Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vanzylsrus se vasvatspan by hulle eie rioolwa, van links: Dirk van Eeden, Jood Cloete, ds Kobus van Tonder en Elbie Jonker. Foto verskaf

Ongewone ‘bediening’: Kalahari-gemeente koop rioolwa

Riool wat stroom uit ’n Kalahari-pastorie se oorvol drein was die strooi wat die kameel se rug gebreek het.

Nou ry ’n vasvatspan onder leiding van NG gemeente Vanzylsrus ’n riool­suigwa en vra R500 per uitsuigpoging.

Dit was nie ’n maklike pad om tot op hierdie punt te kom nie, maar dit loop nou glad, vertel Frans Cloete, ’n ouderling by die gemeente. Inwoners of besighede wat van die diens gebruik wil maak, kontak die kerk se kassier wat dan die inligting deurgee aan die eie­naar van Vanzylsrus Hotel, wat dan die persoon of besigheid se drein gaan suig. Nadat die drein gesuig is, word die vrag in die munisipale rioolwerke se aanleg gestort.

LEES OOK: Brief uit die Noord-Kaap: ‘Dankie aan elkeen wat voer of geld of gebede stuur’

Die meeste van Vanzylsrus se inwo­ners en besighede gebruik nog ’n ondergrondse septiese riooltenkstelsel wat op gereelde basis uitgepomp moet word om te verhoed dat dit oorloop.

Die Joe Morolong plaaslike munisipaliteit het hierdie funksie vervul, maar het dit glo verlede jaar skielik gestaak sonder om redes te verskaf. Gou het inwoners en besighede se oorvol tenke ’n gesondheidsgevaar vir die dorp begin inhou. “Dreine het op plekke in die straat uitgeloop of is in die droë loop van die Kurumanrivier uitgepomp,” vertel Cloete.

Die uiteinde was dat van die plaaslike besighede en inwoners met die kerk saamgewerk het om ’n eie rioolpompwa te koop teen ’n totale koste van sowat R71 000 waarvan die kerk ongeveer ’n derde bygedra het.

“As die kalf in die put is, dan moet jy maar hande vat dat hy kan uit,” sê hotel­eienaar Elbie Jonker.

Intussen het die munisipaliteit se riool­suigtenk weer sy opwagting op die dorp gemaak, maar volgens Jonker ver­kies hy, die kerk en die landboukoöperasie om ter wille van bestendigheid voort te gaan met hulle eie reëling.

Die munisipaliteit het nie gereageer op Kerkbode se versoek om kommentaar oor die aangeleentheid nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Ongewone ‘bediening’: Kalahari-gemeente koop rioolwa”

Comments are closed.

Scroll to Top