Dit het begin met die droogte, vertel dr Arnold Smith, predikant van Steynsrus.
Soos soveel ander plekke in die land, het dié Vrystaatse dorp en sy omliggende landbougemeenskap ’n paar jaar gelede baie swaar gely onder die droogte. Soveel so dat gemeenskappe van elders af water aangery het om die nood te verlig.
En, soos dit dikwels op sulke dorpe gebeur, staan Steynsrus se imposante sandsteenkerk in die middel van die dorp. En dit word die sentrum waarvandaan water versprei word.
Een van die groepe wat water gebring het, was ’n groep perdeliefhebbers van Kyalami, noord van Johannesburg. Hulle werk onder die naam Echo en het toe gevra na die welstand van perde in Steynsrus se omgewing. Later het hulle vir die perde voer gebring, en toe gesien dat daar perde is, veral van arm mense in die omgewing, wat meer sorg nodig het. En deur uit te reik na die perde, het hulle ook uitgereik na die mense wie se perde dit was.
Smith sê as gemeente het hulle gedoen wat in die missionale teologie geleer word: Hulle het opgemerk dat God hier aan die werk is en by hierdie beweging aangesluit. Die kerkterrein is beskikbaar gemaak sodat Echo daar na die mense se perde kon omsien.
Sedertdien het dit ’n gereelde instelling geword dat Echo se mense na Steynsrus se perde kom omsien. Verlede maand was hulle weer een Saterdag daar. En lidmate van Steynsrus tref al die reëlings.
Daar word volledig rekord gehou van al die perde en wat vir hulle gedoen word. Elke perd word ondersoek en as daar wonde is, word dit versorg. Terselfdertyd word die perde se eienaars geleer hoe om ’n wond te versorg, maar ook hoe om die perd te hanteer om seerplekke te voorkom.
Die perde kry voer en water, waar nodig behoorlike tooms en ander toerusting, en ’n paar hoefsmede beslaan die perde wat dit nodig het.
Die sorg vir die perde het uitgebrei na honde ook. ’n Ander groep, die Society for Animals in Distress, neem hiervoor verantwoordelikheid.
Verlede jaar het hulle vir ’n hele week gekom om die gemeenskap se honde te steriliseer. Toe is die MT Steynsaal op die kerkterrein omskep in ’n dierehospitaal. Meer as ’n 1 000 honde is in daardie week gesteriliseer.
Dit alles het meer geword as ’n projek om na dieregesondheid om te sien. Dit het ’n reis geword waarvan Steynsrus se gemeente deel geword het. En op hierdie reis neem die Here Steynsrus se mense na nuwe plekke toe.
Smith vertel dat die gemeenskappe van Steynsrus en die township Matlwangtlwang nader aan mekaar gekom het. Die geografie van die vorige politieke bedeling is nog duidelik te sien, met die tradisioneel wit dorp aan die een kant en die swart township aan die ander kant.
Maar Steynsrus se kerk het nou ’n baken geword waarheen swart mense van Matlwangtlwang en van die plase af kan kom om na hulle diere se welsyn om te sien.
En dan gebeur daar onverwagse dinge, soos by ’n begrafnisdiens waar die familie gevra het die nagmaal moet bedien word. By die begrafnis was daar wit en swart mense, en sonder dat daar ’n woord daaroor gesê is, het wit en swart gelowiges saam op dié plattelandse Vrystaatse dorp die Here se dood en opstanding met die sakrament herdenk.
Waarheen die reis hulle vorentoe gaan lei, sal hulle nog moet sien, sê Smith. Daar is nou groot padwerk aan die gang op die R76 tussen Steynsrus en Kroonstad. ’n Lidmaat het onlangs gevra of die gemeente nie vir daardie padwerkers iets moet doen nie. Daaroor moet hulle nog praat en besluit.
Wat wel duidelik is, is dat Steynsrus met die Here op reis is, en dat hulle op dié reis grense oorsteek.