Queering dring aan op ongemak

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Queer-teorie ontmasker die magsdimensie van dit wat as ‘normaal’ of ‘vanselfsprekend’ beskou word, skryf Charlene van der Walt.

Die konferensie Queering the prophet, wat in Maart by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie aangebied word, het duidelik ’n paar mense ontstel.

Dit is ’n akademiese geleentheid wat met ’n Queer oog na die Jona-verhaal kyk, iets waaroor verskeie teoloë van regoor die wêreld al ’n geruime tyd skryf en praat. Waarom die bohaai? Wat gaan regtig hier aan?

Lees ook: Meningsverskil in NG Kerk: ‘Nederige liefde is die sterkste getuienis’

Waarom hoor ons die gerammel van die geween en gekners van tande oor die vlaktes? Waarom word skeidslyne getrek? Waarom die verdagmakery en die poging tot moderne sensuur? En hoekom wil ’n mens iets boikot nog voor jy weet wat daar gesê word?

Heelwat hiervan kan vermoedelik verklaar word as ons besin oor die oorsprong en teoretiese grondslag van Queer-teorie wat as metodologiese vertrekpunt dien vir hierdie konferensie. Queer-teorie ontwikkel vanuit die akademiese besinning van die Franse filosoof, Michel Foucault. In die sentrum van Foucault se filosofies-historiese besinning is die analise van mag. Hy besin oor hoe mag strategies uitgeoefen word oor tyd en in verskillende kontekste. Queer-teorie is in wese ’n historiese projek. Dit dink egter nie oor geskiedenis as die opeenvolging van gebeure wat bloot omskryf of vandag in ag geneem moet word nie. Foucault verstaan ‘hoe dinge maar is’ nie as onskuldig nie. Hy wys uit hoe dit wat as ‘normaal’ beskou word, eintlik maar ’n konstruksie is wat hulle wat daarby baat vind veilig hou. Queer-teorie dekonstrueer mag en bevraagteken die norm.

Foucault vra lastige vrae vir die gemeenskap van sy tyd oor instansies en praktyke wat as vanselfsprekend of ‘normaal’ beskou word. Hy vra byvoorbeeld of hospitale wat sorg volledig in die hande van hulle plaas wat ‘mediese kennis’ het en wat ‘toestande kan diagnoseer’ die beste plek is vir hulle wat ‘siek’ is? Hy besin oor tronke as instansies en vra of dit regtig die beste manier is om mense te hanteer wat ’n ‘gevaar vir die samelewing’ is? Hy dink oor die meganismes van sosiale kontrole en draai vermoedelik vandag in sy graf as hy sou weet hoeveel inligting en vryheid ons vrylik prysgee deur ons verknogtheid daaraan om gesien te word in die digitale wêreld. Deesdae hoef iemand jou nie eens dop te hou of te agtervolg soos in die rolprente van ouds om te weet waar jy oral gaan en waarmee jy besig is nie … jy sê dit sommer alles self vir Google.

Lees ook: ‘Queering the prophet’: Verklaring deur kuratorium

Sentraal tot Foucault se intellektuele projek is sy verstaan van die noue verband tussen mag/kennis soos hy dit stel. Hy wys op die hoeveelheid mag wat lê in dit wat jy weet, of wat jy dink jy weet of wat ander mense dink jy weet. Hy verstaan mag egter nie as iets wat aan een persoon of instansie behoort nie, maar eerder as ’n strategie wat so funksioneer dat waar daar mag is, daar altyd die strewe na meer daarvan is.

Foucault se idees vind dan in besonder aanklank by hulle wat die landskap van gender en seksualiteit bestudeer. In sy latere en onvoltooide werk in verskeie volumes getiteld die ‘Geskiedenis van seksualiteit’ wys hy hoe normatiewe idees oor seksualiteit en gender verander oor tyd en hoe die norm bepaal word deur die strategiese uitoefening van mag deur verskeie gesaghebbende instansies en rolspelers.

So hoe ontmasker Queer-teorie die magsdimensie van dit wat as ‘normaal’ of ‘vanselfsprekend’ beskou word? Queer daag uit, dit vra lastige vrae, dit dring aan op ongemak, dit slag die heilige koeie. Die doel van Queer-ing is om te dekonstrueer en te destabiliseer en die kontoere van hierdie projek word sommer al duidelik in die naam.

Oorspronklik is die term “Queer” aangewend as ’n neerhalende belediging gerig op hulle wat as anders of vreemd beskou is. Queer word egter herwin as ’n term om uitdrukking te gee aan nie-normatiewe uitdrukkings van gender en seksualiteit. Alhoewel die term Queer soms aangewend word om na die spektrum van identiteitsmerkers wat in die LGBTIQA+ akroniem vervat word te verwys, is dit nie die primêre manier waarop dit aangewend sal word by die “Queering Jona” konferensie in Maart nie. By die geleentheid gaan dit nie ten eerste oor die stabiliteit van identiteitspolitiek nie, maar eerder oor die destabilisering van dit wat as normatief beskou word in die gender- en seksualiteitslandskap en die manier waarop die Bybel ingespan word om hierdie sekerhede te grondves. Queer word dus ’n werkwoord met die doel om die norm te bevraagteken en te ontmasker as slegs gedeeltelik waar of van toepassing.

Lees ook: Al die jongste briewe aan Kerkbode

Menigte het nou al na van die titels op die program verwys en net kort van godslastering gestop in hulle protesspraak. Die titels op die program illustreer egter iets van die speelsheid van die Queer-lens en hoe dit van humor en minder voor die hand liggende intertekstuele gespreksgenote gebruik maak om juis nuwe horisonne van interpretasie te ontsluit. Ons kan seker vra wat die doel van hierdie ongemaklike oefening is? Waarom is dit tog nodig? Judith Butler, die genderkenner, sal vermoedelik sê: sodat daar spasie gemaak kan word vir meer lywe en meer belewenisse om saak te maak.

Kom ons wees eerlik met mekaar. In die NG Kerk word die norm bepaal deur dit wat wit, manlik, heteroseksueel en cisgender is. Dit is nou al die geval vir dekades en bly steeds waar vandag. So, kom ons sê die mag/kennis skaal was nog altyd in jou guns getip en jy slaan nou al die kitaar jou hele lewe lank. As jy Sondag na Sondag op die kansel of in die klaskamer vir mense sê hoe hulle moet dink en wat hulle moet dink en wat die regte metode is om oor dinge te dink, dan gaan jy seker aan die huil raak as almal nou nie meer wil dink soos jy dan nou gesê het nie. Of jy gaan vuil speel en die ander verneder, want jy kan.

Dié teenkanting teen die konferensie is dus nie verbasend nie. Die aandrang van sekeres dat daar net een ware metode of manier is om die Bybel te lees en toe te pas in ons konteks, is ook nie onskuldig nie. Dit is ’n sistematiese en georganiseerde poging om alles wat buite die norm is stil te maak, uit te wis, die mond te snoer en van die gras af te maak. Want al manier om die norm stabiel te hou is deur alles wat nie daarby inpas nie te vernietig. Gaan luister maar na die stories van hulle wat lewe vind buite die voorgeskrewe norm.

  • Prof Charlene van der Walt is een van die sprekers by die Queering the prophet-konferensie wat aangebied word deur die Gendereenheid van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie en sy is die hoof van Gender en Religie asook adjunk-direkteur van die Ujamaa Sentrum verbonde aan die UKZN se Skool vir Religie, Filosofie en Klassieke Studies.
Word 'n vriend van Kerkbode