Daardie paar bladsye wat min mense lees

Dit staan amper altyd op daardie paar bladsye wat min mense lees. Dit is daardie eerste bladsye van boeke wat in die kerk gebruik word. Mense wonder soms hoe is daar gedink toe ons Liedboek saamgestel is. Dit staan op daardie bladsye. Ander wonder weer hoe is daar besluite geneem met die nuwe 2020 Bybelvertaling. Dit staan ook op daardie bladsye. En dan is daar ’n boek wat op ons kansels lê en veral die dominees lees, die Handleiding vir die erediens. Die boek het ook ’n eerste paar bladsye wat min mense lees.

Is die eerste bladsye van die Handleiding die lees werd? Waaroor gaan dit? Net dit – “Wat is die erediens?”. Ek weet, dit klink baie vervelig. So, hoekom sou ek dit lees, ek weet mos wat die erediens is?

LEES OOK: Reeds meer as 26 000 nuwe Afrikaanse Bybels verkoop

Daar is die bekende spreuk van Heraklitus wat lui dat geen mens ooit twee keer in dieselfde rivier inloop nie, want dit is nie dieselfde rivier of dieselfde mens nie. Dit is ook waar van ons eredienste. Volgende Sondag mag dieselfde lyk as verlede Sondag se erediens, maar dit is nie. Daar is nuwe tekste en vanaf persoonlike, deur plaaslike tot op ’n internasionale vlak, het baie gebeur en is die mense wat saamkom ook nie meer dieselfde as verlede week nie. Daarom is liturgiese vernuwing, of eerder verdieping of voortgaande ontdekking, ’n deurlopende en selfs weeklikse saak. En liturgiese verdieping, wat altyd nodig is ongeag liturgiese styl, gebeur nie met die kies van ’n mooi votum, om ’n preekreeks te beplan, of om lofprysing uit te brei nie. Dit begin by ’n in-diepte verstaan van wat liturgie is. Met ander woorde, dit begin by dit wat op daardie eerste ongeleesde bladsye staan.

Liturgie is nie net die diensorde, die lysie goed wat in die erediens gebeur, vanaf die votum, deur die preek en offergawes, tot en met die seën aan die einde nie. Liturgie is dit alles, en ook soveel meer. Dit gaan oor alles wat in daardie tyd op ’n sigbare en ook onsigbare vlak gebeur. Dan is liturgie ’n gebeurtenis, ’n gebeurtenis waarin God die mense wat saamgekom het op ’n bepaalde tyd en plek op ’n sekere wyse ontmoet. Om nou regtig hoogdrawend te klink kan ons sê dit is ’n ontmoetingsgebeure, maar dit is ook presies wat dit is, ’n ontmoeting van mense met God Drie-enig waartydens dinge gebeur. Die dinge wat gebeur is nie net dit wat die mense daar doen soos sing en luister nie, dit is juis ook wat God daar doen.

Die meeste mense het reeds oortuigings oor wat hulle dink daar gebeur wanneer hulle in ’n erediens aankom. Ons kan dit vergelyk met dit wat in die alledaagse lewe ook gebeur en hoe mense in verskillende ruimtes optree en wat hulle oortuigings verklap. In ’n biblioteek praat mense sagter en hulle bewegings is stadiger; in museums vat mense nie aan alles nie en loop sagter; op die pawiljoen in ’n sportstadion maak mense ’n groot lawaai en spring op en af. Mense pas hulle optrede telkens aan, afhangende van die plek waar hulle hulleself bevind en gegrond op dit wat hulle dink daar gebeur.

’n Vriendin in Nederland het my daarop attent gemaak dat Doppers anders in ’n erediens hoes as Lutherane. Ek het eers gedink dit is net ’n grap, maar dis waar. NG lidmate hoes egter op uiteenlopende wyses in ons eredienste, wat wys daar is ’n wye verskeidenheid sieninge rakende wat die erediens is en wat presies daar gebeur. NG kerkgeboue ruik selfs anders as ander kerke, wat ook veelseggend is. En diep diep onder dit alles, is daar natuurlik ’n verstaan van God, wie God is en wat God doen, wat my siening van wat in die erediens gebeur, beïnvloed.

In liturgie soek en vind God en mense mekaar. Sommige sê dit is ’n soort beweging, naamlik dat God na die mense en die mense na God beweeg. Maar in daardie beweging is dit altyd God wat eerste na die mense beweeg en die mense wat daarop reageer. Kyk maar na die verhale van die Bybel wat ook vir ons wys hoe God altyd die inisiatief neem en mense daarop reageer. Die drie-enige God is daar saam met God se mense.

Dit sit ook in die DNS van ons eredienshandleiding, soos verduidelik op daardie eerste bladsye, wat werk met Toetrede, Woorddiens, Tafeldiens en Uitsending. Ons ontmoet die God wat ons roep en voor Hom versamel; die Gees wat deur die Woord ons uitdaag en troos; Christus wat by die tafel ons oë laat oopgaan en ons versterk vir die lewensreis; die drie-enige God wat ons uitstuur na die liturgie van die lewe.

LEES OOK: ‘God voorsien,’ vertel ma wat 18 jaar lank bid dat seun nuwe longe kry

Nie te lank terug nie sou ons net gesê het dat God praat en die mense antwoord in die erediens, punt. Dan is die hele diensorde ook in hierdie lig gesien. En dit is waar en dit is mooi, maar daar is ook soveel meer. Mense het lywe en God ontmoet ons nie alleen deur ons ore en verstand nie, maar deur al ons sintuie, dis ’n lyflike ontmoeting. Ek sien, en voel en ruik en proe ook hoe God my kom opsoek en ek reageer. Daarom is die sakramente en simbole en rituele ook belangrik, saam met die preek.

En wat daar ten diepste gebeur is dat in hierdie ontmoeting tussen God en mense die verlede, van die oerverlede tot vanoggend, daardie verlede tyd waar God altyd was en dinge gedoen het; in die hier en nou van die erediens onthou word, so ook teenwoordig gestel word; en dan breek ’n heel nuwe toekoms oop. Dan hoor, sien en beleef die mense in die erediens dat die God van Sara, Rebekka en Lea, ook my God in hierdie oomblik, hierdie moeilike dae is, en ook dieselfde God gaan wees in die toekoms wat ek nog nie ken nie, ’n toekoms waar Hy reeds is. Daar gebeur dus goed in die erediens, want God Drie-enig is aktief aan die werk. Ek sit nie net daar op ’n kerkbank en samel inligting oor die Bybel in nie. Dit is waarom Annie Dillard jare gelede al gesê het dat ons eintlik valhelms in die erediens moet dra, want dit is ’n plek waar God aktief werk.

En dan, en dis belangrik, hierdie liturgie en my belewenis van hierdie ontmoeting, spoel oor na die liturgie, die liturgie van die lewe, van Maandag tot Saterdag. So beleef ons ook dat liturgie meer as ’n erediens kan wees, en die hele lewe liturgies kan word. Hier wil ek byvoeg dat alles wat waar is vir die erediens, ook waar is vir aanlyn eredienste, want God word nie ingeperk wanneer ons ingeperk word nie.

So, as ek kerk toe gaan, sal God my daar ontmoet? Wel, ja en nee. Soos die teoloog Noordmans jare gelede reeds gesê het, moet ons nie dink dat God kerk toe gaan net omdat ons gaan nie. Ons het nie ’n handvatsel of greep op God nie. Ons hoop wel, vertrou wel, glo wel, dat dit die geval is, maar ons kan God nie manipuleer nie, alle inisiatief bly by God. Dit is hoekom Gereformeerde eredienste deur die eeue graag soos volg begin: Adjutorium nostrum in nomine Domini, oftewel “Ons hulp is in die Naam van die Here”.

Dit is dalk tyd dat ons die eerste bladsye van al ons kerkboeke weer ’n slag lees, want vernuwing begin met verdieping, om opnuut te ontdek wat die erediens reeds is, ten diepste wil wees en wat reeds daar gebeur.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode