Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Pastoor Mario Hongolo groet ds Kobus van Tonder, met tussen hulle, ds Christo Jonck van die NG Kerk Noordkaapland op Pomfret waar hy as oud-soldaat deesdae geestelike leier is van die NG gemeente op die ‘vergete’ oud-weermagbasis. Agter regs staan Tienie Swanepoel, ringskriba van Mahikeng. Foto’s: Heléne Meissenheimer

Kerkleiers ry ver na NG gemeente op ‘vergete’ weermagbasis Pomfret in verre Noordwes

Dit was ’n lekker plek om te bly, sal inwoners en mense op buurdorpe jou vertel. Mense het van ver gery om te kom kyk na Pomfret in verre Noordwes toe dit nog die spogweermagbasis was van 32 Bataljon met ’n groot swembad, fliekteater, skole, polisiestasie en ’n kliniek.

En ses kerke, waarvan een ’n NG gemeente wat nou al vir jare ingesluit word by die gemeentes in die sinodale streek NG Kerk Noord-Kaapland.

Al is die lidmate Portugeessprekende Angolese sê ds Christo Jonck, Noord-Kaapland se predikant in sinodale diens: “(D)is ons mense, hulle is saam met ons by ons sinodesitting.” Jonck het onlangs saam met ’n paar kollegas gaan kyk waarmee die kerk die gemeente kan help, want sedert die regering opgehou het om dienste daar te lewer, gaan dit bitter swaar.

Verlede jaar het die NG Kerk betrokke geraak in ’n hofsaak om die staat te dwing om basiese dienste te lewer en dit gewen, maar die staat het appèl aangeteken.

Ds Kaydee O’Callaghan ken die hele storie. Hy vertel dit vir Kerkbode terwyl ons die sowat 407 km tussen Kimberley en hierdie bykans “vergete” gemeenskap in verre Noordwes aflê.

O’Callaghan, uitvoerende hoof van die welsynsorganisasie Caritas Gemeenskapsfokus NPC, verduidelik hy en twee van sy kollegas wil gaan kyk of hierdie maatskaplike vennoot van NG Kerk Noord-Kaap moontlik kan help om ’n vroeëkinderontwikkelingsorgsentrum (VKO) daar op te rig.

Jonck ry saam met ds Estian Menz van Harmonie NG gemeente op Kimberley in sy groot bakkie. Op Vryburg sluit by ons aan, ds Kobus van Tonder van die Taakspan Gemeenskapsorg wat al die pad gery het van Vanzylsrus, die Kalaharidorpie waar hy leraar is. Al drie lyk meer boer as dominee met hulle songebrande gesigte en arms en velskoene.

Lees ook: Ongewone ‘bediening’: Kalahari-gemeente koop rioolwa

Dit is hoogsomer en warm. Vir weke al glip die kwik bedags oor die 30 grade. In die B&B se ingang hang ’n stel rooi kerse koponderstebo in ’n koperkandelaar.

Hierdie is nie ’n “uitdeel-uitreik” nie, maak Van Tonder dit omtrent vyf ure later duidelik tydens ons middagetestop by ’n gastehuis op Tosca, die dorpie waar ons gaan oorslaap en so 50 km voor Pomfret. “Ons is hier om te luister. Ons moenie verwagtinge skep wat ons nie kan nakom nie,” maan hy.

Dit is hoogsomer en warm. Vir weke al glip die kwik bedags oor die 30 grade. In die B&B se ingang hang ’n stel rooi kerse koponderstebo in ’n koperkandelaar.

Vir die meeste in die groep is hierdie ’n eerste besoek aan Pomfret. Net oud-kapelaan O’Callaghan was al daar, maar dit was meer as 20 jaar terug voor die weermag onttrek het en die staat dienslewering moes oorneem. Vandag se besoek herinner van die leraars aan die stories oor 32 Bataljon, die weermageenheid bekend vir hulle durf en vegvermoë.

Intussen het ook by ons aangesluit Tienie Swanepoel, ringskriba van Mahikeng – die ring wat verlede jaar se hofsaak namens die NG Kerk saam met Pomfret se inwoners teen die staat gemaak het.

In hierdie moedelose omstandighede bied die kerk ‘n veilige ruimte.
’n Groot kommer is wat van hulle kinders gaan word.

Kort na 14:00 hou ons in die skadu van groot bome stil met ’n kort ouerige man in geruite langmouhemp en swart langbroek wat ons dadelik met die hand kom groet. Pastoor Mario Hongolo is ’n oud-sersant wat al lank jare leiding neem by die NG gemeente en in die gemeenskap van Pomfret.

Wat dadelik opval, is die kontras tussen die bouvallige huise en die NG gemeente se kerkgebou, ’n goedversorgde A-raam baksteengebou met gekleurde vensters en spits sinkdak op skoon stuk rooi grond. ’n Groepie mans en vroue wag reeds om saam met die besoekers in te gaan en op die houtbanke plek in te neem.

Vir die gaste is heel voor, by die kansel, plek gereed gemaak by twee tafels met wit tafeldoeke oor waarop later ’n rooi skinkbord met bottels water verskyn. Twee pepermentgroen waaiers staan gereed, maar daar draai nie ’n lem nie al voel dit soos binne ’n bakoond in die skemer kerk.

In Portugees verwelkom Hongolo die gaste wat van so ver gekom het met langs hom ’n jong man met dreadlocks in ’n ponie vasgebind wat dit dan weer in Engels vertaal. Hy verduidelik hoe dit gekom het dat hulle op Pomfret woon en maak verskoning dat die kerk nie toilette het nie.

In Portugees verwelkom Hongolo die gaste wat van so ver gekom het met langs hom ’n jong man met dreadlocks in ’n ponie vasgebind wat dit dan weer in Engels vertaal.

Dit is egter kort hierna wat die sluise oopmaak na Van Tonder mense uitnooi om te verduidelik wat hulle grootste nood en behoefte is.

“Water!” rippel dit dadelik deur die hele gebou. Pomfret het ses boorgate, maar die laaste werkende een is verlede jaar deur weerlig beskadig. Dit beteken hulle moet water koop ten duurste teen R30 vir 20 liter wat daarop neerkom om soms ’n keuse te moet maak tussen kos of water koop, want die meeste gesinne oorleef op ’n maatskaplike toelaag.

Daar is ook nie elektrisiteit nie. Geen kliniek nie … die naaste een is sowat 10 km ver. Vir ’n gemeenskap met tussen 400 en 500 gesinne is dit loutere hel. Soos iemand opmerk: “Ons het gebed nodig. Ons kan dit nie meer vat nie.”

Hulle weet die hofsaak is verlede jaar gewen, maar niks het daarna verander nie. Van die staat se kant was daar al die jare glo nog net beloftes. Soos een man gefrustreerd opmerk: “Wat ons die meeste ontstel is dat ons praat en ons uitdagings verduidelik en niks verander ooit nie!” Skrywe op skrywe is al na verskillende staatsdepartemente gerig sonder reaksie.

’n Groot kommer is wat van hulle kinders gaan word. Daarom is ’n VKO-sorgsentrum ’n moet, meen lidmaat Joaquina Paulo. “Ons kinders is ons toekoms,” sê sy. Sy hoop ook die kinders op hoërskool kan gehelp word. Verlede jaar het net ses van die 20 matrieks in die klas geslaag. Almal in die gemeenskap is bekommerd dat werkloosheid lei tot dwelmmisbruik en misdadigheid onder hulle jongmense.

Tog, ten spyte van alles wil baie nie wegtrek van Pomfret af nie. Die huise is ruim en hierdie is hulle gemeenskap waar hulle tuis voel.

In hierdie moedelose omstandighede bied die kerk ’n veilige ruimte. Soos nog ’n lidmaat, Domingas Chicoto, later vir Kerkbode verduidelik: “Die kerk is die enigste plek waar ons ’n toevlug het … waar ons troos vind.”

Tog, ten spyte van alles wil baie nie wegtrek van Pomfret af nie. Die huise is ruim en hierdie is hulle gemeenskap waar hulle tuis voel. Chicoto was 11 toe sy saam met haar ouers hier kom woon het. Hulle is intussen oorlede en hier begrawe. Sy sê sy kan daarom nie hier weggaan nie.

Voor ons terugry, wys pastoor Hongolo ons eers rond. Kinders, hoenders, donkies en bokke dwaal rond in die skadu van hoë bome tussen bouvalle en afgeleefde woonhuise. ’n Murasie van ’n muurbalkompleks verras, so ook die grootte van die nedersetting. Ver in die vlakte let party ’n hoë toring op, ’n oorblyfsel van die eertydse asbesmyn.

Die gemoedere in die bakkie is gedemp op pad terug. Pomfret se uitdagings is kompleks, die pad daarheen ver van Kimberley waar die sinodale kantore van NG Kerk Noord-Kaap asook dié van Caritas geleë is.

Die ver afstand is ’n groot rede waarom dit vir die kerk belangrik is dat die vorm van die hulp wat hulle aanbied die mense sal help om op hulle eie voete te kan staan, merk Jonck later op as Kerkbode hom vra na sy indrukke van die besoek.

“Jy moet jou gemeenskap op ’n manier kry dat hulle op hulle eie kan funksioneer … So, ons wil nie finansieel gee nie, ons wil help planne maak, help bemagtig …”

  • Hou Kerkbode dop vir opvolgberigte oor die NG Kerk Noord-Kaapland se opvolgprojekte op Pomfret.

Meer oor Pomfret

Pomfret was ’n ou asbesmyndorp voor die weermag dit in 1989 as basis en blyplek oorgeneem het vir 32 Bataljon se soldate en hulle gesinne, waaronder ’n paar duisend Portugeessprekende Angolese wat sedertdien Suid-Afrikaanse burgers geword het.

In die laat 1990’s is die wit gesinne en baie van die Angolese elders hervestig, maar baie het gekies om te bly op hierdie boomryke klein dorpie, byna op die rand van die Kalahari.

Die staat voer die nabyheid van die asbesmyn en die gesondheidsrisiko’s daarvan aan as een van die redes waarom hulle verkies dat Pomfret se inwoners elders gaan woon.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top