Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vir haar radioprogram Sondagjoernaal gesels die ervare radioregisseur en sakevrou Lizelle de Bruin met gelowiges uit alle vlakke van die lewe. Op die vraag wat gee haar hoop, sê sy dit is om te sien hoe gewone mense mekaar liefhet en ondersteun. “Op voetsoolvlak is die hart van die evangelie liefde en dit maak my dankbaar,” sê Lizelle, want sy sien en hoor verhale hieroor uit alle geloofsgemeenskappe en dit gee haar hoop, ook vir die NG Kerk. Skermgreep: Robert Cable

VIDEO: Sondagjoernaal se Lizelle de Bruin oor dankbaarheid en hoop vir die NG Kerk

Na agt jaar op die lug, 420 programme en sowat 1 680 onderhoude later, is die godsdienstige leefstylprogram Sondagjoernaal met ’n luistertal wat draai tussen 400 000 en 500 000 een van die mees geluisterde programme op RSG.

Met ‘Goeie môre en welkom by Sondagjoernaal’ verwelkom Lizelle de Bruin se stem al vir jare luisteraars elke Sondagoggend kort na seweuur. Vir net minder as ’n uur gesels sy met predikante, welsynsorganisasies en gewone mense wat almal een ding in gemeen het, hulle maak ’n verskil in hulle omgewing.

Haar fokus op hoop het in Covidtyd hulle luistertal sien opskiet. Wat gee haar hoop, ook vir die NG Kerk? vra Heléne Meissenheimer vir die vrou agter die stuur van Wordwise Media, die produksiemaatskappy wat Sondagjoernaal en ander multimedia-inhoud vervaardig, met ’n onlangse besoek by haar ateljee in ’n noordelike voorstad van Kaapstad.

[aesop_image img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2022/02/Lizelle-kantoor3.jpeg” panorama=”off” align=”left” lightbox=”off” captionsrc=”custom” captionposition=”left” revealfx=”off” overlay_revealfx=”off”]

Sy is nie so gemaklik om aan die ander kant van die mikrofoon te wees nie, lag Lizelle oor ’n koppie koffie in haar kantoor/ateljee. Lizelle sit op ’n kantoorstoel met ’n groot rekenaarskerm agter haar met ’n klomp klankgolfgrafieke daarop. Haar kantoor is die ruimte waar al die magic gebeur – “dit is waar ek my beplanning doen, goed uitdink en dit is ook ’n ateljee waar ek onderhoude doen,” verduidelik sy en wys later nog ’n ateljee met swart klankdigte bedekking teen die mure van waar onder meer Sondagjoernaal se uitsaaiwerk gedoen word.

Sy was ’n regisseur vir film en televisie toe radio oor haar pad kom. “Ek was die aanbieder van ’n programvoorlegging vir RSG wat toe in ’n werk verander het,” vertel Lizelle, wat haarself beskryf as ’n kreatiewe doener en storieverteller van die lewe – een wat “drade bymekaar hou, woorde aanmekaar string en leef in totale afhanklikheid in geloof”.

Voor Sondagjoernaal het sy ’n debatsprogram, Kruis en Dwars, op Sondagaande aangebied. In 2014 is begin met uitsendings vir Sondagjoernaal. Eers was die kollig net op die werksaamhede van die NG Kerk en het sy meer met kerklui gesels, maar oor die jare het dit uitgebrei om alle kerkgenootskappe oor ’n wye spektrum in te sluit en word lankal nie meer net met dominees gesels nie. “Ons praat deesdae baie meer met lidmate en ook met mense wat glad nie kerk toe gaan nie maar nog steeds in ’n verhouding met die Here is,” vertel Lizelle.

Die skuif het hulle luistertal lekker laat opskiet. ’n Verdere plus, meen Lizelle, is die feit dat haar program val tussen die seweuur-nuus en die Christelike musiekprogram, Loof die Here, wat al 50 jaar ’n instelling op RSG is.

Lizelle de Bruin gesels in haar ateljee met Berlise Louwrens, bemarkingsbestuurder by CLF (Christelike Lektuurfonds). Foto: Niel Roux

Onder haar luisteraars, waarvan sy vermoed ’n groot aantal oor 40 is, tel professionele mense soos argitekte en dokters wat praat oor geloof, vroue wat hulle huismense met liefde wil omvou, oupas en oumas wat hulle kinders en kleinkinders oorsee mis.

Lizelle hou van temas. Onder die oorhoofse tema van geloof het later ook temas van dankbaarheid, hoop en vanjaar doelgerigtheid bygekom. Sy vertel die dankbaarheidstema het begin by haar eie persoonlike reis met dankbaarheid na sy siek geword het: “Ek het lank ’n dankbaarheidsjoernaal gehou. Dit het oorgeloop in gesprekke met die mense om my en toe vra ek mense om te laat weet waarvoor hulle dankbaar is. Dit was eers oppervlakkige dinge, maar hoe meer ons daaroor gepraat het hoe meer het die vloedgolf se hekke oopgegaan en het mense begin besef dat dankbaarheid ’n groot verskil maak in hoe jy die lewe aanpak. Vir my het dankbaarheid my lewe verander.”

Toe kom Covid en die hoop-tema kom by, “want dit is wat mense nodig gehad het om te hoor by ander. Daar is nou nog ’n groot nood aan boodskappe van hoop”. Die program se SMS-lyn het gewys hoe groot hierdie behoefte aan stories met hoop is. Waar sy gewoonlik dalk ’n A4-bladsy vol boodskappe sou kry na ’n uitsending, was dit in Covid-tyd letterlik 10 A4-bladsye. Mense het ook baie meer deelgeneem aan die gesprek in die program deur middel van SMS en e-pos.

“Mense het behoefte gehad aan hoop en om deel te wees van iets. Ons was die stem buite die huis wat ingekom het toe hulle dit nodig gehad het,” sê Lizelle wat glo die Here het ’n hand in die kies van die gaste op haar program, want elke week kom die regte mense oor haar pad. Sy lees ook wyd, doen baie navorsing en luister fyn na die gesprekke om haar.

 

Dr Dave Viljoen van die NG gemeente Kenridge het gesels oor sy boek, Gee-vreugde: Ontdek die waarde van ligter leef. Foto: Niel Roux

Geloof is egter waar alles vir haar begin – nie dat sy soms twyfel nie, maar dit is van korte duur. Vir Lizelle is geloof onlosmaaklik deel van haar menswees: “Ek leef in my geloof, dit is in my asem en in my koffie en in my woorde. Dit is deel van my besluite en my gesprekke. Dit speel ’n rol in hoe ek kwaad word en in hoe ek liefhet. Dit is in my lewe ingeweef soos ’n mekrameknoop wat ’n net span en groot gewig kan dra en toe maak.”

So dit volg natuurlik dat sy dan ook elke gas vra watter rol geloof in hulle lewe speel. Vanjaar se tema van doelgerigtheid vloei dan ook uit die tema van diensbaarheid wat onderliggend aan dankbaarheid en hoop is: “In elke onderhoud wat ek doen is daar ’n onderliggende tema van diensbaarheid. Praat ek met iemand oor dankbaarheid dan is daar diensbaarheid betrokke. Praat ek oor hoop is daar diensbaarheid onder die woorde. As ’n mens besluit om diensbaar te wees is daar rigting … dit bring jou by ’n plek waar jy die wêreld verander.”

Op die vraag wat haar hoop gee, sê sy dit is om te sien hoe gewone mense mekaar liefhet en ondersteun. “Op voetsoolvlak is die hart van die evangelie liefde en dit maak my dankbaar,” sê Lizelle, want sy sien en hoor verhale hieroor uit alle geloofsgemeenskappe en dit gee haar hoop, ook vir die NG Kerk: “Hoe hulle mekaar ondersteun, hoe mense saamtrek, uitreik en planne maak wanneer daar nood is en hoe hulle bereid is om saam te staan weg van die geraas. Mense se stories van waar geloof ’n verskil gemaak het in hulle lewe gee my oneindige hoop.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top