Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dr Roedolf Botha gesels oor hulle gemeente se besluit om weg te doen met eredienskollektes. Foto: Neels Jackson

Geld: Dit gaan oor die navolging van Jesus


Vandat die NG gemeente Pretoria-Oosterlig sowat drie jaar gelede weggedoen het met eredienskollektes, gaan dit heelwat beter met hulle finansies.

Dit mag vreemd klink, maar agter die besluit lê daar heelwat teologiese denke.

LEES OOK: Finansiële impak van pandemie op gemeentes

Dr Roedolf Botha, leierleraar, gaan haal die verhaal ’n paar dekades gelede toe hy betrokke was by ’n nuwe gemeente vir kerklos mense aan die Wes-Rand. Hulle het destyds heelwat navorsing gedoen en gevind dat hierdie groep mense dit baie negatief beleef as daar by die kerk oor geld gepraat word.

Toe hy in 2017 in ’n konsultasiepos by Oosterlig betrokke was, het hy met die sensitiwiteit wat destyds by hom gekweek is, opgemerk dat daar elke Sondag by Oosterlig se eredienste oor geld gepraat word. Daar was aan die einde van elke maand ’n deurkollekte vir ’n spesifieke bediening, en elke week is mense daaraan herinner.

Hy het dit by die leraarspan genoem en toe het hulle opnuut besin oor die hele saak van lidmate se bydraes. Die teologiese uitgangspunt in die gemeente is dat vrygewigheid ’n belangrike aspek van die navolging van Christus is.

Eers het hulle probeer om van die kollekte ’n sinvolle liturgiese element in die erediens te maak. Dit moes nie net ’n tyd wees waar mense in hulle sakke rondvroetel vir kleingeld nie. Dit moes ’n sinvolle, geestelike element van die erediens wees.

Dit het beter gewerk, maar daar was ook mense wat negatief daarop gereageer het.

Dit is toe dat hulle daaroor begin praat het om heeltemal weg te doen met eredienskollekte. Dit sou ’n groot stap wees en hulle was maar senuweeagtig oor die effek wat dit op die gemeente se finansies sou hê. Eredienskollektes het immers sowat ’n kwart van hulle inkomste opgelewer.

Botha vertel daar was twee oorwegings vir hierdie stap. Die eerste was ’n missionale oorweging. Hulle wou hê die eredienste moes vreemdelingvriendelik wees. En as buitestanders dit negatief beleef as geld ter sprake kom, moes hulle daarvan wegkom. Die tweede oorweging was ’n pastorale een: Hulle wou dat lidmate hulle eie geldelike bydraes sinvol moes beleef.

LEES OOK: Finansiële impak van die pandemie op gemeentes: Beroepbare predikante en proponente as ‘werkloses’

Daarom het hulle die gemeente gevra om tuis te gaan dink oor hulle geldelike bydraes aan die kerk. Hulle moes bid daaroor en die gee moes vir hulle ’n geestelike daad wees.

As ’n mens oor bydraes begin praat, is daar drie groepe mense in die gemeente, sê Botha. Die eerste is dié wat reeds “tot barstens toe” gee. Vir hulle is die boodskap dat hulle asseblief nie meer moet gee nie.

Die tweede groep is mense wat ’n bietjie gee, maar wat meer kan gee. Hulle word gevra om weer te gaan dink en bid oor wat hulle gee.

Die derde groep is diegene wat niks gee nie. Vir hulle word gesê dit is vir hulle eie navolging van Jesus belangrik dat hulle gee. Dit gaan nie om geld vir die kerk nie. Dit gaan daaroor dat jy nodig het om vrygewig te wees.

Botha sê Jesus praat meer oor geld en materiële sake as oor enigiets anders. Vir hulle wat in die ooste van Pretoria bly en meer het as die meeste, lê dit ’n besondere verantwoordelikheid op om vrygewig te wees.

By Oosterlig vra hulle telkens hoe hulle lidmate kan help om ’n volgende stap te neem in die navolging van Christus. Vir verskillende mense beteken dit verskillende dinge, maar een aspek daarvan is om vrygewig te wees.

LEES OOK: Hier kry jy koffie, maar ook ’n oor wat luister

Toe Oosterlig vroeg in 2018 afgesien het van eredienskollektes, het hulle lidmate gevra om hulle bydraes elektronies oor te betaal. Van die senior mense het kom sê hulle is nie bedrewe met die internet nie, en daarom is daar by die kerk twee kassies aangebring waar dié mense hulle bydraes kan ingooi.

Die gemeente se inkomste het in die eerste twee maande ’n klein bietjie teruggesak, maar daarna was dit nog deurentyd bo die begroting – ook die afgelope jaar tydens die Covid-pandemie.

In dié tyd het Oosterlig, as deel van die stad se versorging van haweloses tydens die inperking, vir twintig mense verblyf op die kerkterrein verskaf. Die gemeente is betrek en die reaksie was oorweldigend. Mense wat nog nooit bygedra het nie, het dit nou begin doen.

Toe dit by die begroting kom vir die nuwe geldjaar, het hulle besef dat die ekonomie weens die pandemie stram is. Daarom is daar besluit om die begroting glad nie te verhoog nie – behalwe vir die missionale werk. Daarvoor is die begroting met R1 miljoen verhoog. Hulle het uitgewerk dat as elke huishouding eenmalig R1 655 hiervoor gee, dek hulle dié koste. Maar hulle het ook gesê dat mense wat self weens die pandemie ekonomies swaar trek, asseblief nie meer moet gee nie. Binne twee weke het die helfte van die geld ingekom.

Botha sê as daar in hulle gemeente oor bydraes gepraat word, praat hulle nie oor geld nie, maar oor dissipelskap. En die terugvoer wat hulle van lidmate kry, is: “Julle laat ons nie skuldig voel nie.”

  • Neels Jackson is ’n vryskutjoernalis en voormalige redakteur van Kerkbode.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.