As die kerk nie pastoraal uitreik ná die droogte nie, wie sal?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Sigbare nood en onmiddellike trauma bring mense in beweging, maar betrokkenheid durf nie daar eindig nie, skryf Nioma Venter.

Heropbou en genesing is die unieke rol van die kerk wanneer dit kom by rampondersteuning. Dit lê op die vlak van die pastoraat en is daarom die roeping van die kerk.

Heropbou en genesing word nié noodwendig verreken in aanvanklike aksies van groot welwillendheid tydens die onmiddellike ontwrigting van iets soos brande, droogte en die eerste fase van ’n pandemie soos Covid-19 nie. Uit talle rampgebeure die afgelope paar jaar, is dit duidelik dat sigbare nood en onmiddellike trauma mense aangryp en in beweging bring. Dit opsigself is lofwaardig, maar betrokkenheid durf nie hier begin en eindig nie. Een van die lesse wat Diaconia (diensgroep vir barmhartigheid van die NG Sinode in die Wes Kaap) in 2017 van die Reformed Church Japan geleer het, is dat hierdie geloofsfamilie ses jaar na die 2011-tsoenami, steeds aktiewe pastorale spanne gehad het wat slagoffers besoek het ten einde hulle vordering te monitor en geestelik-emosionele ondersteuning te bied. Trauma-ontlonting en pastoraat oor die medium- en langer termyn, kry dikwels minder aandag as wat dit inderdaad vereis.

Die Ring van Beaufort (Fraserburg, Victoria-Wes, Beaufort-Wes, Prins Albert, Leeugamka en Merweville) het ’n aanvoeling hiervoor. Vandaar die Stargazing Camino (108 km) tussen Sutherland en Merweville wat van 5-13 Maart 2022 deur 19 stappers aangedurf is. Die doel was bewusmaking en fondsinsameling wat heropbou (geestelik en fisies) moontlik sal maak. Na die mees intense droogte van die afgelope agt jaar, wat hopelik nou gebreek is, durf ons nie ophou uitreik na gemeenskappe en individue wat hierdeur geraak is nie. Kenners in die veld van trauma verduidelik dat die simptome van trauma dikwels eers ’n tyd na afloop van die gebeure, na vore kom. Trauma het, wat genoem word, ’n dubbele struktuur: die gebeurtenis self en aanvanklike reaksie hierop; en dan die impak wat later simptomaties na vore kom wanneer fisiese en/of emosionele bedreiging in nuwe omstandighede ervaar word. Trauma lê nie altyd in die gebeurtenis self nie, maar dikwels in die latere reaksie van die individu of gemeenskap (Rambo, 2010).

Dit is met groot deernis en respek wat deelnemers aan die Stargazing Camino kan getuig van ervarings en blootstelling aan die gevolge van die onlangse droogte in die areas wat besoek is. Daar is die opsigtelike gevolge op plase: daar is talle onbewoonde plase; sommige boere het eenvoudig geen werkers meer op die plase nie; klein (kern-)kuddes het oorgebly en moet van nuuts af opgebou word; implemente en voertuie is nie vervang soos in die verlede nie. Met ’n eerste oogopslag is die impak fisies. Wat moeiliker is om raak te sien, is egter die impak op die kollektiewe welstand van ’n gemeenskap. Natuurlik is daar ook baie onderlinge welwillendheid en ’n aanvanklike gevoel van samehorigheid. Hoe dieper die krisis raak, is dit egter ook die mens se natuurlike reaksie om te oorleef.

Dit bly ’n uitdaging om met skenkings te bepaal wie kry wat. Hoe kom ’n mens by ’n totale gemeenskap uit wanneer daar oraloor fisiese nood is? Dit bring spanning mee. Die mens se gees is taai, maar terselfdertyd is dit ook maar broos. Mense verloor hulle gevoel van selfwaarde. Mense se selfvertroue kry ’n knou. Trauma breek taal af en lei daartoe dat mense geïsoleerd raak. Sommige onttrek hulleself nie net fisies nie, maar veral ook emosioneel – selfs binne huwelike en ander naby verhoudings. Trauma beïnvloed mense se denke, emosies en gedrag. Dit plaas dikwels ook mense se geloof onder geweldige druk.

In een van die gesprekke met ’n boer in die streek tydens die Stargazing Camino, erken hy dat hy moeilik praat oor die afgelope agt jaar. Die groep luister met groot deernis as hy probeer verwoord hoe hy wysheid gesoek het, gepoog het om eties te bly handel en hoe die ondersteuning van vriende van elders hom deurgedra het. Die groep hoor die getuienis van hierdie selfde boer se vrou, oor hoe die Here haar getroos het om met sagte-sterkte haar plek langs haar man in te neem. Daar was ’n geleentheid wat die Here haar die vorige dag al verseker het van uitkoms en sy geduldig gewag het totdat dit gebeur! Sy vertel hoe sy en haar man hulle saam verwonder het oor klein goedjies wat groot deurbrake vir hulle gebring het. Hierdie egpaar het deur die droogte heen gegroei in hulle verhouding met God. Almal beleef egter nie verdieping nie en daar is ook diegene wat God bevraagteken en ver van Hom af voel.

Die rampstrategie, Spirale van hoop van die NG Sinode Wes-Kaap, verduidelik dat rampe in vier fases afspeel. Fases 1 en 2 verteenwoordig die ontwrigting en stabilisering van die onmiddellike bedreiging. Fases 3 en 4 gaan oor die herstel en heropbou en sluit ten nouste by pastorale betrokkenheid aan. Lank nadat alle ander hulpverskaffers huis toe is, is dit die kerk wat agterbly in ’n gemeenskap en op hierdie belangrike prosesse behoort te fokus. Fisiese simptome van trauma by ’n individu sluit mismoedigheid, woede, irritasie, angsaanvalle en lae energievlakke in. Dit moet raakgesien en hanteer word.

Geestelike leiers in gemeenskappe wat kollektief deur trauma geraak is, moet op die uitkyk wees vir iets soos kompetisie vir hulpbronne en tekens van ekonomiese druk en armoede, nie net in eie gemeentegrense nie, maar regdeur die gemeenskap. Oorweging kan gerus gegee word aan preekreekse in die tyd na rampgebeure, wat mense help om insig in hulle eie gedrag te ontwikkel en waaksaam te wees en om te sien na hulle geestesgesondheid. Diaconia, saam met Whitehead Industrial Psycologists en CLF bied ’n oorsig op geestesgesondheid na afloop van rampgebeure. ’n Tweetalige pamflet is gratis aanlyn beskikbaar. Pastorale sorg moet deurgevoer word nog lank na die eerste reën geval het, om te verseker dat die trauma nie terugkom en mense en gemeenskappe vernietig nie.

Daar word gepoog om deur middel van donasies R600 000 met die Stargazing Camino in te samel. Hierdie geld sal tussen die sewe gemeenskappe in die Ring van Beaufort verdeel word en met groot oorleg vir nasorg, herstel en heropbou aangewend word. Gemeentes en individue word versoek om asseblief nie nou van hierdie gemeenskappe te vergeet nie. Op 15 Maart 2022 het ons slegs R100 000 in die rampfonds en vertrou ons dat die insig en welwillendheid van mense in ons land nou op ’n tasbare wyse sigbaar sal raak.

Kollektes, donasies en bydraes kan tot einde April 2022 inbetaal word by:

Diacona se bankbesonderhede is:

Diaconia Droogtehulp

Nedbank

Rek no. 1135900337

Takkode 198765

Lees meer:

Spirale van hoophttps://bit.ly/3q8b94R (Diaconia Rampstrategie – lesse geleer en insig ontwikkel na die Suid-Kaap brande in 2017).

Gesond wees in traumatiese tyehttps://clf.co.za/resource-toolkit/ (’n Produk van CLF, Diaconia en Whitehead Industrial Psychologists).

Rambo, S. 2010. Spirit and trauma: A theology of remaining. Louisville, KY: Westminster John Knox.

  • Nioma Venter is die predikant in sinodale diens (PSD) by Diaconia, die gesamentlike deernisbediening van die NGK en VGK in die Wes-Kaap.