‘This little light of mine, I’m gonna let it shine’

“Hoe ons onthou, hoe ons vergeet. Om verbeeldingryk te leef.” Dit is die tema van die Lentekonferensie van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria. NEELS JACKSON doen verslag.


Op die eerste oggend van die Lentekonferensie is prof Thuli Madonsela, vorige Openbare Beskermer en nou verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch, aan die woord.

Halfpad deur haar rede vertel sy van ’n liedjie wat hulle as kinders in die kerk geleer het. Sy begin sing – en haar gehoor val spontaan saam het haar in: “This little light of mine, I’m gonna let it shine …”

En op ’n manier vat dit die boodskap saam – haar boodskap maar ook dié van ander sprekers.

Die konferensie begin met dr André Bartlett, hoof van Excelsus, se opening. Hy lees Deuteronomium 8:6-18. Hy gebruik dit om oor die tema van die konferensie te praat.

Dr André Bartlett praat oor die onthou van die moeilike omstandighede van die verlede, die onthou van God se teenwoordigheid en die verbeelding van ’n nuwe toekoms. Foto: Neels Jackson

Die teks het in die tyd van die ballingskap ontstaan, maar dit voer die eerste gehoor en huidige gehore terug na Israel se krisisgeskiedenis. Moses praat met die volk oor die land van oorvloed wat op hulle wag, maar hy herinner hulle aan die tyd in Egipte en aan die moeilike pad deur die woestyn. En hy herinner die volk dat God daar by hulle was. Met hierdie wete kan hulle hulle ’n nuwe, voorspoedige toekoms voorstel.

Bartlett verwys na die moeilike omstandghede waarin die volk was en merk op: “Dit klink soos ons eie situasie.” Hy praat oor die onthou van die moeilike omstandighede van die verlede, die onthou van God se teenwoordigheid en die verbeelding van ’n nuwe toekoms.

Hy projekteer ’n prentjie op die skerm van legkaartstukkies wat ’n mens se kop bou, maar aan die bokant lê die stukkies nog los rond. Hulle moet nog elkeen sy plek kry. Die belangrikste stuk van die legkaart, sê Bartlett, is die teenwoordigheid van God.

Wanneer prof Jerry Pillay, dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie, die gehoor verwelkom, praat hy ook daaroor dat Suid-Afrika nou in ’n krisis is. “Hoe skep ons ’n nuwe land, een van oorvloed,” vra hy. “Wat is die boodskap van die evangelie? Waartoe roep Jesus ons nou?”

Hy verwys na korrupsie en sê dat Suid-Afrika nou morele leiers nodig het. Die kerk moet daarin ’n rol speel, sê hy.

As Madonsela begin praat, verwys sy na die “nuwe dagbreek” waarvan mense gepraat het met die verkiesing van pres Cyril Ramaphosa. Maar nou is daar soveel geweld, geweld teen vroue en kinders, teen bejaardes op plase, teen vreemdelinge, teen LGBTI-mense. Dit lyk of die nuwe dag verdwyn het.

“Is die nuwe dag weg, of is dit net bewolk?” vra sy, en voeg by: “Ons moet die leiding neem om die nuwe dag te laat deurbreek.”

Dan begin sy stories vertel.

Sy vertel van ’n jong meisie in ’n ver dorpie wie se kinderjare gesteel is. Sy kon nie skool toe gaan nie, want sy moes die familie se diere oppas. Op 9 is sy as bruid gegee aan ’n man 20 jaar ouer as sy.

Toe sy tien jaar later (reeds ’n ma van drie en swanger met nommer vier) weerstand bied teen die korrupsie in die dorpie, word daar aan haar man vertel dat sy ’n los vrou is, dat die baba wat sy dra, nie syne is nie.

Hy rand haar aan en los haar vir dood tussen die beeste. Sy sterf egter nie, maar wil later selfmoord pleeg. Waar sy op die treinspoor lê, hoor sy egter die noodroepe van ’n man. Sy staan op, vind die honger man en gaan kry vir hom kos. In die proses ontdek sy dat haar lewe ’n doel het: om ander te help.

Later stig sy ’n weeshuis en haar lewe lank versorg sy kinders. Op 60 kom sy af op ’n man van 80 wat in nood is – haar man, die een wat haar verniel het. En sy ontferm haar oor hom.

Madonsela haal vir Viktor Frankl aan: ’n Mens kan nie kies wat met jou gebeur nie, maar jy kan kies hoe jy daarop reageer.

Sy vertel van Pixley ka Seme, een van die vroeë leiers van swart politieke weerstand in Suid-Afrika. Hy het as Christen grootgeword, sê sy, en met die idee van “no colour to the soul”. Hy het gekies om vuur nie net vuur te bestry nie. Hy het onthou dat jy as Christen lig vir die wêreld moet wees.

Sy maan haar gehoor om die droom te onthou wat hulle vir Suid-Afrika het.

Dan vertel sy van ’n paneelbespreking waarby sy onlangs was. Die panneellede was mense uit uiteenlopende politieke agtergronde, maar toe sy hulle vra hoe lyk hulle droom vir die land, is almal s’n dieselfde: ’n land waar elkeen se menslikheid tot sy reg kan kom.

Self is sy aangevuur deur die gedagte dat siel nie kleur het nie. Sy praat oor haar aanstelling as openbare beskermer. “Jy kan nie lei met ’n titel as jy nie gelei het sonder ’n titel nie,” merk sy op.

Sy vertel van haar besoek as openbare beskermer aan die berugte Glebelands-hostel in Johannesburg en van die ongelooflike armoede wat hulle daar gevind het.

“Ek vertel julle dié stories sodat ons kan onthou wie ons is. Ons is gemaak na die beeld van God. Ons is verlos deur Christus.”

Sy voeg by: “Dit is nie genoeg dat ons van die bergtoppe af kla nie.”

Toe sy die leerstoel in maatskaplike geregtigheid by Stellenbosch aanvaar het, vertel sy, was dit nie omdat dit die enigste of bes betalende aanbod was wat sy gekry het nie, sê sy. Sy het dit aanvaar omdat sy geglo het die demokrasie is in ’n krisis. En sy praat weer oor armoede en oor die onreg wat dit is.

Sy sluit af deur te verwys na James Patrick Kinney se gedig “The cold within”.

Dit vertel van ses mans wat in bittere koue om ’n sterwende vuur sit. Elkeen het ’n stuk hout wat die vuur aan die brand kan hou, maar elkeen vind ’n rede om dit nie op die vuur te plaas nie. Een sien die res is nie van sy kerk nie. ’n Wit man sien dat ’n ander swart is; die swart man wil nie dit witte help nie. Die arme wil nie sy hout gee om die ryk man warm te maak nie en die ryke wil sy hout vir homself hou. Die laaste gee niks verniet weg nie.

“They didn’t die from the cold without, they died from the cold within,” sluit die gedig af.

Haar uitdaging, sê Madonsela, is dat ons die lig vir die wêreld moet wees.

4 thoughts on “‘This little light of mine, I’m gonna let it shine’

  1. Erik Brits says:

    Aangrypend! Is ‘n leeftyd genoeg vir al hierdie ervaringe. Persoonlik het ek die vrees dat ek nie swaarkry gaan oorleef nie. Wat ‘n getuienis! en inspirasie. Baie baie dankie vir sulke lewenslesse.

  2. Wilna deKlerk says:

    Makes you think!

  3. Fanus Hansen says:

    En wat ‘n belewenis was dit nie, om hierdie merkwaardige vrou as Christen te ontmoet nie!

  4. Kobus Victor says:

    Wat ‘n merkwaardige mens! Dankie.

Comments are closed.