Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Ds Reggie Boesak woon al vir jare op Montagu en is onder meer betrokke by die museum, wat in die ou sendingkerk op die dorp ingerig is. Die oorspronlike preekstoel staan nog hier, met die wynrooi kleedjie wat verklaar: Ziende op Jezus. Foto: Dana Snyman

Oor onthou en vergewe … Dana Snyman gesels met Reggie Boesak


“The past is never dead. It’s not even past.” – William Faulkner

In die museum op Montagu raak ek met ds Reggie Boesak aan die gesels.

Hy vertel hoe hy op Kakamas in die Noord-Kaap grootgeword het, lank voor 1994. Sy pa was ’n skoolhoof en hoofouderling, ’n swart man. Sy ma, ’n wit vrou. Hy en sy twee susters en vyf broers bruin, volgens destyds se rasindeling.

Hoe hy op sestien op ’n plaas begin werk het en hoe dit vir hulle was om in daardie jare trein te ry.

“Ons was agt kinders,” vertel hy, “en as ons op die trein klim, moet my ma in die eerste klas gaan sit by die wittes. En jy het nie ’n sê nie: Daai ou kondukteurs was kwaai.

LEES OOK: ‘Waarheen is NGK op pad met gendergeregtigheid?’

Ons kinders moes in die tweede klas ry – die Kleurling-wa. Jy sê net: ‘Ja, baas’. Heel agter moes my pa sit, in die derde klas, op harde banke, omdat hy swart was. Ons het darem nog op groen banke gesit.

“Nou gaan ons Carnavon toe met die trein, na my oupa toe. Kyk, die trein het in daai jare by elke stasie gestop. Partykeer vir sommer lank. Dan hardloop my ma van die eerste klas af, dan kom gee sy eers vir ons kos, ons toebroodjies en goed.”

Ds Reggie, ’n afgetrede VGK-predikant, glimlag effentjies. “So was dit maar in daardie tyd. Jy’t dit maar so aanvaar.”

Hy woon al vir jare hier op Montagu en is onder meer betrokke by die museum, wat in die ou sendingkerk op die dorp ingerig is. Die oorspronklike preekstoel staan nog hier, met die wynrooi kleedjie wat verklaar: Ziende op Jezus.

Die ou sendingkerk is in 1907 geopen deur dr DF Malan, wat later eerste minister geword het en wie se regering wette goedgekeur het wat bepaal het ’n gesin soos die Boesaks moes in drie verskillende treinwaens reis.

Oral teen die mure is ou foto’s opgeplak. Een is van Rachel Keet, wat ’n bekende vroedvrou in die omgewing was – die ouma van Breyten Breytenbach. In ’n glaskas ’n Statebybel en ou gesangeboeke.

’n Ander foto vang my oog. Hansie de Koker, een van die kerk se eerste kosters, afgeneem voor die kerk, lank voor dit ’n museum geword het. Statig staan hy daar in ’n pak klere in ’n ovaalraam teen die muur.
Sien ek die van De Koker, dink ek aan eerwaarde De Koker, die sendingpredikant op Daniëlskuil in die Noord-Kaap waar ek ’n kind was.

LEES OOK: Daardie paar bladsye wat min mense lees

Eerwaarde De Koker was ’n wit man en het nes pa vir predikant gaan studeer, maar hy is nie dominee genoem nie. Hy, nes al die ander wit sendingpredikante in daardie tyd, is eerwaarde genoem en hy het in ’n toringlose kerk in die lokasie vir die lokasiemense gepreek.

Eerwaarde De Koker het met ’n Toyo­ta Corona-bakkie gery en sy pastorie was nie so mooi soos ons s’n nie. Sy pastorie was naby die koöperasie en die slagpale aan die rand van die dorp, op pad lokasie toe.

Soms het eerwaarde De Koker na ons kerkbasaar toe gekom, maar die mense het nie met hom gesels en grappies gemaak soos met my pa nie. Hy het ’n rukkie daar rond gestaan, ’n paar pannekoeke gekoop en weer verdwyn.

Ek vra vir ds Reggie of hy daardie sendingpredikante onthou. Die eer­waardes.

Natuurlik onthou hy hulle. By hulle op Kakamas was ’n eerwaarde Sinclair.

“My pa was die hoofouderling. So, dan gaan ek saam met my pa na eer­waarde Sinclair toe, dan help ons die eerwaarde in sy tuin dingetjies doen. Dan sê die eerwaarde vir my: ‘Wat is jou naam?’ Dan sê ek: ‘Reginald, eerwaarde.’ Dan sê hy: ‘Wat? Jy kan nie ’n Engelse naam hê nie. Van vandag af is jy Reguitnaald.’

“Vandag lag ’n mens daaroor,” sê ds Reggie en lag.

Hoe ’n soort man ons eerwaarde De Koker was, weet ek nie. Hy is moontlik reeds lankal oorlede. Ons was nie een keer in sy pastorie nie.

Eerwaarde Sinclair is later weg by hulle op Kakamas, vertel ds Reggie, toe kry hulle vir eerwaarde Kriel.

LEES OOK: #5 As jy woema kortkom: prioriteite, tyd en ander kreatiewe maniere

“Die Kriels het ’n seuntjie gehad, dan speel ek en die seuntjie tog te lekker by die pastorie. Ons het groot maatjies geword, tot op ’n dag toe kom ek weer daar by die pastorie om te kom speel. Toe het hy wit maatjies daar by hom. Toe sê hy, nee, jy kan nie meer hier kom speel nie.”

Ds Reggie skud sy kop. “Dis dan jou maatjie, man. Nou moet jy loop.”

Daardie Kriel-seun het later ’n ge­siene NP-politikus geword. Ds Reggie, wat een van die dae 85 word, het op Wellington gaan studeer en was onder meer lank in die bediening in die Richtersveld.

“Ons het mekaar weer jare later raakgeloop, ek en hy.” Ds Reggie glimlag weer effentjies – ’n glimlag wat sê: Ek het nie bitterheid in my nie. “Hy wou hê ek moet by die NP aansluit, maar ek het gesê: Jammer, ek kan nie. Maar ek het hom vergewe. ’n Mens moet kan vergewe, en versoen, anders sal jy nooit vrede hê nie.”

Dit is laatmiddag. Ds Reggie groet en gaan stil by die deur uit. Die Kriel-man is reeds oorlede. Die son raak al flouer agter die brandglasvensters. Breyten se ouma teen die muur en iets van dr DF Malan hier iewers. Sou Hansie de Koker, die koster in die ovaalraam, op ’n manier verwant aan eerwaarde De Koker gewees het?

Die verlede het baie van ons vreemdelinge vir mekaar gemaak.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Oor onthou en vergewe … Dana Snyman gesels met Reggie Boesak”

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.