Meningsverskil in NG Kerk: ‘Nederige liefde is die sterkste getuienis’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Jesus is die Here. So bely die Christelike kerk van die vroegste tyd af. Dit beteken dat Hy die Een is wat oor die ganse skepping regeer. Dit beteken dat Hy ook oor elke lewe regeer. En natuurlik beteken dit dat Hy ook oor die kerk regeer. Sê Kolossense 1 dan nie: “Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem”?

Prof Willie Jonker se intreerede by Unisa in 1965 word gelewer onder die titel Om die regering van Christus in sy kerk. Hy sê onder meer: Kerkreg kan alleen egte, Bybelse kerkreg wees as dit uitgaan van die belydenis dat Christus Self sy gemeente vergader, beskerm en regeer, dat Hy die handelende Subjek in die gemeente is en dat aan Hom alleen alle mag en seggenskap in die gemeente toekom.”

Lees ook: Wentzel van Huyssteen sterf – ’n teoloog van wêreldgehalte 

Jonker gaan dan uitgebreid voort om te verduidelik hoe kerkmense dikwels die gesag van Christus ondermyn deur aan mense en vergaderinge gesag toe te ken. Die Christus, die lewende en teenwoordige Here is in elke gemeente en vergadering die enigste Een met gesag. Sy heerskappy vind plaas deur sy Woord en Gees. Ampsdraers en kerkvergaderings is slegs bedienaars van die gesag van Christus. Prof Jonker sê dan ook: “Alle regeerwerksaamhede van ampsdraers en kerkvergaderinge moet aan Gods Woord getoets word. As bevind word dat daar strydig met Gods Woord gehandel of beslis word, het die handelinge of beslissinge van die ampsdraers geen gesag hoegenaamd nie.” Jonker wys verder ook kollegialiteit as kerklike praktyk af. Geen kerkvergadering heers oor ’n ander nie. Christus is immers die Hoof en is gesagvol teenwoordig in elke vergadering, of dit nou ’n kerkraad of ’n sinode is.

Die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings van 2019 gee op besondere maniere uitdrukking aan hierdie beskouing van die heerskappy van Christus. Oor baie jare is die Skrif in gemeentes en sinodes gelees en bestudeer oor selfdegeslagverhoudings. Bybelse argumente is na alle kante gebruik om mee te oortuig. Tekste en kontekste is ontleed. Debatte is gevoer. Konferensies is gehou. Tydens die Algemene Sinode van 2007 is dae lank oor die Bybeltekste wat praat oor, of sinspeel op, seksuele etiek gedebatteer. Die wil van Christus, ons Hoof, is gesoek. Ons het almal verstaan dat ons gebonde moet bly aan die Skrif. Ons standpunte mag nie berus op natuurlike oorwegings nie. Dit moet vanuit die Skrif duidelik word of glad nie ’n standpunt van die kerk wees nie.

Lees ook: ‘Queering the prophet’: Verklaring deur kuratorium

Die Algemene Sinode kon as vergadering tot op hede nie tot ’n finale slotsom kom oor selfdegeslagverhoudings nie. Daar is meningsverskil oor die interpretasie van die Skrif. Die meningsverskil is bona fide. Daarom het die Algemene Sinode nie ’n prinsipiële besluit daaroor geneem nie. Let wel: Die Algemene Sinode het hom nie in 2019 ten gunste van selfdegeslagverhoudings of daarteen uitgespreek nie. Dit is nie ’n skande dat daar onsekerheid is nie. Dit is veel beter om te sê ek is nie seker nie, as om voor te gee dat jy seker weet wat God se wil is. Die Algemene Sinode het aanvaar die onderskeidingsproses moet voortduur. Die Algemene Sinode is egter nie alleen die kerk nie. Dit kan nie die onderskeiding van gemeentes opskort tot hy duidelikheid het nie. Sinodes en gemeentes leef onder gesag van Christus en het die plig om onderskeidend met God se Woord om te gaan. Die Algemene Sinode is ook nie die hoogste gesag in die kerk nie, Christus is. Waar Hy regeer, moet gelowiges sy wil soek. Dit móét gebeur in sinodes, ringe en gemeentes en op persoonlike vlak. Daar móét die Woord bestudeer word. Daar moet die Hoof se wil gesoek word en aan uitvoering gegee word. Dat gelowiges die Woord verskillend verstaan oor etiese kwessies is niks nuuts nie. Dit was al in die Bybelse tyd ’n werklikheid. En dit was in die lewe van die NG Kerk nog altyd aanwesig.

Die belangrikste waarheid van die kerk is dat ons aan Christus behoort. So formuleer die Heidelbergse Kategismus dit by Sondag 1. Op die vraag na die diepste troos in lewe en dood, kom die antwoord: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.” Om oor mekaar te heers, om ons sieninge op mekaar af te dwing, om mag te versamel met die oog op dwang, klink en lyk nie soos die heerskappy van Christus wat deurslag gee nie, maar soos dié van mense en oortuigings en bewegings. Hoe dikwels eien ons nie selfs met die uitleg van die Skrif die mag van Christus vir onsself toe nie? Met my Bybelse standpunt karnuffel ek en heers ek oor ander. Saam met die belydenis dat Christus die Here is, behoort daar ook ’n nederige afhanklikheid, ’n broosheid, ’n prysgawe van my wil tot mag en ’n deernis vir dié wat anders as ek is of dink, te kom.

Lees ook: Die Algemene Sinode na 60 jaar: Die brose eenheid is nie vanselfsprekend

Die Algemene Sinode het ruimte gemaak en erken dat waar in die kerk die Hoof se wil onderskei word, die onderskeie gestaltes van die kerk dienooreenkomstig kan optree. Die Algemene Sinode het nie sy onsekerheid normatief gemaak vir die kerk nie. Dié wat seker is, kan in die lig van hulle insig in die hart van die Hoof, leef. Met groot erns en toewyding moet die gelowiges binne hulle geloofsgemeenskappe onderskeidend bly dink oor dit wat die Hoof in sy Woord regtig sê. Maar wie dan dié wat van hulle verskil blameer en hulle geloof en onderdanigheid aan die Hoof minag, moet versigtig wees dat hulle nie gesag aanneem wat alleen by Christus hoort nie.

Die ontstaan van ’n drukgroep binne die kerk vir die bevordering van ’n bepaalde standpunt, met ’n strategie van openbare steunwerwing teen sinodale besluite en die vertekening van die kerk se “leierskap” wat verantwoordelik gehou word vir die standpunte van ’n sinode, maak van die gereformeerde siening van die heerskappy van Christus in sy kerk ’n bespotting. Prof Willie Jonker sê ook in die bogenoemde intreerede: “Die geskiedenis leer ons dat telkens wanneer die kerk die belydenis van die Koningskap van Christus verwaarloos het of die verhouding tussen Christus en die kerk nie op die juiste wyse verdiskonteer het nie, dit onmiddellik gereflekteer is in die kerkreg. Dan word die regering van die kerk op een of ander wyse aan Christus ontneem en in die hande van die mens gelê.” Die gewaande gesag waarmee mense binne een liggaam hulle afkeur van mekaar laat blyk, hulle afgrens van mekaar, en oor mekaar oordeel, sê klaarblyklik veel meer van hulle houding teenoor Christus as Hoof van die kerk as van hulle medegelowiges.

VIDEO | Sondagjoernaal se Lizelle de Bruin oor dankbaarheid en hoop vir die NG Kerk

Uiteindelik is die erns en integriteit waarmee ons die Skrif lees die toets vir ons onderdanigheid aan die Hoof. Ons, die kerk, kan nie met voorafbepaalde ideologiese aannames na die Skrif gaan en daar inlees wat nie daar gesê word nie. Toe ons dit vantevore gedoen het, het dit vir miljoene mense verskriklike gevolge gehad en vir ons tot verleentheid geword. Ons kan nie die Skrif op ’n a-historiese wyse lees nie. As dit by ’n teologiese fakulteit binne die konteks van akademiese vryheid gedoen sou word, kan dit uit die oogpunt van die gereformeerde tradisie hoogstens as ’n gevaarlike eksperiment beskou word. Ons moet teenoor ’n a-historiese lees van Skrifgedeeltes juis die aannames en hoorders van die destydse kontekste waarbinne die Skrif ontstaan het, bestudeer. Ons moet die Wet en Profete en die Geskrifte so lees. Ons moet dan deur die lens van al die Skrifgetuienis na Christus kyk, wie Hy is, wat Hy doen, wat sy optrede simboliseer en beteken. Hy is immers die Weg, die Waarheid en die Lewe. Maar ons mag nie ons aannames inlees in die tekste van die Skrif en dan daaraan gesag verleen nie. Dan heers ons en nie Christus nie.

En as ons dan verskil van mekaar oor wat die Woord leer oor etiese sake, is nederige liefde vir mekaar die sterkste getuienis dat Christus regtig die Here is.

  • Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en voorsitter van die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk.

3 thoughts on “Meningsverskil in NG Kerk: ‘Nederige liefde is die sterkste getuienis’

  1. Burger says:

    Ek was eendag in n diens waar die predikant gese het dat almal hier aan Christus behoort. Dit kom by my op , wie is die gesag om almal n ticket to heaven te gee.

    Dis absurd en n absolute leun. Waar kom die teologie vandaan ? Bekering, doop Heilge Gees en die waarheid volg. Eie god wees is n dodelike pad.

  2. Stefaan de Jager says:

    Waaroor die sinode minstens absolute duidelikheid gehad het in hul 2019 besluit, is dat die huwelik slegs tussen een man en een vrou is. Selfdegeslagverhoudings wat wetlik verbind word, is nie `n huwelik nie en daar kan dus nie gesê word dat homoseksuele pare in die eg verbind is nie.

    As daar dus `n formulier deur die kerk ontwerp word vir sulke juridiese verbintenisse. is dit buite die mandaat van die kerk, want die kerk is geroep om huwelike te erken.

  3. Johann says:

    Nelis J van Rensburg verswyg belangrike feite en skep so valslik die indruk dat die Algemene Sinode reeds deeglik besin het oor die kwessie van Skrifhantering betreffende selfdegeslagverhouding en in dié proses ‘n bepaalde vasgelooptheid bereik het. Dit is natuurlik onwaar, omdat daar by die vergadering van die Algemene Sinode sedert 2007 nog geen behoorlike studie en gevolglike teologiese begronde gesprekke daaroor was nie. By Algemene Sinode 2011 en 2013 wou hy self kortpad kies daarby verby, maar 2013 het besluit dat grondige studie vanuit die Gereformeerde tradisie gedoen moes word. Ook dit is verhinder en die proses is sodanig gekaap dat AlgemeneSinode 2015 daarsonder tot ‘n gunstige besluit oor selfdegeslagverhoudings gedwing is. Dit was kerkordelik en teologies verkeerd. Algemene Sinode 2016 het probeer regmaak, maar ook daardie besluite moes tot niet gemaak word. Wat volgehoue nie gesê word niie, is dat Wes-Kaap onder sy leiding hulle posisie tov 2016 se besluite ingeneem het en dat hulle besluit weer op onwettige wyse op Algemene Sinode 2019 se tafel gekom het. Dit is voorgehou as ‘n beskrywingspunt van Wes-Kaap, maar die sinode het nie so beskrywingspunt ingedien nie, maar wel die Sinodale Kommissie nadat die dagbestuur, waarvan Nelis die voorsitter is, vir die lede gesê het dat dit die bedoeling van die sinode was, wat nie so is nie. Hierdie besluit van Wes-Kaspland het in 2019 besluit van die Algemene Sinode geword SONDER dat die besluit om studie van 2013, wat by 2015 herhaal moes word, maar met Nelis se hulp nooit gedien het nie, ten uitvoer gebring is. Om nou te kom aanvoer hoe Christus sy kerk regeer en dat die Woord en die Gees die NG Kerk in die Algemene Sinode se besluit (of nie besluit vir of teen selfdegeslagverhoudings) gelei het, is skreiend.

Comments are closed.