Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Prof Marius Nel aan die woord by die Oostelike Sinode.

Jesus laat ons anders dink oor die koninkryk van God

“Ons taak is om die koninkryk van God te laat kom, tot eer van God.”

So het prof Marius Nel, dosent in Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch, aan die Oostelike Sinode gesê. Dié sinode probeer die gemeentes help om op missionale manier kerk te wees, en as deel van dié po­ging is Nel genooi om oor die sleutelkonsep van die koninkryk van God te praat.

Om te verduidelik hoe die kerk kan help om die koninkryk te laat kom, het Nel die sinodegangers se aandag gevestig op die situasie in die eerste eeu, toe die Ro­meinse ryk die bekende wêreld oorheers het.

In die proses het die Romeine ook die Jode aan hulle onderwerp. Die Romeinse heersers het in die kusstad Caesarea Maritima gewoon en net Jerusalem toe gegaan wanneer dit nodig was. Hulle het ’n hoëpriester aangestel wat nie ’n Leviet was nie, Herodes die Grote het regeer al was hy nie ’n volbloed Jood nie en die Romeine het die Sanhedrin of Joodse Raad ingestel as ’n soort “departement van eie sake”.

Die hele ekonomie was georden tot voordeel van die Romeine en die regeerders het absolute gesag gehad.

Die Jode het op uiteenlopende maniere hierop gereageer. Party het gewag op God se oordeel. Ander wou veg. Daar was die Esseners wat hulle onttrek het in geïsoleerde gemeenskappe. Die Fariseërs het probeer heilig leef in die wêreld en die Sadduseërs het met die Romeine saamgewerk.

Moet die kerk in sy verhouding met die wêreld een van dié opsies oorweeg? het Nel gevra.

Hy het gesê die kerk moet kyk wat gebeur as Jesus, ná Johannes die Doper, sê die tyd het aangebreek. Die koninkryk van God het naby gekom.

Hy het gesê Jesus het die verhouding tot God en die koninkryk van God geher­definieer. Hy het sy volgelinge geleer om anders te dink oor die koninkryk van God.

Nel het gesê die Paasgebeure het afgespeel soos ’n troonbestyging. Jesus kom egter op ’n donkie. Hy word deur ’n vrou gesalf. ’n Romeinse soldaat kroon hom met ’n doringkroon. En sy troon is die kruis.

As die kerk oor die koninkryk van God dink soos die wêreld dink oor koninkryke, dan pleeg hy magsvergrype.

Nel het gevra watter styl gaan die kerk beliggaam in sy verhouding met die wêreld.

Hy het gesê dis maklik om die koninkryk van God na die armes te bring, maar dit is nie wat Jesus doen nie. Die koninkryk van God bestaan juis uit die ellendiges. Dit is die samekoms van dié sonder mag en invloed.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top