Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Sarah Jane Wessels, vier jaar gelede op die oewer van die Vaalrivier voor hulle huis in Parys. Foto: Neels Jackson

Sarah Jane Wessels was ‘ma’ vir baie

Ds Sarah Jane Wessels, die oudste vrou wat ooit as predikant in die NG Kerkfamilie gedien het en waar­skynlik die eerste vroulike eme­ritus-predikant in die NG Kerk, was ’n moederfiguur vir vele jonger, vroulike predikante.

Dit blyk uit die reaksies nadat Wessels op 4 April in Nelspruit op 81 jaar aan kanker oorlede is.
Sy is in Nigerië gebore waar haar pa, ds Marmeduke Visser, sendeling was, maar hulle het teruggekeer Suid-Afrika toe toe sy vier was. Op ses het sy al die roeping gevoel om predikant te word en vir haar pa se groentetuin gepreek.

Daardie roeping sou egter baie jare later eers vervul word, want vroue kon destyds nie predikante word nie. Dit het Wessels egter nie gekeer om onder meer ’n meestersgraad in praktiese teologie by die destydse Potchestroomse Universiteit te verwerf en verskeie ander teologiese vakke en kursusse te voltooi nie.

In die 1990’s, nadat die NG Kerk se Algemene Sinode besluit het dat vroue wel predikante mag word, het sy by die kweekskool op Stellenbosch begin om die ontbrekende deel van die NG Kerk se predikantsopleiding te voltooi.

Dr Carin van Schalkwyk, predikant van Philippolis en destydse klasmaat van Wessels, vertel dat hulle ses vroue in hulle finalejaarsklas was. Sy was die “tannie” tussen die ander.

Destyds was die gedagte aan vroue­predikante nog nuut en Van Schalkwyk vertel dat die vroue erge diskriminasie en uitsluiting beleef het. Hulle was dikwels kwaad en seer. Dan was Sarah Jane rustig en kalm en sou sy sê: “Kom ons gaan drink koffie.”

Hulle het baie respek vir Wessels gehad omdat sy op haar ouderdom steeds haar droom uitgeleef het.

Dit was vir hulle baie sleg dat Wessels ná die voltooiing van haar studies nie saam met haar klasmaats gelegitimeer kon word nie. Die rede was dat sy te oud was om predikant te word. Die kerkreg, sê Van Schalkwyk, is ongenaakbaar toegepas.

Maar toe kom sê Dawid Kuyler en Frederik Nel van die VGK vir haar hulle het geen reël van te oud wees nie en hulle het haar nodig. En toe legitimeer die VGK haar as predikant.

Sy het ’n jaar lank as predikant van die VGK gemeente Rust-ter-Vaal ge­werk en toe op 65 geëmeriteer. Daarna het sy ook vier jaar lank by die NG gemeente Randfontein-Noord as predikant gewerk.

En selfs nadat sy op 70 daar opgehou het, het sy nog Sondag na Sondag op uitnodiging in verskillende gemeentes gepreek, radiopreke gedoen en geskryf. En op die agtergrond het sy steeds ’n sterk versorgende rol as moederfiguur vir ander vroue in die bediening gespeel.

“Sy was ’n pastor pastorum vir ons vroue. Sy het ons altyd bemoedig,” sê prof Christina Landman. Sy het byvoorbeeld spesiaal Dullstroom toe gery vir Landman se ordening as predikant.

“Sy kon jou behoeftes aanvoel voor jy dit nog sê. Sy was versorgend en sou nooit veroordeel nie. Dit was goed om haar te ken,” sê Landman.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top