


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.