Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

’n Deel van die span wat by die vakansieboksprojek betrokke is, sorteer van die items wat in die bokse gepak moet word. Kloksgewys van links voor is ds Fay van Eeden van Stellastraat, Justine Barwise en ds Wynand van Niekerk van Monumentpark, ds Anandie Greyling van Pierre van Ryneveld en Karli Haasbroek, finalejaar-teologiestudent wat haar gemeentejaar by Lyttelton-Oos doen. Foto: Neels Jackson

Toe word die vakansie in ’n boks gepak


Toe die inperkings Pierre van Ryneveld se vakansieprogram vir kinders in die wiele gery het, is daar besluit om dit in ’n boks te verpak. Nou bereik dit soveel meer kinders as wat aanvanklik beplan is.

Ds Anandie Greyling van Pierre van Ryneveld sê sy het die gedagte van ’n vakansieprogram in ’n boks met ’n klompie kollegas bespreek en uiteindelik het agt NG gemeentes in Pretoria en Centurion hande gevat om dit te doen. Hulle is Pierre van Ryneveld, Stellastraat, Valleisig, Monumentpark, Elarduspark, Doornkloof, Lyttelton en Lyttelton-Oos.

Saam het hulle die program uitgewerk en elke medewerker het verantwoordelikheid geneem vir een aspek van die uitvoering daarvan.

LEES OOK: Gemeente in Noordwes bedien gemeenskap met 13 suurstofmasjiene

In die boks kry die kinders en hulle ouers onder meer ’n skakel na ’n YouTube-video vir elke dag. In die video’s word vyf waardes, een vir elke dag, aan die hand van die Bybelverhaal van Josef met die kinders behandel. Die vyf waardes is respek, lojaliteit, dankbaarheid, verstandigheid en selfbeheersing.

Op die video is daar ook ’n poppekas waarna die kinders kan kyk. Daarby kry die kinders die aanwysings en materiaal vir ’n handvaardigheidsprojek vir elke dag, asook ’n speletjie wat hulle kan speel.

Daar is drie verskillende bokse gemaak vir drie verskillende ouderdomsgroepe: een vir kleuters, een vir kinders van graad 1 tot graad 3 en een vir dié van graad 4 tot 6.

Een doel van die projek is om ouers wat nou van die huis af moet werk, iets te gee om die kinders mee besig te hou. Maar die tweede belangrike doel was om iets geloofsvormend vir die kinders te gee.

Uiteindelik het die projek ook wyer uitgekring as die agt gemeentes. In Pretoria is daar besluit om vir elke kind in die Jakaranda-kinderhuis wat in graad 6 of jonger is, so ’n vakansieboks te gee. Die 115 bokse is deur lidmate van die gemeentes geborg.

LEES OOK: Kyk: Hoe gemeentes en lidmate KZN en Gauteng weer herbou

Daarby het ander gemeentes soos Rant-en-Dal-Prisma in Krugersdorp, Rynfield in Benoni en die Hervormde gemeente Montana in Pretoria ook besluit om die vakansieprogram-in-’n-boks te gebruik en daar is nog ander wat belang stel.

Ds Marileen Steyn van Saldanha vertel dat sy al die inligting oor die program van haar kollegas in Pretoria gekry het en toe gereël het dat die aankope vir hulle bokse in Kaapstad gedoen word. Hulle verpak dit self en benewens die 22 bokse vir hulle eie gemeente maak hulle danksy borge ook 36 bokse vir die kinders van Huis van Heerde.

Byna seshonderd van hierdie bokse word tot dusver versprei.

Gemeentes wat self die program wil gebruik of meer daaroor wil uitvind, kan ds Fay van Eeden by fayce@gmail.com kontak.

  • Neels Jackson is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.