Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Israel ‘is nie spesiaal nie’

’n Groep Nederlandse teoloë spreek hulle in ’n manifes uit teen die voortsetting van die spesiale posisie wat Israel in die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) speel.

In die PKN-kerkorde staan dat die kerk “gestalte moet gee aan die verbondenheid met die volk Israel”. In talle PKN-gemeentes hoor jy dat predikante spesiaal vir Israel bid.

Dit spruit uit ’n teologiese oortuiging dat Israel ’n spesiale rol in God se plan vir die wêreld speel, asook ’n skuldgevoel oor die Joodse vervolging in die Tweede Wêreldoorlog.

Die laaste jare het die openbare mening in Nederland oor Israel begin verander. In die jare sestig en sewentig het mense hier bankvas agter Israel gestaan, maar dié land se beleid teenoor die Palestyne het die gevoel teen Israel laat kantel.

Dit word in die manifes van die 10 teoloë, wat hulleself as “liberaal” beskryf, weerspieël. Die groep het in 2016 ’n boek gepubliseer, Liberaal Christendom. Die redakteur van die boek, ds Jan Offringa, is die hoofskrywer van die manifes.

Hy sê die spesiale band wat die kerkorde met Israel identifiseer, “is teologies nie alleen onnodig nie, maar twyfelagtig. Dit suggereer ’n onderlinge afhanklikheid wat nie (meer) geld nie. Want die Christendom het weliswaar uit die jodedom voortgekom, maar is geen voortsetting daarvan nie.”

In ’n onderhoud met die Protestantse dagblad, Trouw, vra Offringa of die spesiale band beteken dat jy alles wat Israel doen, kritiekloos moet sluk?

Hy erken “verwantskap” deurdat die twee godsdienste die Ou Testament deel, “maar dis geen rede vir ’n aparte plek nie. Daar is ook verwantskap met ander godsdienste. Jodedom en Christendom het elk ’n eie pad ingeslaan.

“Daar is groot verskille wat jy nie moet wegpoets nie. In die jodedom staan die Torah sentraal, by Christene het Jesus die plek ingeneem. Die pad na God gaan nie deur die Torah nie, maar deur Jesus.”

Offringa meen Jode het nie méér reg op Israel omdat hy ’n uitverkore volk sou wees nie. “Daar is geen uitverkore volke nie, of ons is dit almal.”

Die PKN kan hom eerder verbind tot die stryd teen antisemitisme en rassisme, aldus Offringa.

Die skriba van die PKN, ds René de Reuver, het Offringa se standpunt skerp gekritiseer. “Israel is fundamenteel vir die identiteit van die kerk; daar het God begin; ons het later bygekom.”

Omdat die God van Israel ook “ons God” is, is “ons verhouding met die Jodedom uniek,” volgens De Reuver.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top