Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Johan du Plooy (73) maak die teermengsel in die slaggat gelyk. Die linkerkantste gat is klaar voorberei en wag op sy teervulsel. Hierdie projek is deel van hulle getuienis in die gemeenskap, sê Du Plooy. Vroeër was hulle getuienis beperk tot dinge soos kos uitdeel of betrokkenheid by kinderhuise. Nou het dit ook skoonmaak- en regmaakaksies in die gemeenskap geword. Foto: Neels Jackson

Slaggate in Pretoria: Lidmate spring in … met kruiwa, pik, grawe en ysterhark


Vroeër was hierdie lidmate se getuienis beperk tot dinge soos kos uitdeel of betrokkenheid by kinderhuise. Nou het dit ook skoonmaak- en regmaakaksies in die gemeenskap geword, berig Neels Jackson.

By die besige kruising van Waterbokstraat en Rachel de Beerrylaan in die noorde van Pretoria, het ’n klompie gevaarlike slaggate gevorm. Ook ander strate in die omgewing het aandag nodig. Die afgelope weke se aanhoudende reën het dit erger gemaak.

Maar op die eerste Saterdag wat die son weer skyn, is daar ’n paar spanne wat die buurt se slaggate takel. Dit is gelowiges wat oor kerkgrense heen hande vat, verduidelik ds Frikkie du Plooy van die NG gemeente Florauna. Dit sluit ook mense in van twee Gereformeerde kerke, van die Apostoliese Geloofsending se gemeente Corpus Christi-Noord (wat ook Florauna se kerkgebou gebruik), en daar was al Metodiste en mense van ander kerke wat ook saamgewerk het.

LEES OOK: 10 vrae aan Lindie Stander | ‘Dit gaan besonders goed met my ná jare se storms en roekelose foute’

Dit was juis een van die Gereformeerde lidmate wat hulle geleer het hoe om slaggate in teerpaaie te herstel. En dit is ’n taamlik eenvoudige proses.

Eers word die gat skoongemaak. By ’n groot gat kan dit ’n bietjie ligte pikwerk behels om die rante van die gat reg te kry – byna soos ’n tandarts wat eers die gat in ’n tand groter boor voordat hy dit stop.

Dan word die gat as ’t ware uitgeverf met ’n lagie teervloeistof. Dis die gom wat die vulsel in die gat vasplak.

En laastens word die gat met koue teer gevul wat dan platgedruk en vasgestamp word. Dié aangemaakte teermengsel word gereed vir gebruik in sakkies gekoop.

LEES OOK: PEN se kleuterskoolforums: Toe roep sy uit: ‘Teacher, I can!’ 

Daar is nie gesofistikeerde toerusting nodig nie. ’n Kruiwa, pik, grawe en ’n ysterhark, besems, ’n paar emmers en verkeerskeëls om die werkarea af te baken. En stampers. Du Plooy meen juis hulle moet nog ’n paar stampers kry.

Hoekom spring gemeentes nou in om paaie reg te maak?

Dit is deel van hulle getuienis in die gemeenskap, sê Du Plooy. Vroeër was hulle getuienis beperk tot dinge soos kos uitdeel of betrokkenheid by kinderhuise. Nou het dit ook skoonmaak- en regmaakaksies in die gemeenskap geword.

Dr Andries Putter, pastoor van Corpus Christi-Noord, sê dit wys dat die kerk die gemeenskap dien. So versprei hulle die geure van die Here in die gemeenskap.

Die sout-van-die-aarde-lidmate werk ywerig saam. Op een plek stamp ’n ouditeur die teer vas. Elders werk ’n boukontrakteur die teermengsel in ’n gat in. ’n Entjie verder maak die 73-jarige Johan du Plooy korte mette van nog twee gate.

En die gemeenskap sien dit raak. Hulle hou stil om te hoor wie dit is wat hulle paaie herstel. Hulle kom vra dat nog ander gate ook reggemaak word. En van hulle dra by om die koste te dek. So ’n Saterdagoggend se herstelwerk kan hulle twee- of drieduisend rand kos, sê ds Frikkie du Plooy.

Die spanne probeer so een Saterdag per maand die omgewing se paaie heelmaak. Dan maak hulle ook klein gaatjies reg om te keer dat dit groot gate word. Maar met al die reën het die werk agtergeraak. Noudat die son skyn, leef hulle egter weer hulle helende getuienis in die gemeenskap uit.

  • Neels Jackson is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.