“Die Skepper het ons gemaak om skeppend te wees,” sê dr Zander van der Westhuizen. Neels Jackson het met dié predikant van die NG gemeente Tygerpoort gesels.
In ’n mens se skeppende talent word daar iets sigbaar van die beeld van God waarna die mens geskape is.
Dit is hierdie kreatiwiteit wat die fokus is van Wolkedans, ’n musiekgedrewe produksie wat Zander, die sanger Leon Gropp en die akteur Pierre Breytenbach binnekort by die Woordfees in Stellenbosch op die planke gaan bring.
Die aanleiding tot die produksie lê eintlik al in verlede jaar se Woordfees, toe Leon, wat help met die kreatiwiteit in Tygerpoort, die prys gewen het vir die beste musiekgedrewe produksie. Dit was met Rooidag, waarin Leon sy toonsettings van NP van Wyk Louw se gedigte gesing het.
Vanjaar wou hulle iets anders doen. Zander, Leon en Pierre, ook ’n lidmaat van Tygerpoort, oos van Pretoria, het koppe bymekaar gesit.
Zander vertel dat die idee van Wolkedans vorm gekry het na aanleiding van die Franse skrywer, De Saint Exupery, se werk. Uys Krige en sy broer Japie het een van sy boeke in Afrikaans vertaal as Pioniers van die wolke.
Daarin beskryf Exupery hoe hy op ’n bus sit en ’n burokraat dophou. Dan praat hy met die burokraat oor hoe hy die digter in mense doodmaak deur mure om hulle te bou.
En daar is die gedagte vir Wolkedans gebore. Dit gaan daaroor dat mense nie hulle kreatiwiteit toelaat om te blom nie. “Ons versmoor dit. Ons word vasgevang in die daaglikse lewe, in die roetine,” sê Zander.
Zander het aanvanklik die teks geskryf. Hy en Leon het geslyp aan die lirieke en Pierre het met sy teaterervaring gehelp om dit vir die verhoog reg te kry. Dit was ’n kreatiewe proses waaraan dié drie saamgewerk het.
Die storie gaan oor ’n karakter, Alex du Buisson, wat opgehou het om te dig. Hy gaan dan uit om iets te konfronteer (Zander sê ’n mens moet na die produksie gaan kyk om te sien wat dit is) en onderweg ontmoet hy drie verskillende karakters. Hierdie ontmoetings help hom om na te dink oor die lewe.
Zander, Leon en Pierre se veelsydigheid word in die produksie ten toon gestel. Hulle al drie maak musiek, al drie speel toneel, en al drie vertel die verhaal.

Dit is nie ’n gemeenteproduksie nie. Dit staan eintlik los van die gemeente, maar dit word heel eerste by Tygerpoort opgevoer. Daarná gaan dit Woordfees toe en dan sal hulle dit verder neem. Daar is reeds planne om dit op Secunda te gaan opvoer en hulle beplan om dit in te skryf vir Aardklop.
Maar daar is tog ook ander raakpunte met die gemeente. Zander praat oor vryheid wat in die hart van die evangelie lê, oor hoe mense hulleself toe hou, hulle ongesonde self vashou, terwyl die Here wil hê mense moet vry wees.
Omdat dit belangrik is, is selfinsig ’n tema in Tygerpoort. Eers as jy jouself verstaan, as jy jouself in die oë kyk, as die maskers afval – dan kan jy vry word. Dan kan jy word wie jy moet wees.
Wat hulle in die gemeente in godsdienstige taal vir mense sê, word in Wolkedans op ’n ander manier, in ’n ander taal gesê. Dit is ’n universele boodskap, sê Leon.
Maar daar is ook ’n teaterkultuur in Tygerpoort. Die gemeente het ’n teater, want hulle wil ’n spasie skep waar mense wat nie normaalweg by die kerk sou uitkom nie, welkom sal voel.
Hulle moedig lidmate aan om ander mense van buite die kerk saam te bring teater toe. As sulke mense dan kom, word hulle stereotipes van outydse kerkwees ondermyn. Dan word dit vir hulle makliker om ook ’n erediens te kom bywoon.
Later vanjaar bring Tygerpoort ’n musiekblyspel met die naam Helder op die planke. Dit speel van 22 tot 24 Augustus en val saam met hulle gemeentefees. In dié stuk gaan Pierre, Anna Davel en Zander se een kollega, ds Wouter van Wyk, die hoofrolle speel.
Zander vertel dat daar heelwat kinders in die produksie gaan wees. Die uitnodiging om te kom deelneem, gaan ook wyer as die gemeente. ’n Mens hoef nie ’n lidmaat te wees om ’n rol te kry nie.
Daar is 51 mense wat wil kom vir oudisies, maar uiteindelik gaan hulle ’n rolverdeling van dalk so 30 hê, sê Leon. Zander sê hulle werk eers met ’n konsep, dan hou hulle die oudisies en daarna word die teks van die produksie volledig uitgewerk.
Die blyspel, wat losweg op die verhaal van Josef gebaseer is, sluit aan by die tema van helderheid waarmee hulle in die gemeente werk. In die tema praat hulle oor die groter prentjie en hulle probeer mense help om dit te verstaan. Hulle speel met die verskil tussen sekerheid en lig. Dit gaan ook oor hoe ’n mens lig moet wees.
En so word skeppende talente in Tygerpoort ingespan om die evangelie op ’n kreatiewe manier te laat grondvat.
- Wolkedans is ’n musiekgedrewe produksie wat eersdaags op die Woordfees (1-10 Maart) in Stellenbosch te sien sal wees. Dit word op die planke gebring deur ’n dominee, ’n sanger en ’n akteur.
