Help mekaar met karaktervorming

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die emosionele en geestelike impak wat die Covid-19-pandemie op ons maak, is onberekenbaar.

In die dekades wat kom sal analiste skryf oor die invloed wat die pandemie gehad het op die ekonomie, kommunikasiepatrone, personeelbestuur, bevol­kingsaanwas, die versnelling van die vier­de industriële rewolusie (4IR) en talle ander onderwerpe.

Die gevolge van die pandemie vir die kerk sal ook eers met verloop van tyd bereken kan word. Hoe kerkbywoning, dankoffers, leraarsposte, projekte en selfs mense se geloof beïnvloed is, sal sekerlik die onderwerp van baie bespre­kings wees.

LEES OOK: 10 Lesse ná ’n jaar van Covid-19

Op die oomblik, in die krisis, is mense se hartseer en verliese prioriteit nommer een. Ons treur oor ons eie verliese, maar ook saam met ander wat treur. Ons hart is seer oor families en ge­meenskappe wat geliefdes en steunpilare verloor het en die grootste aanpassings moontlik moet maak. Baie van ons is erg getraumatiseer. Ons gevoel van veiligheid is onherroeplik verander, die grense is geskuif, die angs oor wat moontlik verkeerd kan gaan, lê vlak onder die oppervlakte van ons skynvertroue. Ons soek beskerming en troos, hoop en inspirasie. Ons pleit by God vir broers en susters, ouers en kinders, en won­der dikwels ongemaklik oor die vraag waarom sovele gebede nie verhoor word nie. Samekomste is verbied en die ondersteuning van geloofs­vrien­de kom deur sosiale media. Ons is broos.

In hierdie selfde tyd is daar politieke spanning in die land. Sodra ons hoop begin opvlam dat ons land deur die onderste draaipunt van verval beweeg het, is daar weer slegte nuus, nog ’n hofgeding, nog ’n stuk selfbelang wat ontbloot word.

Mense wat bang is, skuil, of dit nou vir Covid is of vir die samelewing se verval. Dit is natuurlik. Hulle sonder hulleself af en nie net omdat die president so sê nie. Oorlewing word die enigste prioriteit. Alles keer op eie voortbestaan in. In die proses word die fokus van die totale bestaan finaal ontbloot – dit is die ek. Maar dít is nie noodwendig so sleg as wat dit aanvanklik klink nie. Iewers moet ons almal innerlik ’n draaipunt bereik. Ook wat die selfbelang betref. Iewers moet ons begin verstaan dat die pandemie ons kan bring tot ’n nuwe manier van bid, nie net vir oorlewing nie, maar vir ’n nuwe soort van lewe. Iewers moet ons begin verstaan dat die hoop van Christus in mý aktief moet word. Wat ons doen volg op wie ons is.

In hierdie tyd van gestroop wees is wie ek is dalk ten regte die belangrikste onderwerp vir gebed. Wat ons nodig het is ’n nuwe etiek van wees, van karakter. Dit sal lei tot ’n nuwe etiek van deugde. Dan sal die konsensus oor twintig jaar van nou wees dat Christene hulle self tydens die pandemie innerlik herdefi­nieer het tot beelddraers van God, pelgrims, volgelinge van Jesus wat waarheid en geregtigheid liefhet, wat bereid is om hulle lewe dáárvoor te gee. Daar sal getuienisse wees van Christene wat uit hulle afsondering getree het en drumpels oorgesteek het om die liefde en geregtigheid te gaan beoefen waartoe hulle gevorm is in ’n biddende openheid voor God. Hierdie word ’n tyd van kritiese keuses vir elke kerkmens. Maar die eerste besluit is om te bid, vir genesing, van jou karakter.

Mense besluit nie individueel om afsydig en onverskillig te staan teenoor die wêreld waarin hulle leef nie. Mense is deelnemers aan ’n kultuur van afsydigheid en onverskilligheid teenoor die wêreld waarin hulle leef. Daarom is die verkryging van vooroordele, afsydigheid en onverskilligheid teenoor ander dikwels die onbewustelike en ‘onskuldige’ gevolg van deel wees van ’n bepaalde samelewing. Die gebed om genesing van die karakter is dus nie net ’n individua­listiese ding wat moet gebeur nie, maar benodig ’n gesamentlike poging. Ons sal mekaar moet help met karaktervorming.

LEES OOK: Wat Bonhoeffer ons oor kerkwees te midde van Covid-19 kan leer

Ek is bevrees dat ons op die oomblik in vele opsigte mekaar in die steek laat. Daar het ’n gewoonte by kerkmense ontstaan om enigiets kwyt te raak oor ander mense in die kerk: Hulle is libe­raal of hulle is liefdeloos, hulle is ongereformeerd of onbybels, hulle is sus of so. Wie hom of haar skuldig maak aan hierdie soort uitsprake sê meer van die eie karakter as van die teologie van ander. Beskuldigings en veralgemenings van hierdie aard isoleer mense verder. Dit is lewenemend. Dit getuig nie van nuutgevormde karakter in die teenwoordigheid van Christus in tye van broosheid nie, maar van meerderwaardigheid en ’n beterweterigheid.

Voor ons lê daar munisipale verkie­sings. Ons besorgdheid oor die gemeenskap se belange, en beskikbaarheid om in die gemeenskap te werk en te dien, gaan aandui hoe ons karakters gevorm is tydens die pandemie. Gaan ons hekwagters wees van ou ordes, of gaan ons die drumpels oorsteek na die gemeenskappe waarvan ons deel is, sonder ou subtiel aangeleerde vooroordele?

Ons gaan uit die pandemie kom met óf ’n geneesde karakter en etiek, óf ’n belading van nuwe agterdog en voor­oor­de­le. Mag ons ontmoetings met God in hier­die dae sodanig wees dat hulle oor twin­tig jaar steeds sal getuig van die nu­we lewe wat uit die pandemie gespruit het.

  • Ds Nelis Janse van Rensburg is pre­dikant van die NG gemeente Wel­ge­moed en voorsitter van die Algemene Sinode se moderamen.