Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die nuwe moderatuur van Sinode Hoëveld. Van links is dr Johan Botha (aktuarius), ds Hannes Windell (assessor), dr André Bartlett (moderator) en dr Bertus Koorts (skriba).

Hoëveld kry ’n nuwe span leiers

Dr André Bartlett is deur die NG Kerk se Hoëveldsinode tot nuwe moderator verkies. Hy het die vorige termyn as assessor van die sinode gedien.

Bartlett is predikant van die gemeente Johannesburg, ’n middestadsgemeente wat hy as “die armste gemeente in die sinode” bestempel. Tog, sê hy, is dit ’n lewenskragtige gemeente waarin ’n Bybelstudie op ’n Saterdagmiddag deur 70 mense bygewoon kan word.

Die meeste lidmate is nie wit nie, en benewens die lidmate is daar ook nog mense van lande reg oor Suider-Afrika wat die eredienste bywoon.

Bartlett is ook hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria. Daarby behartig hy ook Kerkbode se rubriek “Kerk en kuns”. Hy is die skrywer van die boek Weerlose weerstand oor die verloop van die gesprek in die NG Kerk oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Bartlett is van die sterkste stemme in die NG Kerk ten gunste van die volledige erkenning van gay verbintenisse deur die kerk.

Hy volg dr Hugo van der Linde op wat aangedui het dat hy nie nog ’n termyn wil dien nie.

Die nuwe assessor (ondervoorsitter) is ds Hannes Windell van die gemeente Sonhoogte in Germiston. Hy het voorheen 8 jaar lank as Hoëveld se aktuarius gedien, en maak nou na ’n afwesigheid van ’n paar jaar weer ’n terugkeer tot die moderatuur.

Dr Bertus Koorts, ouderling van die gemeente Primrose-Oos is herkies as skriba van die sinode, ’n pos waarin hy reeds 6 jaar lank dien. Hy is ook die algemene kantoorbestuurder van die Hoëveldsinode.

Dr Johan Botha van die gemeente Edleen in Kempton Park is verkies tot aktuarius (kerkregkundige). Botha was verras met sy verskiesing omdat hy nie voorheen op die terrein van kerkreg gewerk het nie.

Hy was in die vorige termyn die leier van die sinode se diensgroep Diensgetuienis. Die missionale diakonaat is eintlik sy terrein. Hy het na sy verskiesing geskerts dat hy dalk met dié agtergrond ’n sagte kant na die kerkreg sal bring.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top