Nelis Janse van Rensburg

Die eenheid van die kerk

Die kerk was nog altyd ’n plek vol meningsverskil en selfs stryd. Dink maar aan die diepgaande verskille in die Korinte-gemeente met sy Paulus- en Apollos- en Sefas-mense. En moenie die stryd oor die eet van offer­vleis vergeet nie. Hierdie soort stry­de het deur die eeue gelei tot baie pyn en ly­ding. Die weg is al te dikwels opge­gaan na wenners wat alles wil vat en verloorders wat ander tuistes moet vind of maar noodgedwonge diegene wat die mag het se pad moet loop. Dit is nie vreemd dat gelowiges so dink nie, want almal glo hulle is aangestel om die eer van God te beskerm en seker te maak dat sy heiligheid nie gekompromitteer word nie.

Ek het in die afgelope tyd met die oog op my voorbereidings vir pinkster baie gedink oor die heiligheid van God. Ook die heiligheid van God blyk onder meer ’n verhoudingsmatige werklikheid te wees. Wanneer God aan Moses verskyn en vir hom sê om sy skoene uit te trek omdat die grond waarop hy staan heilig is, dan bedoel Hy nie die plek se sand is anders nie. Dit is in die ontmoeting tussen God en mens waar God se heiligheid so werklik is dat dit alles verander, die plek, die gesprek, die verwagtinge, alles. Moet die inwonende werklikheid van Christus in gelowiges se lewe dan nie ook dieselfde effek hê nie? Moet dit dan nie maak dat ons mekaar anders ontmoet, dat ons anders na mekaar kyk, anders met mekaar praat, ander uitkomste verwag van ons ontmoetings met mekaar nie? Is dit nie dalk waarom Paulus sommer van die begin af in sy brief aan die verdeelde Korinte herinner dat hulle in Christus Jesus “geheilig is deur God-geroepe hei­liges, saam met almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here en ons Here …” (1 Kor 1:2; Direkte Vertaling 2014). Is dit dan nie waarom hy eers voordat hy hulle verskille aanspreek, lank verdui­delik dat dit hulle identiteit is dat hulle deur Christus begenadig is en daarom aan Hom behoort nie.

Paulus sê ook dat toe hy na hulle gekom het, hy nie gekom het met verhewe woorde of met wysheid God se geheimenis aan hulle verkondig het nie. Hy wil nie maak of hy die wysheid in pag het nie, sou ons kon sê. Hy het besluit om by hulle niks anders te weet (ειδεναι) nie as Jesus Christus, en Hom as die gekruisigde (1 Kor 2:1-2; Direkte Vertaling 2014). Dit klink vir my of ons die twee begrippe, heiligheid en die ‘weet’ van Jesus Christus hier kan saam lees. Heiligheid is om Jesus Christus, die gekruisigde ‘te weet’ saam met ander mense. Ek dink in elk geval jy beliggaam en praktiseer die heiligheid van Christus deur egte omgee en sorg vir mense, ook vir dié wat van jou verskil. Solank die verbondenheid in Christus, die genade waaruit jy gered is, die roe­ping om heilig te wees, die opgaaf om eensgesind te wees voorop staan, is verskillende menings ’n geleentheid om ’n getuienis te lewer en te bevestig dat die liefde van Christus sterker is as alles. Francis Shaefer sê iewers: “Our relationship with each other is the criterion the world uses to judge whether our message is truthful.” Ons het nou ’n belangrike geleentheid om die egtheid van ons boodskap van Christus se oorwel­digende liefde te toon deur ons verhou­ding met mekaar. Ons verleenthede word mos dikwels God se geleenthede.

Ons sal weer moet kalibreer op Jesus Christus. Ons kan nie aan die een kant almal die gesag van die Skrif verdedig en dan mekaar tot skande probeer maak nie. Ons kan nie God se heiligheid be­skerm op ’n manier wat geen blyke gee dat dit die heilige Een is wat in ons leef en ons verhoudings se aard bepaal nie. Ons kan nie mekaar probeer wegjaag of dreig of afransel of oorwin en dan aan­spraak maak dat ons die eer van die Here in gedagte het nie. As ons nie die waarheid van die evangelie in liefde verkondig nie, doen ons die waarheid leed aan. Gelukkig is daar soveel plekke in die kerk waar ons oor die afgelope tyd daarin kon slaag. Ek hoor en sien die mooiste getuienisse van gelowiges wat van mekaar verskil, maar steeds vir mekaar omgee en sorg. Om op ’n kerklike manier te verskil is immers niks anders as om die liefde van Christus bo alles baie ernstig te neem en met mekaar ’n liefdespad te loop nie. In hierdie dae bid ek dat ons soos Paulus die wysheid sal hê om nie ons gewaande kennis van al God se geheimenisse aan mekaar te probeer opdwing nie. Laat ons wanneer ons van mekaar en met mekaar praat en dalk verskil, sterk wees in ons besef van die krag van die Gees om ons oor grense met mekaar in heilige verhoudings te hou. En mag ons wanneer ons saamdink en besin almal Jesus Chris­tus weet, so dat sy genade sal oorwin.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Ons aanbod aan Suid-Afrika

Die verkiesing is uiteindelik ver­by. Mnr Ra­ma­phosa het sy man­daat gekry om sy hervor­mings deur te voer. Na al die kritiek op die vo­rige ANC-regering is dit geen ge­ringe prestasie nie en moet ons hom ge­lukwens. Suid-Afrika moet nou terugkeer na normaal. Hopelik kan al die pro­teste, stofopskoppery, dreigemente en politieke maneuvers nou einde kry. Hopelik kan ons nou beter regering begin sien, sonder korrupsie, magsmisbruik en swak diens­lewering. Hopelik kan die polariserende verdagmakery in aanloop tot die verkiesing nou plek maak vir ’n gees van versoening en re­spek vir mekaar. Hopelik kan die reg sy gang gaan en skelm mense aan die pen laat ry. Liewe aarde, ons het nou ’n slag orde en vooruitgang nodig! Ons Grond­wet is immers steeds goed. Die meerderheid inwoners is ook steeds goeie mense. Dit lyk egter of ons almal nou intensioneel sal moet begin werk aan ’n nuwe identitiet. Identiteitspo­li­tiek is immers op almal se lippe.

Na die val van die Berlynse muur en die einde van die Koue Oorlog het prof Fran­cis Fukuyama in sy boek, The end of history and the last man, voorspel dat die hele wêreld gedemokratiseer gaan word en totaal sal oorneig na be­de­lings waarin die regte en vryhede van individue voorrang geniet. In daardie tyd hét die aantal demokratiese lande toe inderdaad vermeerder van ongeveer 35 na ver oor die honderd. Die beste voorbeeld hiervan was SA self. Ons Grond­wet skep ’n klas­sieke liberale de­mo­krasie waarin die regte en vryhede van mense ongelooflike waarde het. In sy nuwe boek oor identiteitspolitiek, Iden­tity – Contemporary identity politics and the struggle for recognition, sê prof Fukuyama egter daar het oor die laaste jare ’n besliste wending gekom, met ’n nuwe fokus op identiteit. Hy sê huidige identiteitspolitiek het onder meer te make met die strewe na gelyke erkenning van groepe wat deur hulle gemeenskappe na die kantlyn geskuif is. Die Britte het gevoel dat hulle hulle identiteit binne die Europese Unie verloor het. Donald Trump het die Amerikaners oortuig dat hulle almal help, behalwe hulleself. Hulle gaan ’n slag na hulleself kyk. Ons sien dit in land na land – hoe etniese minderheidspartye skielik nuwe steun kry. Ons sien dit in die wyse waarop mense in die Weste wat oorspronklik uit Moslemlande af­kom­stig was, hulle wend tot die iden­titeit van Islam, nie soseer oor die geloof in Allah nie, maar oor die tuiste van sekerheid wat dit bied.

Die liberale wêreld met al sy regte en vryhede voel na alles vir mense net te onveilig. Hulle moet self net te veel keuses maak. Hulle het net te veel opsies. Daar’s net te min grense. Hulle raak net te onseker. Hulle moet net te veel dink, te veel perspektiewe weeg, te veel slotsomme maak. As hulle aan ’n sterk identiteitsgewende groep behoort, kan hulle die breë besluitneming van die groep volg en vrede vind in die baie ander wat net soos hulle is.

Persoonlik dink ek Google en die nuwe mediawêreld het baie daarmee te doen. Die impak van goed wat elders in die wêreld gebeur – buite my dorp of stad en buite my eie kultuurgroep en bui­te my eie kerk, het mettertyd al gro­ter geword. Ons is almal elke dag daar­aan blootgestel in ons huis – aan ander tale en waardes en oortuigings en ma­nie­re van doen en glo. Die veeltal van invloede en vryhede het oorweldigend geraak – mense soek weer na eie iden­ti­teit. In vele opsigte is dit natuurlik ge­vaarlik – want die beweging van eie iden­­titeit na meerderwaardigheid en magspolitiek was nog altyd in die ge­skie­denis ’n kort tree.

Dit is Paastyd. In die verhaal van die Emmausgangers praat Jesus met die man­ne oor die gebeure van die naweek. Dit is toe Hy hulle laat ontdek dat hulle steeds deel is van God se groot verhaal, van Moses af met die mensdom, en toe hulle snap dat lyding op heerlikheid kan uitloop, toe hulle iets daarvan hulle eie maak – toe klop hulle hart warm.

Die vraag is of die kerk op ’n ander manier as magsvertoon en afsondering van ander ’n identiteit kan hê wat men­se se hart laat warm klop … omdat ons be­sef dat ons deel is van God se groot verhaal en dat lyding gevolg kan word deur heerlikheid. Dalk is ons hart koud omdat ons God se groot storielyn verloor het en nie meer kan sien hoe ons klein stories daar inpas nie? Dalk het ons vergeet op die pad na heerlikheid is daar pyn en ontwrigting en dat pyn en ontwrigting nie die einde van die pad beteken nie, maar juis die toekoms oopbreek. Het ons ’n alternatiewe iden­titeit vir magsvertoon, ge­weld en manipulasie? Glo ons regtig dat ’n iden­titeit van nederigheid en ­diensbaarheid ons hart weer kan laat warm klop? Is dit nie die bydrae van die kerk tot ons land dat dit ’n tuiste kan word vir vredeliewende, dienende men­se wat oop is vir almal, genoeg genade het vir ryk en arm, sterk en swak, swart en wit nie? Is dit nie waarvoor ons moet lewe en ster­we nie, dat ons binne die groot verhaal van die opstanding energie vind en nie in getalle, kragdadigheid, afskeiding, hoog­moed en meer­der­waar­dig­heid nie?

Is dit nie wat ons moet aanbied as Suid-Afrika nou vra na ’n nuwe iden­ti­teit wat sal rus en vrede gee nie.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Die kerk se verhouding met die Moslemgemeenskap

Die lyding van die Moslemgemeenskap in Christchurch as gevolg van die gewelddadige aanval op 15 Maart in ’n moskee, het Christene wêreldwyd en ook vir ons hier plaaslik, diep ontroer. Ons hart gaan uit na die families van diegene wat hulle lewe op so ’n onsinnige wyse verloor het, asook dié wat nog herstel van hulle beserings.

Ons is bewus van ander plekke in die wêreld waar daar ook godsdienstige ekstremiste is wat op gewelddadige maniere ander hulle reg op hulle eie oortuigings en leefwyse ontneem. Ons vriende van die kerk wat destyds deur ons sendelinge in Nigerië geplant is, ly byvoorbeeld al die afgelope jare ernstig onder die brutale aanslae van die sogenaamde Fulani-herders. Ons is nie net sterk gekant teen alle geweld nie, maar ook teen enige persoon of organisasie wat mense hulle waardigheid en vryheid ontneem op grond van vooroordeel, onverdraagsaamheid en etikettering.

In Kaapstad en die Skiereiland leef mense van verskillende godsdienste baie naby aan mekaar. Die Groote Kerk, ons oudste gemeente, is binne loopafstand van die Bo-Kaap. Die geskiedenis van die mense van die Groote Kerk en dié van die Bo-Kaap is op punte nou verweef. Christene en Moslems in die Skiereiland is ook dikwels familielede van mekaar en woon in talle gevalle in dieselfde huis of buurt. Die Groote Kerk speel saam met ander geloofsgemeenskappe ’n groot rol in die handhawing van die respekvolle verhoudings wat daar tussen die onderskeie godsdienste in die Kaap bestaan. Dié respek bestaan ten spyte van die groot verskille tussen die oortuigings van die onderskeie godsdienste. Die NG Kerk in Wes-Kaapland is dankbaar teenoor die Groote Kerk, waarvan lidmate deelgeneem het aan ’n nagwaak wat gehou is by die Anglikaanse katedraal in Kaapstad na die Christchurch-tragedie. Binne die konteks van die Groote Kerk, maar ook van ons land, was dit ’n belangrike gebaar.

As kerk verstaan ons dat God in sy groot genade vir alle mense lief is en dat alle mense se lyding Hom diep raak. Ons verstaan ook dat die God waarin ons glo die Vader en Skepper van alles en almal is. Hierdie belydenis hef nie die diepgaande verskille tussen ons op nie, maar dit dui op ons menslike verbondenheid aan mekaar en dus ons verantwoordelikheid om mekaar te beskerm. In tye waarin mense mekaar doodmaak oor hulle godsdienstige en ideologiese verskille moet ons mekaar juis nou daaraan herinner dat ons aan God verantwoordbaar is wat ons almal geskape het en ons in vrede wil sien saamleef. As Christene is ons verbind aan Jesus Christus as Verlosser en Redder. Maar dit is juis in navolging van hierdie Christus dat ons die waardigheid van God se mense erken en met hulle in vrede saamleef.

In navolging van Christus reik ons ook uit na ons naaste in nood, ongeag die persoon se agtergrond, oortuigings, ekonomiese vermoë of watter eienskappe ookal. S het Jesus ons geleer. Sy vertelling van die verhaal oor die Barmhartige Samaritaan dui immers sterk op die werklikheid dat jy in tye van nood en bedreiging kan ontdek dat andersdenkendes jou naaste geword het. Ons het groot respek vir ons Moslem- en Joodse vriende en dié van ander godsdienste. Ons het oor die jare uitstekende verhoudings gehandhaaf en dien saam in godsdienstige forums wat onder meer die belange van die godsdiensgemeenskappe by die staat verteenwoordig. Ons is ondubbelsinnig en onvoorwaardelik verbind tot die beskerming van hulle Godgegewe menswaardigheid.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Lidmaatdaling: Die vreeslike moontlikhede van ondersoek

Die NG Kerk word in die openbare media bespreek. In die koerante word gepraat oor ons getalle. In Prontuit, praat Kabous met haar gaste oor die NG en VG Kerk en die kerk in die algemeen se rol in die samelewing. Rubriek- en briefskrywers vul die kolomme met kommentaar oor die NG Kerk. Ds Tienie verbeeld NG dominees en die kerk se wor­ste­ling met die evangelie en menslike voorkeure en dwang. Die NG Kerk is sowaar tans ’n gewilde onderwerp. Ek dink natuurlik dit is ’n goeie ding dat ons so bespreek en besnuffel word. Ek kan my immers net een erger ding voorstel … dat die kerk in die media doodgeswyg word. Dit sou tog kon beteken dat die kerk so mak gemaak is dat ons irrelevant geraak het, weglaatbaar en verswygbaar.

Die vraag is egter of ons vir die regte redes die koe­rant- en fliekmense se aandag trek. Is dit dalk omdat ons gehonger en dors het na geregtigheid? Of is dit omdat ons radikale afhanklikheid van God ons vreem­de goed laat sien en doen het? Of is dit omdat ons so roekeloos gehoorsaam was aan die evangelie dat ons die wêreld met sy vreemde oordele geskok het? Of is dit omdat ons verstaan dat ons ín-Christus-wees die verdelings tussen mense so te bowe gegaan het dat daar nie meer Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie – dat ons in Christus anderkant die na­tuur­like skeidings tussen mense ons identiteit as ge­lo­wiges gevind het? Dit sou wonderlik wees as die koeran­te geskrik het vir die kerk se kontra-kulturele im­pak – so dat ons mense met nuwe oë na ons laat kyk, na die perd van ’n ander kleur as die skuifelende massa wat gedwee die roetes van menslike voorkeure, verdeeldheid en gemak verkies.

Dan wonder ek of die berigte oor die dalende getalle van die NG Kerk die soort nuus is waarmee ek die kerk in die koerant of op TV sou wou laat kom. ’n Mens se eerste reaksie is natuurlik om nee te sê. Dis slegte nuus. Dit is ’n verleentheid. Jou tweede reaksie is om te verdedig en te sê dit is redelik verklaarbaar. Daar is duisende van ons lidmate landuit. Die bevolkings­aanwas en die migrasie van lidmate … dit is maar eintlik ’n natuurlike ding. Niemand hoef eintlik daaroor so ’n groot bohaai te maak nie.

’n Verdere reaksie kan egter ook wees om die aannames wat verskuil is agter die koerantnuus van die dalende getalle te ondersoek. Is die aanname dalk dat die kerk groot mόét wees om ’n groot verskil te maak? Of is die aanname dalk dat die Christelike geloof aan die kwyn is? Is die aanname dus dat as die getalle daal, die invloed van die kerk daarmee saam ook daal? En as dit hierdie aanname is wat maak dat die koerante die nuus op die lamppale geplak het, wat is dan ’n gepaste reaksie op dié nuus?

Mý reaksie word bepaal deur die geloofsaanname dat die krag van die kerk nie geleë is in sy getalle of in die bedrae geld wat dit insamel nie. My aanname is ook dat in die koninkryk van God klein dikwels groot is en groot, klein. Ek werk met die veronderstelling dat God vir Hom ’n kerk uitroep uit die wêreld en hulle, dié uitgeroepenes, dan gebruik waar en soos Hý wil. Daarom het ek intuïtief ’n vreemde verwagting dat hier iets wonderlik aan die gebeur is. Die storielyn wat hier aan die ontwikkel is, is dalk dié van ’n instansie wat om allerhande redes sterk gevoel het, en toe moes ontdek dat hy sterker is as wat hy altyd gedink het, omdat hy nie meer sy krag in homself vind nie, maar in die Een wat hom gevorm het en geroep het tot ­diens. Om een of ander rede voel ek baie tuis in ’n kerk wat nie in homself roem nie, maar in sy vreemde identiteit in Christus. Dit voel vir my meer soos die ware kerk. Die ware kerk is immers mense wat deur God vrygemaak is tot volgelinge van Christus. Dit is ’n gemeenskap van mense wat hulle broosheid verstaan, hulle menslike oordele weer en weer laat vaar, hulle gelykgebreekheid voor God om­arm, hulle afhanklikheid voortdurend beoefen, hulle gestuurdheid ernstig neem, hulle verbondenheid aan mekaar ’n leefwyse maak, en geregtigheid en sorg as nuwe natuur internaliseer.

Die ondersoek na verskuilde aannames bring ’n mens altyd by vreeslike moontlikhede. Sê nou maar die bevolkingsaanwas was steeds vier kinders per blan­ke gesin. Of sê nou maar die land se ekonomie het jaarliks met 5% gegroei. En sê nou maar hier was daarom werk vir almal en ons getalle het om al dié redes gegroei of staties gebly? En sê nou maar dit het by ons ’n illusie geskep dat dit daarom goed gaan met die kerk? Sê nou maar dit het ons minder afhanklik laat voel van God en meer selfversekerd en minder broos en meer verwaand en minder gesteld op ons vreemde identiteit en meer gelykvormig aan die wêreld en min­der kontra-kultureel en meer konformerend aan die voorkeure van mense? En sê nou maar dit het ons meer laat voel soos bewakers van ons waarheid en min­der as soekers na God se waarheid?

Dit ís goed dat die koerante ons dophou en oor ons skryf. Al skryf hulle met aannames vreemd aan die kerk. Dit sal hopelik maak dat ons ons eie voorver­onderstellings ondersoek oor God en sy roeping vir sy kerk en sy verwagting van ’n gemeenskap wat so vreemd is dat ons selfs kan bruis van opwinding terwyl ons getalle daal. Mag die kerk so na sy eie aard leef dat daar nog flieks gemaak word en die koerante nog baie oor ons skryf.

▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Ook middelgrondmense se stem sal tel

Die verkiesing is op hande. Dit sien jy oral om jou. En jy hoor oral hoe mense stemme werf. Elke stem sal tel, sê hulle. En elke partyleier is oortuig dat hy of sy die perfekte oplossing het vir Suid-Afrika. Aansprake word gemaak en beloftes word kwistig uitgedeel. Maar dié, nou bekende, verkiesingsrituele het iewers hulle fut verloor in die sleurgang van korrupsie en vergryp. Dit is moeilik om van voor af te glo.

Vertroue in die toekoms was sedert 1994 nog nooit so laag nie. Dit sien jy in die breindrein van gekwalifiseerde mense wat Suid-Afrika verlaat. Jy sien dit in die lae en brose waarde van die Rand. Jy sien dit in die tallose versetoptogte teen swak dienslewering. Ons mense is moedeloos, sonder hoop en kwaad. Daarom maak die wonderlike verkiesingsbeloftes mense nie meer soos voorheen grootoog van verwondering en vooruitsig nie. Die waarheid is immers dat daar nie werk is vir almal nie. Die waarheid is dat misdaad nie onder beheer is nie. Die waarheid is ook dat disrespek en vernedering op die voorgrond staan van die Suid-Afrikaanse emosionele landskap.

Daarom is dit krimineel om in tye soos hierdie ras­se­spanning aan te wakker ter wille daarvan om goedkoop politieke punte aan te teken. Dit is krimineel om ons-julle scenarios te skep waarmee die ekonomiese breuklyne van Suid-Afrika oopgedwing word. Dis ui­ters onverantwoordelik om halwe waarhede oor politieke opponente te verkoop ter wille daarvan om jou eie swak argumente te versterk en aan jou angs kastige rasionaliteit te verleen.

Ons het ongelukkig ekstremiste in Suid-Afrika wat ten koste van vrede en die waarheid emosies opsweep. Hulle gebruik vrees om mense te ontwrig en vervreem en te verhoed om ’n konstruktiewe bydrae te maak tot ons toekoms. Hulle wurg die laaste lewe uit die reënboogdroom.

Daar is gelukkig ook ander waarhede in Suid-Afrika wat nie so negatief is nie. Die middelgrond van welwillende mense hou nog. Die stil massa van mense wat respek het vir mekaar en graag die son oor almal wil sien skyn, is steeds by verre die meerderheid. Onder hierdie goeie mense tel diegene wat reg en geregtigheid najaag, gehoorsaam is aan die wette van die land, daagliks ver reis om hard te werk en ’n inkomste te verdien, toegewyde studente, getroue amptenare, eerlike besigheidsmense, noodlenigers, mense wat materieel, finansieel en fisiek bydra om arm mense by te staan, werkskeppers, getroue belastingbetalers, mense wie se eenvoudige werkie hulle trots is, mense met respek vir openbare eiendom, vredemakers, uitreikers, brugbouers. In die middelgrond leef daar miljoene mense wat vir hulle naaste deur die vuur sal loop en dit ook dikwels doen. Hierdie mense is nie sinies nie. Hulle is ook nog nie fatalisties nie. Hulle het redes waarom hulle glo dat hulle moet aanhou om die goeie te doen en om vrede en liefde te beliggaam. Hulle steek grense oor na ander. Hulle hou aan vergewe. Hulle bou op, versterk ander se geloof in môre, praat positief, sien die goeie raak, maak emosionele wins uit die welwillendheid van ander en bemoedig waar daar nood is.

Hulle tree op die voorgrond wanneer droogtes hulle tol eis, wanneer brande eiendom wil vat, wanneer hitte die aarde wil verswelg, wanneer ramp en ongeluk hulle diep etse wil maak. Hulle haal selde die nuus terwyl hulle heldhaftig in die middelgrond leef. Terwyl ander veroordeel en skaad, weier hulle om hulle oor te gee aan die slagting van karakters en die venyn van lekkerkry oor ander se leed. Hulle glo nie in die reël van boontjie kry sy loontjie nie. Hulle glo in genade. Wat ek het, is net geleen.

Hulle beveg die verleiding van mag. Hulle bly dien. Hulle roem nie in hulle eie krag nie. Hulle verstaan be­voorregting. Hulle verstaan die menswaardigheid van alle mense. Hulle verstaan dat elke mens ’n sagte droom het en ’n smagting na vrede. Hulle verstaan dat mense seer het. Hulle bedink ander se stories. Hulle plaas hulleself in ander se skoene. Hulle snap vinnig waarom mense raas en skree. Hulle is sensitief vir die storie agter die storie. Hulle hoor die sugte van bedruktes. Hulle vat aan die siekes. Hulle huil saam, troos, bemoedig, en lag en juig saam met dié wat genade ontvang.

Hierdie middelgrondmense is die ware helde. Hulle is die geloofwaardige getuies van deurgronde oortui­ging en gelouterde geloof. Hulle is die massa wat in Suid-Afrika die rede en die liefde gaan laat seëvier, wat uiteindelik gaan verseker dat hierdie land onder die Suiderkruis soos ’n skip met gespande seile gaan klief deur elke bedreiging van magsmisbruik en verval.

Hierdie mense stem, elke dag, gaan elke jaar 365 keer stembus toe met hulle toewyding aan die toekoms. Elkeen se stem tel, elke keer. Elke stem dra by tot die oorwinning wat uiteindelik vir hierdie nasie bestem is. Hierdie stemvolk kom uit elke stam, taal en oord. Hulle breek deur elke grens na die middelgrond van geloof, hoop en liefde. Hulle is diepsinnig geïnspireer. Dit klink of hulle God se stem gehoor het, dit lyk of hulle gesien het, dit voel of hulle gevoel het wat God vir sy mense bedoel het.
Jou stem gaan tel.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Wie ore het om te hoor

Mark Zuckerberg se Facebook, Google se YouTube, Steve Jobs se iPhone en Jan Koum se WhatsApp het die wêreld van gister in die niet laat verdwyn. In een oomblik kan jy nou jouself laat hoor reg oor die wêreld. En met een beweging van jou wysvinger kan jy kies om te hoor wat ander sê. En die generasie wat in hierdie era grootword, leef in die hede. Oor die verlede Google ons as dit nodig is. Oor die toekoms leer ons scenario’s verstaan en bestudeer ons patrone … die weer, bevolkingsaanwas, ekonomie. Maar vandag is eintlik dominant. Maar om dίt te weet is ook ou nuus.

Ek onthou toe tafelrekenaars in die tagtigerjare nuut was. Jy moes toe nog met die ou MS Dos-programme werk. Ek het net geweet hier kom ’n nuwe era. Hoe gouer ek leer werk met rekenaars, hoe beter. Ek is net te jonk. As ek nie hierdie era betree nie, gaan ek op die kantlyn van die samelewing beland.

Ons is reeds in die era van digitale kommunikasie. Hoewel Kerkbode elke 14 dae verskyn, het ons ook nou ’n digitale weergawe. Ons kan nou vinniger nuus breek en lang tydspanne verkort met vars inligting. Sinodale nuusbriewe wat weekliks verskyn, speel ’n belangrike rol om nuus te deel. Maar dié tydspan van ’n week, raak in die digitale era baie lank.

Maar laat daar by niemand enige illusie wees nie. Ten spyte van talle blitsige kommunikasiemediums is kwaliteit kommunikasie tussen mense en goeie verhoudings nie hiermee gewaarborg nie. Inteendeel, huwelike verbrokkel meer en meer, ouer-kind-verhou­dings is toenemend onder druk en sosialisering in gemeenskappe het op baie plekke ’n laagtepunt bereik. Emosionele kommunikasie tussen mense, en dus intimiteit, word nie noodwendig deur digitale kommunikasie bevorder nie. Dit is juis in die bevordering van deernis en intimiteit wat die kerk moet uitblink, sou ’n mens wil sê. Die oog tot oog en hand tot hand deel van harte en omgee is immers liefde in aksie soos Jesus ons geleer het. Natuurlik!

Die feit dat digitale kommunikasie nie grense eer­biedig nie en mense kan bereik waar hulle is, bied egter ook opwindende moontlikhede. Dat jy as gelowige aktief kan saamleef binne die kultuur van die tyd, is eie aan ons gereformeerde aard. In hierdie wêreld woon ons. Dis ’n vinnige wêreld. Dit is ook ’n klipharde wêreld. Dink maar aan facebook, hoe hard en verne­derend die gesprekke daar kan wees. Dis daar waar ons sout en lig moet wees. Die kerk moet in beide modusse kan funksioneer. In die deernisvolle wêreld en in die vinnige wêreld. Dit kan versoen word met mekaar. Dis nie ’n teenstrydigheid nie. Dis moontlik, maar veral vir mense wat outentiek omgee en volgelinge is van Christus. Wie ore het om te hoor, moet hoor.

Ons gaan as kerk in 2019 die digitale era met meer doelgerigtheid moet betree. Anders gaan ons in die dekades wat kom meer en meer geïsoleerd raak. Dit gaan egter ons deernis en omgee toets. Die een ding wat die kerk immers in die digitale era sal laat uitstaan is die warmte en deernis tussen sy lede. Hoe ons dit gaan leef met Instagram, Twitter en wat ookal kom, is die vraag.

Ons is aan Neels Jackson baie dank verskuldig. Hy het oor die afgelope jare nie net daarin geslaag om die nuwe elektroniese Kerkbode baie effektief in die geloofsgemeenskap en wêreld te laat praat nie. Hy het ook van Kerkbode ’n tuiste gemaak van die beste stories van deernis en diensbaarheid. Honderde stories is in Kerkbode gedeel wat iets vertel het van die wyse waarop gelowiges ander se lewe verryk en verruim. Neels het ook die Kerkbode benut om die mees intense gesprekke in die kerk van die afgelope jare daarin te laat gebeur. Die strekking daarvan was soms fel en verdelend, ’n weerspieëling van die werklikheid in die kerk. Die koerant was ook vol inligting en artikels wat veel van die diepe nadenke oor geloofsake in ons kerk aan die orde gestel en verklank het. Ons kan ons amper nie ’n sinode indink sonder Neels se teenwoordigheid nie. Ek sê dankie aan Neels wat as joernalis, met ’n diepgaande kennis van die teologie, groot bydraes gelewer het. My gebed is dat die aftrede wat wag vir hom en Louise ’n wonderlike nuwe era sal inlui van nuwe ervarings van God se goedheid en trou.

Aan die einde van die jaar is my gebed vir elke lidmaat dat die liefde en vrede waarvan Kersfees getuig, regtig elkeen se lewe diepgaande en omvattend sal verryk. Mag dié Kerstyd ’n tyd wees waarin ons ons hart opnuut kalibreer op die hart van Christus, die Here.

▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Etiese leierskap

As daar al ooit ’n tyd was vir ’n toegespitste fokus op etiese leierskap, dan is dit nou. Laat ek dadelik sê, ek is nie ’n kenner van die teorie van etiese leierskap nie. Ek het nie baie boeke daaroor gelees nie en ook nie baie lesings daaroor bygewoon nie. Ek voel net intuïtief aan dat ons nou ons eie kerklike praktyke moet deurskou en seker maak dat die gewoontes van die kerk aan die hoogste etiese stan­daarde voldoen.

Ek het dit dus nié hier oor die regeringslui se moraliteit nie. Dit gaan nie hier oor Cyril Ramphosa wat vir Bathabile Dlamini en Malusi Gigaba in sy kabinet aanhou en Ace Magashule wat ’n Pierneef vir een van die werknemers gegee het nie. Ek het dit oor die moraliteit van mense soos ekself en lede van diensrade en moderamens en leraars en kerkraadslede reg deur die kerk.

In die afgelope tyd is die NG Kerk deur baie beskuldig van onetiese leierskap. In Jean Oosthuizen se boek oor die NG Kerk maak hy sterk afwysende opmer­kings oor ons etiek. Ook Chris Jones het onlangs in die Afrikaanse pers omvattende bewerings gemaak oor die etiek van NG leiers. Uit die geledere van die 12 persone wat die NG Kerk hof toe geneem het oor die selfdegeslag-kwessie het daar kritiek gekom oor die moraliteit van ons werkswyses die afgelope drie jaar. Een van ons dosente het by die Woordfees op Stellenbosch beweer dat die kerk geen moraliteit oor het nie. Sy het haar uitspraak veral vanuit ’n menswaardigheidshoek gemaak. Agterdog oor ons etiek is al op bykans elke forum geopper. Dit is ook vir my sleg om te rapporteer dat daar van ons susterskerke uitgesproke is daaroor dat hulle ons nie vertrou nie.

Nou is my aanvoeling dat etiese leiers nie mag weghardloop van kritiek nie, ook nie hulle kritici probeer diskrediteer nie, nie uit ’n posisie van morele hoë grond die onderhawige kwessies alleen probeer beoordeel nie, dus nie speler en skeidsregter probeer wees nie, maar erns maak met kritiek en wantroue. Maar die antwoord lê waarskynlik nie net daarin dat elkeen wat vrae het se vrae beantwoord word nie. Die kerk sal op ’n positiewe manier die wantroue in hom moet aanpak. Dan is die vraag: Wat maak dat mense of ’n groep of ’n kerk vertrouenswaardig is? Die antwoord lê myns insiens in sterk etiese leierskap.

Etiese leiers is immers mense wat ruimtes skep waarbinne mense veilig voel om kritiek te lewer en vrae te vra en aan te dring op antwoorde wat sin maak. Die FBI-direkteur, James Comey, wat deur Donald Trump in die pad gesteek is, skryf in sy boek, A higher loyalty: “Ethical leadership is about … building workplaces where standards are high and fear is low. Those are the kind of cultures where people will feel comfortable speaking the truth to others as they seek excellence in themselves and the people around them.”

Etiese leiers plaas ook ’n eindelose premie op openheid en deursigtigheid. Hulle doen verslag oor alles wat hulle doen. Hulle steek niks weg nie. Hulle nooi mense in in hulle gesprekke. Hulle werk nie agter toe deure met geslote agendas nie. Hulle lei deur deelnemende prosesse in plaas van gewaande gesag. Hulle praat oor mense in hulle teenwoordigheid. ’n Vriend van my wat ’n betroubare kenner is oor etiese leierskap, sê dat bekwaamheid ’n verdere belangrike eienskap is van etiese leiers. Hulle is goed in wat hulle doen en veral goed met die hantering van mense. En dan, sê hy, is etiese leiers mense met integriteit. Daar is konsekwent ’n verband tussen wat hulle sê en wat hulle doen. Jy weet wat om van hulle te verwag. Die laaste eienskap wat my vriend noem, is dié van welwillendheid. Etiese leiers maak ’n positiewe verskil in die gemeenskappe waar hulle werk en hulle teenwoordigheid gee aan mense hoop.

Etiese leiers is myns insiens ook bewus van die verleiding van sekerheid. Wanneer leiers nooit verkeerd is nie, nooit hulle eie oordele bevraagteken nie, nooit van mening kan verander nie, nooit kan toegee dat hulle voortydig ’n beslissing gemaak het nie, is hulle net gevaarlike instandhouers van hulle ego’s. Daarom is leerbaarheid ’n waarde waarop ons ’n hoë premie moet plaas.

Die NG Kerk sal goed doen om homself ’n slag te onderwerp aan ’n kwalitatiewe oudit van sy moraliteit. Dit sal in die eerste plek moet gaan oor sy intermenslike gedrag soos sy praktyke van werwing, uitdiens­stelling, personeelbestuur, vergoeding, benutting van menslike hulpbronne en sake wat sy interne verhou­dings raak. Bestuurspraktyke sal deeglik onder die soeklig geplaas moet word. Besluitnemingsprosesse, mandate van kommissies en die uitsluiting van belang­hebbendes by prosesse sal gedissekteer moet word. Maar dit is veral die heersende waardes wat in elke hoekie van die kerk ondersoek moet word. Hoeveel rassisme is daar, vooroordele teenoor vroue, miskenning van kinders, minagting van die ekologiese krisis waarin ons ons bevind?

Die Hoof van die kerk was gehoorsaam tot in die dood. Sy oortuigings en waardes was gekalibreer op die hartklop van God. Ons sal ons skale weer moet kalibreer. Fyn, met versigtigheid, sodat mense weer gewoond daaraan sal raak dat hulle by ons net die volle waarheid kry.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Die kerk se gesprek oor seksualiteit

Die veelbesproke aansoek van die 11 lidmate by die hooggeregshof in Pretoria om die NG Kerk se 2016-besluit oor selfdegeslagverhou­dings ter syde te stel, is op 22 Augustus aangehoor.

Die hele aanloop tot die hofsaak en die dag in die hof was om baie redes vir my ’n slegte en ontwrigtende ervaring. Regsargumente en teologiese gesprekke is twee modusse van besinning wat nie waterdig van mekaar geskei kan word nie, maar beslis ook nie met dieselfde rasionale werk nie. Die hof is daarom beslis nie die plek waar daar oor komplekse teologiese kwessies uitsluitsel verkry moet word nie. Oor die moontlike uitkomste van die saak kan ons maar net spekuleer.

Die verdeeldheid in die kerk oor die kern van die kwessie is diepgaande. Daarom het die Algemene Sinode ook in twee opeenvolgende sinodes twee teen­oorstaande standpunte ingeneem. Dit sal ons sekerlik nie baat om oor al die tegniese argumente en oorwe­gings verder te stry nie. Selfs die gesprek oor die konsti­tusionele houdbaarheid van die standpunt van die NG Kerk help ons nie. Ons moet eenvoudig binne die kerk met mekaar ooreenkom oor die hantering van die diversiteit van standpunte.

Ons verdeeldheid verteenwoordig twee strome van denke oor hermeneutiek, oor etiek en oor die navol­ging van Christus. Dat daar al vantevore oor verskillende kwessies in die geskiedenis van die NG Kerk meervoudige strome van denke was en steeds is, is ’n feit. Trouens, ons identiteit as kerk is dat ons ’n soort hibriede teologie omarm het.

Aan die een kant is daar naamlik die sogenaamde “evangeliesgesinde benadering” of Murray/Hofmeyer-tradisie, en aan die ander kant die meer “rasionele” of “Neo-Calvinistiese” benadering. Die twee tradisies loop soos die twee spore van ’n treinspoor langs mekaar om een baan te vorm. Dié akkommodering van mekaar se denke en oortuigings het ons kerklike lewe buitengewoon verryk.

Selfdegeslagverhoudings word klaarblyklik bedink vanuit hoofsaaklik twee strome van denke oor Skrif­verstaan. Die toekoms lê in die vashou van mekaar, die balans wat gevind word. Die voortgesette interaktiewe gesprek sal die kerk se vashou aan Christus en aan die Skrif én aan diensbaarheid aan die gemarginaliseerdes van die samelewing dien en kan ons op ’n trajek plaas wat buitengewone koninkrykswins bied.

Die getuienis van die kerk hang ook saam met hoe gelowiges hulle onderskeie verskille hanteer. Dit was immers vanaf die eerste gemeentes se bestaan so dat hulle diepgaande van mekaar verskil het. Christus verwag nie van ons om oor alles saam te stem nie, maar wel om verdraagsaam teenoor mekaar te wees (1 Kor 8). Ons het nou genoeg gehad van etikettering en verdagmakery.

My eie denke oor selfdegeslagverbintenisse lê in ’n ander stroom as wat uitdrukking gevind het in die 2016-besluit. Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie. Hulle is net so deel van God se skepping soos heteroseksuele mense. Ek is ook oortuig dat sonde gemeet moet word aan hoe ons leef, en nie aan ons seksuele oriëntasie nie. Sonde is onder meer wanneer ’n daad of ’n aksie iemand anders benadeel, skade aandoen, seermaak, uitbuit, misbruik en dus mens­waardigheid aantas.

Vir homoseksuele mense om te floreer, moet hulle seksualiteit myns insiens gelykwaardig aan heteroseksualiteit beskou word. Dieselfde standaarde en waardes met betrekking tot leer en lewe moet vir alle persone geld, ongeag hulle seksuele oriëntasie.

Ek het oneindige respek vir die kerk. Die kerk is immers die liggaam van Christus, sy bruid. Ek gaan nie die kerk verneder of verlaat omdat die Algemene Sinode anders as my denke oor selfdegeslagverhou­dings besluit het nie. Inteendeel, ek het oor die afge­lo­pe twee jaar alles binne my vermoë gedoen om die kerk te beskerm teen mense se argwaan en onverantwoordelike veroordeling.

Ek dink nie die mense wat van my verskil oor self­degeslagverhoudings is op een of ander wyse sleg nie. Hulle is my broers en susters en ek ken hulle en is lief vir hulle. Daar is egter ook talle gelowiges binne die NG Kerk wat soos ek dink. Die vraag is nie of ons die meerderheid is nie. Die vraag is of ons bona fide binne die belydenis van die kerk oor die gesag van die Skrif en as dissipels van Jesus hierdie standpunt kan handhaaf.

’n Aantal kerkrade het dieselfde soort standpunt as ek ingeneem. Talle ander gelowiges, soos ek, hoop dat ons in die toekoms met ’n stewige teologie van diversiteit, kan ruimte maak vir mense wat só dink. Dit sal lewenshoop bied aan baie gay gelowiges, en baie ouers en broers en susters en familielede van gay gelowiges wat tans voel hulle is in ’n doodloopstraat. Maar dit sal ook aan baie van ons wat net pastors en medegelowi­ges is, opsies bied om gay mense te bedien met ’n teo­logie van onvoorwaardelike insluiting.

Die antwoord lê nie in dwang en eendersdenkendheid nie, maar in Christelike verdraagsaamheid jeens mekaar. Die eenheid tussen ons lê in Christus se liefde en trou, sy doop, sy roeping. Laat ons dan met liefde en waardigheid na mekaar se belange omsien en mekaar dien sodat ons waardige getuies kan wees van sy liefde.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Al­ge­mene Sinodale Moderamen.

Die diakonaat van saamleef

Die amp van die diaken is oor die afgelope aantal dekades afgewater tot geldopnemers ty­dens eredienste en uitdelers van die tekens by die nagmaal. Dit strook natuurlik glad nie met die belofte wat diakens aflê by hulle ampsaanvaarding nie. “Julle moet die materiële en geestelike nood van mense fyn aanvoel en daadwerklik help,” staan geskryf in Vir die erediens – ’n handleiding (2007). Daar is nie integri­teit in ’n bedeling waar een ding beloof word en ’n ander verwag word nie.

Die situasie beteken natuurlik nie noodwendig dat diens van barmhartigheid nie in ons gemeentes ernstig opgeneem word nie. Inteendeel, daar is nie ’n gemeente waar daar nie projekte en uitreike en insame­lings gedoen word vir minderbevoorregte mense nie. Maar daar is baie gemeentes wat selfs nie eens meer diakens het nie.

Daar is skrale troos daarin te vind dat hierdie verskynsels wêreldwyd aan die orde van die dag is. Die wêreldkerk word dus nou uitgedaag om nuut te dink oor die amp van diaken, maar ook onderliggend oor die diakonaat van gemeentes.

Voeg hierby die wêreldwye verskynsel dat kerke en gemeentes al meer hulle professionele welsynsdienste deur nie-regeringsorganisasies laat doen het. Hierdie werk is mettertyd uitgebrei om statutêre welsynswerk in te sluit. Die staat het gevolglik vir baie van die werk van die kerklike welsynsorganisasies die hoofborg geword.

Uiteindelik het daar ’n onhoudbare afstand ontstaan tussen die werk van diakens, gemeentes se diens van barmhartigheid en die organisasies van die kerk wat ge­stig is met die oog op die lewering van barmhartigheids- en welsynsdienste.

Voeg hierby die missionale beweging in die kerk en dit word duidelik dat ’n wesenlike herbesinning nodig is oor die amp van die diaken en die barmhartigheids­werk (diakonaat) van gemeentes. Die vraag moet dus gevra word na die betekenis van missionale diakonaat.

Die drie streke in Europa van die Lutherse Wêreldfederasie het besluit om met die oog op die viering van die Reformasie in 2017 ’n besinning te doen oor gemeenskapsdiakonaat. In ’n 2014-vorderingsverslag gee hulle dan die raamwerk van wat bekend sou word as die “conviviality process”. “Conviviality” is in hierdie denke die kuns en praktyk van saamleef. Tradisioneel het ons die roepingsvraag gevra in ’n nou verhouding tot wat ons het. Ons sou dan byvoorbeeld bid: “Here, U het ons geseën met baie gawes uit u hand. Waarheen of na wie stuur U ons?”

Ons roeping het daarom ten nouste saamgehang met ons kapasiteit, of in ander woorde, ons mag. Dit was nie sleg bedoel nie en dit het derduisende mense laat eet en leef. Ons het in die proses bepaalde vaardig­hede ontwikkel. Ons fokus was veral op volhoubare ont­wikkeling. Ons het uitstekend gevaar met die ont­wik­keling van programme en omvangryke dienste.

Die resultate van hierdie benadering móét, waar die behoeftes voortbestaan, in stand gehou word. Ons werk daarom ook tans, saam met ander kerke, aan ’n nuwe memorandum van verstandhouding tussen die gods­diensgemeenskap en die staat om op nuwe vindingryke maniere ondersteuning aan hierdie dienste te bied.

Ons sal egter ook fundamenteel nuut oor ons gemeentediakonaat moet dink. Diakonaat kan nie meer alleen verstaan word as ’n beweging waarin die kerk of individue beskikbare kapasiteit weeg en dan oorweeg en afweeg wat daarvan aan ander beskikbaar gestel kan word nie.

Dit kan nie langer verstaan word as diegene wat het wat gee aan diegene wat nie het nie. Dit moet eerder verstaan word as ’n intensionele teenwoordigheid tussen lydende mense omdat God intensioneel by hulle is. Ingeneem in sy verhouding met lydendes, kan on­derskeiding daag en kan ons dien en bedien word.

Ons kan dus in die verhouding en in die saamleef met lydendes iets van Christus se teenwoordigheid beleef, en dan ook sigbaar maak. Dié saamleef is dus ’n gedeelde saamleef met Christus én met lydende men­se. Dié saamleef wek ’n sin van broosheid, van gelyk­making, sodat die motief nie meer gee is nie, maar die ontvangs van ’n diep sin vir geregtigheid en ’n Godge­gewe mede-menswaardigheid met die lydendes.

Die uitkoms van diakonaat skuif gevolglik met hier­die benadering van ’n roeping tot volhoubare ont­wik­keling na ’n roeping vir volhoubare gemeenskap. Hierdie benadering het radikale betekenis vir die amp van diaken.

Diakens kan dan die mense wees wat die nood van die wêreld persoonlik aanvoel. Hulle kan die saamleef-mense in elke gemeente wees. Hulle kan die nood en die lyding van mense fyn aanvoel en dienend die ge­regtigheid van God en die menswaardigheid van die mense as opgaaf van God in ontvangs neem. Hulle kan die nood van die wêreld voortdurend onder die ouder­linge en gemeente se aandag bring. ’n Kerkraad sou dan om geen rede sonder diakens wil wees nie.

Daar is ’n spreekwoord wat sê die teenoorgestelde van armoede is nie rykdom nie, maar geregtigheid. Ander sê die teenoorgestelde van armoede is gemeenskap. Hiervoor sal ons nuwe vaardighede móét aanleer en die gee-en-gee-gewoontes as outomatiese terugval-posisie, sonder intensionele saamleef, móét afleer.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen van die NG Kerk.

Jesus het in Afrika gebly

Jesus Christus het in Afrika gebly. Trouens, daar is navorsers van sy geboortegeskiedenis wat meen dat Hy tot so lank as die eerste twee jaar van sy lewe op ons kontinent opgegroei het.

Een van die eerste Christenbekeerlinge was uit Afrika: ’n Ethiopiër op ’n wa. Hy het die Pasga in Jerusalem gaan bywoon. Hy kom in Ethiopië terug, splinternuut, gedoop, vrygemaak en met die Goeie Nuus van die koninkryk sy hart en lewe vol.

Dit is nie die eerste Ethiopiër van wie ons in die Bybel lees nie. Vroeër was die land as Kus bekend. Moses het sy broer en suster omgekrap toe hy met ’n vrou uit Kus trou, diep uit Afrika.

Of die Ethiopiër die vlam van geloof in dié land aangesteek het, sal ons seker nooit weet nie. Ons lees wel in Irenaeus van Lyon se geskrifte dat “Simon Backos” in 180 nC die evangelie in Ethiopië verkondig het en gepreek het oor God wat vlees geword het “soos vroeër aan julle almal verkondig is”.

Laat ons ook nooit vergeet dat Augustinus, die groot kerkvader, die biskop van Hippo Regius in die 4de eeuse Noord-Afrika was nie.

Die koms van Jan van Riebeeck in 1652 en die bring van die evangelie na Afrika via die Suide, is dus ’n laat, maar belangrike toevoeging tot die groeiproses van die koninkryk en kerk op ons kontinent.

Vandag is Afrika getallegewys een van die grootste groeipunte van die Christelike geloof. Die sentrum hiervan is egter nie in Suid-Afrika nie. Elders op hierdie kontinent gryp mense die Goeie Nuus aan en wy hulle hulle volledig aan Jesus toe.

Maar die verstaan van die evangelie het verander. Goddank, want baie kolonialiste se verwagtinge het slegs oor die hemel gegaan, oor redding en die ewige lewe. En die lewe van gehoorsaamheid wat moes volg het gegaan oor morele kodes, oor opheffing tot aanvaarbare Europese standaarde, oor gebruike (kultuur) en vaardighede wat die mense bruikbaar gemaak het. Die kolonialiste het immers ingekom agter Afrika se rykdomme aan.

So staan ek onlangs by die massagrafte in Kigali, in Rwanda, waar meer as 250 000 mense se oorblyfsels begrawe is. In 1994 is ’n miljoen Tutsi’s in Rwanda deur Hutu’s vermoor.

Die ergste is dat die Hutu’s en Tutsi’s nie twee verskillende etniese groepe was nie. Hulle het saam geleef tot die koloniale regerings hulle op klassebasis begin indeel het. As jy 10 of meer beeste besit het, is jy as ’n Hutu gereken. As jy armer was, was jy ’n Tutsi.

En toe in 1933 stel die koloniale Belgiese regering ’n ID-kaart in waarop aangedui word of jy ’n Tutsi of
’n Hutu is. Dié klasseverskil is deur koloniale regerings en kerke gedryf. Dit is aangehits tot ’n ideologiese monster, wat op 6 April 1994 en die 100 dae daarna homself sou wreek. ’n Letsel is op die lyf van Afrika gekap wat nog ’n eeu sal neem om onder die vel te verdwyn.

Al lyk Rwanda vandag mooi, al bestaan die Hutu-Tutsi-verdeling nie meer nie, al is dit vandag die skoonste land in Afrika, al is die inwoners trots op die nuwe Rwanda, al werk die Rwandese hard, lê die pyn vlak en het die klank van weeklag en broosheid ’n sagte ondertoon geword in elke hart en huis en werkplek. Sag, maar onmiskenbaar en pynlik.

Daarom was die tema van die pas afgelope vyfjaarlikse vergadering van die All Africa Conference of Churches (AACC) in Kigali “The Journey Leading to Respecting the Dignity and God’s Image in Every Human Being”.

Na 2 018 jaar weet ons die oproep tot bekering en geloof in Jesus Christus het ook alles te doen met hiérdie lewe, met ánders kyk na mense, met diens­baarheid aan ander, respek, omarming, waarde­toevoeging tot mekaar se lewe, omgee, luister, brûe bou, met praat met die mees onwaarskynlike mense in die gemeenskap, met die afbreek van mure, met die afbreek van aannames oor ander, met die ruimte maak vir die verskeidenhede van menswees, met die deel van jou middele, met die salwing van ander se wonde, met die wegdoen van kulturele dwang, met uitreik na ander, met sorg, met gemeenskap met Christus en mekaar, oor grense. Dié evangelie het alles te doen met die heling van wonde en die herstel van mense se eer.

Ek het in Kigali gestaan en gedink oor Suid-Afrika en geweet ons het hierdie evangelie nou bitter nodig. Die ideologiese klassestryd wat tans in ons land aangevuur word, is buitengewoon gevaarlik. Ons wonde van vroeër is nog oop. Ons móét nou kies vir die regte evangelie. Die Jesus van die stal, vlugteling, vreemdeling, is reg vir Afrika.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Gelowiges is pastorale mense

Dit is so dat ’n mens se wêreldbeeld ’n reuse-invloed op jou totale funksionering het. Die eenvoudigste van baie teorieë hieroor, is dat daar drie groot wêreldbeelde is waarbinne almal hulleself bevind.

Mense met ’n Westerse wêreldbeeld leef met ’n idee dat God vir ons ’n algemene aanduiding gegee het van reg en verkeerd. As jy nie aan hierdie reg voldoen nie, is jy skuldig en moet jy gestraf word. Skuldig voel, skuld wat bely word, skuld wat betaal moet word – dít is die Westerse ding. Geregtigheid teenoor ander en die reg van elke individu is ook tipiese begrippe wat by mense met hierdie wêreld-beeld voorkom. Jou identiteit hang af van hoe jy korrek leef en die Godgegewe reëls gehoorsaam.

Die Oosterse wêreldbeeld werk nie soseer met reg en verkeerd nie, maar met eer en skande. Die toets is of dit wat jy doen die eer van die gemeenskap verdien en eer toevoeg aan die gemeenskap en of dit ’n skande in die gemeenskap is en die gemeenskap se eer tot nadeel strek. Jou identiteit hang af van jou posisie van eer of skande in die gemeenskap.

Hierdie denksisteem het al, soos die ander, tot baie misbruike gelei. Ons sien maar net te gereeld hoe mense hulle mag misbruik en mense onteer ter wille van die gemeenskap se sogenaamde eer.

In Afrika is die operasionele wêreldbeeld vrees en mag. In die tradisionele Afrika-wêreldbeeld is daar baie meer aktiewe agente in die wêreld teenwoordig as wat met die oog gesien kan word. Daar is onder meer voorvaders en die geeste, die tokkelos en boosheid wat oral skuil.

Al hierdie kragte het vir eeue die moraliteit van Afrika se mense gedomineer. Siekte is onder andere aan boosheid toegeskryf. Aanvalle van hierdie kragte is met mag en geweld bestry. Wat reg is, is nie gehoorsaamheid aan ’n stel reëls nie, maar om die geeste en kragte te ken en met hulle rekening te hou. En mag is belangrik – want jy het die mag nodig om jou en jou mense teen die onsigbare kragte te beskerm.

Groot dele van die Bybel werk nie met ’n Westerse verstaan van reg en verkeerd, en dus skuld nie, maar met eer en skande. Die Bybel het immers sy ontstaan in die Midde-Ooste. Luister byvoorbeeld na Jesaja 54:1-8: “Jubel, onvrugbare vrou, jy wat geen kinders in die wêreld gebring het nie, jubel en juig, jy wat geen geboortepyne geken het nie, want jy, verstote vrou, gaan nou meer kinders hê as een wat getroud is, sê die Here. Maak groter die plek vir jou tent, maak breër jou tentdoeke, moenie suinig daarmee werk nie. Maak langer die tentlyne en slaan die tentpenne dieper in, want jy sal na alle kante toe uitbrei; jou nageslag sal nasies verdryf en in die stede wat nou verwoes is, gaan woon. Moenie bang wees nie, jy sal nie weer in die skande kom nie, moenie so verleë daar staan nie, jy sal nie weer verneder word nie. Jy sal die skande uit jou jong dae vergeet en nie meer dink hoe jy verneder is toe jy ’n weduwee was nie. Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word die God van die hele wêreld genoem.”

God se verhouding met mense gaan dus dikwels om die herstel van hulle eer. Hy tree met hulle in ’n persoonlike verhouding om hulle posisie van skande te deurbreek. Die hele reinheid- en offerstelsel gee uitdrukking aan die eer-en-skande-konsep van destyds. As jy onrein is, word jy buite die gemeenskap geplaas. Jesus se bediening word daarteenoor gekenmerk deur die wyse waarop Hy randfigure se skande deurbreek deur aan hulle te vat en by hulle aan huis te gaan en hulle deel te maak van ’n nuwe soort gemeenskap waarin dieper onderskei word as om net reg of verkeerd of geëer of tot skande gemaak te word.

In Suid-Afrika het ons by verreweg die meerderheid van landsburgers ’n vermenging van hierdie denksisteme. Ons politieke verlede het mense baie sensitief gemaak vir eer en skande. Mense sukkel nog na die 300 jaar van kolonialisme en apartheid om hulle eer te herwin.

Die Ashwin Willemse-voorval het dit so duidelik laat blyk. Die ander kommentators was klaarblyklik nie rassisties nie. Maar die eergevoel van Willemse is deur hulle aandrang dat hy moet praat – sommige sê hy was nie so goed voorberei nie – op die spel geplaas.

Of dalk was dit ’n verwysing na “kwotaspelers” met die veronderstelling dat hulle nie so baie het om op trots te wees nie, wat hom ontstel het. As jy net uit ’n reg-verkeerd-perspektief kyk na sy optrede, was Willemse verkeerd. Maar met ’n eer-en-skande-besef, verstaan ’n mens meer van sy optrede. Eergevoeligheid is immers nie net ’n saak van reg en verkeerd nie.

Gelowiges is pastorale mense. Ons behoort onsself in mense wat skrynerig is oor hulle eer se skoene te plaas. Ons behoort soos God gedoen het met die onvrugbare vrou, en met die volk, onsself in die naaste moontlike verhouding met hulle te plaas, en hulle eer te herstel. Dalk is dit die mees missionale ding wat ons kan doen, om mense se eer te herstel en hulle van skande te red. En daar is geen beter manier as insluiting nie, by ons, in die binne-gemeenskap.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Kommissie.

Grondhervorming – die morele oorwegings

Terwyl die debat oor grondhervorming nou in intensiteit toeneem, is daar morele oorwegings wat sterk in ag geneem moet word.

Daar kan geen twyfel wees dat grond op ’n onbillike wyse tussen die rassegroepe van Suid-Afrika verdeel is nie. Die Naturellen Grondwet (wet nr 27 van 1913) en die Naturelletrust en -grondwet (wet nr 18 van 1936) het grondbesit deur Khoisan- en swartmense verhoed, gereguleer of beperk.

Maar lank voor die Uniewording in 1910 was daar reeds verskeie wette en regulasies wat witmense be­voordeel het met die oog op grondbesit. Uit ’n etiese hoek gesien, moet billikheid en geregtigheid vir almal nagejaag word. Dat grondhervorming moet geskied, is dus nie te betwyfel nie.

Die NG Kerk is reeds sedert 2002 by gesprekke oor grondhervorming betrokke.

Daar is die hele kwessie van huiseienaarskap, dikwels van huise wat deur die staat gebou is waarvan die eienaarskap na geslagte nog nie na die inwoners oorgedra is nie. 

Daar is die kwessie van stamgronde en meentgronde. Daar is sogenaamde trustgronde. Dan is daar residensiële gebiede wat dikwels so beperkend is dat die bevolkingsdigtheid in woonbuurte onbehoorlik hoog is.

Ook verblyfreg is ’n reuse-kwessie. Tydens ’n konferensie wat die NG Kerk in 2017 saam met die Instituut vir Geregtigheid en Versoening oor titelaktes aangebied het, is die beveiliging van verblyfreg deur sommige konferensiegangers as die belangrikste grondkwessie beskou.

Staatsgrond soos die kusstrook, natuurreservate en bergagtige gebiede beslaan ook miljoene hektare. 

Dan is daar natuurlik die groot kwessie van landbougrond en die wyse waarop die eienaarskap daarvan nie die aansprake van die swart bevolking bevredig nie.

Die gebrek aan ’n behoorlike grondoudit veroorsaak natuurlik dat mense die vryheid het om baie ongenuanseerd oor grondhervorming te praat.

Die tweede etiese riglyn wat die kerk dus moet gee, is dat dit nie eerlik is om ongenuanseerd oor grondhervorming te praat nie.

Die kerk het ook ’n morele plig om te waarsku teen die vernietiging van die voedselsekuriteit in ons land. 

Voeg hierby ons verantwoordelikheid om te verhoed dat mense op nuwe maniere van hulle grond en eiendom beroof word. Individue wat op bona fide wyse hulle grond bekom het, kan nie maar sonder meer verantwoordelik gehou word vir die ideologiese vergrype van vroeëre geslagte nie. 

Artikel 25 van die Grondwet plaas ’n reuse-verantwoordelikheid op die agenda van die regering en die staatsdiens. Die rekord van die regering sedert 1996 in terme van grondhervorming laat, om die minste te sê, veel te wense oor.

Baie plase is vervreem en lê tans in onbruik. Suksesvolle boerderye is in die proses vernietig. Nuwe swart boere is nie gehelp om besitters van grond te word nie en kon daarom nie finansiering bekom vir hulle boerdery nie. Landbou-voorligtingsdienste van die staat het op plekke in duie gestort. Korrupsie het groot dele van begrotings vir grondhervorming inge­sluk.

Die probleem is dus nie die Grondwet nie, maar die regering se onvermoë om op ’n ordelike wyse grondhervorming deur te voer. Die kerk moet hieroor protesteer.

Die gebrek aan visie by die staat om landbou-organisasies soos AgriSA se potensiële bydrae tot grondhervorming na waarde te skat, help beslis ook nie. Die kerk moet ook bly getuig oor die onbenutte bronne van die privaatsektor en burgerlike samelewing.

Die fundamentele vraag is natuurlik of privaat besit van landbougrond hoegenaamd in Afrika aanvaarbaar is. Met die uitsondering van Suid-Afrika, Namibië, dele van Botswana en dele van Zambië, word geen private grondbesit in Afrika toegelaat nie. Alle grond behoort aan die staat en word deur middel van ooreenkomste aan boere verhuur of deur stamowerhede bestuur. Geen oordrag van titelaktes na privaat besitters vind plaas nie.

Die vraag is dan of die staat daarmee vertrou kan word om hierdie reuse-bestuursproses te behartig. Die ekonomiese uitdaging wat ’n globale markekonomie bied, is ook dat die sekuriteit van privaat grondbesit een van die belangrikste vereistes is vir buitelandse ekonomiese investering. 

Die moderamen van die Algemene Sinode neem tans deel aan gesprekke oor grondhervorming en gaan ook ’n voorlegging doen aan die parlementêre komitee wat nou oor Artikel 25 van die Grondwet besin.

Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Wat sê ons oor evangelisasie?

Daar het ’n groot stilte in die kerk neergedaal oor evangelisasie. Dit is asof niemand in die kerk meer wil praat oor mense se bekering tot die Christelike geloof nie. En as daar tog ge­dwonge gesprekke hieroor gevoer word, hoor jy onmis­ken­baar die onsekerheid wat daarmee gepaard gaan.

Voorheen het bykans elke kerkraad ’n kommissie vir evangelisasie gehad. Sinodes het predikantposte geskep met die oog op die evangelisasiewerk van die kerk. Programme is ontwikkel en is wyd en syd in die kerk gebruik om mense toe te rus met die oog op evan­gelisasie. Dit is immers geag as een van die be­langrikste funksies van die kerk, dat mense gehelp word om vir Jesus te aanvaar as Verlosser en Saligma­ker.

Die pad tot oorgawe is in drie, vier of vyf stappe afgetel. As jy net met oortuiging jou naam kon inskryf in Johannes 3:16, was alles reg. Dikwels is die afgryse van die ewige verdoemenis benut om goedgelowige mense te oortuig dat jou geloof in Jesus bely moet word. Draai of braai.

Sonder enige formele besluit, is hierdie strategieë laat vaar. Dis asof die kerk net gesamentlik tot die be­sef gekom het dat die evangelie op ander maniere aan mense gebring moet word. Die rigiede “ons wat glo”-, en “julle wat nie soos ons glo nie”-scenario het verkrummel. Die teikenontvangers van die evangelie het immers oneindig divers geword. Daar is die ateïste en die agnostici, daar is dié wat kerklos en kerkvervreemd is, daar is dié wat sukkel om geloof en wetenskap te versoen, daar is die gesekulariseerdes en dié wat aggressief hulle ongeloof bely. Daar is ook dié wat glo, maar nie altyd die tradisionele formulerings van die geloof omarm nie. Daar is ook dié wat die voorvaders deel gemaak het van hulle geloofsouvre. En natuurlik is daar die Moslems en Hindoes, die Boeddhiste en die Jode.

Intussen het die kerk ’n missionale teologie omarm en die vraag is nou wat die betekenis daarvan vir evan­gelisasie is. Kan ons nog in ’n pluralistiese wêreld waarin daar soveel respek betoon word aan mense se oortuigings en kulture, enige vorm van beïnvloeding na ’n “beter” stel geloofsaannames propageer of beoefen? Dit is die een vraag wat beantwoord moet word. Maar die teenvraag is of ’n kerk wat regtig omgee vir mense nog kerk is as dit nie die geloofsoortuigings daar­van aan ander oordra met die doel om hulle te oortuig nie?

Myns insiens is die Bybel baie direk in sy opdrag om die evangelie te verkondig en alle mense bewus te maak en deel te maak van die beweging van Christus in die wêreld. Die vraag is dus eerder “hoe” dit gedoen moet word. En dit is die antwoord op hierdie vraag wat ons onseker laat klink.

Die antwoord lê nie in stappe nie, maar eerder op drie vlakke. Ons moet eerstens die inhoud van die Evangelies, die logos, goed verstaan. Hy nooi ons in in ’n alternatiewe lewe. Dis die koninkrykslewe waar­van Hy so baie praat in sy preke en gelykenisse en waarvan sy wonders sulke helder verduidelikings is. Dis nie ’n moralistiese regulering nie, maar ’n bestaan van af­hank­likheid, deernis, sagmoedigheid, reinheid van hart, barmhartigheid, honger en dors na gereg­tig­heid, vrede en selfloosheid (Matt 5:3-12). Dit is nie net ’n fiksasie op die ewige lewe nie, maar ’n konink­ryks­lewe as voorspel tot die ewige koninkryk. Die vraag is dus: Waartoe moet mense volgens ons hulle bekeer? Wat is die Goeie Nuus? Hieroor moet ons hel­derheid hê. Die antwoord gaan klaarblyklik om meer as ’n klomp oortuigings. Dit gaan ook om ’n alternatiewe lewe.

Die tweede vlak waarop ons sal moet fokus as ons dink oor evangelisasie is ons patos vir diegene wat bui­te of op die drumpel van die geloofsgemeenskap leef. Ons begrip en respek vir ander se kontekste, oor­tui­gings en gewoontes mag deurslaggewend wees in ons omgang met hulle. Ons opregte betrokkenheid by die nood van mense, of dit nou hulle armoede, siek­tes, of vrese is, of wat ook al, gaan waarskynlik meer sê van die liefde van God as enigiets anders.

Die vraag is dus: Hoe skep ons ruimtes waarbinne ons deernis en omgee mense kan oortuig van die Goeie Nuus?

Laastens is ons eie etos van deurslag­ge­wende be­lang. Die integriteit van ons toewyding aan die leef van die Goeie Nuus is krities vir ons oortui­gingskrag. Die vraag is dus: Hoe beliggaam ons dit? Hieroor moet ons bid en dink en eerlik wees voor God.

Daar is ’n belangrike wederkerige wisselwerking tussen logos, patos en etos nodig om te oortuig. Terwyl ons oor ons missionale teologie diep nadink, sal ons weer moet dink oor die uitkoms wat ons wil bereik met ons getuienis na buite. ’n Windstilte in die groei van die kerk getuig van ’n diep gebrek aan begrip vir ons ware roeping om die goeie nuus met omgee en geloofwaardigheid te leef en te verkondig. Nu­we geloofsgewoontes is dalk nodig om ’n nuwe be­wus­syn van ons gestuurdheid te kweek.

Ons het meer werk as wat ons dalk besef.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Nou lê die harde werk voor

Die verkiesing van ’n nuwe ANC-president was hopelik ’n keerpunt in die politieke ge­skie­denis van Suid-Afrika van die afgelope de­kades. Mnr Cyril Ramaphosa se verkiesing in Desember 2017 as ANC-leier het geweldige verwagtinge ontketen en by baie hoop gebring dat ons kan terugkeer na die paaie van nasionale eenheid en versoe­ning, van ekonomiese groei en werkskepping.

En toe volg daar die lang wag op president Zuma se bedanking. Nou is dit alles geskiedenis. Die direksie van Eskom is vervang, die staatsrede is gelewer. Die begrotingsrede is gelewer. Die kabinet is herskik. Die Guptas en hulle vriende word gesoek.

Nou lê die harde werk voor. En dis hier waar die vraag ontstaan waar die kerk se verantwoordelikheid lê. Oor die afgelope jare het die kerk die grootste moont­like morele druk op die regering geplaas om met integriteit te regeer. Daar is saam gebid en gewerk en vir ’n nuwe morele bedeling beding. Maar nou moet ons waarskynlik ons strategie verander. Ons moet krities bly en moreel rigting aandui. Maar ons sal ook moet moue oprol en daadwerklik ’n verskil maak.

Die NG Kerk lewer jaarliks deur sy diensorganisasies welsynsdienste aan ver meer as ’n miljoen Suid-Afri­kaners. Daar word uitstekende werk gedoen. Ons gemeentes doen ongelooflik baie om diens te lewer en nood te verlig. En dan praat ons nie eens van al die diens­werk en hulp wat verleen word deur lidmate waar­van niemand boekhou nie.

Maar in ’n gesprek vandeesweek met Theo Maye­kiso van die Zwane Presbyterian Church in Gugule­thu, vertel hy my dat hy dink die NG Kerk hou die sleu­tel tot die ontsluiting van baie van die uitdagings van ons land. Die verrassing is egter dat hy nie dink dit is in wat ons kan gee wat die oplossings lê nie, maar veral in wat ons kan leer.

Hy twyfel nie aan ons goedgesindheid nie. Hy twy­fel ook nie aan ons goeie bedoelinge met al ons aksies nie. Hy twyfel aan ons insig in die lewe van die swartmense van Suid-Afrika.

Toe ek hom daarop nooi om met ons gemeente te kom praat oor swartmense se lewenstyl en verwag­tinge, wys hy die uitnodiging dadelik van die hand. Want, sê hy, ons sal moet verhoudings bou, egte verhoudings, vriendskappe wat sal lei tot diepgaande begrip en insig. Wat daarna sal volg, is eintlik nie nou be­langrik om te weet nie. Die Here sal daarvandaan die pad verder uitwys.

Die moderamen het vroeër ’n aantal gesprekke geïni­sieer met politieke partye en met die Khulumani Support Group. Laasgenoemde groep van oor die 100 000 mense soek nog herstel van hulle apartheid­skade. Hulle is goed georganiseer en het takke dwars­oor Suid-Afrika.

Ons het verlede jaar met hulle ’n buitengewone geestelike ervaring gedeel toe ons na mekaar se ver­hale geluister het. Tien mense van Khulumani en 10 van die NG Kerk het op ’n baie persoonlike vlak aan mekaar blootstelling gehad. Die Here het ons almal diep aangeraak en ons insig in mekaar se lewe is vir altyd verander. En hulle wou niks van ons hê nie. Die onlangse gesprek tussen ons en die EFF se dagbestuur was net so insiggewend. Ons voorsiende oplossings vir ons land verskil radikaal, maar hulle kon leer dat ons nie ’n klomp wit rassiste is nie en ons kon leer dat hulle, soos ons, diepgaande geloofsverbintenisse het. Hulle bid ook, hulle is ook bewus van hulle verantwoordbaarheid teenoor God.

Ons kon onder meer met hulle praat oor ons kommer oor die plaasaanvalle. Ons kon waarsku teen die impak van leiers se uitsprake oor die verwydering van boere op mense wat dit as aanmoediging beleef om land­bouers en hulle werkers met geweld van plase te verwyder. Hulle kon met ons praat oor hulle voort­gaan­de gevoel van uitsluiting uit baie sfere in die samelewing.

Die NG Kerk is uitstekend geposisioneer om ’n ka­talisator te wees vir versoening en vrede. Terloops, wit­mense is in baie gevalle baie meer veroordelend teen­oor die NG Kerk as swartmense. Kollega Tewie Pie­ters vertel die mees aangrypende verhale van die rol wat die NG Kerk in Coligny speel na afloop van die rassekrisis wat in Mei 2017 daar ontstaan het.

In Kleinmond het frustrasie in die gemeenskap net so oorgekook. Weereens het die NG Kerk ’n leidende rol gespeel om die gemeenskap te dien en tot vrede te lei. Dieselfde het gebeur met die kampusonrus vroeër onder meer in Pretoria, Bloemfontein en Stellen­bosch. Leraars en lidmate van die NG Kerk was daar om die vrede te help herstel.

Ons kan egter nie telkens wag vir ’n krisis om ons te herinner aan ons getuienis oor die vrede van Christus nie. Gelukkig is daar talle gemeentes in ons land wie se getuienis die uitreiking na medegelowiges van andersoortige gemeenskappe as hulle eie, insluit. Dit is nou die tyd om die gapings tussen mense te vul met Christelike liefde en welwillendheid.

Ons ekumeniese reisgenote is ons natuurlike vennote in ons getuienis oor die transformerende krag van Christus wat storms kan stilmaak en nuwe lewe kan gee. Wat nou nodig is, is die inspirasie van die Gees wat leiers na vore laat tree om die gapings tussen mense te vul met nuwe drome. Pres Ramaphosa kan nie alleen die land genees nie. Ons sal die verhou­dings­werk in elke uithoekie van die land moet help doen.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Die koninkryk van God in 2018

Die koninkryk van God, of die koninkryk van die hemel soos Matteus dit noem, is myns insiens een van die belangrikste temas van die Evangelies. Die oudste Evangelie, Markus, begin sommer in hoofstuk 1:15 met die woorde: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo in die evangelie (goeie nuus).”

Jesus se Bergpreek handel hoofsaaklik oor die lewe in die koninkryk van die hemel. Hy leer onder meer die mense om te bid: “Laat u koninkryk kom, laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” In die gelykenisse wat Jesus vertel, gaan dit dan ook oor die lewe in die koninkryk. Hy gebruik praktiese voorbeelde uit sý lewenswêreld om die koninkryk te verduidelik. Die koninkryk is soos ’n skat in die saailand, ’n mosterdsaadjie, suurdeeg … In die koninkryk gaan dit soos met ’n handelaar wat op soek is na goeie pêrels.

Dit is opvallend dat Jesus nooit sê dat mense die koninkryk kan laat aanbreek nie. Net God kan dit doen. Mense kan die koninkryk slegs ontvang soos kindertjies, hulle kan die geheime van die koninkryk ken, hulle kan dit verkondig, hulle kan dit binnegaan.

Van die begin af was dit moeilik, ten spyte van al dié praktiese toeligting, om die koninkryk te verstaan. Die mense met wie Jesus hieroor in gesprek tree het ander koninkryksagendas gehad.

Die Sadduseërs was priesters. Die hoëpriester was ’n Sadduseër. Jesus tree in stryd met die Sadduseërs wanneer hy verduidelik dat die koninkryk se aanbreek nie te danke sal wees aan die mag of gravitas van die kerk nie.

Die Fariseërs weer, was ’n groep wetsgehoorsame Jode, wat ontstaan het in die tyd van die Makkabeërs toe die Griekse leiers die Hellenistiese godsdiens en kultuur op Israel wou afdwing. Jesus tree in stryd met die Fariseërs wat die begrip koninkryk direk assosieer met politieke mag. Vir die Skrifgeleerdes is sy koninkryk ook vreemd omdat ’n wettiese moraliteit nie daarmee versoenbaar is nie. Anders as die Esseners, wat hulle afgeskei het van die wêreld, leer Jesus dat die koninkryk tussen hulle is. Hulle moet dit net raaksien, ontvang, binnegaan, verkondig.

Maar hoe? Dalk is Jesus se openingswoorde in sy Bergpreek een van sy belangrikste aanduidings van die hoe. “Gelukkig is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

En dié wat treur en die sagmoediges, en dié wat honger en dors na wat reg is en dié wat barmhartig is, en rein van hart is. Hulle is gelyke ontvangers/besitters van die koninkryk. O ja, en dan is daar dié wat hulle ego’s en eiebelang ondergeskik stel aan wat reg is, wat die vreemde koninkryk besit. En diegene wat nie popu­liste is nie, nie publieke opinie eerste stel nie, omdat hulle gefokus is op die ewige lewe.

2018 lê voor ons. Hoe sal eietydse, praktiese gelykenisse oor die koninkryk vandag klink? Daar was ’n man wat ’n app (toep) ontwikkel het wat mense gewaarsku het wanneer hulle die heeltyd oor hulleself praat … Daar was ’n baie slim vrou wat haar kennis en geleerdheid in diens gestel het van die armes … In ’n klein dorpie was daar ’n kategeseskool waar die kinders geleer is van geregtigheid vir alle mense, gay mense, arm mense, persone met gestremdhede … Daar was ’n gemeenskappie van gelowiges wat dit gewaag het om die armste mense van hulle dorp in te sluit by hulle geloofsfamilie … Eendag was daar ’n groep mense wat saam Bybelstudie gedoen het en besluit het om vir vigs­wesies by die hospitaal van kos te voorsien … Op ’n dag het die verbeelding van die Gees mense geïnspireer om oor alle grense heen uit te reik na die rykste mense van die gemeenskap …

Mag ons in 2018 miljoene kere die koninkryk in ontvangs neem.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Onthullings

Die een publikasie na die ander onthul die stand van morele verval in die staatsdiens van Suid-Afrika. Die bekendste hiervan is The President’s keepers van Jacques Pauw. Selfs mense in die regering is verras, maar nie heeltemal verbaas oor wat die boek onthul nie. So is daar ook die boek van Pieter-Louis Myburgh, The Republic of Gupta: A story of state capture, openbarend van ’n patologiese sug na meer en meer geld en mag en vryheid om die staat te beroof.

Die gevolge van leierskap wat nie gefokus is op die beste belange van die land nie, word gesien in die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom, Prasa, die SAUK, staats­departemente soos Sosiale Ontwikkeling en talle ander.

Die gebrek aan morele leierskap kring uit tot in die verste uithoeke van die samelewing. Verskeie sosiale euwels soos die hoë moordsyfer, insluitende plaas­moor­de, misdaad, gesondheidskrisisse, waaronder die Esidimeni-gesondheidsramp, MIV/Vigs-ramp, tuber­kulosesterftes en malariabesmetting is byna die direkte gevolge van leierskap wat nie meer verantwoordbaar­heid opeis nie. Omdat die leiers nie meer self ver­­ant­woordbaar wil en kan wees nie. Dissipline is immers die grondreël vir staatsdienste se goeie funksione­ring.

Die onthullings in dié boeke dui op ’n grootskaalse verval in morele, administratiewe en finansiële dissi­pli­ne. Telkens word sogenaamde nuwe beleide ont­werp om ’n antwoord te bied op die krisis waarin ons ingelei is.

Die nuutste is die vernietiging van sogenaamde “white monopoly capital”. Die meeste mense in Suid-Afrika sal saamstem dat diegene wat oor die kapitaal van ons land beskik, verteenwoordigend moet wees van die totale bevolking van Suid-Afrika. Gelukkig is daar reeds groot verbetering in die verspreiding van rykdom in die land. Maar retoriek wat maar net ’n gemeenskaplike vyand probeer vind om interne proble­me mee te verdoesel, los niks op nie.

Daar is ’n ander gemene deler in al hierdie beleide: sentralisering en staatsbeheer. Ons sien dit nou weer in die voorgestelde nuwe skolewet. Ons sien dit ook in die feit dat die staat landbougrond koop, maar dit ­nooit oordra aan nuwe eienaars nie. Dit bly in staatsbesit. Ons sien dit in beleide waarin die samewerking tussen publieke en privaat instellings getermineer is in onderwys, gesondheidsorg, welsynsdienste, die ver­skaf­fing van energie en op vele meer terreine. Daar­teen­oor is konsultasie, samewerking en ooreenkomste tus­sen die staat en dienswilliges in die beste belang van Suid-Afrika.

Ons het nou nuwe politieke leiers nodig wie se morele kompas ’n ware Noord gevind het en beleid uitdink waarmee alle Suid-Afrikaners se belange gedien word. Die armes s’n en die rykes s’n, die voorheen be­na­deeldes s’n en dié wat tans werk verskaf en voedsel produseer.

Hierdie politieke leiers het dan die steun van die breë massa welwillende Suid-Afrikaners nodig wat nie net in eie belang optree nie, maar dit ook goed bedoel met mense van ander oortuigings, kulturele gewoon­tes, tale en geloofsoortuigings. Dis mense wat bekommerd is oor al Suid-Afrika se kinders, al ons land se vroue, al ons land se siek mense, almal se toegang tot die ekonomie, almal se geleerdheid.

Die NG Kerk posisioneer ons binne hierdie groep van welwillende mense wat in ’n versoende verhou­ding met ander leef, wat geregtigheid vir mekaar najaag, wat sorg dra vir vreemdelinge se welstand, wat goeie onderwys vir alle kinders beding, wat alle kin­ders wil skoolgereed maak, wat aan honderde duisende men­se wat nie lidmate van die kerk is nie, maatskaplike dienste lewer, wat hande vat met NRO’s en plaaslike regerings teen geweld en verval.

Frans Cronje skryf in sy boek ’n Tydsreisigersgids vir Suid-Afrika in 2030, dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se navorsing in 2016 aan­gedui het dat die groep welwillende mense in Suid-Afri­ka by verre die meerderheid is en dat rassisme glad nie so ’n groot faktor is as wat politici wil voorgee nie.

Die NG Kerk doen baie van ons publieke getuienis deur die SA Raad van Kerke (SARK). Die SARK se South Africa We Pray For-veldtog fokus op vyf aksies: genesing en versoening, armoede en ongelykheid, eko­nomiese transformasie, die herstel van familie­ban­de en die ankering van ons land se demokrasie.

In die komende jaar gaan daar onder leiding van die SARK uitgebreide konsultasies plaasvind waarin re­­geringslui, nie-regeringsorganisasies en kerke betrek word om op al hierdie terreine beleid te vorm wat ge­skoei is op gesonde morele grondbeginsels. Die kerk moet in die lig van die reuse morele vakuum in Suid-Afrika, nou leiding gee. Die vertroue in politici en ander rolspelers is nou net te laag.

Die grootste onthulling van alle tye bly egter onge­twyfeld dat die Jesus-kind die Seun van God is. Ons gaan in die komende Adventstyd weer oor hierdie ont­hul­ling besin. Dit het die gang van die geskiedenis ra­di­kaal beïnvloed. Die bevrydende krag van die evange­lie het mense die lig laat sien en telkens laat uitbreek on­der magsmisbruik en vergryp. Mag die Kersfees wat kom ons almal weer laat verstaan wat die genade van God vir ons en vir ander beteken. En mag hierdie ont­hul­­lende boodskap aan ons nuwe verbeelding gee vir die moontlikhede van 2018.

Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.