Leef lig deur Jaco Strydom
Uitgewer: Lux Verbi, 2021
Wat behels dit om Jesus te volg?
Dit is nie so ’n eenvoudige vraag nie. Jesus self het volgens Markus 8:34 gesê iemand wat Hom wil volg, moet homself verloën en sy kruis opneem. Net daarna sê Jesus dat iemand wat sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, dit sal behou.
En tog het Jesus volgens Matteus 11:30 ook gesê sy juk is sag en sy las is lig.
Jaco Strydom hanteer die saak aan die hand van vyf geloofsgewoontes waarvolgens die vroeë kerk geleef het.
Die vyf gewoontes is: 1) Tyd in afsondering en gebed; 2) Reis lig (dus sonder ’n verknogtheid aan besittings); 3) Leef in eenheid; 4) Wees goed vir jou vyande; en 5) Gee om vir die wêreld.
LEES OOK: Finansiële impak van pandemie op gemeentes
Dit is nie sake wat Strydom of die vroeë kerk uit die duim gesuig het nie. Dit is elkeen ’n gewoonte wat in direkte navolging van Jesus en in ooreenstemming met sy uitsprake gevolg word.
Ongelukkig is dit ook aspekte van die evangelie wat selfs in die kerk dikwels verlore gaan. Dit is maniere van leef wat teen die heersende kultuur indruis.
Een voorbeeld: Strydom skryf oor hoe baie voorwaardes daar vandag vir ’n gelukkige lewe is. Daar is, volgens die heersende kultuur, so baie dinge wat ’n mens moet hê om regtig gelukkig te wees. Ook die kerk dra swaar aan al die strukture en hulpmiddels wat sy deur die jare versamel het “om beter kerk te wees”. In die proses het die kerk die waarde daarvan om lig te reis, vergeet.
Strydom se bespreking van die vyf geloofsgewoontes is nie blote teorie nie. Hy skryf uit die ervaring wat hy deur die jare met die Echo-gemeenskap opgebou het. Daarom is dit duidelik dat dit nie so eenvoudig of maklik is om Jesus deur hierdie vyf geloofsgewoontes te volg nie.
Dit is uitdagend. Dit vra dat gelowiges Jesus se woorde ernstig opneem. Dit vra dat ’n mens jou middelklas-leefstyl bevraagteken en opnuut dink wat dit beteken om Jesus te volg. Uiteindelik vra dit dat ’n mens dit moet gaan doen.
- Neels Jackson is ’n vryskutjoernalis en voormalige redakteur van Kerkbode.
- Kliek HIER om die boek te koop via Bybel-Media se aanlyn winkel