Waar onskuldige burgers sterf, is dit eenvoudig menseregtevergrype

Die groot jammerte is dat die vervolgde so dikwels in die geskiedenis die vervolger word, skryf Louis Jonker aan die hand van die konflik wat tans in Israel en Palestina woed.


Vir die soveelste keer is Israel en Palestina in ’n oorlog met mekaar gewikkel. Vir die hoeveelste keer is mense oor die wêreld verstom dat hierdie internasionale brandpunt blykbaar nooit gaan ophou brand nie. En vir die tienduisendste maal wonder mense oor die wêreld heen hoe dit moontlik is dat stoere godsdienstige mense van die twee grootste godsdienste so met mekaar kan omgaan.

In Suid-Afrika gaan menings oor hierdie konflik dikwels wyd uiteen. Daar is ’n sterk groep wat wil opstaan vir geregtigheid, en wat die aanvalle van Israel teen die Palestyne vergelyk met Apartheid-Suid-Afrika – met gepaardgaande oproepe vir boikotte en disinvestering. Maar, aan die ander kant is daar talle uit Christelike groeperings wat hulle solidariteit met Israel wil betoon, omdat dit die land en volk van die Bybel is.

LEES OOK: Israel ‘is nie spesiaal nie’

In 2014 was daar ’n soortgelyke krisis, met ewe katastrofiese gevolge. Ekself het in daardie jaar ’n reis na Israel om in argeologiese opgrawings te gaan deelneem, gekanselleer – nie net ter wille van veiligheid nie, maar ook omdat ek my glad nie kon vereenselwig met wat in daardie krisis aan die gebeur was nie. Ek het daarna ’n stuk geskryf om helderheid in my eie gemoed te kry, maar dit nooit gepubliseer nie. Ek het gewonder watter lesse uit die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis geleer kan word wat vir Israel-Palestina van betekenis kon wees.

Ek het toe tot die gevolgtrekking gekom dat die “wonder” van die oorgang na demokrasie in Suid-Afrika nie afhangend was van allerhande groot versoeningsdade nie, maar van die gesindheid van twee leiers: Nelson Mandela en FW de Klerk. Ja, ek weet dat dinge baie meer kompleks was as dit! Maar, die feit dat daar twee gerespekteerde leiers was wat hulle verwondbaarheid aan mekaar toevertrou het ter wille van ’n vredevolle oorgang na ’n regverdige bestel, het ’n reuse-verskil gemaak. Natuurlik het die nuwe demokrasie ook weer sy pyne opgelewer – veral wanneer dit gekaap word deur gierige en korrupte leiers wat tot nadeel van arm mense daaruit probeer voordeel trek het. Maar, die feit is dat ons oorgang nie tot bloedvergieting gelei het soos die hele wêreld verwag het nie.

Lees ook: Oor (ander se) swaarkry

Ek het tóé algaande begin dink dat ’n twee-staat-oplossing vir Israel-Palestina nooit ’n oplossing sal wees nie. Trouens, dit sal bloot die institusionalisering van vyandskap wees. ’n Een-staat-oplossing (soos met die verdwyning van die tuislande in Suid-Afrika in effek gebeur het) sal eerder uitdrukking gee aan versoening. Ek het sedert 2014 ’n punt daarvan gemaak om aan Israeli-kollegas (met wie ’n mens noodwendig skouers skuur as jou vak die Ou Testament is) te vra of hulle meen daar twee leiers in Israel en Palestina is wat ’n soortgelyke rol as Mandela en De Klerk sou kon speel. Telkens was ek mismoedig om te hoor dat daar nie sulke leiers is nie. Sommige het gemeen dat die vermoorde Yitzhak Rabin en Yasser Arafat dalk daardie rol in die 1990s en met die Oslo-ooreenkoms kon speel. Maar, die sluipmoord op Rabin op 4 November 1995 het alles verander. En dit is hartseer om te hoor dat kritiese Israelis meen dat die huidige premier, Benjamin Nethanyahu, eenvoudig oorlog gebruik om sy eie posisie in die Israeli-politiek te verstewig.

Trouens, daar is duidelike aanduidings dat die huidige konflik weereens haarfyn beplan was. Israeli-burgers in ander lande (selfs ook in Suid-Afrika en Stellenbosch waarvandaan ek skryf) is ’n week voor die uitbreek van die oorlog teruggeroep na hulle land omdat vlugte moontlik in die volgende week gekanselleer sou word. Dit is berekende en beplande geweld, en niks anders nie.

LEES OOK: Kerke in Israel maak beswaar teen nuwe wet

Natuurlik is die Palestyne geen engeltjies nie – veral nie onder leiding van Hamas in die Gasastrook nie. Terloops, die Hebreeuse woord hamas beteken “geweld”. Hoe sê die spreekwoord: “It takes two to tango” (of om oorlog te maak). Die jarelange en wedersydse haat laat niemand onskuldig nie. Waar onskuldige burgers (dikwels ook vroue en kinders) sterf weens missielaanvalle of artillerievuur – ongeag aan watter kant van die kaplyn – is dit eenvoudig ’n menseregtevergrype.

Ek hoor nou die stemme van vrome Christene wat sou wou beweer dat Israel tog mos die volk van God is, soos die Ou Testament ons mos vertel. Dit is allermins waar. Die huidige probleme is nie eeue oud soos sommige beweer nie. Dit het in 1948 gebeur toe daar in die nadraai van die moord op Jode in Duitsland deur wêreldleiers besluit is dat Jode tog wel ’n vastrapplek vir hulle voete moet hê. Dit opsigself was ’n nodige stap van die internasionale gemeenskap om die verfoeilike dade tydens die Naziregime te probeer vergoed. Die groot jammerte is egter dat die vervolgde so dikwels in die geskiedenis die vervolger word. En dat die moderne staat Israel wederregtelik die Wesbank algaande beset, om Palestyne van hulle dekadelange woonplekke te ontneem. Het ons dit nie ook in die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika gesien nie? Nadat die Afrikaners in die stof van die aarde vertrap is in die Engelse oorlog en deur Britse imperialisme, het dieselfde Afrikaners presies so teenoor hulle swart landgenote gaan doen.

Die Israeli-regering van vandag is skuldig aan presies dieselfde ongeregtigheid. Aangevuur deur ’n Sionistiese ideologie wat in die laat-negentiende eeu na vore begin kom het (en wat nie verwar moet word met Semitisme of die Jodendom van die Bybel nie), bedryf die huidige Israeli-regering onder leiding van Nethanyahu allerhande ongeregtighede teen diegene wat vir eeue lank in die area gewoon het, naamlik die Palestyne. Enige kritiek teen hulle rigting word dikwels as anti-Semitisme geklassifiseer. Maar dit is ’n verwarring. Anti-Semitisme en anti-Sionisme is twee verskillende dinge. Ek beskou myself as anti-Sionisties, maar nie as anti-Semities nie.

Hoe moet Christene reageer op hierdie hartseer gebeure? Eerstens moet ons besef dat ongeregtigheid en geweld – of dit van Israeli- of Palestynse kant kom – geensins in lyn is met die Bybelse eise nie, en dat dit ten sterkste veroordeel moet word. Tweedens, ons moet kennis neem dat daar ook Christene onder die Palestyne is, en ook Moslems onder die Arabiese Israelis. Dit is dus ’n oorvereenvoudiging om die krisis te tipeer as ’n verdediging van Joods-Christelike waardes en belange teenoor Islam. Derdens, versoening kan slegs ondersteun word waar ons nie toelaat dat ons eie ideologieë waarin ons die moderne Israel met die Bybelse Israel verwar, ons perspektiewe bepaal nie.

Daarom is my pleidooi: Laat ons as Christene, tesame met Moslems, opstaan teen die geweld en ongeregtigheid wat in Israel-Palestina gepleeg word. Laat ons as kerkmense bewus raak van ons eie vooroordele wanneer ons kant kies tussen hierdie twee groepe. Uiteindelik lê die oplossing vir hierdie krisis nie in die hande van enige van hierdie twee groepe nie, maar in die hande van albei. Soos met Mandela en De Klerk.

  • Prof Louis Jonker is ’n uitgelese professor in Ou Testament aan die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “Waar onskuldige burgers sterf, is dit eenvoudig menseregtevergrype

  1. Stefaan de Jager says:

    Israel en die Palestyne veg aan dieselfde kant.

    Die Palestyne (hoofsaaklik Islam) sowel as Israel (Jode) glo dat Jesus as gewone mens op aarde geleef en twintig eeue gelede met Sy voete in die stof van Palestina geloop het. Vir Islam is Hy egter nie die Verlosser nie en vir die Jode nie die Messias wat gekom het nie. Natuurlik praat ek nie van mense aan beide kante wat wel vir Jesus as Here ken nie, maar dis die uitsondering. Israel en die Palestyne is dus al vegtende eintlik maar aan dieselfde kant, beide groepe sonder Christus as Verlosser. Beide veg om vryheid, maar die eintlike vryheid sal hulle nie buite Christus vind nie.

    Wat is ons taak as gelowiges? In ons voorbidding behoort ons geen onderskeid te tref tussen die twee strydende groepe nie. Ons kan maar net bid dat beide groepe vir Jesus sal vind wat gesê het dat Hy die lig vir die wêreld is en dat diegene wat Hom volg, nooit in die duisternis sal wees nie maar die lig sal hê wat lewe gee (Joh 8:12).

  2. Marthie Momberg says:

    Dankie vir jou artikel Louis.

    Ek voeg graag by dat al hoe meer Jode – in Israel en elders – ook Israel se Sionistiese beleid kritiseer. Ek wonder dikwels waarom ons kerk nie moeite maak om te luister na Suid-Afrikaanse Jode wat verduidelik waarom Sionisme – en dus Israel se vergrype – eintlik niks met Judaïsme te doen het nie. Waarom hou ons vas aan die idee dat alle Jode dieselfde dink?

    Ons moet saamwerk met hierdie Jode wat ook nie godsdiens wil misbruik om menseregtevergrype te regverdig nie.

    Jy is reg dat Israel se verdrukking van die Palestyne ‘n doelbewuste en beplande proses is. Prof Ilan Pappé en talle ander Joodse historici verduidelik die sistemiese onreg stap vir stap op grond van geklassifiseerde Israeli weermagdokumente wat na 50 jaar beskikbaar geword het.

Comments are closed.