Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Jan Woest van Namibië (regs) doen ’n gebed vir dr Christo van der Rheede van Agri-SA (middel) by die vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen. Links staan dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk. Foto: Neels Jackson

Mense trek nie agter grond aan nie

Die provinsies waaruit die meeste mense wegtrek, is dié provinsies soos die Oos-Kaap waar daar die meeste kommunale grond beskikbaar is vir bestaansboere en hulle trek na provinsies waar die minste grond beskikbaar is, soos Gauteng en Wes-Kaapland.

Dit is van die argumente wat dr Christo van der Rheede van Agri-SA gebruik wanneer hy namens Agri-SA ’n stem van redelikheid in die Suid-Afrikaanse debat oor grondbesit laat hoor.

Van der Rheede het ’n perspektief op die debat aan die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) kom gee, om die NG Kerk te help bepaal hoe die kerk sy lidmate in dié tyd kan help.

Hy het ook daarop gewys dat die laagste vlakke van hongersnood in die land voorkom waar die hoogste vlak­ke van kommersiële landbou is. Die basis vir dié landbou is private grondbesit.

Van der Rheede het ook ’n ontleding gedoen van die interne spanninge binne die ANC om aan te dui watter rol die grondkwessie in die regerende party speel.

Hy het gesê die enigste manier waarop mnr Cyril Ramaphosa tot president van die ANC verkies kon word, is om mnr David Mabuza van Mpumalanga se steun te verkry. In ruil daarvoor moes hy die voorstel vir onteie­ning van grond sonder kompensasie ondersteun.

Van der Rheede sê Ramaphosa het egter ’n aantal kwalifikasies in die voorstel ingebou, soos dat so ’n proses nie voedselsekuriteit mag ondermyn nie. Daardeur wil hy sorg dat grondhervorming nie die landbou en ekonomie vernietig nie. Hy het egter gesê president Ramaphosa het bitter min beweegruimte in die ANC en dat die hele situa­sie op ’n mespunt is tussen ’n wonderlike toekoms en totale verval.

Agri-SA ondersteun redelike stemme in die gronddebat, soos die Ramaphosa-faksie van die ANC, die DA, ACDP en VF+ deur inligting te verskaf.

Op ’n vraag oor die rol wat die kerk kan speel, het Van der Rheede gesê die kerk moet lidmate aanmoedig om by wen-wen-vennootskappe betrokke te raak. Agri-SA beywer hom vir sulke vennootskappe omdat Suid-Afrika nie vyandskap tussen boere en ander of rassepolarisasie kan bekostig nie.

Hy het die kerk ook gevra om boere aan te moedig om die lot van hul plaaswerkers te help verbeter.

Daar was uit die ASM groot waardering vir die be­heers­te optrede van boere te midde van baie spanning.

Die ASM het die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele sake gevra om ’n teologie oor grond te ontwikkel en om materiaal te skep waardeur die kerk sy lidmate in die gronddebat kan help.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top