Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

In KwaZulu-Natal is kosvoorraad op baie plekke steeds beperk. Danksy samewerking met verskeie ander gemeentes, kon die NG-gemeente Bergsig-George dié week ’n 8 ton-vragmotor gelaai met allerhande benodigdhede stuur vir afset in Pietermaritzburg, die Natalse Middellande en Durban.

KYK: Hoe gemeentes en lidmate KZN en Gauteng weer herbou


Ná verlede week se plundertogte is dit nou tonele van mense wat sáám opvee, wag staan, kospakkies uitdeel of vragte vol benodigdhede aanry, wat ’n mens se hart ontroer, berig Heléne Meissenheimer.

Lang toue waar mense ure op ure staan om basiese benodigdhede soos brood en melk te koop, het ’n algemene gesig geword op baie plekke in KwaZulu-Natal. Dikwels kom hulle van naburige dorpe waar alles vernietig is. Geld is ook skraps, want duisende is ook nou hulle werkplek kwyt.

“Mense huil. Daar word baie gehuil. ’n Brood kan jou nou tot R50 uit die sak jaag en ’n 50 kg sak mieliemeel R100,” vertel ds Eric Ngema van VGK Hammarsdale naby Durban, een van die gebiede waar hulle winkelsentrum en supermark vernietig is.

Die sinnelose vernietiging ter waarde van miljarde rand eis ook sy tol in hernude spanning in menseverhoudings. “Bid asb steeds vir ons KZN-gemeenskap dat die verhoudings sal herstel wat skade gelei het as gevolg van die opstande en dat ons as groter Suid-Afrikaanse gemeenskap almal nader aan mekaar sal beweeg,” vra ds Francois Maritz, een van die dryfvere van die KZN-rampfonds, waaroor Kerkbode vroeër berig het.

Stefan Wilmans, ’n diaken in die Westville-gemeente naby Durban by hulle besending hoender.

LEES MEER: Só kan jy KwaZulu-Natal help 

Hy voeg ook by dat bydraes mildelik inkom vir die KZN-rampfonds waaroor hulle baie dankbaar is. Hulp is ook ontvang van gemeentes in ander provinsies. Vandeesweek verwag hulle ’n 8 ton-vragmotor gevul met alles van babadoeke, formulemelk, pastas en groente en selfs troeteldierkos gestuur vanaf die Bergsig-gemeente op George, vertel Maritz.

Verskeie plaaslike gemeentes het ook met planne vorendag gekom om hulle lidmate en gemeenskappe te help. In Durban het ’n klompie gemeentes saamgespan om ’n vragmotor vol hoender by Rainbow Chickens te bestel teen ’n baie goeie prys. Die hoender is dan verkoop aan lidmate van plaaslike gemeentes en suidwaarts ook tot by Amanzimtoti en Umhlanga. “Op dié manier het ons darem seker gemaak dat ons lidmate genoeg kos het. Ten minste hoender teen ’n baie goeie prys,” vertel ds Gerhard Botha van die Westville-gemeente naby Durban.

Só ook het Ballito-gesinskerk die behoefte aan kos in hulle gemeenskap raakgesien met die meeste winkels gesluit of die kosvoorraad uitverkoop. Hulle het ook hoender per trok laat kom en dit dan weer verkoop aan hulle eie lidmate asook aan al die ander kerke in Ballito. Die kerk werk ook saam met Solidariteit Helpende Hand om as afsetpunt te dien vir kospakkies vir behoeftiges asook bejaardes wat nie by die winkels kan uitkom nie.

Lees ook: Help mekaar met karaktervorming

Suidkus-gemeente op Amanzimtoti het 65 brode gebak met drie sakke meel wat in hulle kerk se vrieskas was en verniet weggegee aan mense wat nood gehad het. Ds Liezel de Jager vertel hulle kon ook al twee keer 80 kospakkies saamstel. Uit die tweede ronde se kospakkies kon hulle ook gehoor gee aan ’n versoek om hulp van die Baptistekerk van Scottburgh vir wie dit was soos ’n antwoord op gebed.

Uit Gauteng vertel ds Rudi Swanepoel van die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg dat hulle sedert verlede Donderdag reeds 140 noodpakkies kon opmaak om die ergste nood te verlig van die VGK-gemeente in Alexandria.

Op vele ander dorpe is geloofsleiers in noue en gereelde kontak met ander plaaslike gemeenskapsleiers oor wat in hulle gemeenskappe gebeur. “Daar is ongelooflike goeie samewerking in ons gemeenskap, maar ons werk ook maar in kamera omdat daar steeds magte is wat van agteraf probeer om chaos te veroorsaak,” vertel ds Petrus Botha van Pongola.

VGK-lekeprediker Sbusiso Zondi (heel links) en sy jeuggroep het skoonmaak werk gedoen na die onluste in hul gemeenskap by Chesterville naby Durban.

‘Juis nou tyd vir evangelie’

Maar daar is meer aan die gang as net noodleningsaksies, leer ’n mens as jy gesels met die VGK-lekeprediker Sbusiso Zondi van Chesterville, ’n arm gemeenskap buite Durban.

Toegerus met net ’n diploma in dissipelskap en ’n sertifikaat in berading tesame met matelose entoesiasme, het die getalle by sy weeklikse jeug- en volwasse bidure so gegroei dat sy huisie te klein geword het. Daar is reeds 50 kinders in sy vrou Catherine se Sondagskool.

“Ons is beïndruk met die werk en moeite wat hy doen … Ons ondersteun hom en dink hy behoort ’n kerk te begin onder ons supervisie daar, want daar is nie een nie,” sê Ngema wie se gemeente hulle ou markiestent vir dié doel aan Zondi beskikbaar gestel het.

Die afgelope Saterdag staan Zondi in die einste tent en deel broodrolletjies en pap saam met die evangelie uit aan honger kinders en inwoners. Sommige het deelgeneem aan die plundery, maar is nou spyt daaroor.

“Dit spook nou by hulle,” het Zondi aan Kerkbode gesê. “Hulle sien nou dit was sinneloos om maatskappye te vernietig waar hulle môre moet gaan werk. Die meeste van hulle het klaar hulle werk verloor,” sê Zondi.

Dít is juis nou die tyd om hier ’n “kerk te plant op die as van die onrus,” stem Botha van Westville-gemeente saam. Hulle saam met Krantzkloof-gemeente ondersteun Zondi maandeliks met ’n vaste finansiële bydrae.

“Die mense soek hulle morele kompas terug. Dit is juis nou die regte tyd om die evangelie te bring en ook hierdie mense toe te vou met die liefde van Jesus deur te sorg vir hulle fisiese behoeftes,” sê Botha.


Kyk in die video hieronder na ’n onlangse gesprek (53 minute) wat deur die Algemene Sinode se Taakspan vir Versoening en Identiteit aangebied is rondom die tema: Wat leer die NG Kerk in hierdie tyd oor ras en versoening?

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.