Die geskenk van vreemdheid

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die kinderfliek The Hunchback of Notre Dame (1996) – gebaseer op Victor Hugo se verhaal met dieselfde titel (gepubliseer in 1831) – is daar ’n veelseggende interaksie tussen regter Claude Frollo en die hoofkarakter van die verhaal, Quasimodo. Die vroom Frollo, wat gypsies met alle mag en mening haat weens hulle vreemdheid (ons sou kon sê ‘queerness’), gee ook aan Quasimodo hierdie wrede naam, wat volgens die storieverteller Clopin beteken ‘half gevorm’.

Frollo begin een van sy gesprekke met Quasimodo met die woorde: “Remember what I’ve taught you, Quasimodo” – 

You are deformed [I am deformed]

and you are ugly [and I am ugly]

and these are crimes for which the world shows little pity …

Out there they’ll revile you as a monster [I am a monster]

Out there they will hate and scorn and jeer [only a monster]

Die verskriklike van hierdie interaksie lê nie net by Frollo se beskrywing van Quasimodo nie, maar ook by Quasimodo se toe-eiening van Frollo se wrede oordeel: Ek is misvorm, ek is lelik, ek is ’n monster. Ek moet versteek bly, want niemand sal my aanvaar nie, niemand sal my wil hê nie. My vreemdheid is afstootlik vir ander mense. Ek hoort nie in ordentlike geselskap nie.

Lees ook: Queering dring aan op ongemak

Heelwat flieks en TV-reekse handel oor die tema van vreemdheid. Ons sou ook aan die meer onlangse The greatest showman (2017) – en in die besonder die aangrypende lied “This is me” – kon dink, wat ook oor die temas van weggesteektheid, skaamte, vernedering en die gepaardgaande vrees vir verwerping, handel.

Wat sal die mense dink? Wat sal die mense sê? Watter wreedhede, skelname en veroordeling kan na my kant toe kom as ek my vreemdheid sou erken of sou wys? Watter kras en blatante, maar ook gesofistikeerde, subtiele tekens sou daar wees dat daar op my neergesien word?

Dit het my laat dink aan die werk wat die School of Life (waarvan die filosoof Alain de Botton ’n medestigter is) verrig hieroor. In hulle boek met hierdie selfde titel, en die veelseggende subtitel An emotional education – gepubliseer in 2019 – word daar juis gereflekteer oor die aard van normaliteit.

Lees ook: Queer hermeneutiek: Wie word geraak deur hoe ons dink?

Deel van die rede waarom ons nie meer gereeld dieper in onsself inkyk nie, argumenteer Alain de Botton en sy kollegas, is omdat ons skaam en bang is vir die ongewone wat ons in onsself sou vind. Ons maak die aanname dat ander mense – en vreemdelinge in die besonder – noodwendig minder vreemd, minder weerloos, en minder worstelend as ons moet wees; en dit beteken dat ons skaam moet wees, en stil moet bly, oor ons eie vreemdhede. Ons dink ons is die uitsondering binne ’n see van normaliteit.

Tog is ons idee van wat aanvaarbaar is dikwels ver verwyder van wat waar en wydverspreid is. Enige idee van die normale (wat tans in sirkulasie mag wees), is nie noodwendig ’n akkurate weerspieëling van wat dit beteken om mens te wees in ons wêreld tans nie. Ons bespreek dit nie omdat ons verwerping en vernedering vrees. Dit wat queer is, wat anders is, wat vreemd is – nie net in ander nie, maar ook in onsself – is daarom onwelkom.

“Most of us hate anything we don’t understand”, meen Kris Kristofferson in sy lied Jesus was a Capricorn (1972).

Sonder selfbewustheid, moed, en eerlikheid sal ons onsself en ander mense nooit beter kan verstaan nie. Op hierdie reis na groter selfkennis benodig ons egter ’n beter padkaart van die landskap van normaliteit, argumenteer die School of Life. Ons sou dit ’n meer normale normaliteit kon noem. Dit beteken dat ons ’n veel breër, veel dieper begrip van wat algemeen of normaal is benodig; ’n begrip waarin vreemdheid nie die vyand van normaliteit is nie – maar juis alledaags, omdat vreemdheid so eg menslik is.

Lees ook: Die geskenk van kairos

In ’n preek oor Handelinge 8 skryf Flip Theron dat die Etiopiese eunug se vraag in vers 36 – wat verhinder my om gedoop te word? – merkwaardig is juis omdat Filippus, aan wie die Etiopiese eunug die vraag rig, aan geen rede kan dink waarom hy nié gedoop kan word nie. Theron self kan aan ten minste vyf redes dink waarom hierdie eunug – hierdie figuur wat queer is op soveel maniere, insluitend geloofsvreemd (’n heiden), volksvreemd (’n Etiopiër), rasvreemd (’n swart man uit Afrika), en gendervreemd (’n eunug) – nie gedoop kan word nie.

Ook is dit nie die geloofshelde van Handelinge – soos Paulus, wat eers in hoofstuk 9 tot bekering kom; óf Petrus, wat eers in hoofstuk 10 sy visioen ontvang – wat die naamlose Etiopiese eunug in hoofstuk 8 doop nie, verduidelik Theron. Eerder is dit die minder bekende Filippus wat hierdie vreemde, queer persoon sonder voorbehoud doop; en waardeur die Etiopiese eunug onverhinderd en onvoorwaardelik as Godskind ingelyf word in die gemeenskap van gelowiges.

Die vroeë kerk kon die geskenk van vreemdheid ontvang. Kan ons?

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is predikant by die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.
Word 'n vriend van Kerkbode