Die Covid-19-pandemie het die kerk behoorlik uitgedaag. En die kerk het dadelik die uitdaging aanvaar. Toe eredienste in Maart 2020 verbied word, was die kerk blitsvinnig om die digitale media in te span. Die boodskap moes immers uit. Meer tyd is spandeer aan Sondae se aanbiedings as ooit tevore. Die regte medium en verpakking sou immers goeie kykertal verseker. Lidmate het skielik ’n wye keuse van eredienste gehad. Kompetisie vir markaandeel was dadelik baie groter as ooit. Dit was ’n tyd van nuwe oorlewingsgedrewe aksies soos selde vantevore.
LEES OOK: Kanniedood karretjie hoop alles, verdra alles, glo alles
En natuurlik het die kerk uitgereik na ander. Daar is gou gesê dat die kerkgebou toe is, maar die kerk oop … oop vir diensbaarheid, oop vir uitdeel en versorging. Dit het aanvanklik goed geklink. Maar die vraag is myns insiens nou of die kerk nie onbedoeld net soos baie ander ’n produk begin verkoop het nie? Het die kerk nie begin val vir siellose bemarkingstategieë nie … met lewendige stroming en DVD’s en clips en leermateriaal en aanlyn byeenkomste en kursusse nie? En het daar nie moontlik subtiel ’n verskuiwing plaasgevind weg van die inhoud van ons boodskap na die bevrediging van die aanbieding nie?
In ’n gekommersialiseerde kerk, so glo ek, word geestelike leierskap dikwels vervang met bestuursvaardighede, geloof in God se voorsienigheid maak plek vir strategiese beplannings, spontane gemeenskap word vervang met georganiseerde byeenkomste en gevorderde vaardighede neem die plek van die gawes van die Gees. Het ons vereenselwiging met die strategieë van buite die kerk nie tekenend geword van ons geloofsarmoede en gebrekkige fokus op God nie?
Ek weet nie wat die antwoorde op hierdie vrae is nie, maar dit is nou die tyd om goed daaroor te besin. Ons moes ’n jaar gelede vinnig reageer op die uitdagings, en ons het. Maar het ons in die roesemoes van die pandemie die regte keuses gemaak? Het ons gegraviteer na ons geloofsidentiteit, of ons natuurlike identiteit as soekers na aanvaarding en bevrediging van mense? Het ons verhouding met die drie-enige God gebaat by alles wat ons gedoen het, of skade gelei?
Ons kan so fokus op diensbaarheid dat ons aanbidding in die erediens en in ons binnekamer totaal in onbruik raak. Sien ons dit, onthou ons, weet ons nog dat sonder aanbidding diensbaarheid maar net ’n vorm van humanisme kan word? Sonder die aansit by die tafel van die Here kan die Christelike gemeenskap maar net nóg ’n sosiale verskynsel word. Sonder ’n voortdurende herinnering aan die teenwoordigheid van die opgestane Here Jesus in ons midde kan die kerk ’n godsdiens sonder God word. Die ergste wat kan gebeur is selfs dat God met omgee en liefde vervang kan word.
LEES OOK: Inbreker byt en pot dominee wat via Zoom om hulp roep
In liturgie en aanbidding kom God ons op ’n misterieuse wyse persoonlik tegemoet. In die tyd van aanbidding spreek Hy tot ons en raak Hy ons aan. Dan gee ons in melodieë en woorde uitdrukking en struktuur aan ons bewondering vir, en verlange na God. In aanbidding word ons herinner aan en bewus van ons afhanklikheid van God alleen. In aanbidding word die kruisiging en opstanding van Jesus Christus ’n lewensopeisende werklikheid. In aanbidding beleef ons ons gegrepenheid. En ja, aanbidding sonder die Woord ontspoor al te maklik in nuutskeppings van die verbeelding. Suiwer aanbidding en die hoor van God se Woord het alles met mekaar te doen.
Die Christelike kerk verraai die samelewing wanneer dit slegs ’n weerspieëling van die werklikheid buite die plek van aanbidding word. Hierdie verraad kan baie vorme aanneem. En dan is dit juis dikwels as gevolg van die aantreklike vorm daarvan dat die misleiding plaasvind. Die vorm word die boodskap. Dan verkondig ons ’n beter wêreld, nie ’n nuwe lewe in Christus nie.
LEES OOK: KYK: ‘My kinders moet eendag onthou ek het nie tou opgegooi nie’
Natuurlik het aanbidding direkte implikasies vir ons lewe. Stanley Hauerwas sê Christelike aanbidding leer ons om in die regte rigting te kyk. Etiek is eerstens ’n manier om te kyk voordat dit ’n kwessie van doen is. Die etiese taak is nie om eerstens te bepaal wat reg of verkeerd is nie, maar om jou te leer om te sien. Dit verklaar waarom, in die kerk, baie tyd en energie bestee word aan aanbidding. Douglas John Hall se boek When you pray se subtitel sê dit so mooi: Thinking your way into God’s world. Die nadenke oor God die Vader se sorg, en oor die lewe, kruisiging en opstanding van Jesus Christus, en die troos en lewegewende werk van die Heilige Gees laat ons anders na die wêreld kyk. Nicholas Wolterstorff skryf in 1989 in sy Liturgy and justice dat God se heiligheid die fokus van ons liturgie en aanbidding is. En dan sê hy dat daar geen skeiding tussen heiligheid en geregtigheid is nie. “God se geregtigheid is ’n manifestasie van sy heiligheid; ons geregtigheid is ’n weerspieëling van God se heiligheid.” Aanbidding het alles met die lewe te doen.
’n Mens kan nie help nie om te dink aan die 5de eeuse spreuk wat lui lex orandi, lex credendi, lex vivendi. Die wet van gebed is die wet van geloof is die wet van die lewe. Hoe ons bid het alles te doen met hoe ons glo en hoe ons leef. Ons eie Andrew Murray se leuse was “gebed, roeping en diens”.
Ons moet nou dieper dink oor die belangrikheid van aanbidding en liturgie vir hoe ons glo en hoe ons leef. Ons ontmoetings met God en met mekaar in ons samekomste moet nou weer bedink word. Glo ons nog dit wat ons altyd daaroor geleer het? Ons kan nie maar net toelaat dat ons eerste reaksie op die uitdaging van die pandemie ons ontneem van die hart van ons geloofslewe nie. Ons kan ook nie toelaat dat ons aanbidding ’n weerspieëling van die tydsgees word nie. Dit sal fataal wees. Aanbidding en geestelike gemeenskap is die medium en die medium is die boodskap.
- Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG gemeente Welgemoed en voorsitter van die Algemene Sinode se moderamen.