Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Finansiële impak van pandemie op gemeentes


Te midde van die ekonomiese uitkringeffek van die Covid-19-pandemie, behoort byna 90% van die NG gemeentes finansieel “te kan oorleef”, volgens ’n peiling onder predikante.

Op ’n stelling in die peiling: “Die pandemie gaan ver­oorsaak dat hierdie gemeente nie kan oorleef nie”, het 89% van die respondente aangedui dat hulle nie saamstem nie.

’n Verdere 6% van deelnemers aan die predikantepaneel-opname was onseker, volgens ’n verslag wat prof Kobus Schoeman namens die Taakspan Navorsing op 3 Maart aan die Algemene Sinodale Moderamen gelewer het.

Sowat 5% van respondente het egter saamgestem met dié stelling. Hierdie tyding is verder vergelyk met data wat toon dat ’n beduidende groep respon­dente se eie geldsake ook onder druk is, te lees uit die feit dat 26% saamstem met die stelling: “Ek is bekommerd oor my eie finansiële situasie.”

 

Die peiling is in Oktober 2020 uitgevoer en die inligting daaruit skets ’n breër prentjie van hoe dit met die NG Kerk se geldsake op gemeentevlak gaan.

Die basiese insig lyk so:

  • Die meerderheid van gemeentes se inkomste het dieselfde gebly.
  • ’n Derde van gemeentes se in­komste het gedaal.
  • Die impak van die verlaagde inkoms­te is versag deurdat twee derdes van gemeentes se uitgawes ook gedaal het.

Redakteursbrief: Hoop én kommer

Die uitslae van ’n die steekproef waaroor Kerkbode hierbo berig, verras, wek kommer én gee hoop.

Sowat 22% van gemeentes se in­komste het gestyg ondanks die negatiewe ekonomiese uitwerking wat die Covid-19-pandemie op ons land het.

By 34% van gemeentes was daar ’n afname.

En dan is daar die 44% wat sê hulle inkomste het dieselfde gebly. Business as usual.

Hierdie peiling het deelnemers wat tel onder die NG Kerk se sowat 1 078 voltydse predikante asook die gros tent­makers en termynposte gepols.

Vanuit joernalistieke hoek is dit be­ginpunt-inligting: Dit prikkel miskien ’n mens se nuuskierigheid om te gaan uitvind hoe groot is daai dalings? Hoe groot is daai stygings? Hoe usual is daai business as usual?

Daar is ook nuwe vrae: Is daar beduidende patrone te sien in die geografiese verspreiding van die drie “ka­tegorieë” wat uit die data sigbaar word?

Soos met alle statistiek moet ’n mens dit versigtig benader en nie met ’n emosionele kwas daaroor verf nie.

Sonskynjoernalistiek sou wees om te sê als is fine, ondanks die feit dat altesaam 5% van respondente saamgestem het met die stelling: “Die pandemie gaan veroorsaak dat hierdie gemeente nie kan oorleef nie.”

Die teendeel daarvan sou wees om té alarmisties om te gaan met daardie inligting. Om nie genoeg oorweging te gee aan die gemeentes wat wel funksioneer en selfs floreer in hierdie uitdagende tyd nie.

Kerkbode verwelkom alle hulp uit gemeentes om die volle verskeidenheid van hierdie stories te vertel. Ons brieweblad is altyd oop vir besigheid. Besoek www.kerkbode.co.za om uit te vind hoe jy jou gemeente se belewenis van hierdie unieke “seisoen” met duisende lidmate en lesers kan deel. Of praat saam in die kommentaarafdeling hieronder. – Red.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top