‘Kerk verskil nie oor die sentrale waarhede nie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Neels Jackson van Centurion skryf:

Dr Chris van Wyk skryf (Kerkbode, 2 Augustus 2019) oor die gelykenis van die onkruid tussen die koring in Matteus 13. Dit kom teen die agtergrond van meningsverskil in die kerk oor selfdegeslagverhoudinge en ’n hoofartikel in Kerkbode van Januarie 2017 (wat ek nog geskryf het) wat aan die hand van die gelykenis pleit vir ruimte vir verskillende standpunte. Dr Van Wyk argumenteer hierteen.

Hy voer aan dat Guido de Bres dié gelykenis in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis gebruik. Sy gronde vir dié stelling is onduidelik. Ander mense kon dalk later teksverwysings by die NGB gevoeg het, maar volgens Scheffler (in sy bydrae “Die gebruik van die Nuwe Testament in die Nederlandse Geloofsbelydenis” in Bosman, HL en andere, Die Nederlandse Geloofsbelydenis – Onstaan, Skrifgebruik en Gebruik, Unisa, 1987) was daar nie Skrifverwysings in die oorspronklike teks van die NGB nie. Boonop skryf Scheffler dat die NGB ’n voorliefde het vir tekste uit die Nuwe Testamentiese briewe, veral Hebreërs, eerder as die evangelies. By dit alles verwys NGB 29 glad nie na koring of onkruid nie.

Nietemin, dr Van Wyk gebruik sy twyfelagtige stelling om van die gelykenis te spring na NGB 29. Dan gebruik hy dié artikel se onderskeid tussen die ware en valse kerk as raamwerk vir sy argument. Hy keer wel later terug na Jesus se verduideliking dat die onkruid verwys na “almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet oortree”.

Hy gaan egter volledig verby die punt van die gelykenis, naamlik dat die boer sy werkers aansê om nie dadelik dié onkruid uit te trek nie, omdat hulle in die proses dalk koring kan uittrek. Hulle moet dus nie te seker wees wat is onkruid en koring nie.

In die NG Kerk is daar nie verskil oor die sentrale waarhede van die Skrif nie. Christus is die Here en Verlosser. Hy is die weg en die waarheid en die lewe. Die Bybel is die Woord van God en rigtingewend vir ons lewens. Daaroor stem almal saam.

Daar is egter diep verdeeldheid oor selfdegeslagverhoudinge – en in die Woord is dit hoogstens ’n randsaak. As die algemene sinodes van 2015 en 2016 ’n aanduiding is, dan is die kerk naby aan helfte-helfte verdeel oor hierdie randsaak.

Vir die kerk is daar nou twee moontlikhede. Ons kan elkeen in ons verskillende kampe só seker wees van ons eie standpunt dat ons dit met die ware kerk vereenselwig. Dan kan ons gelowiges wat die Skrif anders verstaan, as die valse kerk uitmaak. Ons kan karikature van mekaar teken (soos in Van Wyk se opmerking “die valse kerk is sag op sonde”). Ons kan mekaar verketter en verdeeldheid saai.

Of ons kan die weg volg wat Jesus se gelykenis aandui. Ons kan nederig wees oor ons eie standpunt en erken dat dit vir ons as kerk, nou, oor die saak van selfdegeslagverhoudings, nie so duidelik is wat is koring en wat is onkruid nie. Dan kan ons ruimte vir mekaar se standpunte laat totdat daar groter duidelikheid groei. So kan ons die eenheid probeer behou.