Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die Israelse vlag wapper teen die agtergrond van die Klaag­muur, oftewel die westelike muur van die tempelplatform in Jerusalem. Die vraag oor hoe Jode en mense van ander godsdienste en volksgroepe hier vreedsaam kan saamleef, is opnuut in die kollig met die aanvaarding van die jongste Basiese Wet deur die Israelse parlement. Foto: Neels Jackson

Kerke in Israel maak beswaar teen nuwe wet

Kerkleiers in Israel en die besette Palestynse gebiede het met ontsteltenis en kommer gereageer op die Israelse parlement se aanvaarding van ’n nuwe Basiese Wet, berig die nuusdiens van die Wêreldraad van Kerke (WRK).

Dié wet – “Israel as die Nasiestaat van die Joodse volk” – sê onder meer: “Die reg om nasionale self­beskikking in die staat van Israel uit te oefen, is uniek aan die Joodse volk.”

Theophilos III, die patriarg van die Grieks-Ortodokse Kerk in Jerusalem, het gesê dié wet noem nie die Christene en Moslems wat reeds voor die vestiging van die staat Israel, en deurentyd sedert die vestiging van Israel, in die land bly nie.

Volgens hom versterk die wet die institusionalise­ring van rassisme en dit ruim die hoop op gelykheid uit die weg.

Biskop Sani Ibrahim Azar van die Evangelies Lutherse Kerk in Jordanië en die Heilige Land het die wet bestempel as fundamenteel verdelend, rassisties en vernietigend.

Biskop Azar sê die wet “sluit doelbewus die teen­woordigheid uit van burgers en inwoners wat lede is van ander godsdienstige groepe, sowel as die beteke­nis­volle bydraes wat hulle maak tot die Israelse ge­meenskap”.

Die Latynse Patriargaat van Jerusalem (’n arm van die Katolieke Kerk) het in ’n verklaring gesê die wet gee geen waarborge aan inheemse en ander minderhede wat in die land leef nie. Dit stuur ’n ondubbelsinnige sein aan die Palestynse burgers van Israel dat hulle nie in die land tuis is nie.

Kerkleiers het ook gewaarsku teen die gevaar van die wet se bepaling dat die staat die vestiging van Joodse gebiede as van nasionale waarde beskou en dit wil aanmoedig en bevorder.

Azar het gesê dit is moeilik om te verstaan hoe die aanmoediging van gesegregeerde, mono-kulturele, mono-godsdienstige gemeenskappe in Israel self of in Palestynse gebiede in die vorm van onwettige besettings, die staat van Israel nader bring aan ’n vreedsame toekoms.

Patriarg Theophilos het die kommer uitgespreek dat die nuwe wet die hande sal versterk van groepe wat op kerkeiendom in Jerusalem en elders wil beslag lê.

Die Latynse patriargaat het gesê die nuwe wet is ’n skending van Israel se eie Verklaring van Onafhanklikheid wat onder meer die gelykheid en maatskaplike en politieke regte van alle inwoners, ongeag hulle godsdiens, ras of geslag wou verseker.

Die Latynse patriargaat se verklaring sê dat die Christen-burgers van Israel dieselfde kommer as ander nie-Joodse groepe het oor hierdie wet.

Dr Olav Fykse Tveit, algemene sekretaris van die Wêreldraad van Kerke, het gesê dit gaan hier oor die Heilige Land en die heilige plekke van drie godsdienste. Dit kan nie die eksklusiewe besitting van een geloof teen­oor die ander, of van een volksgroep teenoor die ander wees nie. Jerusalem is, en moet in die toekoms steeds ’n stad van drie gelowe en twee volksgroepe wees.

Tveit het gesê mense van al drie Abrahamitiese godsdienste – Jode, Christene en Moslems – het ’n egte en diep liefde vir Jerusalem. Daardie liefde moet gerespekteer word in enige oplossing wat lewensvatbaar wil wees.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top