Brief uit die Noord-Kaap: ‘Dankie aan elkeen wat voer of geld of gebede stuur’

Hy het onlangs ’n groep stappers aan die einde van die Boesmanland Camino ingewag, vertel PIET RETIEF uit Garies. “Ons kon die dag saam met die stappers en hulle na-ryers spandeer en met sorg hoop-blokkies in mekaar se lewe bou.”

Reën in Namakwaland word soos ’n verlangse familielid se kuier voor selfone hanteer.

Doerietyd het jy die mense al langs die pad gelui om te hoor of so-en-so dalk al daar verby is op pad na jou toe. Vandag is dit anders, maar tog dieselfde.

As die wolke begin saampak hier na Weeskind se kant toe, begin ’n mens lui daar na Platbakkies se kant toe om te hoor of die wolke daar sy lê kom kry, het, en dan loop ons sy spoor na. Donderdag 20 Mei se reën was so, maar ook anders.

LEES OOK: Stappers durf dorre dele aan om omgee te wys

Want sien, saam met hierdie ± 8 mm se reën, het daar nog besoekers saamgeloop. ’n Klompie stappers van die Boesmanland Camino en hulle vriendinne, die mense van Caritas en ‘Red ’n plaas’ saam met Amore Bekker van RSG, het stadig maar seker hulle weg Garies toe gebaan, eers in die reën en toe in die spoor van die reën.

Op Saterdag 22 Mei het ons hulle ingewag met ’n gemoed wat vol is, want 8 mm se genade is 8 mm se genade! Ons kon die dag saam met die stappers en hulle na-ryers spandeer en met sorg hoop-blokkies in mekaar se lewe bou. Verhale deel. Ooreenkomste sien. Verskille oorbrug.

Vir te lank het ons gedink dat slegs boere, wel, belang by die boerderybedryf het. Vandag kan ons met alles in ons getuig dat ons in ons siel weet dit is nie so nie.

“Die koper van skaapvleis in die supermark in Sandton, die koper van vleis by ’n straatverkoper in Sophiatown, die braaier van skaaptjoppies in Springs en die restauranteienaar in die Strand het net soveel belang in die boerdery as wat elkeen van die boere en hulle gesinne hier het,” skryf ds Piet Retief in hierdie bydrae tot Kerkbode. Foto verskaf

Die koper van skaapvleis in die supermark in Sandton, die koper van vleis by ’n straatverkoper in Sophiatown, die braaier van skaaptjoppies in Springs en die restauranteienaar in die Strand het net soveel belang in die boerdery as wat elkeen van die boere en hulle gesinne hier het.

Ons dra die risiko’s verskillend, ons beplan verskillend en sukkel met verskillende uitdagings, maar ons het almal belang in mekaar. Ons is almal afhanklik van die kwaliteit en kwantiteit produkte vanuit die landboubedryf en ons verskille word oorkom deur ons gemeenskaplike belange – voedsel. So het ons ook belange in die supermark in Sandton, die sypaadjierestaurant in Sophiatown, die braaigeselligheid in Springs en die restaurant in die Strand. En natuurlik in die wynplase regoor die land!

Vir ons om tot hierdie besef te kom, is dit van kardinale belang dat ons van ons verskille vergeet en ons ooreenkomste omarm, want ons het mekaar nodig. In die kerk in Suid-Afrika, dalk meer as elders in die wêreld.

En dit is nogal iets wat ons in Pinkstertyd herhaal, want dit gebeur deur die Gees!

LEES OOK: As ’n preek jou jou bang en leeg laat

Daarom wil ons in die gees van die Heilige Gees, vandag dankie sê vir almal wat saam met ons in geloof boer. Elkeen wat voer of geld of gebede stuur. Maar ook vir elke supermarkeienaar, elke sypaadjieverkoper, braaier en restauranteienaar wat dit vir ons moontlik maak om dit te doen waarvoor ons lief is. En ons wil julle verseker van ons ondersteuning en hulp, want ons Namakwalanders is goed met baie goed, maar ons is nie so goed met vergeet nie.

In julle uur van nood kan julle op ons knoppies druk. Ons huis en hart is altyd oop vir familie en dit is wat ons is.

Familie, al het ons mekaar nog nie ontmoet nie. Ons gaan mos nie ons sakebelange met vreemdelinge deel nie? Dit sou net onverantwoordelik wees!

  • Ds Piet Retief is leraar by NG Kerk Garies.