Afrikaans het ’n woord wat dit sê: “Godverlate”. Dit is ’n ontstellende woord, maar dit is presies waaroor die digter van Psalm 104 dit het in vers 29. In die vorige verse vertel Hy van die God wat versorg en voorsien. Hy doen dit om alles in die skepping se afhanklikheid van God aan te toon. In vers 29 onderstreep hy hierdie gedagte deur die teendeel te beklemtoon: “Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle lewensasem van hulle wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof.” Godverlate. Dit is die indruk wat ’n foto soos dié hierbo uit die Judese bergwoestyn naby die Dooie See kan skep. Ons weet natuurlik vandag dat daar selfs in woestyne organismes is wat ’n nis vind om in te lewe. Selfs dáár sorg God. Die psalmdigter teken egter ’n prentjie van leweloosheid om te sê: Dít is hoe dit sonder God se sorg sal lyk.
Lees ook: Kos vir die mense