Hier kry jy koffie, maar ook ’n oor wat luister

’n Stowwerige stoorkamer by die NG gemeente Oostersee is onlangs in ’n byderwetse “con­necting point” omskep en bied koffie, iets ligs te ete en ’n oomblik van stilsit by ’n oor wat wíl luister, vertel JACOBIE M HELENA na ’n besoek aan Ginger Tree Coffee in Parow, Kaapstad.

Gerhard Barnard vertel dat hy die stoorkamer destyds in ’n klein jeuglokaal omskep het, maar toe hy vir ’n jaar in Texas in Amerika gaan werk het, het die lokaal in onbruik verval. Terug op eie bodem en weer in ­diens van sy grootwordgemeente, be­sluit hy om vir die kerkraad te vra of hy nie die lokaal by die gemeente kan huur en in ’n koffiewinkel omskep nie. Vandag is hy die eienaar van Ginger Tree Coffee, en ook jeugwerker by Oostersee-gemeente.

Die Ginger Tree Coffee. Foto: Jacobie M Helena

Hoewel Ginger Tree nie formeel aan die gemeente gekoppel is nie, is dit vir Barnard ’n bedieningsplek waar hy sy geesdrif vir bediening, mense en koffie daagliks kan uitleef. Die lokaal kan steeds die funksie van ’n jeuglokaal dien, maar tydens werksure as ’n koffiewinkel bedryf word waar mense in die gemeenskap, ook gemeentelede, met mekaar kan connect. “Dit help my ook om meer in tune met die gemeenskap te wees. Mense kom vertel stories wat niemand anders hoor nie. Ook mense wat nie gereeld meer kerk toe gaan nie kom hierheen en gee ons weer die geleentheid om met hulle te gesels. Ek is nie die tipe persoon wat vir iemand gaan vra hoe lyk jou geloof, bid jy of hoe voel jy oor Jesus nie, maar ek is iemand wat hou daarvan om na mense te luister,” vertel Barnard opgewonde.

LEES OOK: Andrew Murray-prysfonds: Wenners hoor in April

Barnard het die ruimte self omskep en byna alle meubels in die plek self gemaak. Die een sithoekie was byvoorbeeld eers ’n kas in die jeuglokaal waarvan die kasdeure nou die tafels is. Barnard se vriendin Meghan Jansen van Rensburg, ’n kunsjuffrou by Laerskool De Tyger, het hom met die bin­nenshuiseversiering gehelp. “Meghan het sketse van geboue in die omgewing soos Karl Bremer-hospitaal en die Oostersee-kerkgebou gemaak wat teen die mure hang om die karakter van die omgewing te weerspieël,” verduidelik Barnard terwyl hy na die wit-en-swart sketse teen die mure wys.

Word 'n vriend van Kerkbode