10 Lesse ná ’n jaar van Covid-19

Op 11 Maart 2020 het die Wê­reld­gesondheidsorganisasie (WGO) Covid-19 tot pandemie verklaar. In dieselfde week, op 15 Maart 2020, het president Ramaphosa Covid tot ’n nasionale bedreiging in Suid-Afrika verklaar en op 23 Maart is die nasionale inperking afgekondig. Hierdie wêreldwye pandemie het ons lewe onherkenbaar verander.

Prof Dennis Snower van Oxford skryf dat die Covid-19-pandemie ons met die basiese vrae van die lewe konfronteer. Vrae soos: Waarvoor is ons hier? Wat het ons met ons lewe gedoen? Wat wil ons nog doen as ons die geleent­heid kry? As ons weet wie werklik vir ons belangrik is en waaroor dit regtig gaan, waarom het ons dan so min van ons lewe daaraan bestee?

Regter Edwin Cameron skryf in ’n opiniestuk op 6 Maart 2021 dat die pre­sident grense gesluit, alkohol- en tabak­verkope onwettig verklaar en streng inperkingsmaatreëls aangekondig het. Om die maatreëls af te dwing is meer as 70 000 troepe van die nasionale weermag (SANW) ontplooi. Verskeie instansies soos onder andere besighede en skole se normale jaarprogram is ingry­pend geraak. Volgens die minister van gesondheid, dr Zweli Mkhize, was daar op 7 Maart 2021, 1 518 979 bevestigde ge­valle van Covid-19 en 50 566 lewens is verloor. Dit was duidelik dat die re­gering mediese kundiges se bydraes in ag wou neem en internasionale riglyne probeer navolg.

LEES OOK: Dana Snyman: Om die binne-chaos te verdryf

Maar Covid het die deur vir ingry­pende wanpraktyke geopen. In plaas van die beskerming van regte soos deur die grondwet uitgespel word en dat na die ontplooiing van meer mediese kundigheid gekyk is, is toenemend na die rol van die polisie en weermag gekyk. Onder die inperkingsmaatreëls is gedu­rig van aanhouding, arrestasie, die gebruik van pepersproei en selfs van die gebruik van ’n waterkanon gehoor. In plaas van vertroue in die polisie en weer­mag het hierdie optrede mense toenemend onveilig laat voel.

Prof Guy Lamb van Stellenbosch skryf in ’n opiniestuk op 27 Januarie 2021 dat die polisie die staat se eerste vlak van Covid-hantering geword het met gepaardgaande slegte gevolge vir per­soonlike en gemeenskapsregte. Vroeg in die pandemie het koerante be­rig dat oortreders van grendelbeper­kings deur weermaglede gedwing is om sekere liggaamlike strawwe deur te gaan. Daar is ook verskeie arrestasies ge­doen wat uiteindelik met groot kostes oënskynlik onwettig uitgevoer is. Dan was daar gevalle wat die simpatie van die land aangegryp het soos die geval van ’n man wat gearresteer is omdat hy vir sy pasgebore baba melk gaan koop het na ure in terme van die grendelregulasies. Dan is daar ook die geval van Collins Khosa wat volgens nuusberigte besig was om op sy stoep bier te drink toe die weermag so drasties ingegryp het dat hy sy lewe verloor het. Daar was ook die drastiese ingryping en onver­klaarbare verskuiwing van ’n groot aantal mense na ’n berugte kamp by Strandfontein en hierdie projek is spoedig weer laat vaar.

Hierdie voorbeelde sou nie so ont­stellend gewees het indien daar nie so­veel berigte van korrupsie en die plun­dering van staatsfondse was waaroor daar nie baie amptelike optrede was nie. Dit moet onthou word dat die land in ’n greep is van ’n nasionale gesondheids­krisis en die hardhandige optrede oor sekere sake en die gebrek aan amptelike optrede deur wetstoepassers aan die ander kant laat baie vrae. Regter Cameron noem in sy opiniestuk dat daar tans meer as 2 500 hangende ondersoeke is na kontrakte oor beskermende klere en toerusting en dat baie groot bedrae hier­­aan gekoppel word. Hierdie optrede gebeur in ’n tyd waar meer as 3 miljoen mense hulle werk verloor het. Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) berig in November 2020 dat ongeveer die helfte van Suid-Afrika se arbeidsmag werkloos is. Dit op sy eie sou dramatiese ingrype ge­regverdig het.

LEES OOK: Podsending: Roelf Meyer oor die uitdagings van vredemaak

Die spreekwoord is ook in dié geval waar dat indien jou enigste gereedskapstuk ’n hamer is dan lyk alles voor jou soos ’n spyker. Die volgende syfers spreek vanself. Op die eerste dag van inperking is 55 mense gearresteer en hierdie getal het nou aangegroei tot 342 000. Hierdie hantering het baie wantroue veroorsaak. Die bestaande kultuur van geweld en onregmatige bevoordeling van sekere groeperings veroorsaak al min­der vertroue by diegene wat deur hulle beskerm moet word.
Wanneer gekyk word na die lesse wat na ’n jaar van die pandemie geleer is bied die Elsevier-gesondheidsprogram en ander navorsingsgenote die volgende tien duidelike riglyne:

1. Deursigtigheid is noodsaaklik

In plaas daarvan om na die dokter te luis­ter wat die Chinese owerhede in Wuhan gewaarsku het oor die siekte, is dr Li Wenliang aangehou en stilgemaak op aanklag van die verspreiding van valse gerugte. Hyself is in Februarie 2020 oorlede aan Covid-19-infeksie. Hier­die tragedie beklemtoon die kritieke belang van eerlikheid en deursigtigheid. Modelleringsdata dui daarop dat indien daar selfs enkele dae tevore opgetree sou word, die daaropvolgende verspreiding van die virus dramaties beperk kon word. Die vrees vir ekonomiese en politieke gevolge het egter amp­tenare wat alarm kon maak, stilgemaak en die virus kon eksponensieel versprei.

2. Suksesvolle bekamping hang af van leierskap

Met die erkenning van sy aanvanklike reaksiefoute het China leiding getoon in die aanpak van die Covid-19-epidemie binne sy grense deur streng maatreëls in te stel. Deur middel van ’n kombinasie van wydverspreide toetsing en kontak­opsporing, wetlik toegepaste fisiese (sosiale) distansiemaatreëls, en die gebruik van moderne tegnologieë, het China die verspreiding suksesvol tot stilstand gebring. Ander lande, soos Suid-Korea, het hulle voorbeeld gevolg en was ook relatief suksesvol in die beheer van verspreiding.

3. Die pandemie vra gesamentlike optrede eerder as uiteenlopende en individuele strategieë.

4. “Conspiracy theories” ondermyn die ware feite en effektiewe kommunikasie daaroor.

5. Wêreldwye solidariteit is die enigste manier om die oorlog teen Covid-19 te wen.

6. Aanspreeklikheid is van kritieke belang om vertroue te bou. Diegene wat besluite neem, moet verantwoordbaar wees. Die gegewens, inligting, modelle en die prosesse waarvolgens besluite geneem word asook die rasionaal daar­agter, moet beskikbaar wees.

7. Ekonomiese impak. Alhoewel daarop gefokus word om lewens te red, is ’n ekonomiese ineenstorting ook ’n kata­strofale gesondheidsrisiko. Baie maatskappye het hulle personeel opdrag gegee om van die huis af te werk, maar dit bring baie ander implikasies teweeg.

8. Sosiale impak. Skole, universiteite en selfs kerke is dramaties geraak. Die ma­nier van funksionering word diep ge­raak.

9. Beskerming van voorste linie pro­fes­sionele persone. Diegene wat die grootste risiko loop is diegene wat direk in kontak is met siek mense. Besmette gesondheidswerkers word natuurlik oor­draers aangesien hulle in die gejaag­de werklikheid van noodgevalle nie altyd voldoende fisieke afstand kan be­oefen nie.

10. Versnel die ontwikkeling van ent­stowwe. Dit lyk asof Suid-Afrika van die vermoëns verloor het rakende die ver­vaardiging van entstowwe. Dit is duur en daarmee saam is daar ook omstrede en negatiewe publisiteit deur anti-entstofgroepe wat dikwels ongegron­de eise versprei.

  • Dr Anton Knoetze is predikant in Secunda-Goedehoop en het gedien op die Kommissie vir Taal-, Kultuur- en Godsdiensregte.

Word 'n vriend van Kerkbode