Ikonografie: Sy herontdek dié geloofskat

Ikone kan benut word om die gereformeerde tradisie te verryk, meen ds Fay van Eeden. Sy het met NEELS JACKSON daaroor gesels.


Vir ds Fay van Eeden was dit ’n diep geestelike ervaring toe sy die eerste keer ’n ikoon geskryf het.

Ikone is nie iets wat tradisioneel deel vorm van die gereformeerde tradisie nie. Met die Reformasie van ’n halwe millennium gelede het die Protestante op groot skaal van kunswerke en gra­fiese voorstellings ontslae geraak. Gereformeerdes het ’n sobere, gestroopte spiritualiteit beoefen.

Maar in die Oosterse kerke het ’n ryk tradisie van ikone geblom – voorstel­lings van die mens Jesus en van heiliges uit die Bybelverhale en uit die kerklike tradisie. Ikone is vir hulle “die vyfde Evangelie” vertel Fay.

Dit is nie kunswerke nie. Daarom skilder ’n mens nie ’n ikoon nie. Jy skryf ’n ikoon. En jy aanbid ook nie ’n ikoon nie. Jy respekteer ’n ikoon. Ortodokse gelowiges bestempel dit as vensters waar­deur jy kyk. En John de Gruchy ver­wys daarna as “genademiddele” in die titel van sy boek Icons as a means of grace.

Dit is moeilik om die Ortodokse Chris­tene se houding tot ikone te verstaan, sê Fay.

Sy is een van die NG dominees wat begin het om te put uit hierdie ryk tra­disie van die breër geloofsfamilie. Haar belangstelling is geprikkel toe sy in 2013 tydens ’n ekumeniese konferensie by Mosaïek-gemeente in Johannesburg geluister het hoe dr Johan Geyser oor ikone praat.

Daarna het sy saam met ander mense uit die NG Kerk ’n kursus by die iko­no­graaf Annemarie Bands deurloop oor die skryf van ikone. Hulle het sewe dae lank elke dag van 8-uur tot 4-uur ge­werk, en dit was eintlik te kort, vertel Fay.

Daar het sy haar eerste ikoon geskryf: Jesus Pantokrator. Jesus die heerser oor die heelal. In ’n tradisonele Ortodokse styl.

Om ’n ikoon te skryf, is so anders, sê Fay. Elke kleur kry 40 lae. Die hele pro­ses is ’n gebed. Dis ’n stil ervaring. Dis moeilik – tegnies en geestelik. Jy is besig met die ikoon, maar die ikoon is ook besig met jou.

Sy sit baie keer in haar stiltetyd voor ’n ikoon. Dis vir haar ’n herinnering aan God se teenwoordigheid.

In ’n stadium het Fay gewonder of sy besig is om haar tradisie te verraai. Sy het begin wonder oor die moontlikheid van ’n gereformeerde ikoon. Daar is immers wêreldwyd ’n soeke na spirituali­teit. Sou ’n ikoon in die gereformeerde tradisie mense daarmee kon help?

Sy wou nie haar rug op die tradisie keer nie. Sy wou eerder die tradisie verryk. Uiteindelik het sy onder leiding van prof Cas Wepener van Tukkies ’n formele studie aangepak oor die ont­wikkeling van ’n ikoon vir ’n gereformeerde teologie in die Suid-Afrikaanse konteks. Daarmee het sy onlangs ’n MTh-graad verwerf.

Ds Fay van Eeden met die ikoon wat sy vir ’n gereformeerde liturgie geskryf het.

Dit het haar gehelp dat die Lutherse Wêreldfederasie ’n omvattende studie gedoen het oor aanbidding en kultuur. Die resultaat daarvan was die Nairobi-verklaring waarin twee maniere geïdentifiseer is waarop aanbidding verryk kan word. Die een is die dinamies ekwivalente wat iets oorneem en dit na vandag verplaas. Die ander is kreatiewe assimilasie waardeur ’n mens elemente van plaaslike kulture by ’n bestaande tradisie voeg.

Die tweede manier het vir Fay die moontlikheid geopen van ’n ikoonverrykte gereformeerde liturgie.

“Soos NG gemeentes se aanddienste dikwels musiek uit ander tradisies gaan haal, kan ons ook by die Ortodokse tradisie gaan leen – sonder om ons eie tradisie prys te gee,” verduidelik sy.

As deel van haar studie het sy ’n nuwe ikoon van Jesus geskryf. Sy het meer vryheid gebruik as wat baie Ortodokses sou toelaat. Ikonografie laat nie gewoonlik veel ruimte vir vernuwing nie. Jy skryf ’n ikoon soos dit nog altyd geskryf is.

Maar Fay het ook elemente van die tradisionele ikonografie behou, soos die ligkring om die kop. Sy het ook die tradisionele kleure behou waarmee Jesus altyd uitgebeeld word: Blou as simbool van sy Goddelikheid is te sien as ’n skynsel in Jesus se kleur, en rooi as teken van sy menslikheid in die wond aan sy sy.

Om kultuursensitief te wees, het sy Jesus nie as ’n tipiese Westerling uitgebeeld nie. Inderwaarheid het sy ’n bie­tjie by Etiopiese voorstellings gaan leen.

En die agtergrond van die ikoon is donker, omdat dit eintlik bedoel is om op Goeie Vrydag gebruik te word.

Vir die rand van die ikoon het sy shweshwe-lap gebruik wat uit die Basotho-kultuur kom.

Saam met die ikoon het sy ’n geloofsbelydenis geskryf. Om die ikoon alleen te gebruik, sou dalk te vreemd wees. Daarom is die gedagte dat die ikoon op ’n skerm geprojekteer word, terwyl die gemeente ’n responsoriese geloofsbelydenis doen.

Die hele ervaring het haar verryk, sê Fay. Sy het met allerlei persepsies oor ander Christelike tradisies geleef. Deur met ikone te werk, het sy waardering vir ander tradisies, maar opnuut ook weer vir haar eie tradisie, gekry.

“Ons sou bymekaar kon leer,” sê Fay. “Ons by hulle, maar hulle sou ook by ons kon leer. Ons is immers almal deel van die een, heilige, algemene Christe­like kerk.”

Ds Fay van Niekerk is leraar by die NG gemeente Stellastraat, Pretoria.