Neels Jackson

Neels Jackson was voorheen kerksake-verslaggewer van Beeld. Sedert 2014 is hy redakteur van Kerkbode.

Proponente ‘moet vir geregtigheid werk’

“Julle taak is om daar waar julle ’n werkruimte gaan vind, profeties te werk vir geregtigheid.”

Dít was die boodskap wat prof Alphonso Groenewald vir die NG Kerk se nuwe proponente gehad het tydens hulle onlangse legitimasieplegtigheid in die NG Kerk Universiteitsoord in Pretoria. Groenewald het gepreek uit Psalm 85 met die tema – Geregtigheid berei vir God die pad voor – uit vers 14.

Hy het die Ou-Testamentiese agtergrond van Israel se ballingskap en daarna die voortgesette onderdanigheid aan die Persiese magte bespreek en gesê dit word ’n teks wat droom van ’n komende wêreld waarin die geregtigheid van God aan die orde van die dag is, ’n samelewing waarin die uitbuiting van die gemargina­liseerdes – die wees, die weduwee en die armes – nie aanvaarbaar is nie.

Groenewald het gesê in die huidige konteks is daar veral vier sake wat op die proponente se agenda gaan staan. Dit is armoede, rassisme, seksisme en homofobie.

Hy het verwys na Denise Ackermann wat gesê het die kerke het nuwe taal nodig om te praat oor mense wat die Ander is, mense van ’n ander ras, gender, klas, seksualiteit, godsdiens of geboorteland.

Ongelukkig, het Ackermann gesê, is daar ’n tendens by kerke om die Bybel te gebruik om genderdiskriminasie, homofobie, geweld en onreg te legitimeer in ­diens van magaansprake.

“Billike diskriminasie”

Teen dié agtergrond wou Groenewald weet hoe dit in 2018 nog moontlik is dat ’n gemeente besluit om nie ’n vroulike proponent te beroep nie, net omdat sy nie getroud is of kinders het nie. Hy het gevra hoe dit moontlik is dat daar in die kerk gepraat kan word van “billike diskriminasie” wanneer dit gaan oor die erken­ning van ’n groep lidmate se menswaardigheid. “Van wanneer af wil ons as kerk vir ons ’n beeld van gereg­tigheid voorstel wat enigsins nog ruimte laat vir diskriminasie?” wou hy weet.

Groenewald het vir die propnente gesê Psalm 85 gee vir hulle ’n profetiese droom van ’n wêreld waarvoor hulle hulle moet beywer. Volgens dié droom kan God se vrede slegs ’n realiteit word wanneer daar gewerk word vir geregtigheid.

Hy het afgesluit met Jesus se eie woorde uit die berg­rede: “Geseënd is julle wanneer julle honger en dors na geregtigheid, want dan sal julle versadig word.”

Proponent Charlotte dans van vreugde

Lofliedere in Afrika-idioom het ná die legimasieplegtigheid deur die kerkgebou van die NG gemeente Universiteitsoord weergalm.

In die liturgiese ruimte het proponent Charlotte Sibanyoni saam met haar ma en die tannies van die gemeente Lux Mundi (waar sy betrokke is) se Sotho-bediening gedans.

“Ek was só bly,” sê Charlotte ’n paar dae later.

Dit was geskiedenis wat daar gemaak is: dié bril­jante, jong, swart vrou wat as student van die NG Kerk by Tukkies teologie gestudeer het en by dié legitmasieplegtigheid tot die bediening in die NG Kerk toegelaat is.

Maar dit was ook ’n lang pad vir Charlotte vandat sy as sewejarige saam met haar ma in ’n bediendeka­mer in Pretoria se Moot gebly het. Later het haar ma Mamelodi toe getrek en het sy eers by vriende, toe in ’n plek van veiligheid en toe in die Louis Botha-­kinderhuis gebly.

In haar graad 11-jaar – sy was in die Hoërskool Hendrik Verwoerd in Pretoria – het sy op haar eie in ’n bediendekamer gebly en by plekke soos ’n pizza­winkel en sekuriteitsonderneming gewerk om te oorleef.

En toe gaan sy en ’n maat na die NG gemeente Concordia toe en daar leer sy vir ds Johan van Niekerk ken. Hy en sy vrou Rina het haar genooi om by hulle te kom bly en vir Charlotte het hy die pa geword wat sy nooit gehad het nie. Sy het ook belydenis van geloof in Concordia afgelê.

In haar matriekjaar verras die radiostasie Jacaranda FM haar met ’n beurs van ’n weldoener vir haar universiteitstudie. En toe haar dominee-pa vir haar vra wat sy wil gaan studeer, sê sy vir hom: “Ek wil doen wat jy doen. Ek wil ’n dominee in die NG Kerk word.”

Nou lag sy as sy vertel hoe verskriklik broekskeur dit aanvanklik gegaan het. Sy het Grieks en Hebreeus en ander vakke gedruip. Daar was hereksamens. En uiteindelik het sy haar eerste jaar deurgeskuur.

Maar in haar tweede jaar het haar punte opgeskiet tot in die sewentigs. En daarna was dit onderskeidings. Sy het haar BTh-graad en later ook die MDiv-graad met lof behaal. Sy gee nou klas in Hebreeus.

Dit was ook nie net met die akademie wat dit aanvanklik gehaak het nie. Ook met van haar klasmaats het dit soms gesukkel. Sy was vurig, vertel Charlotte. En soms kon van die klasmaats sulke onsensitiewe dinge sê. En dan het sy gereageer.

Maar mettertyd het ook dít beter gegaan. Sy het rustiger geword en geleer om te luister. Sy het begrip ontwikkel vir waar ander mense vandaan kom, vir die agtergrond wat hulle gevorm het om te dink soos hulle dink.

En nou praat sy van “ons”. Die NG Kerk is haar familie. Dit was NG mense wat haar studies betaal het. Dit was NG mense wat gesorg het dat sy blyplek het en wat vir haar ’n kar gegee het. Dit was NG mense wat haar op soveel maniere gehelp het.

Sy sien uit daarna om saam met die NG Kerk die toekoms in te stap. Sy sal aanhou klas gee, sê sy. En sy het ingeskryf vir haar doktorsgraad oor ’n aantal psalms.

Sy sou graag in ’n gemeente wou help. Sy sou met die jeug wou werk, oor hoe hulle na Suid-Afrika kyk. Sy kan in Afrikaans preek, maar sal graag help met ’n Engelse bediening. Sy wil diversiteit bevorder.

Want proponent Charlotte Sibanyoni droom oor ’n groter toekoms vir die NG Kerk.

Frederick se pad met God en sy kerk

Dr Frederick Marais is ’n pelgrim wie se geloofspad hom al by verskeie bakens uitgebring het. Hy het vir NEELS JACKSON daarvan vertel.


“’n Kerk wat almal verwelkom, is in ons bloed,” vertel Frederick Marais oor sy gesin. Dis ’n ge­dag­te waarmee hy grootgeword het.

Eintlik kom dit al van voor sy geboorte af, want die gesinsverhaal wat dié boodskap dra, gaan oor sy ouer suster, Huibrie. Hulle pa was predikant op Williston in die Noord-Kaap toe Huibrie gebore is.

Sy is vroeg deur dokters in die Kaap gediagnoseer met Down-sindroom. Dit was in ’n tydvak toe dit nog ’n ope vraag was hoe die gemeenskap so ’n kind sou aanvaar. Haar pa het egter die Sondag van die kansel af vir die gemeente gesê hy wil haar in die gemeente doop.

Dít het ’n beginsel neergelê wat ook deel van Frede­rick se lewe geword het: In die kerk is almal welkom, ongeag hulle andersheid.

Dat Frederick vroeg al gedink het die kerk het ’n belangrike rol om te speel, blyk uit ’n ander staaltjie. Frederick sê sy pa het vertel dat die klein Frederick een Sondagaand in sy graad 2-jaar by sy pa in die studeerkamer gekom het en vir hom gesê het: “Pa, jy weet en ek weet dat die gemeente nie so kan aangaan nie. Dinge moet verander.”

Min het hy toe geweet dat hy later, deur die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes, betrokke sou wees by honderde gemeentes se prosesse om te ver­ander.

Dit was ’n paar jaar later, toe hy in standerd 4 was, dat hy ’n belangrike les geleer het oor ’n sleutelaspek van dié veranderingsprosesse: geloofsonderskeiding.

Sy pa is die pos aangebied van bestuurder van ’n sentrum vir gestremdes. In sy soeke na ’n antwoord of hy dit moes aanvaar of nie, het hy Matteus 25 gelees – dié deel oor die laaste oordeel waar Jesus sê: “Vir sover julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het jul­le dit aan my gedoen.”

Dit was vir sy pa ’n antwoord, en die rol wat die Bybel gespeel het in dié geloofsonderskeiding, het ’n indruk op Frederick gemaak.

In sy hoërskooljare het Frederick gewonder of hy dominee moet word of nie. Hy wou dit nie doen net omdat sy pa ’n dominee is nie. Daarby het hy ook nie die sekerheid verstaan waarmee dominees gepraat het nie.

Toe, een Sondagaand, sê hulle predikant van die kansel af dat hy oor ’n teks gaan preek, maar dat hy nie seker is dat hy dit verstaan nie. Vir Frederick het dié opmerking ’n deur geopen. As ’n dominee kon sê hy is nie seker hy verstaan nie, dan kon hy ook ’n predikant word.

Dit is vandag nog deel van sy mondering, sê Frede­rick. En dit is nie dat hy twyfel nie. Dit is bloot dat hy altyd bewus is dat daar ook ’n ander perspektief is op ’n saak, dat mense wat anders dink, se siening ook legitiem is, en dat ’n mens daardie ander perspektiewe nodig het om te verstaan.

Hy is tuis in die gereformeerde tradisie, sê Frede­rick. Die tradisie is belangrik. Maar hy dink nie sy tradisie het die waarheid beter beet as ander tradisies nie. En as jy ander tradisies diskrediteer, dan verloor jy hom.

Maar hy het ook standpunt ingeneem. As student het hy by prof Willie Esterhuyse filosofie gekry. Dit was in die tyd van Esterhuyse se boek Afskeid van apartheid. Sy politieke ontwaking, vertel Frederick, was vanuit sy geloof.

Dit het daartoe gelei dat hy en twee ander studente ’n memorandum vir hulle dosente opgestel het. Daarin het hulle daarop aangedring dat die dosente téén apartheid moes klasgee.

Ds Ockie Raubenheimer, destyds die skriba van die kuratorium, het hom ingeroep en vir hom gesê hy sal nooit ’n beroep in die NG Kerk kry nie. Frederick glimlag as hy opmerk dat hy nou die werk doen wat ds Ockie destyds gedoen het. Hy is nou die skriba van die kuratorium.

Dit is vir hom interessant dat dieselfde kerk waarin hy apartheid geleer is, ook die kerk is waarin hy geleer het apartheid is verkeerd.

Op die vraag waar die kerk nou is, sê Frederick dit herinner om aan die spanning van die middel 1980’s. Die NG Kerk is ’n veelkantige kerk en spanning laat mense na die pole toe beweeg.

Self vind hy homself meer tuis in ’n relasionele kennisleer as in dogmas.

“Ek glo in Christus. Ek is in ’n verhouding met die lewende God. Dogmas help my, maar dis nie die doel nie. Dit moet die lewende verhouding met Christus voed,” sê hy.

As die kerk die openheid het dat die lewende Christus sy volgelinge sal help om nuut en vars te verstaan wat hulle nie verstaan nie, dan sal die kerk totaal ander vergaderings en eredienste hê, sê Frederick.

En die hele beweging van missionale kerkwees sluit hierby aan.

Dit werk met die Godsbegrip van die Een wat Homself gee, soos ons dit in Filippense 2 lees.

“Ons leer hoe lyk ’n kerk wat dien, en wat in navolging van Christus selfopofferend leef, en nie selfhandhawend nie,” sê Frederick.

Goudland verwelkom agt nuwe predikante

Agt predikante van Bokang Modimo, die groep swart gemeentes wat by Sinode Goudland ingeskakel het, het by Goudland se sinodesitting hulle sertifikate van predikantsbevoegdheid gekry.

Die predikante het saam met die gemeentes van Bokang Modimo by die NG Kerk ingeskakel. Hulle akademiese opleiding voldoen egter nie aan die voorskrifte wat normaalweg vir NG predikante geld nie. Op advies van die Algemene Taakspan Regte is daar egter aan hulle predikantsbevoegdheid verleen, maar met beperkte opdrag. Hulle mag slegs in die gemeentes van Bokang Modimo beroep word.

Dit beteken dat hulle in daardie gemeentes volledig die werk van predikante mag doen, en onder meer die sakramente mag bedien.

Bokang Modimo se 18 gemeentes was met 36 afgevaardigdes op Hervormingsdag, 31 Oktober, vir die eerste keer volledig verteenwoordig op ’n sitting van Goudland se sinode. Hulle skakel by Goudland in as een van die sinode se agt streke.

Ds Johan Brink, voorsitter van Goudland, het aan die sinode gesê dat die aantal gemeentes in Goudland met 12% gegroei het met Bokang Modimo se inskakeling. By die laaste vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen, vertel Brink, het ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, gesê dat Goudland met die inskakeling van Bokang Modimo ’n voorbeeld gestel het. Dit is deel van die toekomspad van die NG Kerk.

VKO: daar is baie kundigheid beskikbaar

“Ons hoef nie die wiel te herontwerp nie. Hy is klaar ontwerp.”

Dít is een van die dinge wat duidelik was op die konferensie oor vroeëkinderontwikkeling (VKO) wat die Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Diakonaat saam met verteenwoordigers van al tien sinodes en nog ’n aantal organisasies gehou het.

Dr Lourens Bosman, algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Si­node, sê daar is fantastiese kundigheid beskikbaar. Organisasies met dié kundigheid wag om met die kerk hande te vat.

Oor die rede waarom die kerk betrokke moet of wil wees by vroeëkinderontwikkeling, sê Bosman dit is omdat die kerk betrokke bly by die voortgesette stryd teen armoede en onreg. In ’n vroeëre gesprek met ekonome is daar aan die kerk gevra om betrokke te wees by onderwys, en spesifiek vroeëkinderontwikkeling. Dis die beste manier om armoede te bestry.

In ’n gewone plaaslike gemeenskap het die kerk nie toegang tot die leerplanne of onderwysstandaarde nie. Die kerk het egter wel baie toegang tot voorskoolse kinders. En om by dié kinders betrokke te wees, is nie om met die tweede prys tevrede te wees nie. Dis die heel beste plek om betrokke te wees.

Die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe – van bevrugting tot sowat twee jaar oud – is van kritieke belang in die ontwikkeling van die kind. Dit is grootliks in dié tyd dat die brein gevorm word. ’n Kind wat min kos en stimulasie kry, se brein lyk totaal anders as dié van ’n kind wat goeie voeding en stimulasie kry. ’n Organisasie soos Common Good kan in dié opsig ’n waardevolle vennoot wees.

Bosman beklemtoon dat die sorg vir kinders onder twee nie net van belang is vir armes nie. Ook binne ’n gemeente is dit belangrik om te vra of kinders stabiliteit, liefdevolle sorg en stimulasie kry.

As dit kom by kinders van twee jaar oud tot in graad R, is die vraag by gemeentes dikwels hoe hulle met ’n sentrum vir vroeëkinderontwikkeling kan begin. In dié opsig het Smartstart reeds hande gevat met die NG Kerk in die Wes-Kaap, maar hulle soek nog vennote. Plaaslike gemeentes, ringe of sinodes sou vir Smartstart kon vra: “Kom help ons om te begin.”

Nal’iBali lê klem daarop dat dit baie belangrik is om vir kinders te lees. Gemeen­tes kan direk met hulle skakel.

In Pretoria help die middestadsbediening Pen bestaande dienste waar iemand byvoorbeeld bloot kleuters oppas, om hulle vlak van dienslewering te verhoog. Die gedagte is om hulle mettertyd te help om te vorder van blote oppas tot by ’n volwaardige kleuterskool.

Bosman sê die sinodale gebiede waar daar reeds ver gevorder is met die bevordering van vroeëkinderontwikkeling, is die Noord-Kaap, Wes-Kaap en Hoëveld.

Wat telkens belangrik is om dit te laat gebeur, is noue samewerking tussen die maatskaplike dienste en die gemeentes. Dit moet gebeur sonder dat gemeentes hulle verantwoordelikheid abdikeer aan die maatskaplike dienste. Die gedagte is dat gemeentes in staat gestel word om dit self te doen.

Bosman sê dit is ’n groot oogmerk om die langarmverhouding tussen die kerk en die maatskaplike dienste op te hef. Noue samewerking is nodig.

Wie kan ek kontak?

Skakel met jou sinodale verteenwoordiger:

Namibië: Amanda Kruger ceo@ecsos.org

Noordelike Sinode: Marinda van Niekerk marinda@pen.org.za

Oostelike Sinode: Elize Bezuidenhout ejb@bssa.co.za

Hoëveld: Mona van Heerden mona@tutela.org.za / Johan Botha johanbth46@gmail.com

Goudland: Grant du Plessis mjgduplessis@gmail.com of Nico van Rensburg volbring@mweb.co.za

Noord-Kaapland: Fanus Henning fanus@caritas.org.za

Vrystaat: Nico Mostert nicom@absamail.co.za

KZN: Rupert de Koning rdekoning@absamail.co.za of Mike Heaney mike.heaney1@gmail.com

Oos-Kaap: Christo Stumke demist@telkomsa.net

Wes-Kaap: Nioma Venter nioma@kaapkerk.co.za

Of, kontak dié organisasies:

Common-good: Het ’n uitstekende navorsingsverslag oor die kerk se rol in die eer­ste 1 000 dae. Beskikbaar by http://www.commongood.org.za/early-life/. Kontak Sarah Binos of Ruth Lundie oor die moontlikheid van ’n werkswinkel in jou sinode of streek by info@commongood.org.za

Smartstart: Gaan kyk eerstens na hulle baie goeie webblad: https://smartstart.org.za/en/. Hulle werk deur middel van programfasiliteerders (franchisors) wat die plaaslike VKO-sentrums (franchises) plant, oplei en toesig hou. Kontak hello@smartstart.org.za vir inligting oor die naaste franchisors in jou omgewing.

Nal’iBali: Vorm ’n ses maande-vennootskap met gemeentes om julle aan die gang te kry. Hulle het ’n uitstekende webwerf by https://nalibali.org/ met al die inligting.

PEN: Gemeentes in en om Gauteng kan skakel met Jennie McGarvie by jennie@pen.org.za

Societas is ’n maatskappy sonder winsoorgmerk wat ’n fonds ontwikkel om vroeëkinderontwikkeling deur geloofsgemeenskappe en nie-regeringsorganisasies te ondersteun. Hulle bevorder ook bewusmaking. Lees meer oor hulle by societas.co.za

Jesus laat ons anders dink oor die koninkryk van God

“Ons taak is om die koninkryk van God te laat kom, tot eer van God.”

So het prof Marius Nel, dosent in Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch, aan die Oostelike Sinode gesê. Dié sinode probeer die gemeentes help om op missionale manier kerk te wees, en as deel van dié po­ging is Nel genooi om oor die sleutelkonsep van die koninkryk van God te praat.

Om te verduidelik hoe die kerk kan help om die koninkryk te laat kom, het Nel die sinodegangers se aandag gevestig op die situasie in die eerste eeu, toe die Ro­meinse ryk die bekende wêreld oorheers het.

In die proses het die Romeine ook die Jode aan hulle onderwerp. Die Romeinse heersers het in die kusstad Caesarea Maritima gewoon en net Jerusalem toe gegaan wanneer dit nodig was. Hulle het ’n hoëpriester aangestel wat nie ’n Leviet was nie, Herodes die Grote het regeer al was hy nie ’n volbloed Jood nie en die Romeine het die Sanhedrin of Joodse Raad ingestel as ’n soort “departement van eie sake”.

Die hele ekonomie was georden tot voordeel van die Romeine en die regeerders het absolute gesag gehad.

Die Jode het op uiteenlopende maniere hierop gereageer. Party het gewag op God se oordeel. Ander wou veg. Daar was die Esseners wat hulle onttrek het in geïsoleerde gemeenskappe. Die Fariseërs het probeer heilig leef in die wêreld en die Sadduseërs het met die Romeine saamgewerk.

Moet die kerk in sy verhouding met die wêreld een van dié opsies oorweeg? het Nel gevra.

Hy het gesê die kerk moet kyk wat gebeur as Jesus, ná Johannes die Doper, sê die tyd het aangebreek. Die koninkryk van God het naby gekom.

Hy het gesê Jesus het die verhouding tot God en die koninkryk van God geher­definieer. Hy het sy volgelinge geleer om anders te dink oor die koninkryk van God.

Nel het gesê die Paasgebeure het afgespeel soos ’n troonbestyging. Jesus kom egter op ’n donkie. Hy word deur ’n vrou gesalf. ’n Romeinse soldaat kroon hom met ’n doringkroon. En sy troon is die kruis.

As die kerk oor die koninkryk van God dink soos die wêreld dink oor koninkryke, dan pleeg hy magsvergrype.

Nel het gevra watter styl gaan die kerk beliggaam in sy verhouding met die wêreld.

Hy het gesê dis maklik om die koninkryk van God na die armes te bring, maar dit is nie wat Jesus doen nie. Die koninkryk van God bestaan juis uit die ellendiges. Dit is die samekoms van dié sonder mag en invloed.

Dominees moet voorskote dra, nie togas

Predikante moenie gelegitimeer word met togas nie, maar met voorskote.”

Dit was die terugvoer van een van die tafels by die sitting van Sinode Hoëveld, nadat die afgevaardigdes geluister het hoe dr Stephan Joubert met hulle praat oor ’n CV van iemand wat Jesus navolg.

’n Groot saak op die sinode se agenda was ’n plan van aksie vir die toekoms, terwyl die gemeentes in die sinode gekonfronteer word met krimpende lidmaattalle en dalende finansies. Joubert se spreekbeurt moes ’n teologiese onderbou vir dié gesprek verskaf.

Hy het aan die sinode gesê dit is nie ’n plan van aksie wat van belang is nie, maar karakter. Hy het die sinode deur ’n paar tekste in die Evangelie van Markus geneem om vir hulle te wys op Jesus se karakter en op dié van sy volgelinge.

Die identiteit van volgelinge van Jesus, is dié van kruisdraers, het Joubert gesê.

Hy het vertel van ’n keer toe iemand wat ’n vlug moes onderneem, die een of ander krisis gehad het wat dit nodig gemaak het dat hy in besigheidsklas moes vlieg sodat hy gemakliker kon wees as wat hy in ekonomiese klas sou wees. Daar was egter geen sitplek in besigheidsklas oop nie. Maar toe hoor aartsbiskop Desmond Tutu, wat op dieselfde vlug sou wees, daarvan en bied aan om sy besigheidsklas-sitplek te verruil vir een in ekonomiese klas.

Joubert het ook vertel van Maximilian Kolbe, ’n Christen wat Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog gehelp het. Hy is gevang en saam met die Jode in Auschwitz aangehou. Op ’n dag toe die Duitsers ’n aantal Jode wou teregstel, het Kolbe aangebied om plekke met een van die Jode te ruil en hy is toe tereggestel.

Die grootste plekruiler, het Joubert gesê, was Jesus Christus op Golgota.

Hy het ook gesê dat as die dissipels wonder wie die grootste in die koninkryk van God sal wees, dan sê Jesus vir hulle wie eerste wil wees, moet laaste wees. Daar word gesê gelowiges moet diensknegte wees, maar letterlik vertaal, moet ons “bediendes” word. “’n Bedien­de is iemand wat in ons huise werk. Niemand wil ná matriek ’n bediende word nie,” het Joubert gesê.

Hy het verder verwys daarna dat Jesus, wanneer sy dissipels die kinders wil wegjaag, ’n kind tussen hulle laat staan en sê hulle moet soos ’n kind word. Hy het verwys na kinders se weerloosheid, hulle openheid vir God en hulle verwondering.

Verder het Joubert daarop gewys dat gelowiges “slawe” moet word. In die Bybelse tyd is daar op slawe neergesien. ’n Skrywer het slawe destyds bestempel as “lewende landbou-implemente”. Daar was gesê dat slawe kan praat, maar verder het hulle dieselfde waarde as ’n hond.

Joubert het dié selfopofferende lewe van onbelang­rikheid en diens voorgehou as die manier om Jesus te volg.

In die gesprek op die sinode is dié boodskap goed ontvang. Dit is na aanleiding daarvan dat voorgestel is dat predikante by legitimasie liewer voorskote as togas moet dra.

Die sinode het die plan van aksie vir die pad vorentoe bespreek, maar dit moet nog volledig uitgewerk word.

Immanuel sien die skoonheid in die puin

Immanuel van Tonder stap deur die puin van die pastorie waar hy tot drie weke tevore nog gebly het, totdat ’n brand dit binne ’n uur verwoes het.

Hy gaan staan elke nou en dan, kyk na iets, en verwonder hom aan die skoonheid wat uit die verwoes­ting kom: ’n bladsy met bladmusiek waarvan die kante gebrand is; twee blikkies in ’n kombuiskas, ’n patroon wat teen ’n muur ingebrand is.

Baie mense het hulle verwonder aan sy kalm reaksie op so ’n ramp.

Maar Immanuel, predikant van die NG gemeente Lynnwood, en sy vrou Monika beoefen “mindfulness”. ’n Dag voor die brand het hy vir Kerkbode ’n artikel daaroor geskryf. En hy sê dit het hulle gehelp.

Deur hulle beoefening van mindfulness, verduidelik hy, het hulle oor jare waardes ingeoefen wat met die brand ingeskop het. Dit is waardes soos om in die oomblik teenwoordig te wees, om die werklikheid te aanvaar soos dit is, en om te laat gaan.

In een oefening fokus jy ’n halfuur lank op jou asemhaling. Jy volg die asem in, is bewus daarvan dat jy vol asem is, dan volg jy die uitasem, die tot rus kom voor die siklus herhaal. As ’n gedagte by jou opkom wat jou aandag aftrek, raak jy nie gespanne daaroor nie. Jy is met deernis by die gedagte teenwoordig en dan laat jy dit gaan, sodat jy weer op die asemhaling kan fokus.

Mindfulness, sê Immanuel, oefen jou teenwoordigheidspier, jou deernisspier en jou laatgaanspier.

Immanuel sê hy dink toe hulle besef het die huis brand af, het dit hulle die teenwoordigheid van gees laat behou om te doen wat hulle toe moes doen. Hulle kon van die belangrikste dinge red: sy rekenaar en rugsteun, belangrike dokumente, foto-albums.

En toe hulle kyk hoe die huis afbrand, sê Monika: “Wat ’n voorreg is dit om nie verknog te wees aan jou goed nie.” Hulle kon dit laat gaan. Hy kon beleef wat dit is om bevry te wees van sy goed.

Ná so iets gebeur het, word jy oorspoel deur ’n klomp gedagtes. Jy dink aan honderd-en-tien goed wat gedoen moet word. Golf na golf gedagtes tref jou. As hy al daardie gedagtes ernstig opgeneem het, sou dit hom oorweldig het.

Maar hy het geleer om elke gedagte wat kom, met deernis te hanteer, dalk ’n nota te maak, en dit dan te laat gaan.

Onlangs het iemand die beeld gebruik van ’n herfsblaar. Die boom hou op om voedingstowwe na die blaar deur te laat, en dan val die blaar later self af. Dis hoe dit met jou gedagtes werk. As jy hulle nie voed nie, dan gaan hulle self weg.

Op dié manier kon hy na die brand in die hede bly, doen wat op die oomblik gedoen moet word, en hom nie laat oorweldig deur wat alles nog gedoen moet word nie.

Dit help natuurlik dat hy versekering gehad het. En hulle het blyplek. Hulle is versorg.

Agterna beleef hy ’n geweldige “interconnectedness”, sê Immanuel. Hy voel ’n band met God, en ’n band met mense van reg oor die land wat hulle gesin met deernis oorspoel het.

“Jou goed kan brand, maar as die liefde daar is … vlamme kan dit nie vernietig nie,” sê hy.

Hy beleef interne gawes soos vrede, hoop en vreugde. Die vermoë om die skoonheid in die pyn te sien.

Hoëveld kry ’n nuwe span leiers

Dr André Bartlett is deur die NG Kerk se Hoëveldsinode tot nuwe moderator verkies. Hy het die vorige termyn as assessor van die sinode gedien.

Bartlett is predikant van die gemeente Johannesburg, ’n middestadsgemeente wat hy as “die armste gemeente in die sinode” bestempel. Tog, sê hy, is dit ’n lewenskragtige gemeente waarin ’n Bybelstudie op ’n Saterdagmiddag deur 70 mense bygewoon kan word.

Die meeste lidmate is nie wit nie, en benewens die lidmate is daar ook nog mense van lande reg oor Suider-Afrika wat die eredienste bywoon.

Bartlett is ook hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria. Daarby behartig hy ook Kerkbode se rubriek “Kerk en kuns”. Hy is die skrywer van die boek Weerlose weerstand oor die verloop van die gesprek in die NG Kerk oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Bartlett is van die sterkste stemme in die NG Kerk ten gunste van die volledige erkenning van gay verbintenisse deur die kerk.

Hy volg dr Hugo van der Linde op wat aangedui het dat hy nie nog ’n termyn wil dien nie.

Die nuwe assessor (ondervoorsitter) is ds Hannes Windell van die gemeente Sonhoogte in Germiston. Hy het voorheen 8 jaar lank as Hoëveld se aktuarius gedien, en maak nou na ’n afwesigheid van ’n paar jaar weer ’n terugkeer tot die moderatuur.

Dr Bertus Koorts, ouderling van die gemeente Primrose-Oos is herkies as skriba van die sinode, ’n pos waarin hy reeds 6 jaar lank dien. Hy is ook die algemene kantoorbestuurder van die Hoëveldsinode.

Dr Johan Botha van die gemeente Edleen in Kempton Park is verkies tot aktuarius (kerkregkundige). Botha was verras met sy verskiesing omdat hy nie voorheen op die terrein van kerkreg gewerk het nie.

Hy was in die vorige termyn die leier van die sinode se diensgroep Diensgetuienis. Die missionale diakonaat is eintlik sy terrein. Hy het na sy verskiesing geskerts dat hy dalk met dié agtergrond ’n sagte kant na die kerkreg sal bring.

Steynsrus is op reis met God

Dit het begin met die droogte, vertel dr Arnold Smith, predikant van Steynsrus.

Soos soveel ander plekke in die land, het dié Vrystaatse dorp en sy omliggende landbougemeen­skap ’n paar jaar gelede baie swaar gely onder die droogte. Soveel so dat gemeenskappe van elders af water aangery het om die nood te verlig.

En, soos dit dikwels op sulke dorpe gebeur, staan Steynsrus se imposante sandsteenkerk in die middel van die dorp. En dit word die sentrum waarvandaan water versprei word.

Een van die groepe wat water gebring het, was ’n groep perdeliefhebbers van Kyalami, noord van Johannesburg. Hulle werk onder die naam Echo en het toe gevra na die welstand van perde in Steynsrus se omgewing. Later het hulle vir die perde voer gebring, en toe gesien dat daar perde is, veral van arm mense in die omgewing, wat meer sorg nodig het. En deur uit te reik na die perde, het hulle ook uitgereik na die mense wie se perde dit was.

Smith sê as gemeente het hulle gedoen wat in die missionale teologie geleer word: Hulle het opgemerk dat God hier aan die werk is en by hierdie beweging aangesluit. Die kerkterrein is beskikbaar gemaak sodat Echo daar na die mense se perde kon omsien.

Sedertdien het dit ’n gereelde instelling geword dat Echo se mense na Steynsrus se perde kom omsien. Verlede maand was hulle weer een Saterdag daar. En lidmate van Steynsrus tref al die reëlings.

Daar word volledig rekord gehou van al die perde en wat vir hulle gedoen word. Elke perd word ondersoek en as daar wonde is, word dit versorg. Terselfdertyd word die perde se eienaars geleer hoe om ’n wond te versorg, maar ook hoe om die perd te hanteer om seerplekke te voorkom.

ʼn Perd word deur ʼn hoefsmid beslaan. Dit is een van die maniere waarop daar vir die gemeenskap se perde gesorg word.

Die perde kry voer en water, waar nodig behoorlike tooms en ander toerusting, en ’n paar hoefsmede be­slaan die perde wat dit nodig het.

Die sorg vir die perde het uitgebrei na honde ook. ’n Ander groep, die Society for Animals in Distress, neem hiervoor verantwoordelikheid.

Verlede jaar het hulle vir ’n hele week gekom om die gemeenskap se honde te steriliseer. Toe is die MT Steynsaal op die kerkterrein omskep in ’n dierehospitaal. Meer as ’n 1 000 honde is in daardie week gesteriliseer.

Dit alles het meer geword as ’n projek om na die­re­­gesondheid om te sien. Dit het ’n reis geword waar­van Steynsrus se gemeente deel geword het. En op hierdie reis neem die Here Steynsrus se mense na nuwe plekke toe.

Smith vertel dat die gemeenskappe van Steynsrus en die township Matlwangtlwang nader aan mekaar gekom het. Die geografie van die vorige politieke bedeling is nog duidelik te sien, met die tradisioneel wit dorp aan die een kant en die swart township aan die ander kant.

Maar Steynsrus se kerk het nou ’n baken geword waarheen swart mense van Matlwangtlwang en van die plase af kan kom om na hulle diere se welsyn om te sien.

En dan gebeur daar onverwagse dinge, soos by ’n begrafnisdiens waar die familie gevra het die nagmaal moet bedien word. By die begrafnis was daar wit en swart mense, en sonder dat daar ’n woord daaroor gesê is, het wit en swart gelowiges saam op dié plattelandse Vrystaatse dorp die Here se dood en opstan­ding met die sakrament herdenk.

Waarheen die reis hulle vorentoe gaan lei, sal hulle nog moet sien, sê Smith. Daar is nou groot padwerk aan die gang op die R76 tussen Steynsrus en Kroonstad. ’n Lidmaat het onlangs gevra of die gemeente nie vir daardie padwerkers iets moet doen nie. Daaroor moet hulle nog praat en besluit.

Wat wel duidelik is, is dat Steynsrus met die Here op reis is, en dat hulle op dié reis grense oorsteek.

Hier voel die dominees tuis

Wanneer Vrystaatse dominees in Bloemfontein ’n kursus moet gaan bywoon, gaan hulle tuis by lidmate van die NG gemeente Woodland Hills – en dis verniet.

Dít is Woodland Hills se bydrae om dit vir plattelandse predikante makliker te maak om kursusse by te woon. Ds Anton Meiring, predikant van Woodland Hills, sê baie plattelandse dominees kry nie volle salarisse nie. As die verblyf gratis is, is dit baie meer haalbaar vir hulle om ’n kursus in Bloemfontein by te woon.

Reeds in 2005, toe hy nog predikant by Heuwelkruin was, het hulle duidelikheid gekry dat hulle gratis huisvesting vir dominees moes reël vir ’n predikantesaamtrek, vertel Meiring. Dit was ’n eenmalige ding.

Toe Woodland Hills agt jaar gelede afstig, het hulle besluit dat dit op ’n vaste basis ’n bediening van die gemeente sou wees. Woodlands Hills is ’n veiligheids­buurt waar die dominees kan ontspan. Daar is nie misdaad nie, sê Meiring. Dit skep die atmosfeer waarin hulle volledig op die kursus kan konsentreer.

Ds Barnard Steyn, predikant in sinodale diens, laat weet hom hoeveel huisves­ting hulle telkens nodig het. Hy kondig dit dan in die kerk af en lidmate kom bied blyplek aan. Hulle het nog nooit ’n tekort gehad nie.

Die kontak wat Woodland Hills se lidmate so met predikante van ander gemeentes het, beteken vir die lidmate én die dominees baie. Die lidmate is verras met die toewyding en die vaardigheid van die dominees en die lidmate gee vir die dominees geestelike energie.

Ds Bea Otto van Migdol in Noordwes vertel dat sy tydens die VBO-week by tannie Rita Steyn (82) tuis was. Dit het vir haar soos ’n vyfster-hotel gevoel. Tannie Rita se lewenslus maak mense om haar sommer ook lus vir die lewe, vertel sy.

Mense trek nie agter grond aan nie

Die provinsies waaruit die meeste mense wegtrek, is dié provinsies soos die Oos-Kaap waar daar die meeste kommunale grond beskikbaar is vir bestaansboere en hulle trek na provinsies waar die minste grond beskikbaar is, soos Gauteng en Wes-Kaapland.

Dit is van die argumente wat dr Christo van der Rheede van Agri-SA gebruik wanneer hy namens Agri-SA ’n stem van redelikheid in die Suid-Afrikaanse debat oor grondbesit laat hoor.

Van der Rheede het ’n perspektief op die debat aan die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) kom gee, om die NG Kerk te help bepaal hoe die kerk sy lidmate in dié tyd kan help.

Hy het ook daarop gewys dat die laagste vlakke van hongersnood in die land voorkom waar die hoogste vlak­ke van kommersiële landbou is. Die basis vir dié landbou is private grondbesit.

Van der Rheede het ook ’n ontleding gedoen van die interne spanninge binne die ANC om aan te dui watter rol die grondkwessie in die regerende party speel.

Hy het gesê die enigste manier waarop mnr Cyril Ramaphosa tot president van die ANC verkies kon word, is om mnr David Mabuza van Mpumalanga se steun te verkry. In ruil daarvoor moes hy die voorstel vir onteie­ning van grond sonder kompensasie ondersteun.

Van der Rheede sê Ramaphosa het egter ’n aantal kwalifikasies in die voorstel ingebou, soos dat so ’n proses nie voedselsekuriteit mag ondermyn nie. Daardeur wil hy sorg dat grondhervorming nie die landbou en ekonomie vernietig nie. Hy het egter gesê president Ramaphosa het bitter min beweegruimte in die ANC en dat die hele situa­sie op ’n mespunt is tussen ’n wonderlike toekoms en totale verval.

Agri-SA ondersteun redelike stemme in die gronddebat, soos die Ramaphosa-faksie van die ANC, die DA, ACDP en VF+ deur inligting te verskaf.

Op ’n vraag oor die rol wat die kerk kan speel, het Van der Rheede gesê die kerk moet lidmate aanmoedig om by wen-wen-vennootskappe betrokke te raak. Agri-SA beywer hom vir sulke vennootskappe omdat Suid-Afrika nie vyandskap tussen boere en ander of rassepolarisasie kan bekostig nie.

Hy het die kerk ook gevra om boere aan te moedig om die lot van hul plaaswerkers te help verbeter.

Daar was uit die ASM groot waardering vir die be­heers­te optrede van boere te midde van baie spanning.

Die ASM het die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele sake gevra om ’n teologie oor grond te ontwikkel en om materiaal te skep waardeur die kerk sy lidmate in die gronddebat kan help.

Kan daar iets goeds uit die NG Kerk kom?

By die Vrystaatse Week vir Verdere Bedieningsontwikke­ling het dr Johan van der Merwe, predikant van die NG gemeente Stellenbosch, ’n aantal scenario’s voorgehou oor hoe die pad vir die NG Kerk vorentoe lyk. Daarmee het hy die vraag probeer beantwoord of daar iets goed uit die NG Kerk kan kom. NEELS JACKSON doen verslag.


Die vertrekpunt is die vraag watter tendense aan die werk is wat die potensiaal het om die om­­gewing wesenlik te verander. Van der Mer­we het twee faktore onderskei wat in die geval van die NG Kerk belangrik gaan wees.

Die eerste noem hy die vlak van inkarnasie. Dit gaan oor die mate waartoe die NG Kerk haarself volledig as ’n kerk van Suider-Afrika en Afrika sal verstaan en so sal uitleef. Soos Christus ons wêreld en ons mens­wees aangeneem het, so moet die NG Kerk tuis wees in Suider-Afrika. (In dié verband, het Van der Merwe opgemerk, is die benaming “Nederduitse” toenemend ’n wanklank.)

’n Hoë vlak van inkarnasie sal beteken dat die kerk tuis is in Suid-Afrika. Dit moet neerslag vind in hoe die kerk praat, sing, preek en dien. Dit beteken ook dat ’n gemeente in Stellenbosch anders moet lyk as een in Somerset-Oos, Newcastle of Pretoria. Elkeen moet in sy eie gemeenskap pas.

Hierteenoor sal ’n lae vlak van inkarnasie beteken dat die NG Kerk in ’n selfgemaakte hemel probeer bly. Dit sal gekenmerk word deur ’n laertrek-mentaliteit. Dit sal na binne gekeer wees en ingestel wees op interne versorging.

Die tweede faktor wat Van der Merwe onderskei, is innovasie. Daarmee bedoel hy die mate waarin die NG Kerk kan slaag om die waarde wat sy bied, so te verwoord en te verpak dat dit werklike behoeftes outentiek aanspreek. Dit is nie ’n nuwe boodskap nie, maar die beproefde boodskap van die evangelie wat op ’n nuwe manier gebring word.

Hoë vlakke van innovasie, sê Van der Merwe, sal ’n fyn verstaan van die omgewing se behoeftes ontwikkel en dan kreatief die pyn verlig en die omgewing en sy mense bemagtig om te doen wat hier en nou gedoen moet word.

’n Mens moet egter onthou dat meer innovasie minder beheer en sekerheid meebring.

Plaas ’n mens die twee faktore – inkarnasie en innovasie – nou op die twee asse van ’n grafiek, dan ontstaan daar vier kwadrante wat vier verskillende toekoms-scenario’s vir die NG Kerk voorstel.

Dr Johan van der Merwe se vier moontlike scenario’s vir die toekoms van die NG Kerk.

Links onder is die scenario waar die vlakke van inkarnasie en innovasie albei laag is. Van der Merwe noem dit die “Time Travellers” want hulle hunker te­rug na die “goeie ou dae” of na ’n geïdealiseerde toekoms. Dié scenario sou ook die “Truspieël” of “Lot se vrou” kon heet. Die scenario is rooi, want dit is die een wat noodwendig tot die volkome inploffing van die NG Kerk moet lei. Wat oorbly, is ’n kerk wat dink sy is reg en uitverkore, wat laer trek en angstig en kramp­agtig beheer wil herwin en uitoefen, maar sonder sukses.

Hierteenoor is die scenario regs bo groen. Dit is waar innovasie en inkarnasie albei hoog is. Dit gee ’n ligtheid aan die NG Kerk, ’n ratsheid en veerkragtigheid wat deur ’n vars en vreugdevolle deelname aan en bydrae tot haar omgewing gekenmerk word, sê Van der Merwe. Die NG Kerk word hier gekenmerk deur ’n geroepenheid deur die God wat haar vanuit die toekoms tegemoet tree en haar uitnooi om deel te neem aan God se werk. Hy noem dié scenario “Connecting the dots” omdat die kerk daar so verweef is met haar gemeenskap en fyn ingestel is om geleent­hede tot ­diens raak te sien.

Die derde scenario is een van hoë innovasie maar lae inkarnasie. Dit heet “Missing the Point” maar sou goedskiks ook “Road to Nowhere” of “All dressed up but nowhere to go” genoem kon word. Dit is ’n “cool” en “funky” kerk maar meer gerig op bemarking as op diensbaarheid. “Die aansien is daar, die aantreklikheid is daar, maar die egtheid nie,” sê Van der Merwe. Dis nie volhoubaar nie, want dit is nie werklik belyn met die dieper behoeftes van die konteks nie.

In die vierde scenario is die inkarnasie hoog, maar die innovasie laag. Dit noem Van der Merwe die ­”Dinosourus”. Dit identifiseer met die omgewing, maar het nie oplossings vir probleme nie. “So ’n NG Kerk wil graag, maar kry dit net nie reg nie. Sy wil ’n verskil maak, sy is lief vir haar plek en haar mense, maar behalwe dat sy meegevoel het met die nood, is sy onmagtig om iets daaraan te doen,” sê Van der Merwe. Haar mentaliteit bly een van skaarsheid. Sy vind nie nuwe maniere om iets te doen nie. Die ou kolosse van bestaande strukture word eerder in stand gehou.

Aan die een kant

So, kan daar iets goed uit die NG Kerk kom? Van der Merwe sê die antwoord bly: “Dit hang af.” Die tekens is nie duidelik nie.

Aan die een kant vra hy vrae soos:

  • Wat sê die gebeure rondom 2015 en 2016 se sinodes en die huidige hofsaak van 12 lidmate teen die kerk vir ons?
  • Wat sê die dalende lidmaattal en dat al hoe meer gemeentes in ’n finansiële oorlewingstryd verkeer?
  • Wat sê die vasgelooptheid van kerkeenheid-ge­sprek­ke met die VGK vir ons?
  • Wat sê dit dat daar op feitlik elke dorp ander “ge­loofs­diensverskaffers” as die NG Kerk is en dat selfs die tradisionele (wit, Afrikaanse) ondersteunersbasis van die NG Kerk weinig lojaliteit meer teenoor die kerk openbaar?
  • Wat sê dit dat lidmate se ervaring van hulle gemeen­tes so radikaal kan verskil van een gemeente na ’n ander?
  • Wat sê dit dat dit al hoe moeiliker word om jongmense met die vereiste kenmerke te kry om in die teologie te studeer en dan die gemeentebediening te betree?
  • Wat sê dit dat die NG Kerk steeds swaar dra aan die bagasie van ons ondersteuning van apartheid in die verlede?
Aan die ander kant

Van der Merwe vra:

  • Wat sê dit as ds Tewie Pieterse van Coligny en die EFF-raadslid ’n vriendskap bou?
  • Wat sê dit as Vrystaatse dominees ook in mediasie opgelei word?
  • Wat sê dit as Heleen, ’n ortopeed wat lidmaat is van Skuilkrans, alle ander dokters wil inspireer om ’n behoeftige pasiënt eenmaal per jaar gratis te help – en Operation Healing Hands ontstaan?
  • Wat sê dit as 50 swart kinders elke dag in Riebeeckstad se kerksaal huiswerk doen?
  • Wat sê dit as in al hoe meer Echo-huise landswyd gemeenskappe van hoop gebou word?
  • Wat sê dit as op Kleinmond al die kerke saam ’n basaar hou waar niemand koop nie, maar alles weggegee word – hulle noem dit ’n Fees van Seëninge?
  • Wat sê dit as Doornkloof ’n Engelse diens het wat deur alle bevolkingsgroepe byge­woon word – en ná die tyd drink die Engelse en die Afri­kaanse diens se mense saam tee?
  • Wat sê dit as die gemeente Foch­ville-Noord se boere kom vra hoe hulle ander kan seën en 320 ton mielies en 100 bale voer Oos-Kaap toe gaan?
  • Wat sê dit wanneer 13 jong werkendes in Lynnwood-gemeente vir ’n werkweek lank op R14 per dag (die armoedelyn) probeer eet om beter te verstaan?

Van der Merwe meen dit sê waarskynlik:

  • Die plaaslike gemeente moet meer word en die verband minder. Hoewel die NG Kerk al baie verskuif het in hierdie verband, word die regsprekende rol van die sinode en verband steeds oorbeklemtoon en ’n toelatende, innoverende kultuur gedemp. Niemand kan beter inkarneer en innoveer as die plaaslike gemeente nie.
  • Ons moet meer oor God praat, nie minder nie. Die gepraat oor sekulariteit, die geloof-wetenskap-debatte en die post-Christendom laat ons soms voel ons moet nie die “geloof-ding” te sterk dryf nie. Dissipelskap van Jesus Christus bly die ononderhandelbare kern van ons identiteit (en die “waarde” wat ons bied). Ons kan nie ander aanbiedinge vir lewensin en betekenis naboots en dit beter doen nie. Ons het dit wat juis nêrens anders te vinde is nie.
  • Ons moet besluit of ons wil “reg” wees en of ons gelukkig wil wees. Ons gaan moeilik albei wees. Dogma sal ’n tweede plek moet inneem agter medemenslikheid en egtheid.
  • Ons sal vinnig fikser moet raak met die hantering van diversiteit van mening, veral wat dogmatiese en etiese kwessies betref.
  • Ons sal moet klaarspeel met “Nederduits” en tuis­kom in Afrika.
  • Ons sal soveel as moontlik vennootskappe met soveel as moontlik belangegroepe moet vorm en ’n dienende ingesteldheid daar moet openbaar.
  • Ons sal ons toenemend moet laat lei deur entrepreneuriese denke wat in die kerk tot ons beskikking is en baie eksperimenteer. Nege eksperimente gaan weer toegemaak moet word. Die een wat vlamvat gaan al die verskil maak.
  • Ons sal moet ophou treur oor hulle wat nie meer by ons is nie en hulle raaksien wat daar is. Ons gaan ’n kleiner kerk wees, maar ons gaan ratser wees.
  • Ons sal moet leer dat die storie wat vertel word, ­is die storie wat op ons sal groei.

Van der Merwe skat dat die NG Kerk tans ’n 10% kans het om “Time Travellers” te word, 30% “Connecting the Dots”, 40% “Missing the Point” en 20% “Dinosourus”. Maar dit sal skuif namate die kerk se verhaal ontvou.

Sy wens is: Mag ons kies om só ’n publieke kerk te wees waar alles waaraan ons raak in hoop verander. Mag ons God se “dots connect”.

Só kan ons by vroeë Christene leer

an der Merwe herinner die kerk daaraan dat die vroeë Christene maar ’n klein groepie was wat ’n nuwe godsdienstige beweging verteenwoordig het in ’n alreeds oorversadigde “godsdienstige mark”.

Hulle het egter eienskappe gehad wat ander groepe nie gehad het nie:

  • Intimiteit: Hulle was mekaar se broers en susters en het mekaar versorg.
  • Deelname: Almal kon deelneem. Die onderskeid op grond van sosiale of ekonomiese klas of geslag, so sterk in die Jodedom en die Romeinse kultuur, is in Christus opgehef.
  • Passie: Die gelowiges se samekomste is gekenmerk deur vreugde.
  • Identiteit: Deelname aan die geloofsgemeenskap het vir hulle ’n sterk identiteit in Christus gegee. Hulle het nie tempels nie, maar is self ’n tempel van die Heilige Gees en liggaam van Christus. Hulle het nie offers nie, maar is lewende offers (Rom 12:1). Hulle is God se verloste kinders. Die eerste vrygelatenes van die skepping.
  • Krag: Die byeenkomste is gekenmerk deur ’n erva­ring van God se kragtige teenwoordigheid.

‘Wie is die onwaarskynlikste?’

“Wie is die onwaarskynlikste mense in jou gemeenskap om mee saam te werk? Gaan drink saam met hulle tee.”

Dit was die praktiese raad wat ds Nelis Janse van Rensburg, voor­sitter van die algemene sinodale moderamen, aan predikante gegee het by die Vrystaatse VBO-week in Bloemfontein.

Janse van Rensburg het dominees aangemoedig om sensitief te wees vir die pyn van alle mense in hulle gemeenskappe. Die kerk kan nie byvoorbeeld sê: “Dis swart pyn. Dis nie my moeilikheid nie.”

Hy het vertel van verskillende mense met wie hy onlangs te doen gehad het wat nie normaalweg op die NG Kerk se radar sou wees nie.

Een van hulle was Lukhanyo Calata, joernalis wat deel is van die SAUK 8, maar ook seun van Fort Calata, politieke aktivis en een van die Cradock 4 wat deur die destydse veiligheidsmagte vermoor is.

Janse van Rensburg vertel dat hy eintlik net begrip en deernis teenoor Calata betuig het, maar dat hy dit as ’n baie betekenisvolle gebaar beleef het, juis omdat dit uit die geledere van die NG Kerk kom.

Daarna het hy en ds Jasper Louw, Oos-Kaapse moderator, op Cradock met Cala­ta se ma en met die weduwee van Mathew Goniwe, nog een van die Cradock 4, gaan tee drink. Mev Calata het vertel hoe sy op Cradock met ’n NG dominee wou gaan gesels en by ds Hansie Schutte, ’n vorige Oos-Kaapse moderator, uitgekom het. Hy het met begrip na haar geluister en dit het vir haar baie beteken.

Daar was soortgelyke waardering toe hy en dr Pieter van Jaarsveld, Vrystaatse moderator, saam met Bram Fischer se dogters gekuier het.

Janse van Rensburg het gesê die NG Kerk dra nog geweldige simboliese betekenis. Hy het dominees aangemoedig om die taal van die koninkryk van God te praat en vir die wêreld te wys dat hulle onder die vlag van dié koninkryk seil.

NG Kerk moet ‘diversiteit met ope arms verwelkom’

Die drie predikante van die NG gemeente Aand­bloem in Bloemfontein mag nou bur­ger­like verbintenisse tussen gay paartjies be­vestig, het dr Willem Botha, een van die drie, aan die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) gesê.

Botha het gesê hulle het met die steun van hulle kerkraad aansoek gedoen om dit te doen en dit is toegestaan. Die gedagte dat die denominasie namens die dominees aansoek doen, is volgens hom ’n gerieflikheidsreëling en nie ’n regsverpligting nie.

Botha het die ASM toegespreek as lid van die taakspan vir kerkverband wat oor die rol en funksie van die Algemene Sinode moet dink. Hy het aangevoer dat dit niks gaan help om oor strukture te praat nie. Die pro­bleem in die kerk lê in verskille in Skrifverstaan.

Aan die een kant is daar ’n “teks-immanente”-denk­skool wat meen God is in die woorde van die Bybel­teks. Aan die ander kant is daar die “teks-tran­sen­de­rende”-denkskool waar die groot boodskappe van die Skrif voorrang geniet bo spesifieke teksverse.

Botha het gesê hy het in die teks-immanente denkskool grootgeword, maar het ’n bekering ondergaan. Dit het hom bevry.

Sy vraag is wat die kerk op die grond met dié verskille gaan maak.

Hy het vertel dat daar in hulle familie agt gay mense is en dat 38 mense daardeur geraak word. Hulle het besluit hulle bly in die NG Kerk ten spyte van die Algemene Sinode van 2016 se besluit wat hulle nie wel­kom laat voel nie.

Hy het vertel dat die gemiddelde ouderdom van Aandbloem se gemeente 82 is. Hulle ondersteun die besluit van die 2015-sinode wat ruimte laat vir gay verbintenisse. Hulle voel hulle kan nie die kerk se 2016-besluit gehoorsaam sonder om die evangelie te verloën nie.

Hulle het hulle saak by die ring gestel en dié het niks daaroor gesê nie. Hulle het dit by die Vrystaatse moderamen gestel, wat ook niks verder gedoen het nie. Nou het hulle dit ook voor die ASM gestel.

Botha het, sonder om name te noem, gesê daar is ’n ander gemeente in Bloemfontein waar twee gay predikante in ’n verhouding is en die gemeente bedien. Hy het gesê daar is ’n gemeenskap binne die NG Kerk aan die ontwikkel wat dit so aanvaar.

Hy het gepleit dat die ASM nog voor die hofuitspraak dié “diversiteit met ope arms verwelkom”.

Die ASM het Botha se bydrae nie verder bespreek of daaroor besluit nie, maar ds Nelis Janse van Rensburg, die voorsitter, het gesê die vraag oor hoe die kerk diversiteit moet hanteer, is nie ’n nuwe ding nie. Dit kom al uit die Nuwe Testament. Die NG Kerk sal moet dink oor ’n teologie van diversiteit.

Rensburg help mense blom soos kosmos in die herfs

Rensburg is ’n gemeente in Heidelberg in die suide van Gauteng. In hulle gebied is daar baie nood, maar daar het ook ’n groep ontstaan waar daar omgegee word vir mekaar. NEELS JACKSON vertel.


Op die Hoëveld sterf die landskap in die herfs. Wat groen was, word vaal en bruin en doods.

Maar in Maart en April gebeur daar ook iets anders: Die kosmos begin blom. ’n Vrolike uitbars­ting van wit en pienk en donker maroen verskyn in die veld en langs die paaie. Dit bring kleur, dit bring vreugde.

Daarom is dit so gepas dat die Kosmosgroep van die NG gemeente Rensburg in Heidelberg, hierdie naam vir hulleself gekies het. Hulle help men­se om te blom waar dinge vaal is.

Rensburg is ’n gemeenskap waar heelwat arm mense bly. Daar is mense wat net staats­toelae het om van te leef, en daar is men­se wat nie eens staatstoelae het nie.

Party van hulle is lidmate van die NG gemeente. Ander skakel by ander kerke in. En nog ander is heeltemal kerklos.

Die NG gemeente se betrokkenheid by hierdie nood strek lank terug.

Teen 2013 was die gebruik in die gemeente om een maal per maand ’n kospak vir die volgende maand te gaan aflaai by gesinne wat dit regtig nodig het.

Maar toe voel ds Derick Claassens dat hulle eintlik meer moet doen. Mense het immers nie net kos nodig nie. Hulle het ook geestelike en emosionele steun nodig.

Dit is toe dat daar besluit is om ’n steungroep van hier­die mense self te vorm.

Die gedagte was om een maal per maand ’n geselligheid by die kerk te hou. Die mense sou dan hulle kospakke vir die volgende maand daar kry, maar hulle sou ook meer kry. Soos geestelike pitkos.

By dié geleenthede sou mense verhoudings kon smee wat nie moontlik is as jy net een maal per maand by iemand ’n pak kos gaan aflaai nie. In dié verhou­dings sou die gemeente se mense die kans kry om die groeplede beter te leer ken, hulle nood beter te leer verstaan, en om dan te help waar dit regtig nodig is.

Die mense het self besluit om dit die Kosmosgroep te noem, want, het hulle gesê: “Omgee kos mos niks.” En dit was wat hulle wou doen. Hulle wou vir mekaar omgee.

Een van die sleutelmense in die gemeente wat die Kosmosgroep help funksioneer, is Margie Grobler, ’n afgetrede onderwyseres. Om haar is ’n span lidmate wat die Kosmosgroep bystaan en ondersteun. Hulle noem hulleself eenvoudig die helpers van die Kosmosgroep.

’n Trotse Nellie Bronkhorst (regs) met die skinkbordlappie wat sy geverf het. By haar is haar ma, Adri Bronkhorst.

Margie vertel dat sy ná haar aftrede vroue wou help wat swaarkry. ’n Ander gemeente in Heidelberg wat naaldwerkklasse vir huishulpe aanbied, het nuwe naald­werkmasjiene gekry, en die oues toe aan Rensburg geskenk. Toe begin hulle met ’n naaldwerkklas. Dit het een van die eerste aksies van die Kosmosgroep geword.

As die Kosmosgroep een maal per maand by die kerk bymekaarkom, begin hulle met Skriflesing en gebed. Dit is die geestelike pitkos en dit gaan oor in ’n gesprek.

Margie sê sy staan dikwels verstom oor dié mense se geloof, oor die manier waarop hulle te midde van hulle omstandighede vashou aan die Here.

Daarna gesels hulle ook oor praktiese dinge. Een vrou het op ’n dag gevra of hulle ’n kookklas kan begin. So gesê, so gedaan.

By een geleentheid het die gemeente ’n skenking gekry van blikkies mielies. Dit was deel van die maand se kospakke. Op kospakkiedag het Derick toe vir die mense gewys hoe maak ’n mens ’n mielietert. Dis ’n maklike, bekostigbare, voedsame en smaaklike resep wat hulle toe ook saam met die mielies in die kospak gekry het.

Van die vroue bak nou ook al beskuit en verkoop dit vir hul eie wins. Dis nog nie ’n groot wins nie, maar dit groei. Die gemeente bestel van die beskuit.

Derick sê die visie is om mense te bemagtig sodat hulle ’n eie inkomste kan verdien. Hulle mik na werk­skepping.

Susan Brits (links) en Amanda du Toit by die kool in die groentetuin op die kerk se terrein.

Maar daar is van die mense met bitter min lewensvaardighede, mense wat nie weet hoe om kos te maak of hoe om naaldwerk te doen nie. Daar is mense met min goeie skoolopleiding.

Daarom skenk die Kosmosgroep heelwat aandag aan lewensvaardighede. Soms gaan dit oor iets so basies soos hoe om skoon te leef as jy nie duur seep of deodorante kan bekostig nie.

Margie verduidelik dat dit nie so maklik is as jy arm is nie. As jy moet loop waar jy wil wees, dan sweet jy. En as jou groot bekommernis is waar die aandete vir die gesin vandaan gaan kom, dink mense nie meer vanselfsprekend oor persoonlike higiëne nie.

Dis moeilik vir mense in sulke situasies om daaroor te praat, maar soms kom vra van die Kosmoslede, en dan word dit in die groep bespreek en daar word na oplossings gesoek. Daar word ook gehelp met produkte soos toiletpapier en sanitêre doekies.

Nog ’n manier hoe die Kosmosgroep mense help, is die kunsklas wat deur Amanda du Toit, een van die Kosmosgroep-helpers, begin is. Daar kyk hulle byvoorbeeld wat hulle uit weggooigoed kan maak. Hulle het dinge gedoen soos om margarienbakkies met lap oor te trek.

In die proses, vertel Amanda, ontdek mense hulle eie kreatiwiteit en dan begin hulle eie mens­waardigheid ook optel.

Sy vertel van Nellie wat 23 jaar oud is maar nie kan lees nie en nie met ’n naaldwerkmasjien kan werk nie. Maar toe Susan Brits, nog een van die helpers, vir hulle lapverf laat doen, toe verf Nellie die mooiste skinkbordlappie.

Kosmos bring ’n skouspel van kleur in die herfs op die Hoëveld.

Nellie is nie ’n spraaksame mens nie, maar haar gesig blom as sy die komplimente oor haar lappie hoor. Amper soos die vrolike kosmos in die herfs.

Maar dis die naaldwerk wat sover die meeste sukses behaal het.

Margie noem ’n rits dinge op wat lede van die Kosmosgroep al geleer doen het. Hulle kan gordyne maak en hulle kan tafeldoeke maak. Hulle kan klere verstel. Hulle kan langbroeke korter maak en hulle kan ritssluiters vervang. Hulle maak vir hulleself klere.

Twee lede van die groep doen nou kwiltwerk. Hulle het begin om vir iemand werk op T-hemde en op babaklere te doen. En dit lyk of dit werk gaan wees wat gaan hou. Dit is die soort werkskepping wat hulle uit die Kosmosgroep wil laat voortspruit.

Derick vertel dat hulle al ’n kontrak gehad het om die weerkaatsende strepe op oorpakke vas te werk. Toe het die men­se van die Kosmosgroep die kerksaal vol gesit en werk. Diegene wat dié werk gedoen het, het sowat R1 000 per maand verdien. Ongelukkig was dit ’n kontrak wat na ’n tyd uitgeloop het, maar dit het gewys hoe die kerksaal in ’n soort fabriek omskep kan word as die geleentheid daar is.

Onlangs het hulle vir Tutela, die maatskaplike diensorganisasie binne die Hoëveldsinode, ’n laslapgordyn gemaak vir ’n vlot wat aan ’n parade van hulporganisasies deur Heidelberg se strate sou deelneem.

’n Ander projek wat die Kosmosgroep aangepak het, is ’n groentetuin op die kerkterrein. Selfs in die middel van die winter pryk daar koolkoppe van formaat. Maar daar was ook al ander groente soos rape en spinasie.

Die Kosmoslede werk in die tuin en kry groente uit die tuin. En hulle het al geleer hoe om van gerasperde rape ’n lekker slaai te maak of hoe om skyfies van rape te maak.

Daar was by geleentheid ook al ’n veearts om na van die Kosmoslede se diere om te sien.

As daar iemand van hulle swanger raak, hou die Kosmoslede vir die voornemende mamma ’n babatee. En die Kosmoslede dra self by vir die geleentheid, al is dit net ’n koekie seep.

Daar was ook al ’n troue tussen twee van die Kosmoslede. Vir hulle is daar ’n mooi onthaal in die kerksaal gehou. Op sulke maniere word daar waardigheid aan mense gegee.

Die lys van die Kosmosgroep se aktiwiteite is lank. Daar is ’n jaarlikse Kerspartytjie. Met Vroue­dag was daar ’n funksie waar die Kosmosvrou van die Jaar gekies is. Daar is ’n klerebank. Boonop het Tutela hulle ringskantoor na Rensburg toe geskuif.

By al hierdie aktiwiteite is die gemeente betrokke. Vir hulle is dit ’n geleentheid om te gee en te dien.

Vroeër, sê Derick, is hulle kerk se gebou net op Sondae gebruik. In die week het daar niks gebeur nie. Maar nou is daar gedurig iets aan die gang. En die lidmate het so betrokke geraak, dat hy nie eens weet wat alles gebeur nie. Soms kom hy maar net by die kerk en sien daar is iets aan die gebeur waarvan hy niks weet nie.

En dit is goed so. Dis hoe dit moet wees in ’n gemeente wat omgee.

Die Wyse Uiltjies ontwikkel mooi

uite Rensburg se kerksaal, gly ’n klompie kleuters een na die ander teen ’n glyplank af. Hulle is die Wy­se Uil­tjies van die kleuterskool met dié naam wat begin vanjaar by die kerk begin is.

Aan die stuur van sake is Alet Williamson, ’n afgetrede kleuterskooljuffrou. Sy werk as vrywilliger, sonder salaris. Maar, sê sy, dit gee haar rede om soggens op te staan. Dit maak haar lewe sinvol.

Saam met haar werk daar twee dames uit die Kosmosgroep. Hulle kry ook nie salaris nie, maar kry wel ’n weeklikse kospak.

Die gemeente het heelwat bygedra deur skenkings om dit alles moontlik te maak.

Die wyse uiltjies gly by die glyplank af. Regs is Alet Williamson, die skoolhoof.

Die kinders kom uit huise wat nie vir ’n kleuterskool kan betaal nie. Dit is moeilike omstandighede wat hulle merk op die kinders laat. Daar is maatskaplike probleme en daar is gesondheidsprobleme.

Die Kosmos-helpers het nou al gereël dat een kind met ernstige voetprobleme, mediese hulp daarvoor sal kry. Nog een se oogprobleem kry ook aandag.

Emosionele probleme maak dat kinders moeilik inskakel. Alet vertel van ’n kind wat so getraumatiseer is, en net skree en klap. Maar mettertyd kalmeer so ’n kind, hulle wen die kind se vertroue en hy sy of sy begin veilig voel. En, indien nodig, word die maatskaplike werker se hulp ingeroep.

Die kinders leer vaardighede aan wat hulle nie tuis sou kry nie, maar wat op skool onontbeerlik gaan wees, soos om te teken en legkaarte te bou. Hulle blom soos die kosmos in die herfs. Alet is vol vertroue dat hulle skoolgereed sal wees wanneer hulle skool toe gaan.

Vir hierdie kinders word ’n fondament gelê waarop hulle sou kon voortbou sodat hulle bokant hulle omstandighede kan uitstyg.

En, soos Derick sê, as hulle hierdie kinders uit die siklus van armoede kan uitruk, is dit nie net die kinders wat hulle red nie, maar vir elkeen van hulle ook ’n hele nageslag.