Die land kasty my terwyl ek al verder noord ry. Elke dorp met sy plakkersbuurt, soms groter as die dorp self. Bedelaars. Slaggate in die pad. Die nuus van nóg ’n moord oor die radio, nóg ’n rooftog, nóg ’n korrupte amptenaar iewers.
Iemand het vroegoggend vir my ’n video op my selfoon aangestuur, en gesê: Luister ’n bietjie hierna. Miskien móét ek. Hoop, gee my hoop.
Mense stuur knaend vir jou sulke video’s en podcasts met die beste bedoelinge aan.
Sommer so in die ry druk ek op die regte plekke op my selfoon, die volgende oomblik kom ’n man, ’n prediker met sy eie YouTube-kanaal, se stem via die wonders van blue tooth-tegnologie oor my bakkie se luidsprekers. Welkom, groet hy.
Ek sien hom vlugtig op my selfoon se skermpie, strepieshemp, vriendelike gesig, en sit die foon weer neer en hou aan met luister.
LEES OOK: Waar onskuldige burgers sterf, is dit eenvoudig menseregtevergrype
Iemand het hom gevra om iets te sê oor die toestand in die land, sê die prediker. Dis nie maklik nie, dit is ’n emosionele saak. Dis moeilik, sê hy. Dan lees hy uit die boek Habakuk: Hoe lank, o Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! – maar U help nie? Waarom laat U my onreg sien …
In my truspieëltjie verskyn ’n groot wit bakkie en glip verby, met twee skape agterop, vasgemaak met ’n tou om die nek aan die bakkie se traliewerk.
Hier ry ek iewers tussen Heilbron en Sasolburg in die Vrystaat in die jaar 2021 en opeens begin dit voel of ek in ’n erediens in die 1980’s is toe die prediker in my bakkie se luidsprekers vergelykings begin tref tussen die volk Israel se omstandighede in die Bybelse tyd en die Afrikanervolk se situasie op die oomblik, hiér, nóú.
Die ooreenkomste tussen die volk Israel en die Afrikanervolk is verstommend, sê hy.
Hier kom dit al weer, dink ek, en wonder of ek nie arrogant is nie. My kennis van die Bybel is lendelam en van die teologie weet ek weinig.
Nes die Bybelse Israel het die Afrikanervolk afgedwaal van God af, sê die prediker en vertel hoe God vir Habakuk gesê het hy gaan die Galdeërs oproep, daardie kwaai, onstuimige nasie, en daar sal ongekende geweld en verwoesting wees, baie soos dit nou met die ANC aan bewind in Suid-Afrika gaan. Die ANC is ons Galdeërs. Dit is God se oordeel oor ons.
Die oordele van God is pynlik en traumaties, gaan hy voort, en lees verder uit Habakuk oor God se toorn, hoe die pes voor Hom uit loop, hoe ’n koorsgloed agter Hom aan trek, terwyl Sasolburg wasig in die verte verskyn.
Nou raak sy stem al meer vol emosie. God het Suid-Afrika geoordeel, sê hy. God het ook die Afrikaner geoordeel. Die Afrikaner se Kerk is in ’n gemors. Daar is geen leiding nie. Daar is geen agting vir wie God is nie. Ons aanbid intellektualisme. Ons aanbid liberalisme. Ons wil sondige praktyke uit die Bybel regverdig. Daarom gaan dit met ons soos dit gaan.
Die Afrikaner moet terug na God toe draai, sê hy, nou net duskant trane. Nie net die Afrikaner nie, almal in die land moet weer voor God buig.
En toe, ná ’n gebed, is die boodskap verby, en is ek net duskant Sasolburg en langs die pad stap ’n vrou met ’n bondel hout op die kop. Oor die fabrieke en geboue en bome hang ’n vaal rookbank. Ek voel steeds leeg.
Miskien was die prediker se boodskap vir my net te bekend, want dit verskil nie juis van soveel preke wat ek van kleintyd af hoor nie: Eers ’n teksgedeelte uit een van die Bybel se profetiese boeke, dan die vergelyking met die Israeliete, dan die oproep van die toorn van God, dan die waarskuwing: Keer terug na God toe. Kollekte. Seënbede. Huis toe.
LEES OOK: Oor onthou en vergewe … Dana Snyman gesels met Reggie Boesak
Preke wat jou laat voel of geloof iets te doen het met God wat Ou-Testamenties die mense en volke straf wat Hom nie behaag nie. Preke wat ’n mens bang en leeg laat voel.
Voor is ’n verkeerslig. Rooi. Hou stil. ’n Paar jong mans stap tussen die motors deur en verkoop verestoffers en selfoonlaaiers en goed. Op die sypaadjie braai ’n tante groenmielies en verkoop dit. Met haar mieliegeld help sorg sy moontlik vir ander. In die Opel langs my praat ’n man oor sy selfoon. Hy beduie woes met sy hande. Iewers is ’n krisis.
Behoort geloof ons nie anders na ander en onsself en ons omstandighede te laat kyk nie? Soos Jesus? Om soos Jesus na die wêreld te probeer kyk. Om vriende te sien waar ander net vyande opmerk. Om jou eie gebrokenheid in ander s’n te herken.
Mense doen slegte en wrede dinge aan mekaar en die skuldiges moet ingevolge die landswette gestraf word. Maar is dié wat graag praat oor God se oordeel en straf, nie dikwels ook dié wat self ander wat anders as hulle is op verskillende maniere oordeel en straf nie?
Anderkant Sasolburg vat ek die afdraai Parys toe, agter ’n bibberende Mercedes-lorrie vol werkers aan. Ek gaan verby en waai vir hulle. ’n Paar waai terug, die ander staar gatvol voor hulle uit.
Ry ek voorspoedig behoort ek voor donker op Parys te wees. Ek gaan by vriende oornag, en daar sal brood wees om te eet en wyn om te drink.