Die gelykenis van die onkruid tussen die koring

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Jesus vertel die gelykenis van die onkruid tussen die koring in sy der­de toespraak oor die koninkryk (Matt 13). Die punt van die gelykenis is dat ’n mens nie te gou moet oordeel op ’n individuele menslike vlak nie, want die koring en die onkruid (drabok) kan eers met die oes helder van mekaar onderskei word.

Jesus wil ons leer om die gemengde werklikheid van gelowiges en ongelo­wi­ges wat langs mekaar bestaan, te verdra. Die inherente konflik tussen waar­destelsels en geloof op ’n individuele vlak in die samelewing sal ons eenvou­dig moet verduur, totdat God se gereg­tigheid uiteindelik seëvier.

Maar, daarmee is alles nie gesê nie. Dit is ook een van die gelykenisse wat Guido de Bres gebruik in die Nederlandse Geloofsbelydenis 29 om die breë onderskeid tussen die ware en die valse kerk te beskryf. Die gelykenis beteken dus nie dat ons geen onderskeid op gemeente en kerklike vlak mag maak nie.

Inteendeel. Die kerk mag en moet seker maak dat hulle in alles volgens die leer van die Woord leef. Die ware kerk kan onderskei word “wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.” Dit sluit die prediking, die sakramente en die tug in.

Die kerk moet dus seker maak dat die Woord van God alleen gesag dra. Alle leringe en lewenswyses wat daarmee in stryd is, moet deur die ware kerk (koring) verwerp word, anders loop hulle self die gevaar om as ’n valse kerk (drabok) gebrandmerk te word.

Hoe ken ons die valse kerk uit? Die valse kerk ken “aan homself en sy be­sluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God.” Die valse kerk neem boonop weg uit die Woord en voeg daar­aan by: “na eie goeddunke.” En die valse kerk vervolg dié “wat volgens die Woord van God heilig lewe.”

In terme van die gelykenis: Die valse kerk is sag op sonde en sag op die wet van God. Soos Jesus in die gelykenis sê, die onkruid is “almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree (anomia).”

Dit raak al hoe duideliker, soos die Heilige Gees dit al aan Paulus geopenbaar het, dat in die laaste tye sommige mense sal wegdraai van wat ons glo; hulle sal leuengeeste volg en leerstellings wat van bose geeste af kom; hulle sal voorgee om godsdienstig te wees, maar hulle gewete sal morsdood wees (1 Tim 4:1-2).

Paulus roep die ware kerk daarom op om nie soos nie-Christene te lewe nie. Hulle gee immers nie om vir wat reg of verkeerd is nie. Hulle gee hulleself oor aan losbandigheid, en beoefen so gre­tig­lik elke vorm van onreinheid. Maar dit is nie hoe gelowiges Christus leer ken het nie!

Die ware kerk moet ophou om te lewe soos nie-Christene lewe. Hulle moet breek met die ou, sondige mens wat deur sondige begeertes verteer word. Hulle gees en gedagtes moet nuut word. Hulle moet lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is. Hulle moet volkome lewe volgens die wil van God en heilig wees (Ef 4:17-24).

Dr Chris van Wyk is gemeenteleraar by Somerstrand-gemeente, Port Elizabeth. Besoek www.bybelskool.com vir meer.