Wat Bonhoeffer ons oor kerkwees te midde van Covid-19 kan leer

Jesus is God-met-ons binne-in hierdie gebroke aarde en God deel nie ons vals drome en beloftes van ewige vooruit­gang, verbetering en selfge­maakte voorspoed ­hierdie kant van die graf nie, skryf GUSTAV MEYER.

Daar word gesê ons leef vir die eerste keer wêreldwyd saam in “oorlogtyd”. Ons gemeenskaplike vyand is die onsigbare Koronavirus wat die hoogs aansteeklike en dodelike Covid-19-pandemie veroorsaak. Die mi­ni­mum gevegstoerusting tot ons be­skikking is gesigmaskers, twee meter af­stand, seep met 70%+ alkohol, inge­grendel/gordel leef en entstof.

Versigtigheid, vrees, onsekerheid, alleenheid en vinnig verlies verwerk, is ons nuwe normale lewe. Die fisiese, finansiële, sielkundige, emosionele en so­siaal-maatskaplike uitdagings, ongelykheid, verdeeldheid en wonde wat hier­die virusoorlog met sy baie golwe uitdeel, neem traumatiese afmetings oor die aarde aan.

LEES OOK: NG predikante kan ook aansoek doen om entstof te ontvang

Stadig maar seker kom ons agter, om net te “lockdown”, onsself in te gordel vir ’n paar weke en dan te probeer te­rug­keer na ’n vorige veiliger, ou norma­le tyd, werk nie. Korona gaan nie gou weggaan nie. Alles het verander. Om dit te ontken is om Korona en Covid-19 nie ernstig op te neem nie of jou op vals nuus te verlaat.

Daarom, wat nou?

Wat daarvan as elkeen in ons unieke sosiale, ekonomiese en religieuse kontekste dit probeer regkry om die verande­ringe wat Covid-19 meebring te begin erken, omarm, op te hou verlang na die “goeie ou dae” (wat dit ookal beteken) en te herbesin, of te “reset”. Miskien sien ons dan selfs ’n nuwe geleentheid of twee raak in dié tyd. Daar is sommige wat al hieroor getuig.

Skryf ’n paar vrae vir jou neer om iewers oor na te dink en probeer dit be­antwoord:

  • Wat beteken menswees en naaste­liefde nou as ek sosiale afstand moet handhaaf sodat ek wie ek is en wat ek het met jou kan deel?
  • Kan kerk of geloofsgemeenskap wees dieselfde beteken as twee jaar gelede?
  • Hoe lyk leierskap nou?
  • Hoe werk ons kreatief vorentoe deur al die onvoorspelbaarheid?
  • Is ons aanpasbaar?
  • Wat beteken geloof in God nou of liewer, wie is Jesus nou vir my of ons?

Ek dink dat Dietrich Bonhoeffer se eie herbesinning ons vandag meer kan help as wat ons mag glo. Bonhoeffer het self deur ’n oorlog (2de Wêreldoorlog) met amper dieselfde eksistensiële vrae geworstel. Nie net geworstel nie, hy was be­reid om sy lewe in die geveg vir antwoorde te verloor.

Waarmee Bonhoeffer ons help, is om Jesus Christus werklik eerlik die middelpunt van ons geloof in God en die gebroke werklikheid te maak. Om Jesus die bril te maak waardeur ons na alles, almal en die werklikheid kyk. Ook die kerk en Covid-19. Soos Johannes, Paulus, Luther, Kierkegaard en Barth ken Bonhoeffer geen ander God as die God wie se naam Jesus is nie. Die menslike God.

God, gebore in ’n krip, geleef in die jaar 0-33, gekruisig onder Pontius Pilatus en liggaamlik uit die dood opgewek. “The God-human,” skryf Bonhoeffer.

Vir Bonhoeffer is Jesus die menslike, gekruisigde en (steeds menslike) opge­sta­ne lewende God hier en nou. In 1940 en in 2021. Jesus deur wie en vir wie alles geskep is en wat alles in die hemel en op die aarde met Homself versoen. God die Vader openbaar in Jesus sy hart en liefde vir ons, maar, en dit is die groot maar, op Golgota ook die goddeloosheid en werklikheid van hierdie wê­reld. As jy wil weet waar God is soek Hom in die werklikheid, op die aarde, in Covid-19-tyd, aan die kruis waar Hy, soos Johannes sê, as ’n son­daar ver­vloek hang. Dit is die skande van die kruis. Nie dat God mens word nie, maar soos ’n goddelose sterf vir goddeloses. En dit maak al die verskil volgens Bonhoeffer, want: In Jesus kom God nie om goeie tye en omstandighede op aarde te verseker nie, maar om sy genade te open­baar binne-in ’n stukkende Covid-19-wêreld. Immanuel, God met ons. Wie ons ookal glo ons is of nie is nie.

Jesus se verlossing beteken vir Bon­hoeffer nie ontsnap, ontkenning of ruil die aarde vir die hemel in nie. Dit beteken ook nie dat jy net bekommerd is oor jou individuele redding, saligheid en of jy eendag “hemel” toe gaan nie. Verlossing beteken ons glo daar is niks wat ons van God se liefde skei nie. Jesus is met ons tot aan die einde. Ook waar mense ly en nie meer glo nie is God teenwoordig. Bonhoeffer stel dit duidelik: Jesus bring God en nie nog ’n godsdiens nie.

LEES OOK: Gebed van ’n woedende man

Jesus bring dus nie ’n nuwe eksklu­siewe heiligheidskultuur of geestelike pro­gram met doelstellings waarmee die gebroke aarde herbou moet word soos in die paradys nie. Jesus help ons veral ook nie om die werklikheid te systap met die soeke na mistieke geestelike ge­voelens en kloosterervarings in geboue of in die natuur nie. Oorlogstyd is nie die tyd vir wegbreek nie.

Jesus is God-met-ons binne-in hierdie gebroke aarde en God deel nie ons vals drome en beloftes van ewige voor­uitgang, verbetering en selfgemaakte voorspoed hierdie kant van die graf nie. Inteendeel, Hy oordeel regverdig oor hierdie idees dat dit gedoem is as leuens.

Vir Bonhoeffer is die koninkryk van God nie ’n volmaakte plek op aarde (soos party dink) waar net moreel voorbeeldige, al hoe meer “heilig”-wordende Christene woon en alle moeilkheid al meer wegraak nie. Die koninkryk van God is veral nie iets wat ons moet “uitbrei” oor die aarde met ’n slagspreuk soos “missionaliteit” nie. Nie as jy hiermee sê: regruk, gemeentegroei/oorle­wing, nog inligting of die fokus op jou laat val nie. Nee!

Bonhoeffer stel dit duidelik as hy “missionaliteit” verduidelik met ’n wekroep aan almal om in Jesus te kom sterf. “When Jesus calls us, He bids us, come and die …” Hoe klink dit vir ’n getuie­nis­uitreik?

Die koninkryk van God is die Heerskappy van Jesus, Hy kom met sy wil en bly betrokke by en in ons sonde, liefdeloosheid, onwilligheid, on­ver­antwoordelikheid en selfsugtigheid. Dit is die Heerskappy van God weggesteek in kragteloosheid, mag­te­loosheid, kwesbaarheid, goddeloosheid, dood en eerlikheid. Aan die kruis heers God en vul Jesus persoonlik ons godverlatenheid met sy teenwoordigheid.

Elkeen is sterflik maar menswaardig. Elkeen. Almal.

In skynbaar godverlate plekke en by wat sommige noem “goddelose” immorele mense is Jesus teenwoordig. Ons hoef niks en niemand self beter te maak nie, ons moet stil bly en hulle na Jesus wys. Hopelik deur ons manier van leef.

Bonhoeffer skryf: “Bearing your cross is the way you overcome your suffering … in the very moment Christ drinks his cup, the suffering passes over Him and becomes the way to communion with Gods grace.”

Covid-19 openbaar nie die gebrokenheid van die wêreld nie, Jesus doen dit aan die kruis. Jesus belowe egter dat ons nie alleen is nie. Hy is hier vir ons as die lewende, steeds menslike God. Tomas kon sy vingers in Jesus se spykerwonde druk na Jesus se opstanding en roep: “Ek glo … help my in my ongeloof!”

As dit is hoe ons in Jesus glo, kan sy teenwoordigheid vir ons op geen ander plek meer sigbaar wees as waar sy kinders in geloofsgemeenskap, in enige vorm, sonder vooroordeel saamkom nie.

By sy woorde, sakramente en wil. In die Liggaam van Christus, die kerk, saam vir ander.

Die kerk is die sigbare openbaring van Jesus se liggaam op aarde. Kerk is nie ’n gebou waarheen jy gaan nie. Geboue kan platgeskiet word of afbrand. Kerk is wie jy in Jesus se naam saam met my is vir ander. Enige ander. Bonhoeffer skryf kerk is “Christ existing as church community … for others.”

LEES OOK: Luister: “Gee jou lewe vir die Here en die wêreld”

Covid-19 kan ’n lens word waardeur ons vandag sien wie Jesus ernstig neem en nie sigbare godsdienstigheid nie. Covid-19 en gepaardgaande ingordelreëls trek vandag finaal ’n streep deur godsdienstigheid. Die probleem met godsdienstigheid is nie net dat jy jou met jou geestelik korrek leef probeer regverdig verklaar nie, maar dat dit jou ’n valse beeld van die werklikheid gee en jou oordeelsfoute laat maak. Godsdiens gebruik Jesus as ’n middel tot ’n doel terwyl Jesus eintlik die Here van die hemel en die aarde is. Sy oordeel tel. Nie goeie of slegte werke en omstandighede nie. Nie my en jou oordeel hieroor in elk geval nie. Godsdienstigheid lees te gou die teenwoordigheid van Jesus af in veral positiewe uiterlikheid soos byvoorbeeld groot groepe mense wat saamkom vir ’n “blessing” (dalk nou met “Teams”), makrokerk, groot begro­tings, voorspoed, vooruitgang, geboue, korrekte dogma en vertoon. En waar is Jesus as jy nie hierdie blokkies meer kan afmerk nie? Net 50 mense saam in ’n erediens, geen regstreekse “stream”-uitsendings, 30 begrafnisse in vier maande, kospakkies, egskeidings en bankrotskap.

Bonhoeffer skryf: “God in his mercy leads us through these times, but above all to Himself.”

Kerk is geloofsgemeenskap met Jesus en met mekaar. Onbevooroordeeld en inklusief. Mense wat by Jesus leer om verantwoordelikheid te aanvaar vir die wêreld omdat Jesus juis hier is en self verantwoordelikheid neem. Ons hoef nie al die antwoorde te hê nie, maar as ons eerlik kerk wil wees vorentoe in die Covid-19-tyd gaan ons almal as volgelinge van Jesus weer moet stil raak voor Hom.

Wie is Jesus vir my? Nie wat doen Jesus en hoe doen Jesus goed nie.

Bonhoeffer het iewers gepreek oor Matteus 3:1. Hy sê: “Repentance, repentance … repentance demands deeds. It means concrete changing of our ways …”

Word 'n vriend van Kerkbode