Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Inbreker byt en pot dominee wat via Zoom om hulp roep

’n Webinaar oor kollektiewe trauma het onlangs op skokkende wyse ’n ironiese wending geneem toe ds Sam Heine in sy huis aangeval en by meer as 30 mededeelnemers via Zoom gepleit het om die polisie na sy huis in Secunda te ontbied.

Heine was op 15 April omstreeks 11:00 alleen by die huis en in sy sitkamer besig met die virtuele aanlynopleidingsessie, tesame met dominees van regoor die land. Toe hy gaan ondersoek instel na geluide wat hy gehoor het vanuit die vertrek waarin hy sy beradingspraktyk bedryf, het hy op ’n inbreker afgekom. “Hy’t ’n skroewedraaier gehad en gesê hy gaan my steek, toe storm hy,” het Heine vertel.

LEES OOK: Korting kom vir streeksinodes waar gemeentes sukkel

Heine, ’n berader wat ook as “vryskutdominee” werk, se aanvaller was sowat 1, 83 m teenoor sy eie 1,72 m. “Hy was so ses voet, in ou taal, redelik skraal,” het Heine vertel. Die 55-jarige Heine het bygevoeg dat hy so naby as moontlik aan die aanvaller se lyf probeer bly het op grond van ’n wenkvideo wat hy toevallig onlangs gekyk het oor hoe om ’n panga-aanval te oorleef. Heine is blouoog gepot en ook gebyt en het krapmerke opgedoen. Hy is na die voorval na sy huisdokter vir behandeling.

Intussen, op Zoom, moes driedosyn dominees hulle eie trauma verwerk terwyl Heine se welstand aan hulle onbekend was, vertel Hanna Kotze, ’n kliniese maatskaplike werker van Port Elizabeth wat die webkursus gelei het. “Die groep is heeltemal ontwrig en verwese; party woedend en ander wou huil,” het Kotze vertel.

Kotze was vol lof vir Heine wat koelkop gebly het en herhaaldelik sy huisadres ten aanhore van webinaargangers uitgeroep het sodat hulle weet waarheen om die polisie te stuur.

LEES OOK: Gesinne kan herenig – selfs ná groot trauma

Die inbreker het deur ’n venster ontsnap sonder die rekenaar wat hy vermoedelik uit die studeerkamer wou buit en sowat nege ure ná die voorval het Heine aan Kerkbode gesê hy voel OK. “Ek het dalk nog meer wat ek sal moet process, maar ek het redelike vrede in my hart,” het hy gesê. “Ek het darem ’n goeie punch ingekry,” het hy geskerts en bygevoeg dat dit waarskynlik in sy guns tel dat hy deesdae “meer soos ’n tanker as ’n speedboat” gebou is.

’n Voorstel om vir die dominee te bid, was die begin van ’n soort ontlonting van die situasie, waarna Kotze deelnemers uitgenooi het om die woord te tik wat die emosie wat hulle op daardie stadium voel, beskryf. Dit is gevolg deur ’n meditasie.

Heine het gesê hy hoop nie die traumakursus het te prakties geraak nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Inbreker byt en pot dominee wat via Zoom om hulp roep”

  1. Johannes Richter

    Lekker geskryf. Mooi die fyn lyn geloop tussen die dodelik ernstige sy en die ligter kant daarvan!

Comments are closed.

Scroll to Top