Die voormalige Binnelanders-aktrise Lindie Stander (47) beplan om in April sowat 166 km deur die Karoo te stap (saam met haar hondjie Eddie) vir die tweede RSG Red ’n Plaas-Camino – ’n projek aangebied in vennootskap met NG Kerk Noord-Kaapland en die nieregeringsorganisasies Caritas Gemeenskapsfokus, Diakonia en Agri-Noordkaap. Kerkbode het met haar gesels oor haar memoires, heelword en lang staptogte.
Kerkbode (KB): Waar het jy gehoor van die RSG Red ’n Plaas-projek en waarom wil jy saamstap?
Lindie Stander (LS): Esté van der Merwe (bemarkingsbestuurder by Caritas Gemeenskapsfokus) het met my kontak gemaak oor die stap. Ek het laasjaar my lang, moeisame trek oor Turkye op Facebook gedokumenteer, en ek vermoed sy’t gesien ek is ’n kranige stapper. Toe ek die uitnodiging ontvang om vir ’n besonderse goeie doel nóg ’n stap-avontuur aan te pak het ek nie geskroom om in te stem nie.
KB: Wat dink jy daarvan dat die kerk op hierdie manier mense wat swaarkry na die droogte probeer help?
LS: Dit is vir my ’n hoopvolle teken dat die kerk en die gemeenskap inspring en hande vat. Baie mense praat net en maak dit ’n saak van gebed. Maar soms moet ’n mens fisies deel word van ’n projek soos hierdie wat die swaarkry van ’n lang stap klein laat lyk in vergelyking met ons boere se swaarkry.
Lees meer: NG Kerk Noord-Kaapland vat weer hande met RSG Red ’n Plaas
KB: Eddie, een van jou honde, gaan saam en jy gaan hom sleep in ’n waentjie. Hoekom Eddie? Beplan jy om hom die volle sowat 166 km te sleep en hoe lyk die waentjie?

LS: Eddie is die kleinste van my honde-kroos. As Chihuahua gaan hy die minste maintenance wees. Eddie het ook die oulikste geaardheid, en is vreeslik lief vir reis. Ek dink sy deelname gaan die stappers se moraal ’n hupstoot gee. Verder wil ek graag kyk of ons borge vir Eddie kan kry vir RAD (Rescued Animal Drive), ’n dieresorgorganisasie in Botrivier in die Overberg. Dit is Eddie se charity of choice.
KB: Wat doen jy om fiks (te bly/te word)?
LS: Ek ry graag fiets. As voorbereiding stap ek elke dag sowat 10 km.
KB: Is dit jou eerste camino-stap? Indien nee, vertel asseblief van die staproetes wat jy al gedoen het, veral dié wat om een of ander rede uitstaan?
LS: Ek is ’n ervare stapper. Het die Camino de Santiago (807 km) in Spanje reeds twee keer gedoen. Dan laasjaar die Lycean Way (500 km) in Turkye. Ek hou van lang stappe. Dit neem my op ’n ekstreme vlak uit my gemaksone en hou my nederig voor die Skepping.
KB: Baie lesers sal jou onthou vir jou rol as suster Elise Kruger in die kykNET-sepie Binnelanders maar dit was ook ’n moeilike tyd vir jou, soveel so dat jy jou lewe ’n paar keer probeer neem het. Hoe gaan dit nou met jou?
LS: Dit gaan besonders goed met my ná jare se storms en roekelose foute. My memoires is ’n topverkoper, en ek hoop die boek inspireer mense om vas te byt ten spyte van die wroegings waardeur ons almal op ons beurt moet veg.

KB: Jy skryf baie eerlik en openhartig oor jou worstelstryd met dwelms en depressie in jou boek, Lindie Stander: Agter my glimlag, wat verlede jaar uitgekom het. Daarin vertel jy onder meer van die verpligte dienste soggens in die kerkie op die perseel van die rehabilitasiesentrum. Kan jy vertel wat beteken God en kerk vandag vir jou?
LS: Die beskrywing van die kerkie in rehab is so geskryf om die leser insig in my
gemoedstoestand op daardie stadium te gee. Nie om kerke te kritiseer nie. Ek het lank na redding en verlossing gesoek, en kon dit nêrens vind nie. Ook nie in die kerk nie. Maar ek het intussen ’n drastiese sielsbekering gehad. En ek ervaar my Skepper orals …
KB: Hoekom het jy die boek geskryf?
LS: Die boek was deel van ’n heelwordproses wat vol sirkel gekom het. Dit was tyd om dinge wat nie meer myne was om te dra nie weg te gee. Die boek was ’n vorm van terapie en verlossing.
KB: Hoe het dit gedoen? Wat was die terugvoer wat jy gekry het?
LS: Die boek is van vrystelling af op topverkoperlyste landwyd. Ons moes reeds die tweede uitgawe herdruk – wat baie ongewoon is vir ’n debuutskrywer. Ek is oorweldig deur die positiewe terugvoer, en kyk gereeld op Boontoe in absolute dankbaarheid.
KB: Jy is intussen getroud en julle bly op Langebaan waar jy dramahoof is by ’n plaaslike privaatskool. Waar het jy en Santie ontmoet en hoe geniet julle die lewe ver van die “hustle and bustle” van Johannesburg?
LS: Ek en my Santjie woon in ’n piepklein kothuis op ’n plot in Langebaan. Dit is ook waar ons ontmoet het. Ons lewe is eenvoudig en ons is dankbaar vir die klein dingetjies. Saam maak ons mekaar heel. Die honde hou ons ook besig genoeg … veral Eddie en sy astrante maniertjies.
- Lindie Stander is een van verskeie bekendes wat van 14-22 April saamstap op die RSG Red ‘n Plaas-Camino vanaf Williston tot by Verneukpan. Indien jy belangstel om die projek te ondersteun, besoek gerus Caritas Gemeenskapsfokus se webtuiste: caritas.org.za
