Die Algemene Sinode na 60 jaar: Die brose eenheid is nie vanselfsprekend

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het vanjaar 60 jaar gelede in 1962 tot stand gekom. Dit het ’n einde gebring aan die versplintering van die kerkverband wat deur die Loedolff-saak van 1862, veroorsaak is.

Die eerste sinode van die NG Kerk wat die Kaapse gemeentes in eenheid saamgebind het, het in November 1824 plaasgevind. Hierdie vergadering was nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Tydens die sinode is besluit dat so ’n vergadering elke twee jaar sou plaasvind om werksaamhede van die gemeentes te koördineer en om as spreekbuis van die kerk op te tree. Dit is hierdie eenheid wat deur die Loedolff-saak tot ’n einde gebring is.

Lees ook: Nuwe streeksinode vir doleerders: Oplossing of ‘grondslag vir skeuring’?

Soos voorheen is die sinode van 1862 ook deur afgevaardigdes van buite die grense van die Kaapkolonie bygewoon. Tydens die vergadering het ouderling HH Loedolff, ouderling van die gemeente Swartland en parlementslid vir Malmesbury, beswaar gemaak teen die sittingsreg van afgevaardigdes buite die Kaapkolonie. Alhoewel Ordonansie 7 van 1843 regstegnies as hoofrede aangevoer is, was een van die groot redes die verskil tussen die ondersteuners van die liberale rigting wat in die Kaapkolonie gesetel was en die regsinniges wat uit die noorde van die land gekom het. Nadat Loedolff die hof genader het, het die Kaapse Hooggeregshof op 26 November 1862 soos volg uitspraak gelewer: “That the said Andries Adriaan Louw be declared not entitled to sit, deliberate, and vote at the meetings of the said Synod, or take part in their proceedings”. Ds AA Louw en die afgevaardigdes uit die noorde, wat ouderling Sarel Cilliers wat die gelofte by die slag van Bloedrivier voorgelees het, ingesluit het, moes daarna die vergadering verlaat. Dit sou 100 jaar duur voordat die eenheid in 1962 herstel is.

Lees ook: Nadia Marais | Die geskenk van kairos

Sestig jaar later is die eenheid wat in 1962 tot stand gekom het, opnuut onder druk. Meer en meer vrae word gevra oor die voortbestaan van die Algemene Sinode in sy huidige vorm. Die Taakspan vir Kerkverband, wat deur die Algemene Sinode self tot stand gebring is, bevestig die aktualiteit van hierdie vrae. Dit is egter veral besluite van die Algemene Sinode wat baie gemeentes na maniere laat soek om hulle verbintenis met die vergadering te beëindig. Dit beklemtoon die feit dat die eenheid van die NG Kerk wat deur die Algemene Sinode vergestalt word, inderdaad ’n baie brose kant het en nie vanselfsprekend is nie. Hoe die kerk hierdie broosheid gaan hanteer, gaan waarskynlik bepalend wees vir die voortbestaan van die sinode.

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode