Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Johan van der Merwe aan die woord by die Vrystaatse VBO-week. Foto: Neels Jackson

Kan daar iets goeds uit die NG Kerk kom?

By die Vrystaatse Week vir Verdere Bedieningsontwikke­ling het dr Johan van der Merwe, predikant van die NG gemeente Stellenbosch, ’n aantal scenario’s voorgehou oor hoe die pad vir die NG Kerk vorentoe lyk. Daarmee het hy die vraag probeer beantwoord of daar iets goed uit die NG Kerk kan kom. NEELS JACKSON doen verslag.


Die vertrekpunt is die vraag watter tendense aan die werk is wat die potensiaal het om die om­­gewing wesenlik te verander. Van der Mer­we het twee faktore onderskei wat in die geval van die NG Kerk belangrik gaan wees.

Die eerste noem hy die vlak van inkarnasie. Dit gaan oor die mate waartoe die NG Kerk haarself volledig as ’n kerk van Suider-Afrika en Afrika sal verstaan en so sal uitleef. Soos Christus ons wêreld en ons mens­wees aangeneem het, so moet die NG Kerk tuis wees in Suider-Afrika. (In dié verband, het Van der Merwe opgemerk, is die benaming “Nederduitse” toenemend ’n wanklank.)

’n Hoë vlak van inkarnasie sal beteken dat die kerk tuis is in Suid-Afrika. Dit moet neerslag vind in hoe die kerk praat, sing, preek en dien. Dit beteken ook dat ’n gemeente in Stellenbosch anders moet lyk as een in Somerset-Oos, Newcastle of Pretoria. Elkeen moet in sy eie gemeenskap pas.

Hierteenoor sal ’n lae vlak van inkarnasie beteken dat die NG Kerk in ’n selfgemaakte hemel probeer bly. Dit sal gekenmerk word deur ’n laertrek-mentaliteit. Dit sal na binne gekeer wees en ingestel wees op interne versorging.

Die tweede faktor wat Van der Merwe onderskei, is innovasie. Daarmee bedoel hy die mate waarin die NG Kerk kan slaag om die waarde wat sy bied, so te verwoord en te verpak dat dit werklike behoeftes outentiek aanspreek. Dit is nie ’n nuwe boodskap nie, maar die beproefde boodskap van die evangelie wat op ’n nuwe manier gebring word.

Hoë vlakke van innovasie, sê Van der Merwe, sal ’n fyn verstaan van die omgewing se behoeftes ontwikkel en dan kreatief die pyn verlig en die omgewing en sy mense bemagtig om te doen wat hier en nou gedoen moet word.

’n Mens moet egter onthou dat meer innovasie minder beheer en sekerheid meebring.

Plaas ’n mens die twee faktore – inkarnasie en innovasie – nou op die twee asse van ’n grafiek, dan ontstaan daar vier kwadrante wat vier verskillende toekoms-scenario’s vir die NG Kerk voorstel.

Dr Johan van der Merwe se vier moontlike scenario’s vir die toekoms van die NG Kerk.

Links onder is die scenario waar die vlakke van inkarnasie en innovasie albei laag is. Van der Merwe noem dit die “Time Travellers” want hulle hunker te­rug na die “goeie ou dae” of na ’n geïdealiseerde toekoms. Dié scenario sou ook die “Truspieël” of “Lot se vrou” kon heet. Die scenario is rooi, want dit is die een wat noodwendig tot die volkome inploffing van die NG Kerk moet lei. Wat oorbly, is ’n kerk wat dink sy is reg en uitverkore, wat laer trek en angstig en kramp­agtig beheer wil herwin en uitoefen, maar sonder sukses.

Hierteenoor is die scenario regs bo groen. Dit is waar innovasie en inkarnasie albei hoog is. Dit gee ’n ligtheid aan die NG Kerk, ’n ratsheid en veerkragtigheid wat deur ’n vars en vreugdevolle deelname aan en bydrae tot haar omgewing gekenmerk word, sê Van der Merwe. Die NG Kerk word hier gekenmerk deur ’n geroepenheid deur die God wat haar vanuit die toekoms tegemoet tree en haar uitnooi om deel te neem aan God se werk. Hy noem dié scenario “Connecting the dots” omdat die kerk daar so verweef is met haar gemeenskap en fyn ingestel is om geleent­hede tot ­diens raak te sien.

Die derde scenario is een van hoë innovasie maar lae inkarnasie. Dit heet “Missing the Point” maar sou goedskiks ook “Road to Nowhere” of “All dressed up but nowhere to go” genoem kon word. Dit is ’n “cool” en “funky” kerk maar meer gerig op bemarking as op diensbaarheid. “Die aansien is daar, die aantreklikheid is daar, maar die egtheid nie,” sê Van der Merwe. Dis nie volhoubaar nie, want dit is nie werklik belyn met die dieper behoeftes van die konteks nie.

In die vierde scenario is die inkarnasie hoog, maar die innovasie laag. Dit noem Van der Merwe die ­”Dinosourus”. Dit identifiseer met die omgewing, maar het nie oplossings vir probleme nie. “So ’n NG Kerk wil graag, maar kry dit net nie reg nie. Sy wil ’n verskil maak, sy is lief vir haar plek en haar mense, maar behalwe dat sy meegevoel het met die nood, is sy onmagtig om iets daaraan te doen,” sê Van der Merwe. Haar mentaliteit bly een van skaarsheid. Sy vind nie nuwe maniere om iets te doen nie. Die ou kolosse van bestaande strukture word eerder in stand gehou.

Aan die een kant

So, kan daar iets goed uit die NG Kerk kom? Van der Merwe sê die antwoord bly: “Dit hang af.” Die tekens is nie duidelik nie.

Aan die een kant vra hy vrae soos:

  • Wat sê die gebeure rondom 2015 en 2016 se sinodes en die huidige hofsaak van 12 lidmate teen die kerk vir ons?
  • Wat sê die dalende lidmaattal en dat al hoe meer gemeentes in ’n finansiële oorlewingstryd verkeer?
  • Wat sê die vasgelooptheid van kerkeenheid-ge­sprek­ke met die VGK vir ons?
  • Wat sê dit dat daar op feitlik elke dorp ander “ge­loofs­diensverskaffers” as die NG Kerk is en dat selfs die tradisionele (wit, Afrikaanse) ondersteunersbasis van die NG Kerk weinig lojaliteit meer teenoor die kerk openbaar?
  • Wat sê dit dat lidmate se ervaring van hulle gemeen­tes so radikaal kan verskil van een gemeente na ’n ander?
  • Wat sê dit dat dit al hoe moeiliker word om jongmense met die vereiste kenmerke te kry om in die teologie te studeer en dan die gemeentebediening te betree?
  • Wat sê dit dat die NG Kerk steeds swaar dra aan die bagasie van ons ondersteuning van apartheid in die verlede?
Aan die ander kant

Van der Merwe vra:

  • Wat sê dit as ds Tewie Pieterse van Coligny en die EFF-raadslid ’n vriendskap bou?
  • Wat sê dit as Vrystaatse dominees ook in mediasie opgelei word?
  • Wat sê dit as Heleen, ’n ortopeed wat lidmaat is van Skuilkrans, alle ander dokters wil inspireer om ’n behoeftige pasiënt eenmaal per jaar gratis te help – en Operation Healing Hands ontstaan?
  • Wat sê dit as 50 swart kinders elke dag in Riebeeckstad se kerksaal huiswerk doen?
  • Wat sê dit as in al hoe meer Echo-huise landswyd gemeenskappe van hoop gebou word?
  • Wat sê dit as op Kleinmond al die kerke saam ’n basaar hou waar niemand koop nie, maar alles weggegee word – hulle noem dit ’n Fees van Seëninge?
  • Wat sê dit as Doornkloof ’n Engelse diens het wat deur alle bevolkingsgroepe byge­woon word – en ná die tyd drink die Engelse en die Afri­kaanse diens se mense saam tee?
  • Wat sê dit as die gemeente Foch­ville-Noord se boere kom vra hoe hulle ander kan seën en 320 ton mielies en 100 bale voer Oos-Kaap toe gaan?
  • Wat sê dit wanneer 13 jong werkendes in Lynnwood-gemeente vir ’n werkweek lank op R14 per dag (die armoedelyn) probeer eet om beter te verstaan?

Van der Merwe meen dit sê waarskynlik:

  • Die plaaslike gemeente moet meer word en die verband minder. Hoewel die NG Kerk al baie verskuif het in hierdie verband, word die regsprekende rol van die sinode en verband steeds oorbeklemtoon en ’n toelatende, innoverende kultuur gedemp. Niemand kan beter inkarneer en innoveer as die plaaslike gemeente nie.
  • Ons moet meer oor God praat, nie minder nie. Die gepraat oor sekulariteit, die geloof-wetenskap-debatte en die post-Christendom laat ons soms voel ons moet nie die “geloof-ding” te sterk dryf nie. Dissipelskap van Jesus Christus bly die ononderhandelbare kern van ons identiteit (en die “waarde” wat ons bied). Ons kan nie ander aanbiedinge vir lewensin en betekenis naboots en dit beter doen nie. Ons het dit wat juis nêrens anders te vinde is nie.
  • Ons moet besluit of ons wil “reg” wees en of ons gelukkig wil wees. Ons gaan moeilik albei wees. Dogma sal ’n tweede plek moet inneem agter medemenslikheid en egtheid.
  • Ons sal vinnig fikser moet raak met die hantering van diversiteit van mening, veral wat dogmatiese en etiese kwessies betref.
  • Ons sal moet klaarspeel met “Nederduits” en tuis­kom in Afrika.
  • Ons sal soveel as moontlik vennootskappe met soveel as moontlik belangegroepe moet vorm en ’n dienende ingesteldheid daar moet openbaar.
  • Ons sal ons toenemend moet laat lei deur entrepreneuriese denke wat in die kerk tot ons beskikking is en baie eksperimenteer. Nege eksperimente gaan weer toegemaak moet word. Die een wat vlamvat gaan al die verskil maak.
  • Ons sal moet ophou treur oor hulle wat nie meer by ons is nie en hulle raaksien wat daar is. Ons gaan ’n kleiner kerk wees, maar ons gaan ratser wees.
  • Ons sal moet leer dat die storie wat vertel word, ­is die storie wat op ons sal groei.

Van der Merwe skat dat die NG Kerk tans ’n 10% kans het om “Time Travellers” te word, 30% “Connecting the Dots”, 40% “Missing the Point” en 20% “Dinosourus”. Maar dit sal skuif namate die kerk se verhaal ontvou.

Sy wens is: Mag ons kies om só ’n publieke kerk te wees waar alles waaraan ons raak in hoop verander. Mag ons God se “dots connect”.

Só kan ons by vroeë Christene leer

an der Merwe herinner die kerk daaraan dat die vroeë Christene maar ’n klein groepie was wat ’n nuwe godsdienstige beweging verteenwoordig het in ’n alreeds oorversadigde “godsdienstige mark”.

Hulle het egter eienskappe gehad wat ander groepe nie gehad het nie:

  • Intimiteit: Hulle was mekaar se broers en susters en het mekaar versorg.
  • Deelname: Almal kon deelneem. Die onderskeid op grond van sosiale of ekonomiese klas of geslag, so sterk in die Jodedom en die Romeinse kultuur, is in Christus opgehef.
  • Passie: Die gelowiges se samekomste is gekenmerk deur vreugde.
  • Identiteit: Deelname aan die geloofsgemeenskap het vir hulle ’n sterk identiteit in Christus gegee. Hulle het nie tempels nie, maar is self ’n tempel van die Heilige Gees en liggaam van Christus. Hulle het nie offers nie, maar is lewende offers (Rom 12:1). Hulle is God se verloste kinders. Die eerste vrygelatenes van die skepping.
  • Krag: Die byeenkomste is gekenmerk deur ’n erva­ring van God se kragtige teenwoordigheid.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top