Die opleiding van voornemende predikante in die NG Kerk aan die fakulteite vir teologie van die Universiteite van Stellenbosch, die Vrystaat en Pretoria is tans onder bespreking. Dit is ’n goeie ding dat daar gepraat word oor die opleiding van hierdie studente. Ons moet dit gereeld doen. Hierdie vroue en manne gaan immers in die toekoms ’n groot invloed uitoefen in die kerk.
Dit is belangrik om te weet dat hierdie fakulteite akademiese instellings is. By akademiese instellings word navorsing gedoen. Daar word akademiese artikels gepubliseer en natuurlik word daar klasgegee. Daar word ook oor teologiese en verwante sake nagedink en nuwe onderwerpe en velde word verken. Die nadenke word vanuit verskillende perspektiewe aangevoer. Dit word onder meer gedoen by akademiese konferensies waar dikwels teoloë vanuit die buiteland bydraes kom lewer. Die kwessies word met verskillende soorte verstaansgereedskap ontsluit. Dit is eie aan die aard van ’n akademiese instelling.
NUUT: Afdeling vir studente om hul sê te sê
Maar die Bybel en die betekenis van die Bybelse boodskap is hierin konsekwent die bron van nadenke. Hierdie nadenke vind by die drie fakulteite plaas binne die protestantse tradisie, met die gereformeerde uitdrukking daarvan pertinent en omvangryk ingesluit in die gekose inhoude wat onderrig word.
Maar hierdie nadenke en navorsing vind ook plaas binne die konteks van al die ander wetenskappe wat aan hierdie universiteite beoefen word. Dit hou daarmee rekening, word daardeur verryk en word ook daardeur verantwoordbaar gehou. Was dit nie nog altyd die hoofredes waarom die NG Kerk gekies het om sy voornemende predikante aan hierdie teologiese fakulteite op te lei nie? Dat hulle diep insigte verkry in die logika, oortuigings en inhoud van hulle eie geloofstradisie, maar dat hulle ook blootgestel word aan die ander wetenskappe wat mense in staat stel om die lewe in sy volle omvang te verstaan.
Is dit nie hoe gereformeerdes dink nie, dat alle wetenskappe te doen het met God se eie wêreld en werklikheid nie? Ons keuse was nog altyd om ons studente op te lei aan hierdie instellings sodat die afgestudeerdes dan in staat is om in die komplekse wêreld van ons tyd heldere en betekenisvolle perspektiewe te kan bied oor die drie-enige God.
Voornemende studente het voorheen vir drie jaar BA-Admissie studeer. Dit het Grieks en Hebreeus ingesluit, asook vakke soos sielkunde, filosofie, Bybelkunde, sosiologie en Afrikaans-Nederlands. Van hierdie studente het selfs ’n honneursgraad gedoen voordat hulle vir teologie aangemeld het. Studente wat voorgraads hierdie vakke geneem het, het geen spesiale ondersteuning van die kerk gehad nie. Hulle het by die universiteit aangemeld met hulle kategese-agtergrond en geloofsopvoeding. Hulle is dan byvoorbeeld in die vak filosofie blootgestel aan die ateïsme van Friedrich Nietzsche, die marxisme van Karl Marx en die eksistensialisme van Jean-Paul Sartre, alles sonder “regstellende” en aanvullende perspektiewe en “hulp” vanuit die Christelike geloofsleer of gemeenskap. Die uitgangspunt was dat die studente aan ’n universiteit studeer en hierdie noodsaaklike perspektiewe nodig gehad het met die oog op hulle vorming.
LEES OOK | Dana Snyman: Kerrievis op Goeie Vrydag: familie, stories en ’n resep
Die huidige stelsel van teologiese opleiding laat egter studente ten regte van hulle eerste jaar af studeer aan die fakulteit teologie. Dalk was dit beter dat studente eers meer van die lewe geleer het, voordat hulle teologie begin studeer het. Of dalk is die huidige bedeling beter waar studente so veel as moontlik tyd gegun word om vertroud te raak met die Skrif en die Christelike geloofstradisie se verstaan van die lewe deur die lense van die Skrif. Trouens, as ek kyk na die gemeentejaarstudente wat by ons gemeentes aanmeld met die oog op die bediening, beny ek hulle die vyf jaar se voltydse toewyding aan die Skrif en teologie gedurende hulle studies.
Met die koms van die ekumeniese fakulteite word studente in teologie blootgestel aan meerdere geloofstradisies. Dit voeg buitengewone waarde toe aan hulle verstaan van die gereformeerde teologie. Is dit dan nie juis wanneer jy blootgestel word aan ander aannames en uitgangspunte dat jy jou eie beter verstaan en leer om dit te artikuleer nie? In praktyk sien ons hoe ons studente daarby baat vind. Voeg hierby die werk wat die onderskeie seminariums doen om kerkeie kennis aan te vul, perspektiewe te bied en studente te begelei in hulle geloofsvorming en dit word duidelik dat die studente baie goed voorberei word vir die bediening.
Ons moet egter altyd krities bly vra of ons verlies aan die vroeëre ekstra lisensiaatjaar, genoegsaam ondervang word deur die werk van die seminariums. Dalk moet ons die seminariums se bestaande werk uitbrei na ’n volle residensiële lisensiaatjaar waar ons al ons studente saam vir ten minste een volle jaar kan onderrig in gereformeerde teologie en bedieningspraktyk. Ons kan dit bekostig en ons het genoeg bekwame leraars wat hierdie onderrig kan behartig. Vir nadenke oor die regte formaat en aanbod van teologiese opleiding is daar baie ruimte. Almal wat ’n belang het, word genooi om deel te neem aan hierdie soort gesprekke.
LEES OOK | Nadia Marais: Die geskenk van vreemdheid
Aan universiteite word studente geleer om krities en onderskeidend te dink. Daar word byvoorbeeld dikwels oor ’n bepaalde kwessie meervoudige standpunte of perspektiewe aangebied. Studente word begelei om onderskeidend met hierdie standpunte om te gaan. Soms word dit van hulle verwag om selfstandig die nodige onderskeidings te doen. Probleme kán egter ontstaan wanneer dosente ’n bepaalde standpunt in die klas of openbare ruimte stel en propageer as die korrekte teologiese weergawe oor ’n saak, maar wat glad nie ooreenstem met kerklike standpunte nie.
Hiervoor is daar kanale geskep om dit direk met dosente te bespreek. Die NG Kerk-gelegitimeerde dosente is ook in die dosenteraad van die onderskeie kuratoria opgeneem waar kwessies oor teologiese uitsprake bespreek kan word. Die fakulteitsrade is ook gereed om sodanige kwessies te bespreek. ’n Verdere opsie is om die kwessie met die dekane van die onderskeie fakulteite te bespreek. Daar is genoeg opsies om dosente wat sogenaamd dwaal, verantwoordbaar te hou. Ter wille van billikheid moet ek egter meld dat die dosente aan ons fakulteite uitstekende en verantwoordelike werk doen waarvoor ons en die kerk oor die wêreld heen groot agting het.
Die Algemene Sinode Moderamen en Algemene Kuratorium het oor die afgelope tyd by talle geleenthede alle belanghebbendes uitgenooi om hulle bekommernisse oor teologiese opleiding na die onderskeie kuratoria te bring. Die Kairos Netwerk is ook amptelik genooi om, indien hulle sodanige klagtes of kommer het, dit by die kuratoria aan te meld. Die kuratorium van die NG Kerk in Wes-Kaapland het tans een leraar wat die kuratorium genader het om te praat oor standpunte van ’n dosent wat nie strook met die belydenis van die kerk nie. Die kwessie word tans deur die kuratorium hanteer. Hierdie soort gesprekke met die kuratoria word absoluut verwelkom. Maar ongelukkig is daar tans net een sodanige gesprek.
LEES OOK: Namibië roep Algemene Sinode ‘tot inkeer’
Die Kairos Netwerk het nog op geen uitnodiging tot gesprek en deelname met die Algemene Kuratorium of kuratoria gereageer nie. Dit is ’n oop deur wat geïgnoreer word. Intussen is daar ’n narratief geskep dat die fakulteite liberaal is, dwaalleringe verkondig en afwyk van die kerk se leer. Dit is nie verantwoordelik nie. By die pasafgelope vergadering van die Algemene Kuratorium was al tien die sinodes verteenwoordig en was daar volledige instemming oor die goeie stand van teologiese opleiding by die fakulteite en seminariums.
Ons jong leraars maak landwyd ’n reusebydrae tot die bediening van ons gemeentes en by die hoogste uitsondering ondervind gemeentes enige spanning om teologiese redes met ons jong leraars. Die afwysende narratief oor teologiese opleiding maak dat hulle soms met agterdog by gemeentes ontvang word. Dit is nie billik teenoor hulle of die gemeentes nie. Ons sien uit na gesprekke met kerklui wat ons sal help om werklike probleme te identifiseer en aan te spreek.
Intussen word geen steen onaangeroer gelaat om te verseker dat ons studente op die beste moontlike manier voorberei word vir die bediening in die NG Kerk en in die wêreld waarin ons leef. Die Algemene Sinode vereis dat 16 uitkomste tydens teologiese opleiding behaal word. Ons dink die universiteite en kerkeie opleiding voldoen uitstekend aan hierdie vereistes.
- Ds Nelis Janse van Rensburg is leraar van die NG Gemeente Welgemoed en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.
Lees gerus Henriëtta Klaasing se kommentaar by ‘n onlangse plasing – https://kerkbode.christians.co.za/2022/03/23/ons-sien-uit-na-gesprek-met-die-sinode-van-namibie-nelis/#comment-1419
Nelis se gebalanseerde insette rakende teologiese opleiding van studente wat as lidmate van die NG Kerk by die teologiese fakulteite van die UP, UVS en US studeer, verdien respek en waardering. Die feit dat daar so min reaksie is op die uitnodiging aan elkeen wat besorgd is oor die gehalte van teologiese opleiding by vermelde Universiteite om deel te neem aan die gesprek binne die forums wat daarvoor geskep is, spreek boekdele.
As belydende lidmaat van die NG Kerk sedert 1974, is ek opreg dankbaar vir my eie teologiese vorming en verstaan van die Woord wat deur leraars, medegelowiges van verskillende NG Gemeentes, asook ander Christelike denominasies, moontlik gemaak is. Dit moet egter nie ons selfwerksaamheid weggeneem om byvoorbeeld met die Woord, Belydenissskrifte en goeie teologiese leesstof besig te bly nie.
Verder moet ons elkeen, asook teologiese studente, bereid wees om onsself oop te stel vir die Heilige Gees en Sy leiding om ons in die waarheid te ondderig en om onderskeidend om te gaan met wat ons lees en hoor om dit aan die Woord te toets. Soos wat ons as ouers ook ons kinders leer. So beskou, kan geeneen van vermelde teologiese fakultiete vir ons kinders wat daar teologie wil studeer, met die oorsigrol wat die Kuratoria vervul, ‘n bedreiging wees nie.
Dankie! Dankie! Dankie!
Ek is wel bekommerd oor die erkenning wat aan die Kairos Netwerk verleen word – asof dit ‘n legitieme deel van die kerklike werkinge is. Soos met doleansie wat hoegenaamd nie ‘n erkende gereformeerde gebruik is of kerkregtelike sanksie het nie.