Die NG Kerk Noord-Kaap sal vanjaar, nes in 2021, weer RSG se Red ’n Plaasprojek ondersteun, volgens Kobus van Tonder van die Taakspan Gemeenskapsversorging van die NG Kerk Noord-Kaapland.
Ons fokus met hulpverlening het geskuif, verduidelik hy. “In die tyd van die droogte het die streeksinode se ad hoc Taakspan Gemeenskapsversorging fondse voorsien om boere te help met onderriguitgawes van hulle kinders asook met huishoudelike goedere en kruideniersware. Inwoners van gemeenskappe in hierdie streke het tans veral hulp nodig met die groter uitgawes soos kinders se onderrig- en koshuisgelde en die fokus van hulpverlening het gevolglik daarheen geskuif, volgens Van Tonder. “Ons glo dat die kerk ’n unieke rol het om te vervul veral rondom die verlening van humanitêre en pastorale hulp aan gemeenskappe,” meen Van Tonder.
Lees ook: G’n water, krag of toilette: Só gaan dit by NG gemeente op ou weermagbasis in verre Noordwes
Nadraai van droogte

Dit hét gereën en goed gereën ook oor groot dele van die Noord-Kaap in die reënseisoen van 2022/2023, behalwe vir kleiner dele in Namakwaland waar dit steeds droog is, het van Tonder aan Kerkbode verduidelik. “Die Noord-Kaap het ’n sêding, ‘Dit reën nie geld nie’ en dit is inderdaad so, die nadraai van die droogte is amper so erg soos die droogte self”.
Hy vertel: “Die veld herstel stadig. Daarby het die gemiddelde boer na die droogte slegs ’n kernkudde (net ’n derde en selfs minder) oorgehou. Boere is nou besig om lammers terug te hou vir aanteeldiere, want ooie is skaars en duur (R3 000 per ooi), maar dit beteken die inkomste uit die bemarkbare lammeroes is baie klein. Terselfdertyd moet boere begin terugbetaal aan die groot lenings wat in droogtetyd aangegaan is om veevoer te koop.”
Lees ook: As die kerk nie pastoraal uitreik ná die droogte nie, wie sal?
Taakspan Gemeenskapsversorging besef toenemend dat die Noord-Kaap se boerderygemeenskap ’n groot invloed het op die ekonomie van plaaslike gemeenskappe. Die seisoen van 2022/2023 is gekenmerk deur sprinkaanplae, groot brande en vloede wat tot groot skade gelei het. Weens die huidige hoë fases van beurtkrag kan besproeiingsboere nie gewasse behoorlik natmaak nie en moet koelgeriewe vir vars produkte ten duurste met kragopwekkers aan die gang gehou word.
Samewerking met RSG Red ’n Plaas 2023

In Mei 2021 het 12 stappers die Boesmanland Camino, ’n staproete van 313,9 km, in slegs 15 dae gestap as deel van die RSG Red ‘n Plaasprojek om fondse in te samel vir die Droogtehulpfonds. Meer as R11 miljoen is ingesamel, grootliks danksy RSG se blootstelling, en ook uitbetaal, onder meer na 21 gemeentes in gemeenskappe wat swaarkry om humanitêre hulp te verleen.
Lees meer: Stappers durf dorre dele aan om omgee te wys
Vanjaar word daar weer gestap. Die Taakspan Gemeenskapsversorging, in samewerking met hul maatskaplike vennote Caritas Gemeenskapsfokus en Diakonia, Kerkbode en die landbouorganisasie Agri Noordkaap, samel weer fondse in deur die RSG Red ’n Plaasprojek 2023. Die fondse sal deur die taakspan gebruik word om landelike gemeenskappe wat swaarkry in die Noord-Kaap te help. Die projek sluit ’n 166 km staptog in, die RSG Red ’n Plaas Camino, van Williston tot by Verneukpan wat gestap word vanaf 14-22 April.
- As jy belangstel om saam te stap, bespreek jou plek by tankwacamino.com. Daar is beperkte plekke beskikbaar.
- Maak donasies om plaasgemeenskappe te help by https://caritas.org.za/
