Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die geskenk van kairos

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Kairos verteenwoordig, binne antieke Griekse mitologie, ’n Griekse god van geleenthede. Trouens, in klassieke Griekse gebruik word ’n onderskeid getref tussen twee Griekse tydsbegrippe, te wete kronos en kairos. Kronos is tyd soos wat ons dit ken: voorspelbaar, afgemete, ritmies selfs. Kronos is gebonde aan die horlosie – ons kan dit meet, tel, binne berekeninge gebruik. Kairos, daarteenoor, is dinamies, onvoorspelbaar, en vereis die vermoë om die regte oomblik te kan aanvoel en onderskei, sodat ons reg kan optree.

Kairos is ’n begrip wat ons ook in die Nuwe Testament teëkom (meer as 80 keer), waar dit tipies ingespan word om na die volheid of vervulling van tyd te verwys, wat vir die Evangelieskrywers en Paulus ten diepste verbonde is met die koms van Christus. Vir latere teoloë, soos die kerkvader Augustinus (in sy De Doctrina Christiana), het kairos eweneens te make met die toekoms wat moontlik gemaak word deur God se koms (adventus) na die wêreld, in die vleeswording en geboorte van Christus. In latere herinterpretasies van die begrip, soos by Paul Tillich, sou kairos om ’n besluit na politieke aksie of optrede vra.

LEES OOK: Die geskenk van alleenheid

In sy The protestant era (1948) skryf die Duitse teoloog Paul Tillich oor kairos as ‘die regte tyd’ of ‘’n oomblik ryk aan betekenis’: ’n vervulling van tyd, ’n oomblik waarin die ewige inbraak maak op die tydige, waarin ’n krisis in die dieptes van menslike bestaan geskep word. Tillich, wat Duitse Nasionalisme en Nazi-tirannie in Duitsland in die openbaar teëgestaan het, sou een van die eerste professore aan ’n universiteit wees wat afgedank sou word vir sy kritiese uitsprake. Hy sou egter voortgaan om oor Duitse radio te preek en te praat teen die Nazi-regering se diskriminerende en gewelddadige beleide en optrede teen Jode, gypsies en ander minderheidsgroeperinge.

Die gebruik van kairos-taal is vir Tillich nie ’n mooi dog oppervlakkige strategie om verskil van mening aan te dui in die kerk nie. Vir Tillich gaan kairos om veel meer; om iets veel groter en belangriker as onderlinge meningsverskille oor Skrifinterpretasie of teologiese opleiding. Kairos verteenwoordig niks minder nie as ’n konfrontasie van die demoniese: daardie lewebenemende, dodelike magte en kragte wat mense se waardigheid ontken en daardeur ruimte skep vir vele soorte geweld teen mense wat anders lyk, anders leef, en anders dink as ons. Kairos gaan om oorlewing, om ’n cry for life, om geregtigheid, om Godsingryping by veronregting.

LEES OOK: Die gevaar van onsin

Suid-Afrika is ryk aan kairos-teologieë. Lank voor die Kairos Netwerk is die Kairosdokument (1985), Kairos Palestina Dokument (2009), en die Kairos Southern Africa beweging (2011) in die lewe geroep. Sowel die Kairosdokument as die Kairos Palestina Dokument bely dat God partydig is deurdat God aan die kant staan van die armes en veronregtes – in Suid-Afrika, onder apartheid; en te midde van die Israel-Palestina konflik, in ons tyd – en dat die kerk opgeroep word om te staan waar God staan. Godspartydigheid lê aan die hart van die ryk geskiedenis en ryk tradisie van kairos-teologieë.

In sy The church struggle in South Africa (2005) beskryf John de Gruchy die omstandighede waaronder die Kairosdokument tot stand gekom het. ’n Groep (grootliks swart) teoloë en kerkleiers sou in Soweto bymekaar kom in 1985, onder leiding van Frank Chikane en Albert Nolan, om ’n dokument saam te stel wat die teologiese regverdiging van apartheid sou teëgaan. Die kerk self is beskou as ’n ruimte waarbinne die struggle teen apartheid plaasgevind het, en die Kairosdokument roep Christene op om nie net profeties en in die openbaar onreg teë te staan nie, maar maak selfs voorsiening daarvoor dat Christelike getrouheid aan die evangelie burgerlike ongehoorsaamheid teenoor ’n tiranniese regering sou kon vra. Heelwat van die ondertekenaars van die dokument is gearresteer nadat dit gepubliseer is.

LEES OOK: Die geskenk van swakheid

Kairos is dus nie ’n netwerk nie. Kairos is Godstyd in ons tyd, ’n oomblik van waarheid waarin die kerk opgeroep word om menseregtevergrype, diskriminasie, en onreg – soos in Nazi-Duitsland, Apartheid-Suid-Afrika, en Palestina onder Israeli-besetting – publiek en profeties teen te staan. Kairos is ’n oomblik van waarheid sowel as ’n oomblik van genade en geleentheid. Kairostyd bied ons die geleentheid om ons te bekeer van ons diskriminerende weë en ons te beywer vir geregtigheid en ware vrede in hierdie land.

Kairos is nié ’n geleentheid om ons vooroordele, stereotipes, en genadeloosheid teenoor diegene wat anders as ons is vrye teuels te gee nie. Dit is ondenkbaar dat die lewende tradisie van kairos-teologieë óóit ingespan kan word in die belang van diegene wat self bevoorreg is, maar wat ander wil boelie om te dink soos hulle dink en te leef soos hulle leef.

In Adventstyd ontvang ons juis die geskenk van kairos: dat Christus kom. Christus se koms is immers ’n bron van genade, hoop, verlossing en vrede. Dit is die goeie nuus van die evangelie.

 

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Die geskenk van kairos”

  1. Muller Oosthuizen

    En DIT is hoekom mens goeie teoloë nodig het. Hierdie artikel behoort vir die NG Kerk baie kosbare anker en leiding te verskaf.

  2. Henrietta Klaasing

    IS GOD PARTYDIG AAN DIE KANT VAN DIE ARMES EN VERONREGTES?

    “Wanneer jy regspreek, mag jy ‘n arm man nie in sy hofsaak voortrek nie” (Eksodus 23 v 3).

    “Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste (Levitikus 19 v 15).

    “Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie” (Romeine 2 verse 10-11).

  3. Nadia Marais doen die Kairos Netwerk ‘n guns met haar tendensieuse en selektiewe meningstuk oor die gebruik van die begrip kairos. Dit wil voorkom of sy eerder van Wikipedia as haar primêre bron gebruik gemaak het en dan sy daarom onafhanklik, ondeurdag en onnadenkend met die oorspronklike bronne, ook die Bybel, omgaan. Die Kairos Netwerk werk op haar senuwees en sy moet hierdie netwerk vanuit haar eie verwronge ideologiese raamwerk probeer stilmaak – soos Adolf Hitler en Bernard Rust op 1 Februarie 1933 in hulle proklamasie in die Völkischer Beobachter Paul Tillich en ander weens hulle “nasionale onbetroubaarheid” tot stilswye gedwing het, omdat daar kritiese dinge deur hulle gesê is waarvan die nuwe establishment nie gehou het nie. Marais probeer van Paul Tillich as ‘n soort profeet voorhou, maar verswyg goedskiks wie Paul Tillich was en waarvoor hy gestaan het. Dit het ook sedert die anti-apartheidstryd met Beyers Naudé gebeur, terwyl ook hy hom ook deur ‘n ander en moontlik ewe gevaarlike ideologie (allermins ‘n suiwer gereformeerde Bybelse teologie) laat voortdryf het. Marais weet nie wat tot Tillich se bedanking as professor in filosofie en sosiologie (nie teologie) direk aanleiding gegee het nie, naamlik juis die publikasie van sy neo-Marxistiese boek Die Sozialistische Entscheidung (The Socialist Decision). Marais sê daar is nie iets soos ‘n Kairos Netwerk nie, maar sy het nie gelles dat Tillich self sedert 1918 aan die Kairos Sirkel behoort het en ook aan die hoof daarvan gestaan het. In 1922 het hy vanuit hierdie marxisties-sosialistiese organisasie ‘n artikel getitel Kairos in die joernaal Die Tat gepubliseer, wat Marais gerus kan gaan lees om haar op hoogte van Tillich se filosofiese-teologie en teologiese-marxisme te stel. Verder kan sy iets gaan leer van hoe Tillich teologie en kuns met mekaar in verband gebring het, wat ook sy regverdigingsgronde geword het vir sy buite-egtelike seksuele verhoudinge en sy relativering van die huwelik as Godgegewe instelling. Miskien moet Marais ook Tillich se tweede vrou Hannah se boek From Time to Time gaan lees. Tillich het met Hannah saamgewoon terwyl sy nog met haar eerste man getroud was en dié se kind verwag het. Hannah was ook nie ‘n engeltjie nie, het met lesbianisme geëksperimenteer en haar maar probeer oorreed om saam met ander pare seksueel te verkeer. Tydens ‘n Kanadese vakansie, kort nadat die Tillich-gesin na die VSA verhuis het, het ‘n vriend wat die egpaar vergesel het, sy vrou naak saam met Tillich op die dak van hulle woonplek aangetref. Om téén menseregtevergrype, diskriminasie, en onreg soos in Nazi-Duitsland, Apartheid-Suid-Afrika, en Palestina onder Israeli-besetting te wees, maak nog nie jou teologie en leefstyl reg nie.

    Miskien moet Marais nou openlik erken dat haar verbintenisse lê by mense wat vanuit ‘n liberaal-teologiese hoek na die kerk en samelewing kyk en gemakliklik hulle teologie met filosofie en politiek en immoraliteit vermeng. Marais is duidelik meer gemaklik met die soort teologie wat vanuit die humanisme voortkom en voel haar tuis by die Schleiermachers, Bultmanns, Tillichs en ander wat teologie en kerkwees relevant probeer maak het, maar in die proses hul eergeboortereg om die evangelie suiwer en onbesmet te verkondig, vir ‘n pot lensiesop verruil het.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.