Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Molebatsi Petrus Peter Konzane (heel links) ontvang ’n sertifikaat van predikantsbevoegd­heid van ds Johan Brink, voorsitter van die Goudland-sinode. Langs Brink staan dr Grant du Plessis, ondervoorsitter vir missionale kerkwees, en die sewe ander predikante wat ook sertifikate van bevoegdheid gekry het. Hulle is (van links) ds Katse Joshua Mojaki, ds Pogisho Johannes Moremedi, ds Ditoro Joseph Mmolawa, ds Tshose David Celo, ds Moetetsi George Modutloa, ds Mkguhlane Peter Nduwqeni en ds Piet Manaki Mohapi.

Goudland verwelkom agt nuwe predikante

Agt predikante van Bokang Modimo, die groep swart gemeentes wat by Sinode Goudland ingeskakel het, het by Goudland se sinodesitting hulle sertifikate van predikantsbevoegdheid gekry.

Die predikante het saam met die gemeentes van Bokang Modimo by die NG Kerk ingeskakel. Hulle akademiese opleiding voldoen egter nie aan die voorskrifte wat normaalweg vir NG predikante geld nie. Op advies van die Algemene Taakspan Regte is daar egter aan hulle predikantsbevoegdheid verleen, maar met beperkte opdrag. Hulle mag slegs in die gemeentes van Bokang Modimo beroep word.

Dit beteken dat hulle in daardie gemeentes volledig die werk van predikante mag doen, en onder meer die sakramente mag bedien.

Bokang Modimo se 18 gemeentes was met 36 afgevaardigdes op Hervormingsdag, 31 Oktober, vir die eerste keer volledig verteenwoordig op ’n sitting van Goudland se sinode. Hulle skakel by Goudland in as een van die sinode se agt streke.

Ds Johan Brink, voorsitter van Goudland, het aan die sinode gesê dat die aantal gemeentes in Goudland met 12% gegroei het met Bokang Modimo se inskakeling. By die laaste vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen, vertel Brink, het ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, gesê dat Goudland met die inskakeling van Bokang Modimo ’n voorbeeld gestel het. Dit is deel van die toekomspad van die NG Kerk.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top