Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

NG Moedergemeente Mosselbaai: Voltydse permanente medeleraarspos

Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.

UITNODIGING OM SAAM MET ONS GOD SE ROEPING UIT TE LEEF

“Ons is nie in die eerste plek op soek na ’n kandidaat nie. Ons is biddend op soek na die persoon wat die Here reeds voorberei het om saam met ons sy roeping in Mosselbaai uit te leef.”

Voltydse permanente medeleraarspos

Sluitingsdatum: 7 September 2026 om 12:00.

Wie is ons?

Dit is ’n voorreg om kerk te wees in ’n dorp met ’n lang geskiedenis, dinamiese groei en ’n opwindende toekoms. NG Moedergemeente Mosselbaai is ’n gemeente in die hart van Mosselbaai wat glo dat God reeds aan die werk is. Ons wil daarom aansluit by dit waarmee Hy reeds besig is.

Ons is ’n geloofsfamilie van ongeveer 3 400 lidmate.

Ons gemeente word gedra deur die Woord, eredienste en gebed. By ons is verskillende generasies, spiritualiteite en style welkom, want God is die kern van ons aanbidding.

Ons roeping is eenvoudig:

God stuur ons om, soos Jesus, Familie en Vriend vir almal te wees.

  1. ONS ROEPINGSVERKLARING

God stuur ons om, soos Jesus, Familie en Vriend vir almal te wees.

Ons onderskei dat die Here ons in hierdie tyd roep om al hoe meer ’n familie vol liefde te wees waarin mense nie net welkom is nie, maar werklik behoort. Ons glo Hy nooi ons om die liefde wat reeds onder ons leef, met ’n oop hart en oop hande verder as onsself uit te leef, sodat die mense van Mosselbaai iets van Christus se teenwoordigheid sal beleef.

Ons hoor God se uitnodiging om mense oor generasies heen nader aan mekaar te bring; nuwe mense doelbewus in die lewe van die gemeente in te weef; ruimte te maak vir nuwe gawes; en mekaar toe te rus om met vreugde deel te neem aan dit waarmee Hy reeds in ons dorp besig is.

Ons wil daarom ’n gemeente wees wat nie deur vrees of gemak gevorm word nie, maar deur liefde; nie deur programme nie, maar deur verhoudings; nie deur ons eie planne nie, maar deur die leiding van die Heilige Gees.

In alles vertrou ons dat God self sy kerk bou, sy mense stuur en die goeie werk wat Hy begin het, enduit sal voer.

  1. ONS UITNODIGING

Ons nooi gelegitimeerdes van die NG Kerk uit om hierdie roepingsverklaring biddend te lees en eers stil te word voor die Here.

Vra Hom:

“Here, vind ek aanklank by hierdie gemeente se roeping? Is U besig om my te roep om saam met hierdie geloofsfamilie u koninkryk in Mosselbaai te dien?”

Ons nooi sowel manlike as vroulike gelegitimeerdes wat aanklank vind by hierdie roeping om biddend te oorweeg of die Here hulle roep om deel van hierdie span en geloofsfamilie te word.

Indien jy glo dat die Here jou roep om hierdie pad saam met ons te stap, kontak die kerkkantoor by admin@ngmosselbaai.co.za om die volledige beroepingsdokument te ontvang.

  1. ONS HUIDIGE SPAN

Ons huidige predikantespan bestaan uit twee leraars van onderskeidelik 26 en 55 jaar oud.

ONS GEBED

Here Jesus Christus, U is die Hoof van u kerk.

Dankie dat U reeds lank voor ons in Mosselbaai aan die werk is.

Dankie dat U hierdie gemeente deur baie jare met trou gedra het en steeds vorm.

Ons vra nie bloot vir nog ’n predikant nie. Ons vra vir die persoon wat U reeds voorberei het. Gee aan hom of haar die geloof om u stem te hoor, die moed om u roeping te volg, die nederigheid om saam met ons te leer, en die liefde om saam met ons u mense te dien.

Gee ook aan ons die wysheid om nie volgens ons eie voorkeure te kies nie, maar met ’n oop hart die persoon te ontvang wat U stuur.

Mag ons saam, as een liggaam, groei in liefde, mekaar toerus, nuwe mense welkom laat voel, en die mense van Mosselbaai só dien, dat elkeen wat ons pad kruis iets van U sal beleef.

Ons vertrou op U alleen, wat die goeie werk wat U begin het, ook enduit sal voer.

Amen.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top